Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Londen: Daar is weer lewe

Covid-19 het Londen, die hartklop van Brittanje, vir ’n rukkie tot stilstand geruk. Meer as ’n jaar later is daar egter weer ’n pols te bespeur, skryf Linda van Tilburg.
Kenners meen die huidige uittog van besighede uit die middestad sal nie noodwendig Londen se sentrale sakedistrik laat krimp nie. Talle ikoniese wolkekrabbers van bekende argitekte oorheers steeds die stad se kim. Londenaars is ook heel verknog aan die argitektoniese bakens en het dit selfs byname gegee. Foto: iStock

Covid-19 het al vroeg sy kop in Londen uitgesteek. Die eerste positiewe geval is vroeg in Februarie verlede jaar aangeteken.

Die hartklop van Brittanje, bekend vir sy museums en bakens soos Big Ben en die Westminster-parlement, is bykans vir ’n jaar tot stilstand gedwing. Hoewel dele van die Britse ekonomie nou stadig ontwaak, lyk die gedeeltes van die stad wat afhanklik is van toerisme steeds soos ’n spookdorp. Die pandemie en die reeks grendelmaatreëls wat ingestel is om die virus te beperk, het “The Big Smoke” se voete onder hom uitgeruk.

Die Britte hou styf duim vas dat alle inperkingsmaatreëls op Maandag 21 Junie opgehef gaan word, maar nuwe variante van die virus en stygende Covid-syfers dreig om dié planne in die wiele te ry.

Boris Johnson, die Britse premier, het vandeesweek gesê dis te vroeg om te bevestig of Brittanje se inperking wel op 21 Junie tot ’n einde gaan kom. Die data of die land se inentingsprogram wel genoeg beskerming teen Indië se Delta-variant bied, word nog beoordeel.

“Ons sal Maandag kyk hoe dinge lyk. Ek dink egter almal kan sien dat die aantal Covid-gevalle wel besig is om te styg, en in sommige gevalle die aantal mense wat in hospitale vir behandeling opgeneem word,” het Johnson Woensdag gesê.

Die diepste letsels lê by die West End, Londen se bekende teaterdistrik. Teaters moes Maart verlede jaar hul deure op kort kennisgewing sluit en almal in die teaterbedryf hoop dat die inperking wel later vandeesmaand opgehef sal word sodat teaters weer teen volle kapasiteit benut kan word. Foto: Linda van Tilburg

Van die toneel verdwyn

Die diepste Covid-letsels lê by die West End, Londen se bekende teaterdistrik. Teaters moes Maart verlede jaar hul deure op kort kennisgewing sluit. Akteurs wat nog besig was om hul gesigte te grimeer en musikante wat hul instrumente gestem het, moes hoor dat hul speelvak ongelukkig nie meer voortgaan nie – alle teaters word gesluit met onmiddellike effek.

Meer as ’n jaar later is baie van die teaters in die distrik, si­noniem met teatertreffers soos Les Misérables en Mamma Mia!, steeds agter slot en grendel. Slegs ’n handjievol word teen hul gewone kapasiteit bedryf. Daar is geen teken van kaartjieverkopers of smouse wat kaartjies in die sluikhandel probeer verkwansel nie. Ná ’n jaar sonder enige inkomste, behalwe staatshulp, is dit nie seker wanneer die teaters weer hul deure gaan open nie.

Akteurs, dansers, stelontwerpers en mense wat in die teaterbedryf werk, het hul werk verloor. Boonop het Rishi Sunak, Britse minister van finansies, die bedryf in Oktober verlede jaar goed die harnas in gejaag toe hy voorgestel het dat “musikante en ander mense in die vermaakbedryf miskien vir ander werk moet soek”.

Die komponis Andrew Lloyd Webber het verlede week ook gedreig om die Britse regering voor die hof te daag as hy nie vanaf 21 Junie teaters toelaat om teen hul volle kapasiteit bedryf te word nie. Die teaterlegende het gesê dit sal die “finale doodskoot” wees as die verslapping van die inperkingsmaatreëls nie voortgaan soos dit vroeër vandeesmaand beplan is nie. Die Gillian Lynne-teater is veronderstel om in Julie Webber se nuwe musiekblyspel, Cinderella, op die planke te bring.

Groot dele van die ekonomie, veral toerisme, gasvryheid en die kleinhandelsektor, kon vir meer as ’n jaar ook nie behoorlik handel dryf nie. Op Trafalgarplein, gewoonlik een van Londen se besigste plekke, hang ’n onheilspellende stilte.

’n Paar verlate voetgangers dwaal onder die blik van die brons leeus wat Nelson se pilaar omring. Dieselfde gevoel van verlatenheid hang by ander groot toeriste-aantreklikhede soos die Nasionale Geskiedenismuseum. Die sypaadjie voor die museum, waar lang toue gewoonlik kronkel, is leeg. Die Wetenskapmu­seum is in ’n reuse-inentingslokaal omskep.

Talle winkels in Oxfordstraat, een van Europa se besigste inkopiestrate, het gesneuwel. Twee instellings van Brittanje se high street – Topshop en Debenhams – kon ook nie die pandemie oorleef nie. Debenhams, die afdelingswinkel wat vir 243 jaar omtrent Britse volksbesit was, se laaste fisieke winkel het op 15 Mei gesluit. Nou kan jy net aanlyn inkopies doen.

Twee vroue doen inkopies in die afdelingswinkel Selfridges. Die Britse ekonomie is stadig maar seker besig om te ontwaak namate inperkingsreëls verslap. Foto: Reuters

Tekens van lewe

Die Konserwatiewe Party het al vanaf Maart begin om stadig die grendelleisels te verslap nadat daar ’n skerp afname in Covid-19-gevalle en die daaglikse sterftesyfer was. Werkers sypel terug na die middestad en ’n mens sien ook meer pendelaars op die treine en moltreinstelsel.

Van die maatreëls is reeds op 17 Mei opgehef. Kroeë en restaurante mag nou mense (binne en buite) bedien, maar streng maatreëls geld steeds. Die laaste inperking het bykans vier maande geduur en ten spyte van ’n flou lenteson en snerpende aandtemperature tussen 6 °C en 10 °C, het die Britte by hul gunstelingkroeë saamgedrom om ’n pint te geniet.

Johnson, wat tot onlangs gelyk het asof hy en sy vlasblonde haardos ’n paar keer deur ’n bos getrek is, het aangekondig dat hy nog nie ’n afspraak by sy barbier het nie, maar sy plek by sy gunsteling-kroeg is bespreek.

Britte mag ook weer binnelands reis en die verbod op buitelandse reis vir vakansiedoeleindes is ook opgehef mits die bestemmingslande op ’n sogenaam­de groen lys verskyn.

Dié lys is egter kort en vandeesweek was daar net ’n handjievol lande waarheen Britte mag gereis het, sonder dat hulle tien dae in kwarantyn moet deurbring met hul terugkeer.

Gesondheidsowerhede het ’n aantal proefprogramme van stapel gestuur om te kyk of groot feeste, klubs en sportbyeenkomste hervat kan word.

Een daarvan was The First Dance, Engeland se eerste wettige rave wat op 31 April en 1 Mei in Liverpool gehou is. 6 000 partytjiegangers is toegelaat om te partytjie asof dit 2019 was, sonder enige sosiale afstand of maskers. Al voorwaarde vir toegang was ’n kaartjie en ’n negatiewe Covid-toets.

Die Wembley-sportstadion het ook soortgelyke proefbyeenkomste gehou.

Sowat drie weke gelede kon 21 000 toeskouers toekyk hoe Leicester City vir Chelsea klop tydens die FA Cup-eindstryd.

Waarskuwings oor derde vlaag

Brittanje se inentingsprogram is goed op dreef en meer as 50% van volwassenes is ten volle ingeënt. Die kanse lyk goed dat Londen die eerste van die wêreldstede kan wees om uit die blokke te kom ná Covid-19.

Matt Hancock, die Britse minister van gesondheid, meen dat Brittanje se hele volwasse bevolking teen einde Julie ten volle ingeënt kan wees as dinge in sy departement klopdisselboom verloop.

Daar is wel waarskuwings dat ’n derde vlaag Londen kan tref en kenners meen dat die stad reeds die begin daarvan beleef.

Chris Hopson, die uitvoerende hoof van die nasionale gesondheidsdienste, meen egter dat die suksesvolle inentingsprogram, wat voorkom dat mense ernstig siek word selfs al word hulle met die virus besmet, die ketting gebreek het.

Prof. Ravi Gupta, ’n kenner in kliniese mikrobiologie verbonde aan die Cambridge-Universiteit en een van die Britse regering se raadgewers, sê hoewel die nuwe gevallesyfer “relatief laag” was, die Indiese Delta-variant “eksponensiële groei” aangevuur het, berig die BBC.

Gupta is een van die kenners wat vra dat die opheffing van Covid-19-maatreëls op 21 Junie uitgestel moet word.

Prof. Kevin Fenton, Londense direkteur van openbare gesondheidsorg, sê dat Europa se Covid-19-syfers wat toeneem en die Delta en Suid-Afrikaanse Beta-variante wel ’n bedreiging is, maar dat die suksesvolle inentingsprogram die beste beskerming vir Londen en die res van die land is.

“Meer entstowwe, sogenaamde vlaagtoetse om die nuwe variante vinnig op te spoor en meer kennis en bewustheid van die virus beteken Londen is paraat vir ’n derde vlaag.”

Twee vroue doen inkopies in die afdelingswinkel Selfridges. Die Britse ekonomie is stadig maar seker besig om te ontwaak namate inperkingsreëls verslap. Foto: Reuters

‘Nie net duisternis’

Maar sal Londen weer tot sy eertydse glorie herrys en kan dit weer die wêreldstad wees wat soveel werkers en toeriste lok?

’n Studie van die Greater London Authority (GLA) voorspel Londen kan soveel as 100 000 werkgeleenthede oor die volgende twee jaar verloor, selfs al herstel die ekonomie.

Die GLA-studie het gevind dat Londen se sentrale besigheidsdistrik ’n groot kapitaalinspuiting nodig het om te voorkom dat dit verval. Toerisme, meen die GLA, sal eers in 2031 terugkeer na die voormalige 2019-vlakke.

Prof. Paul Cheshire, ’n geografiese ekonoom verbonde aan die London School of Economics, meen alles is nie net duisternis nie.

Die pandemie is ’n buitengewone gebeurtenis, verduidelik hy. Daar moet ver terug in die geskiedenis gekyk word na wat met die stad gebeur het in 1665 en 1666 tydens die Groot Pes van Londen, toe builepes byna ’n kwart van die stad se inwoners se lewe geëis het.

Net ’n jaar daarna het die Groot Brand van Londen gevolg, wat vier vyfdes van die stadsgebied in puin gelê het. Dit het Londen dekades geneem om van die twee rampe te herstel.

“As jy die twee rampe in ag neem, is die Covid-19-krisis tans glad nie so erg nie.

“Die huidige post-Covid-19-wêreld is natuurlik heeltemal anders as ’n jaar gelede, en sekere tendense wat reeds voor Covid-19 bestaan het, is nou versnel.”

Londen se meer welvarende inwoners was stadig maar seker besig om na woonbuurte buite die stad te migreer, en sakeondernemings wyk ook na die voorstede weens die buitensporige huur in die middestad.

Cheshire meen die uittog sal nie noodwendig Londen se sentrale besigheidsdistrik laat krimp nie. Talle ikoniese wolkekrabbers van bekende argitekte oorheers steeds die stad se kim.

Londenaars is ook heel verknog aan die argitektoniese bakens en het dit selfs byname gegee – die “Gherkin” vir die keëlvormige 30 St. Mary Axe-gebou, “Cheese Grater” vir die Leadenhall-gebou en “Walkie-Talkie” vir die 20 Fenchurch Street-gebou wat as te ware soos ’n reuse-tweerigtingradio lyk.

Rye mense wag om ingeënt te word by die Hunter Street-gesondheidsentrum in Camden, Londen. Foto: Reuters

Die Brexit-tameletjie

Die Britse regering het ook ’n skema ingestel om sy inwoners se werkgeleenthede te behou en betaal al die afgelope jaar 80% van die salarisse van 8,9 miljoen mense in die sogenaamde furlough-skema.

Tot dusver het dit die Britse staatskas £19,6 miljard gekos.

Meer as ’n halfmiljoen mense in Londen eis ook nou werkloosheidsversekering. Daar word verwag dat dié syfer nog meer gaan styg wanneer die furlough-skema in September vanjaar tot ’n einde kom.

Die staatshulp vir Covid-19 het die Britse fiskus behoorlik ondermyn en die bruto nasionale produk het verlede jaar met amper 10% gekrimp, die grootste duik wat die Britse ekonomie sedert 1709, die jaar van die sogenaamde Great Frost ervaar het.

Boonop druk Brexit se gevolge ook swaar op die Britte se gemoed. “Werkers en toeriste is baie meer lugtig vir Brexit as vir die pandemie. Dit gaan Londen se herstel van die pandemie nog moeiliker maak as wat dit aanvanklik sou wees.

“Brexit is tans die grootste uitdaging vir die Londense ekonomie, maar die wêreldstad is ook baie meer aanpasbaar en veerkragtig as gevolg van sy inwoners se intellektuele kapasiteit, sy internasionale immigrantegemeenskap en sy bande met die res van die wêreld,” meen Cheshire.

Londen is besig om stadig weer te ontwaak, maar die tol van die pandemie is te sien op die nasionale Covid-gedenkmuur langs die Teems-rivier.

Meer as 150 000 handgeverfde hartjies tussen die Westminster- en Lambeth-brug herdenk die gevalle Covid-slagoffers, en hul familielede en naastes word genooi om hul name en boodskappe op die muur aan te bring.

Die Covid-19 Bereaved Families For Justice-drukgroep, wat die muur opgerig het, wil seker maak dat wanneer Londen se hartklop weer begin pols en Covid-19 in die geskiedenisboeke opgeteken word, die persoonlike verhale van die pandemieslagoffers nie vergeet sal word nie.

Linda van Tilburg

Van Tilburg is ’n voormalige televisie-joernalis van die SAUK wat nou in Londen woon.

Meer oor:  Linda Van Tilburg  |  Londen  |  Brittanje  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.