Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Lowergroen vestingdorp bekoor
Die vestingstad Naarden uit die lug gesien. Die Vesting-museum is op die Turfloop-bastion regs.Foto: www.vestingmuseum.nl

Met Suid-Afrika wat sedert dié week op ’n vlak 1-inperking geplaas is, kan reisigers solank hul eerste reis ‘ná korona’ begin beplan. Siska Martin onthou ’n pre-Covid-19-besoek aan Naarden in Nederland.

Die kanonne op die Turfloop-bastion word nog by geleentheid afgevuur.

In Naarden se Weegschaal-museum kan jy geweeg word . . . en fisiek te lig bevind word! Omdat destydse logika gereken het dat ’n mens redelik lig moet wees om op ’n besem te kan reis, is mense wat in die Middeleeue van heksery verdink is, geweeg, en wee jou as jy te lig bevind is, want die straf vir heksery was die dood.

Dié unieke museum het ’n reuseversameling skale, gewigte, lengte- en inhoudsmate, asook ’n biblioteek en argief met inligting oor dié onderwerp. Die museum word in die Spaanse Huis in Naarden gehuisves – ’n gebou wat self ’n grusame deel van die dorp se geskiedenis verteenwoordig.Rol in landverdedigingGeleë op ’n sandbank aan die oewer van die voormalige Suidersee, was Naarden destyds die enigste toegangsweg na Noord-Holland en die handelstad Amsterdam. Gevolglik het dié dorp – wat in 1300 stadstatus gekry het – gedurig deurgeloop as daar oorlog was.

Die Bloedbad van Naarden in 1572 tydens die Tagtigjarige Oorlog (1568-1648), toe Naarden die kant van Willem van Oranje gekies het in die opstand teen die Spanjaarde, het gevolg nadat die Spanjaarde die stad ingeneem het.

Naarden se Inundatiewet van 1896 het die regering in staat gestel om groot stukke grond in die Nieuwe Hollandse Waterlinie te laat oorstroom om vyande in hul spore te stuit. Hierdie voorstelling van hoe die oorstroming gewerk het, is in die Vesting-museum in Naarden te sien. Foto’s: Siska Martin

Die inwoners is op 22 Oktober 1572 onder valse voorwendsels na die stadsaal, wat voorheen ook as kerk diens gedoen het, laat kom, waar sowat 700 mense koelbloedig deur Spaanse soldate uitgemoor is. Daarna is die stad geplunder en aan die brand gesteek en min het van die stadsaal oorgebly.

Teen 1615 is die gebou herbou en sedertdien staan dit bekend as die Spaanse Huis. Tot in 1992 is die gebou onder meer deur Franse soldate bewoon, was dit ’n garnisoen-bakkery waar sowat 1 000 brode per dag gebak is en het dit die Comenius-museum gehuisves. John Amos Comenius, ’n 17de eeuse Morawies gebore Tsjeggiese opvoeder, is in Naarden begrawe.

Net mooi 100 jaar ná die bloedbad, in 1672, is Nederland deur onder meer Engeland en Frank­ryk ingeval en is Naarden deur koning Lodewyk XIV ingeneem. Die Beleg van Naarden in 1673 toe Willem III die stad herower het, word as die keerpunt in die Hollandse Oorlog beskou.

’n Blik op die oulike houthuisies waarin die Vesting-museum se trop Nederlandse landgeite (bokke) skuiling vind.

Willem III het opdrag gegee dat die vestingwerke van Naarden gemoderniseer moet word volgens die beginsels van die Nieuw Nederlandse Vestingstelsel – groter bastions met skietgate en stelsel van dubbele mure en gragte. Dié werk is in 1685 voltooi.

In 1810 het die Franse weer op Naarden toegeslaan toe Napo­leon Holland by die Franse keiserryk ingelyf het. ’n Jaar later het hy op besoek aan Holland ook Naarden aangedoen. In 1813 is hy ná die rampspoedige Russiese veldtog in die Slag van Leipzig verslaan en het hy na Frankryk gevlug met die Geallieerde magte warm op sy spoor.

Hoewel die Franse magte in Nederland teruggetrek het, het die Franse garnisoen in Naarden geweier om te onttrek. In November 1813 is Naarden deur die Nederlandse leër omsingel en is die beleg van ses maande met hewige bombardement beëindig.Nieuwe Hollandse WaterlinieStadhouer Willem V het in 1813 die koningskap van Nederland aanvaar en as koning Willem I was sy eerste taak om die verdediging van die land te verbeter met die aanleg van die Nieuwe Hollandse Waterlinie.

Twee van die wollerige Nederlandse landgeite kyk nuuskierig wat besoekers doen.

Die Naarden-vesting is deel van die verdedigingslinie wat 85 km ver strek van Muiden tot by Biesbosch. Hierdie verdedigingslyn het van 1815 tot 1940 die weste van Nederland teen aanvallers verdedig.

Wanneer gevaar gedreig het, is dele van die land oorstroom sodat die aanvallers nie die stad kon bereik nie. Die kniediepte vloedwater was net genoeg om dit onbegaanbaar te maak vir soldate, voertuie en perde en vlak genoeg sodat bote nie daarop kon vaar nie.

Die verdedigingslyn – wat drie tot vyf kilometer breed is – bestaan uit 45 forte, ses vestings, twee kastele, 85 masjiengeweerstellings, sowat 700 betonskuilings en skietgate en meer as 100 militêre sluise en ander waterwerke.

Een van die ondergrondse gange in die stellings wat die Vesting-museum in Naarden huisves.
’n Besonderse standbeeld ter ere van orgaanskenkers is langs die Grote Kerk in Naarden opgerig. Dié kerk is vroeër vanjaar opgeknap, vandaar die steierwerk regs.
Die Ij-skuiling op die Turfloop-bastion wat onder meer blyplek aan 48 soldate verskaf het, huisves nou die museum se wissel-uitstallings.
Naarden se stadsaal is in die Nederlandse Renaissance-styl gebou.
Op dié skaal kan besoekers aan die Weegschaal-museum in Naarden hulself weeg om seker te maak hulle is nie hekse nie!

Met die mobilisasie aan die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog is die Naarden-vesting vir oulaas op gereedheidsgrondslag geplaas. Ná die bombardering van Rotterdam op 14 Mei 1940 het Nederland egter oorgegee – vestings en waterlinies was verouderd as metodes van nasionale verdediging.Vesting-museumNêrens anders word die ontstaan, geskiedenis en werking van die Nieuwe Hollandse Waterlinie so deeglik en interessant uitgebeeld as in die Vesting-museum op die Turfloop-bastion van die vestingstad nie.

Turfpoort is een van die ses bastions wat aan Naarden sy tipiese stervorm gee. Dié erfenisgebied is nog grootliks in sy oorspronklike vorm en gee goeie insig in hoe die vesting gefunk­sio­neer het.

Buite die museum kan besoekers in ’n parkomgewing met groen grasperke stap en die uitsig oor die versterkings geniet. Die museumuitstallings is in die kanonkelders van die stellings.

Dié museum bied veel meer as ’n wandeling deur ’n besonderse stuk geskiedenis. Dit is interaktief, lewend en boeiend.

  • Van die ingang waar ’n vakman sit en loodsoldaatjies maak waarmee hy veldslae dupliseer, tot die uitstalling waar gesien kan word presies hoe die oorstromingsbeleid gewerk het, maak dit die geskiedenis lewend.
  • Bykomende bronne: www.vestingmuseum.nl, www.holland.com, www.weegschaalmuseum.nl.
Besoekers aan die Comenius-museum in Naarden kan op ’n labirint stap op die vloer van die museum.
’n Fontein spuit voor Naarden se Utrecht-poort by een van drie toegangspaaie na die vestingstad.
Een van die mooi klipstraatjies in die Naarden-vestingstad.
Uitsig van die Turfloop-bastion af op ’n deel van die grag om die stad.

Meer oor:  Nederland  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.