Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
LUISTER: Dís waar jy begin beplan as jy die Camino wil aanpak

As die pandemie jou planne in die wiele gery het om die Camino in Spanje te gaan stap, moenie moed verloor nie, skryf Erns Grundling. “Dit sal ook verbygaan.”

Grundling se boek oor dié bekende staptog is Netwerk24 se luisterboek van die maand. Hy gaan in Junie vir Netwerk24 vier rubrieke oor die Camino skryf.

Klik hier om na ’n voorlesing van sy boek te luister.

Mense wat besluit om die Camino in Spanje te gaan stap vra my dikwels: “Wat moet ek eerste doen?” My antwoord is altyd dieselfde: “Bespreek jou vlugte.”

Dit was wat ek destyds gedoen het voor my eerste Camino in 2015 wat tot die boek Elders gelei het. Met die vlugte klaar bespreek, is die datums vas in jou kalender en is daar dikwels nie veel van ’n omdraaikans nie. Dan het jy die basiese raamwerk en kan jy begin met al die nodige voorbereidings.

Ek besef wel dat terwyl ek hier tik daar ’n globale pandemie woed wat dit juis onmoontlik maak om hierdie basiese beplanning te doen. Maar ook dit sal verbygaan. Die Camino in Spanje gaan nêrens heen nie. Daardie beroemde roete het al meer as ’n duisend jaar lank alles beleef én oorleef. Die roetemerkers en geel pyle langs die pad wag geduldig op pelgrims om weer in die toekoms nuwe spore te kom maak.

Erns Grundling
Erns Grundling

En dit is juis hierdie ryk tradisie van ’n pelgrimstog soos die Camino (daar is natuurlik verskeie ander pelgrimstogte wêreldwyd, uit verskeie geestelike tradisies) wat dit ’n ander tipe ervaring maak as ’n gewone meerdaagse staptog – indien jy jouself natuurlik daarvoor oopstel.

Gee jouself genoeg tyd om die Camino te stap. As jy die volledige Camino Francés wil stap van Saint-Jean-Pied-de-Port in Frankryk tot by die katedraal in Santiago de Compostela (of selfs beter: tot by Finisterre se vuurtoring), kyk jy na enigiets tussen 35 en 40 stapdae, wat ’n rusdag of twee ook insluit.

Min mense het egter soveel verlof en hoewel die Camino teenoor ander oorsese avonture betreklik bekostigbaar is, kan die euro jou begroting toets. Oorweeg dalk om van die Spaanse stad León te stap tot by Santiago de Compostela indien jou tyd beperk is. Jy kan dié afstand van sowat 322 km gemaklik binne twee weke stap en die terrein is nie te uitdagend nie.

As jy regtig min tyd het, kan jy altyd by die dorpie Sarria begin en sowat 120 km stap – gewoonlik binne ’n week – en steeds jou Compostela-sertifikaat in Santiago de Compostela ontvang.

Maar ek sou jou nie aanraai om bloot die Camino te gaan stap vir ’n geraamde sertifikaat of ’n katedraalfoto op Facebook of om iets van ’n verbeelde “bucket list” af te merk nie. As ’n mens só gefokus is op ’n einddoel gedurende ’n pelgrimstog verbeur jy dalk die geleentheid om aan die kosbare binnereis aandag te gee. Daarom is dit ook ’n goeie idee om van meet af aan nie te veel groot verwagtinge van die roete óf van jouself te hê nie. Stel jouself reeds gedurende jou voorbereiding oop vir die oomblik, want dit is in elk geval al wat jy het, of jy nou by die huis of op die Camino is.

Ek vertel in Elders hoe ek voor my eerste stapdag in 2015 die volgende aanhaling teen ’n muur in ’n herberg in Saint-Jean-Pied-de-Port raakgelees het: “There is no way to happiness. Happiness is the way.”

Elders

Jy hoef ook nie topfiks te wees voordat jy die Camino gaan stap nie – jy gaan nie een of ander rekord probeer verbeter of ’n Comrades met ’n afsnypunt aandurf nie. Maar dit help om ten minste voor die tyd stapfiks te wees, want dan is die eerste paar dae nie so ’n groot aanpassing – of ’n skok! – vir jou liggaam nie.

Dit is wel baie belangrik om die regte skoene te kies. Jou voete is jou beste vriend en grootste bondgenoot op ’n lang pelgrimstog. Vermy eerder stapstewels. Op die Camino stap jy meestal op grondpaaie en by tye teerpad. Stapstewels, die tipe wat jy gewoonlik sou gebruik vir bergpaadjies of uitdagende terrein soos die Visriviercanyon, gaan jou makliker blase laat kry. Probeer eerder veldloopskoene (trail running) en kry dun, gemaklike sokkies. Ek het in 2015 twee lae sokkies gehad: eers enkelsykouse en dan dun stapsokkies.

Eintlik begin jou Camino lank voor daardie eerste tree in Spanje, Frankryk of Portugal. Daar is ’n spreekwoord: “Die Camino begin by jou voordeur.” Dit begin eintlik al by daardie eerste gedagte of opgewondenheid en wanneer jy besig is om voor te berei.

Onthou ook dit is jou Camino en niemand anders s’n nie. Daar is nie ’n regte of ’n verkeerde manier om die Camino aan te pak nie. Daar is slegs jou manier.

Baie mense verwerk ’n groot lewenskrisis tydens ’n pelgrimstog of pak dit aan in ’n tyd van groot verandering, maar dit is glad nie ’n voorvereiste nie. Soms weet jy self nie presies waarom die geel pyle in Spanje jou roep nie. En dit is ook heeltemal oukei. Dikwels vind ’n mens dit eers iewers langs die pad uit of selfs ná die tyd.

Iets wat ek jou wel kan waarborg, is dat jy op die Camino die vreugde van stap sal ontdek of herontdek. In die woorde van Maira Kalman, wie ek ook aangehaal het in Elders: “Go out and walk. That is the glory of life.”

• Erns Grundling is ’n joernalis, skrywer en TV-aanbieder. Sy eerste reisboek, Elders, is Junie se Luisterboek op Netwerk24. Dit word deur die akteur Stian Bam voorgelees.

Luister die boek hier: 







Het jy die vorige luisterboeke op Netwerk24 misgeloop?

Moenie bekommerd wees nie! Hoewel die Afrikaanse luisterboeke net vir ’n maand gratis op Netwerk24 beskikbaar is, is die boeke steeds op Audible te koop.

Klik hier om die verskillende boeke te koop:

JULIE 2019: Op pad deur Dana Snyman

AUGUSTUS 2019: Dubbelspel deur Wilna Adriaanse

SEPTEMBER 2019: Kamphoer deur Francois Smith

OKTOBER 2019: Stormkind deur Riana Scheepers

NOVEMBER 2019: Fees van die Ongenooides deur PG du Plessis

DESEMBER 2019: Die blou van onthou deur Marita van der Vyver

JANUARIE 2020: Eindspel van Wilna Adriaanse en Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert

FEBRUARIE 2020: Plekkie in die son deur Ena Murray en 'n Tuin vir Tessa deur Helena Hugo.

MAART 2020: Kringe in 'n Bos deur Dalene Matthee.

APRIL 2020: Man van Cirene

MEI 2020: Hykie Berg: My storie van hoop

Meer oor:  Erns Grundling  |  Camino  |  Elders  |  Luisterboek  |  Nwluisterboeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.