Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Lushof van lig en lang kuiers

Die laaste soel laatsomermiddae smeek vir al fresco-middagetes en kuier tussen groenigheid. The Kitchen at L’antico Giardino naby Lanseria is die perfekte plek om die laaste plesier uit die Hoëveldse somer te put.

Die dekor by White Light: The Rooms sal goed vertoon op jou Instagram-tydlyn.

As jy al ooit gelukkig genoeg was om deur Italië te reis, sal jy waarskynlik te doen gekry het met die láng Italiaanse middagete, ook bekend as ’n “pausa pranzo”.

In Italië is die pausa pranzoamper ’n gewyde instelling, veral oor naweke. Op die platteland sal sommige ondernemings tussen 13:00 en 15:00 sluit.

Dan word daar behoorlik gekuier oor bakke pasta, geroosterde lam en kleurryke slaaie met bolle mozzarellakaas, bosse basielkruid en vars tamaties uit die tuin.

As daar een ding is wat Italianers en Suid-Afrikaners in gemeen het – ons hou van lekker eet en lank eet saam met ons mense.

Met die ekonomie wat tans hinkepink, is ’n pausa pranzoonder ’n druiweprieel iewers in Toskane of langs die Amalfi-kus vir min van ons beskore.

Lang tafels gedek onder bloureënpriële en rankende groenigheid laat jou voel asof jy in ’n ou, versteekte lushof iewers langs die Mediterreense kus kuier.

Maar sowat ’n uur se ry van Johannesburg en Pretoria sal jy The Kitchen at L’antico Giardino naby Lanseria kry, waar jy vir ure in die skadu van reusebome kan kuier en smul aan kos wat volgens ’n bedding-tot-bord-filosofie voorberei word.

Die sementkruike, lang tafels gedek onder rankende bloureënpriële en suurlemoenbome laat jou voel asof jy in ’n ou, versteekte lushof iewers langs die Mediterreense kus kuier.

Hoewel die naam L’antico Giardino Italiaans is (dit beteken ou tuin), is die kos op die spyskaart eerder Mediterreens, met invloede van die Midde-Ooste, Japan en Suid-Afrika.

“Ons kosfilosofie plaas klem op eenvoud, ons gaste se gesondheid en bestanddele van die beste gehalte, wat ons van plaaslike, volhoubare verskaffers kry,” sê die sjef Arno Boshoff, uitvoerende sjef van L’antico Giardino.

“Ons gebruik slegs produkte wat binne seisoen val om seker te maak die tekstuur van die bestanddele bly behoue. Kortliks, ons weet mense gaan dikwels uit hul pad om ons restaurant te besoek, darem wil ons vir hulle die beste, gesondste kos bied.”

Die restaurant se kosfilosofie plaas klem op eenvoud, gaste se gesondheid en bestanddele van die beste gehalte.

Ons beveel aan:

Die restaurant vier die genot van saam eet en kos deel. Bestel ’n reeks geregte en vra vir ekstra kleinbordjies. Só kan almal saam eet.

Vir voorgereg stel ek die rooibostee-filetslaai (R135) voor. Dun repies filet word op ’n bed van rooibos-gestoomde quinoa, groenslaai, babatamaties, komkommer, rooi ui en verskroeide heuning-en-tiemie-feta bedien.

Die hoendersosaties (R135) wat saam met olyf-en-rosyntjie-salsa en geskroeide mielies voorgesit word, is ook heerlik.

Die kraakvars roosmaryn-platbrood (R80), wat saam met basielkruidpesto, wortelhoemoes en songedroogde tamatiepesto-doopsouse bedien word, is ook ’n smaaklike lusmakertjie.

Vir hoofgereg is die lamsvleis-puttanesca (R155) aan te beveel. Die Italiaanse staatmaker pasta met puttanesca-sous kry ’n Karoo-kinkel deur ’n Karoolamskouer stadig in ’n sous van tamaties, olywe, kappertjiesaad en rooi uie gaar te maak. Dit word bedien saam met vars pasta en burrata-kaas, die romeriger, meer dekadente niggie van mozzarellakaas.

Balanseer die ryk pasta met iets ligs en bestel die Marokkaanse forel, wat gegeur word met ’n keur van Marokkaanse speserye. Dit word voorgesit saam met gebraaide spinasie, bruin rys, pomelo en amandels.

As jy plek oor het vir nagereg, bestel die dekadente sjokolade-looppoeding, met grenadella­smeer. Die suursoet smaak van grenadella word pragtig aangevul deur die bittersoet rykheid van die donker sjokolade.

Gaan wandel in die tuin ná ’n lang luilekker middagete.

Slaap hier

As jy ’n spesiale geleentheid soos ’n verjaardag of huweliksherdenking vier en nie die feestelikhede ná een glas vonkelwyn wil staak nie, oorweeg dit om oor te slaap by White Light: The Rooms, ’n reeks keurige, luukse verblyf op die perseel.

As jy ’n groot gesin is, bespreek ’n hele eenheid, of as dit ’n romantiese wegbreek vir twee is, bied die White Light Studio-kamers waarde vir geld.

Die koste is vanaf R1 800 op Vrydae en Saterdae, en R1 200 op Sondagaande vir twee mense wat ’n kamer deel (dit sluit ontbyt in).

Besoek theforum.co.za/white-light-the-rooms vir meer inligting of om te bespreek.

Carla Lewis

Kontak

The Kitchen at L’antico Giardino is slegs oop oor naweke, van 08:00 tot 16:00. Ontbyt word van 08:00 tot 11:00 bedien en middagete van 11:00 tot 15:00.

Die restaurant is sowat 8 km van die Lanseria-lughawe geleë.

Om te bespreek, skakel of Whats­App 063 691 8912 of skakel 011 575 3888 op weeksdae tussen 08:00 en 17:00.

Stuur e-pos na the­kitchen@ theforum.co.za of besoek thekitchenlanticogiardino.co.za vir meer inligting en aanwysings. The Kitchen at L’antico Giardino en White Light: The Rooms is deel van The Forum se portefeulje.



  • Lewis se besoek aan The Kitchen at L’antico Giardino en White Light: The Rooms is deur The Forum gedek.
Meer oor:  Restaurant  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.