Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Luukse bekoring op platteland

By Walkersons Hotel & Spa in Dullstroom kan jy kunsvlieghengel, die landgoed verken, smul aan fynproewerskos of sommer net luilekker langs die swembad lê.

Een van die asemrowende uitsigte by die Walkersons Hotel & Spa.

Die Hoëveld lê lowergroen uitgestrek so ver soos die oog kan sien. ’n Kronkelpad neem jou na jou bestemming: die Walkersons Hotel & Spa.

’n Plek wat vir meer as twee dekades al besoekers aan Dullstroom in Mpumalanga betower met sy plattelandse bekoring, wat aangevul word deur luuksheid en natuurprag.

As jy hunker na rustigheid en vrede sal jy dit hier kry.

Verblyf geskik vir adelstand

Die Walkersons Hotel & Spa slaag daarin om ’n eertydse Skotse herehuis-gevoel vas te vang. Natuurlike klip en hout dra by tot die gevoel en om elke hoek en draai vang ’n treffende kunswerk jou oog.

Die sjef Adri van Wieringen bied ’n kookklas aan by 84 on Main in Dullstroom. Foto: Hanri Wondergem

Die en suite-kamers met ’n uitsig op die oewer doen hul naam gestand. Geniet die uitsig oor een van die potblou damme met kabbelende waters en forel wat baljaar vanaf jou private stoepie.

Op kouer aande knetter ’n kaggel voor ’n gemaklike stoel en die gloed bereik jou waar jy uitgestrek lê op die koning-grootte kooi.

’n Mini-kroeg sorg vir keelbederfies. Maak jou eie koffie of tee, kyk DStv, skryf na hartelus by die skryftafel, toegerus met skryfbehoeftes, gebruik die telefoon en kluis en skakel die kamerdiens met vrymoedigheid.

Asof dit nie genoeg is nie, is daar selfs luukser kamers beskikbaar, asook gesinseenhede sodat jy die kroos kan saamneem.

Doen jou eie ding

Hoewel die Walkersons Hotel & Spa na sy selfsorgeenhede as “kothuise” verwys, is dit allesbehalwe beknop.

Neem Waterfall House as voorbeeld. Waterfall House staan op ’n heuwel met ’n asemrowende uitsig oor ’n waterval.

Walkersons Hotel & Spa se Waterfall House.

Hout word voorsien vir die braaiplek waar samesyn onderdak geniet kan word deur tien mense van alle ouderdomme – hetsy vriende of familie.

Dié luukse huis spog met vyf luukse en suite-slaapkamers, ’n ruim onthaalarea met ’n potspeltafel, kaggel, kroeg en ’n eetkamer waar geliefdes nagte om kan kuier.

Die huis het twee sitkamers en die kombuis is ten volle toegerus met tot ’n ysmaker en Nespresso-masjien. Daar is selfs ’n skottelgoedwasser, wasmasjien en tuimeldroër sou jy verkies om skoon klere in jou tas te pak.

Dieselfde geld vir die ander selfsorgeenhede.

Daar is die Hansie- en Grietjie-huise wat elk verblyf vir vier mense in twee en suite-kamers bied.

Die Riverview Cottage bied verblyf vir agt mense in vier kamers en die Hillside Cottage huisves ses mense in drie kamers.

Elkeen van hierdie selfsorgeenhede beloof om jou stoutste verwagtinge te oortref met prentjiemooi uitsigte en elke luuksheid wat jou hart begeer.

Trommeldik aan koningskos

Hou jou lyf behoorlik aristokratiese fynproewer met die watertanddisse wat bedien word by The Flying Scotsman.

Bongani Malangu leer gaste hoe om te vlieghengel by die Walkersons Hotel & Spa.Foto: HanriWondergem

Die restaurant se sjef sit vier-gang-maaltye op kraakwit tafeldoeke voor met wyn uit Walkersons se eie kelder. Elke bord is ’n kunswerk in eie reg.

Jou neus lei jou na The Ter­race waar tee en vars botterbroodjies bedien word.

The Terrace staan gereed om ligter etes te bedien in ’n meer informele opset met die welige tuin as agtergrond.

Buiten vir die twee restaurante, het Walkersons Hotel & Spa ook ’n eiesoortige kroeg – Peggy’s Bar.

Bly besig by Walkersons

Die 14 mere en damme op die Walkersons-landgoed maak van die plek ’n vlieghengelparadys. Dullstroom is immers bekend as vlieghengel-bestemming. Vir die leek is daar ’n gids wat jou touwys maak.

Vir die fikses is daar 3 000 m geplaveide roetes op die 800 ha-landgoed – al langs die strome, watervalle en damme – en jy kan selfs wildlewe, soos sebras, blouwildebeeste of rooibokke, raakloop.

Die hotel het ook sy eie gimnasium vir gaste.

Die personeel staan gereed om ’n piekniekmandjie te pak en jy kan op versoek die landgoed op ’n perd se rug verken.

As jy behoorlik gepamperlang wil word, staan Walkersons Spa se deure wawyd oop en op warm dae kan jy sonbruin word langs die swembad.

* Hanri Wondergem was ’n gas van Walkersons Hotel & Spa.

Dullstroom se ander dinge

Buiten vir whiskey- en bier-proe, kleiduif skiet of roofvoëls van nader bekyk, is daar een aktiwiteit op Dullstroom wat jou lewe gaan verander: ’n kookklas.

Onder die wakende oog van ’n bobaas-sjef kan jy, teen R650 per persoon, leer om ’n lipleklekker dis voor te berei. Jy kan selfs leer hoe om die forel wat jy gevang het te ontbeen en gaar te maak of die Nederlandse dis bitterballen te vervolmaak.

Die klasse word deur The Dullstroom Cultour Company by 84 on Main aangebied. Hier kan jy ook kaas proe, kersies koop, pasta maak en oorslaap. Skakel 073 004 6204 of stuur ’n e-pos aan hello@dullstroom. tours om te bespreek.

Ek wil ook gaan

Teen R2 760 per persoon (wat deel) kan jy in ’n oewersigkamer (slaapplek vir twee) of gesinskamer (slaapplek vir vier) bly. Luukse oewersigkamers (slaapplek vir twee) kos R3 180 per persoon wat deel.

Dit sluit verblyf, ontbyt en aandete in.

Die selfsorgeenhede sal jou tussen R4 610 en R5 700 per nag vir die hele kothuis uitwerk as jy hom middel van die week bespreek. Oor naweke en openbare vakansiedae kos die selfsorgeenhede tussen R7 875 en R9 590 vir die hele huis.

Besoek www.walkersons. co.za, stuur ’n e-pos na reservations@walkersons.co.za of skakel 013 253 7000 vir meer inligting en besprekings.


Meer oor:  Hanri Wondergem  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.