Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Luuksheid skielik binne bereik

Vir ’n unieke, romantiese ervaring kan paartjies alleen in die wildernis oorslaap direk onder die sterrehemel. Gaste word na ’n afgesonderde, veilige platform geneem waar ’n luukse maaltyd en ekstra-groot hemelbed met spierwit linne, omhul deur ragfyn muskietnet, op hulle wag. Net hulle en die natuur om hulle. Foto: Verskaf
’n Wegbreek in die bos is presies wat ’n mens nodig het ná  enige  inperking, skryf Antoinette Slabbert.

Dis laatmiddag en die vars boslug en reuk van die veld is presies wat hierdie stadsjapie ná maande se inperking nodig het.

’n Bonus is die Groot Vyf en al hul maters wat ons tydens ’n wildrit in die Kapama Private Wildreservaat naby Hoedspruit raakloop. Olifante by dosyne, klein tot groot, wei rustig tussen die bome; ’n trop van meer as agt dikgevrete leeus lê by ’n watergat, min gepla met die spekvet buffel daar naby in ’n moddergat wat ons droogweg aankyk. ’n Enkele renoster staan eers in die verte by ’n dammetjie, voordat hy dan nader stap en enkele meters van ons af wegdraai terug die veld in.

My hoogtepunt is egter die skugter luiperd. Die gidse het mekaar bewus gemaak dat hy in ’n spesifieke omgewing is en ons het hom een keer op ’n afstand gesien voordat hy weer die bos in verdwyn. Eers dog ek dit was die laaste sien, maar ons gids stoot agteruit en benader die bos uit ’n ander hoek en siedaar, daar stap die blinkvet gekolde dier so ’n paar meter voor ons oor die pad.

Dis al laat en donker toe ons terug kamp toe ry. In die kollig seil ’n luislang (hy is méters lank!) oor die pad en verdwyn in sy gat. En so word alles in die donker agter ons weer een met die natuur.

Luukse Suid-Afrika meer toeganklik

Saam met al die ellende wat die Covid-19-pandemie gebring het, is daar darem ook ligpunte. Een daarvan is die geleentheid om nou van Suid-Afrika se top toerismebestemmings teen plaaslike toerismepryse te verken.

Sit bo aan jou lys Kapama. Jy sal nie spyt wees nie. Hul tariewe vir die verskillende lodges is skerp gesny om Suid-Afrikaners te lok.

Sit bo aan jou lys Kapama. Jy sal nie spyt wees nie. Hul tariewe vir die verskillende lodges is skerp gesny om Suid-Afrikaners te lok.

Betaal byvoorbeeld R3 950 per persoon wat deel, vir ’n suite wat jou gewoonlik minstens R7 700 per persoon sou kos. Dit sluit jou etes en wildritte in.

Kapama bestaan uit 13 000 ha se ongeskonde veld met die Groot Vyf, ander wild, meer as 350 voëlspesies en vier verskillende luukse lodges.

Die ingang is reg oorkant die Eastgate-lughawe buite Hoedspruit, wat dit maklik maak om met CemAir of Airlink se gereelde vlugte van Gauteng daarheen te reis.

Vlugpryse verskil afhangend van die datum, maar as jy op 19 Januarie van Johannesburg daarheen en op 23 Januarie terugvlieg, sal jy so R2 856 op CemAir en sowat R2 848 op Airlink betaal.

Volgens Nicole Walker, Kapama se handelsmerkbestuurder, was 95% van Kapama se besoekers voor Covid-19 buitelanders – meestal van die VSA en Brasilië, maar ook ’n goeie skeut Europeërs en Britte.

Die besetting was deurgaans sowat 80%.

Toe die inperking in April kom, is die mat egter heeltemal onder die onderneming se voete uitgetrek. Die bestuur het boonop die beginselbesluit geneem om nie daarop aan te dring om kansellasietariewe terug te hou nie. “Uit ’n handelsnaamperspektief was dit die regte ding om te doen,” sê Walker.

Waar dit moontlik was, het hulle wel klante se besoeke probeer herskeduleer.

Toe die provinsiale grense in September heropen, het Kapama sy tariewe herstruktureer en met sowat 60% verlaag om Suid-Afrikaners se sakke te pas, sê Walker en in ’n kits was die oorde 90% volbespreek. Jy sal dus moet spring om te bespreek.

Anders as voorheen, sluit tariewe nou nie meer drankies in nie.

“Suid-Afrikaners wou uitkom en wat gesondheid betref is dit ’n taamlik veilige opsie,” sê Walker.

Die Covid-19-reëls is van toepassing en die oorde bied byvoorbeeld nie meer die buffet-aandete aan nie. Dit word nou by die tafel opgedien sodat die afstand tussen gaste gehandhaaf kan word.

Wildritte en lafenis

’n Besoek aan Kapama is vol hoogtepunte:

Soggens en saans se wildritte met kundige, opgeleide gidse (ons het binne drie dae die Groot Vyf en ’n menigte ander wild gesien);

Die skemerkelkie in die veld met ’n verskeidenheid drankies en eetgoed wat die mond laat water;

Spa-behandelings neffens die olifante se drinkplek;

Luilekker rus langs die koelblou swembaddens;

Wakker word in die ruim, lugverkoelde kamers met ’n uitsig op die veld. Die beskawing heeltemal buite sig.

Sjoe, ek het sommer self al klaar weer so ’n wegbreek nodig.

Die slaapplek

Kapama het vier lodges met meer as 100 kamers:

  • River Lodge met 64 kamers;
  • Buffalo Camp met tien luukse tente;
  • Southern Camp met 25 eenhede; en
  • Kapama Karula met 12 superluukse villas.
Meer oor:  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.