Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Rondrits:
Maak hier kop skoon
Tussen die mis en die strand lê Swakopmund iewers in die middel. Marzahn Botha het deur die dorp gestap. 

Swakopmund se strand lê lank en wit voor jou met die yskoue, diepblou see wat jou rustig sal stem.Foto’s: Marzahn Botha

As jy vroegoggend gaan stilsit met ’n koffie voor jou en om jou begin kyk, begin die dorp Swakopmund, Namibië, vir jou sin maak. Met jou eerste koppie koffie lê die mis dalk nog dik oor die dorp. Met die tweede koppie kan dit ooptrek en net die woestynsand in die strate lê hoog.

Tydens my onlangse besoek aan die Skedelkus Nasionale Park het ek ook twee dae in Swakop deurgebring.

Ek het aanhou wonder of ek in ’n klein dorpie in Duitsland is. Maar die grysblou see, die warm son wat afgekoel word deur ’n briesie, die tarentale wat in die strate hardloop en die Himbas en Herero’s wat statig “sweef”, bevestig ek’s in Afrika.

Geur van ’n ou dorp

Ons het ingevlieg na Walvisbaai, die plek waar my pa sy weermagopleiding gekry het. Kleintyd sou hy graag vir my kiekies wys van sy fikse dae met die six pack-lyf in sy onderbroek in die woestyn.

Daar’s darem heelwat sitplek op die helderkleurige bankies al langs die promenade.
Geniet ’n drankie by die Tiger Reef Beach Bar & Grill ná ’n stappie op die strand.
Oorblyfsels van die ou treinbrug op Swakopmund se strand.

Van daar het ons gery na Swakopmund en slaap nou oor by die Alte Brücke-ontspanningsoord aan die kant van die dorp. Alte Brücke beteken “ou brug”, vernoem na ’n brug in Heidelberg, Duitsland. Dit lê aan die kant soos jy van Walvisbaai af inry.

As jy strandlangs stap van die middedorp af, is dit ongeveer 30 minute tot by die pilare van die ou treinbrug waar die woestynstilte goud werd is. Kormorante en groen alge het die brug nou geannekseer. Die treinbrug is in 1915 gebou.

Dis selfs lekkerder om op hierdie promenade te stap as in Seepunt.

Die Swakopmund-rivier wat dikwels in vloed was, het dit byna nooit “droog” gelaat nie. Die waterskade het te veel geword en in 1934 het die treinspoor ’n nuwe pad agter die duine gekry. Tog is dit hier by die ou brug waar jy die gevoel kry van ’n spikkeltjie tussen sand en duin, waar die blou van die Atlantiese Oseaan en die woestynduin terselfdertyd met jou gesels. Soos jy terugstap kan jy teen sononder lippe natmaak by die Tiger Reef Beach Bar & Grill. Op enige gegewe oomblik kry jy baie Duitsers hier, maar die plek is enorm, so dit voel nes Namibië, asof daar te veel plek is.

Van pier tot Waterfront

Swakopmund is sentraal geleë – dit verbind Etosha in die noorde met Windhoek in die ooste en Sossusvlei in die suide.

As die miskombers oor Swakop trek, is die gekleurde bankies op die promenade net-net sigbaar. Dis selfs lekkerder om op hierdie promenade te stap as in Seepunt, Kaapstad. Die mense en geluide is minder, die briesie varser en die bankies oop.

Die pier vat jou tot diep in die see. Op ’n Sondagmiddag is dit die perfekte plek om die groot bord kartoffeln en eisbein wat jy geëet het, af te stap. Jy kry ook ’n beter indruk van die mooie Swakop, ’n dorp in Afrika met ’n Duitse geur.

Soos ek verder stap, lei my voete my na die dorpsplein. Hier sien jy die bekende vuurtoring (1914) wat hemelwaarts reik. Hier naby is die waterfrontgebied. Dit is skoon en netjies en die toonbeeld van ’n stad met infrastruktuur, opknapping en vernuwing.

Sommige restaurante en deli’s hier is sjiek, terwyl ander meer tradisioneel is. En álles, selfs ’n bier, smaak lekkerder in sonskyn by die see.

Jy kan nie in Swakop wees sonder om by Cafe Anton te eet nie. Die soetgebak en koffie op die wit tafeldoeke in ’n elegante Duitse bistro laat jou tydelik vergeet van al die Duitse sondes in dié land.

Swakopmund se argitektuur laat jou voel asof jy in Duitsland vakansie hou. Foto’s:Marzahn Botha
Die vuurtoring neffens die dorpsplein is ’n landmerk in Namibië.

Beter as die Kaap

Wat my sal bybly van Swakop is die rooi kannas wat natgespuit word deur die werkers. In dié droë land het selfs die sproeiers nie ophou wentel nie, terwyl ons in Kaapstad in Maart nog met ’n erge waterkrisis gesit het, en steeds sit. Maar hier in die dorp tussen woestyn en see groei die kannas welig en is daar oorgenoeg water.

’n Dronkaard lê uitgepass by die plein, maar niemand pla hom nie. ’n Mens word ook nie konstant oorval deur bedelaars soos in die Moederstad nie.

As my sommetjies sou klop, sou ek beslis oorweeg om Swakop toe te trek.

Jy kan in die mengelmoes van die klassieke Duitse argitektuur met moderne ontwerpe en interieurs sien dat dinge hier vooruit beweeg.

Tog wil ’n mens nooit Afrika uit ’n dorp haal nie, maar gelukkig is die etniese element te opsigtelik en die vriendelikheid te eg.

Hier woon steeds baie Duitsers, wat die “Euro” in ’n gemengde Euro-Afrika-dorpie in die middel van die woestyn is.

Selfs die Duitsers hier is meer gemoedelik en vriendelik.

Swakop is een van daardie plekke waar toeriste regmerkies langs die volgende blokkies kan sit: avontuur, natuur en spys en drank.

Soos ek deur die strate vol duinesand stap, voel dit of die oud en die nuut hande vat hier. Die wind is ook hier om ou dinge weg te waai, en die mis bring vernuwing.

Meer oor:  Namibië  |  Strand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.