Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Maggies, magiese Magoebaskloof

Magoebaskloof. Maggies, man, dis nou een van daai plekke wat jou laat voel asof jy pens en pootjies binne-in ’n Ben Venter-boek beland het, met Waterbobbejaan wat straks besig is om jou deur die boomvarings te bekruip.

Tydens ons Beyond Lockdown-ekspedisie het ek en ’n paar vriende hierdie afgeleë rante van die noordelike Drakensbergreeks kom verken en dis werklikwaar ’n magiese plek.

Modjadji, die mitiese reënkoningin, heers oor die Balobedu-mense in die aangrensende kloof, en geskiedenis en tradisie vloei dik binne die are van Haenertsburg se plaaslike karakters.

Eeue-oue boomreuse het reeds diep wortels geskiet hier in die Wolkberg se voetheuwels, en die smaraggroen woude lok jou om skoene uit te skop, op ’n mos­bedekte stomp te gaan sit en diep teue vars lug in te adem. Stap-, draf- en fietstraproetes deurkruis hierdie botaniese paradys – jy gaan vir seker al daardie suurstof nodig hê.

David Letsoalo sal jou na die enorme cussonia-boom neem, wat sowat 2 000 jaar oud is.

Ry die roetes

Hier gaan jy definitief ’n bergfiets nodig hê, ou maat! Jou kuite gaan weet hulle het geklim ná ’n dag in die saal, maar gelukkig is die roetes só ontwerp dat jy kontoere volg en dus nooit regtig hoef te stoot nie. Maar nou ja . . . wat in die bos gebeur, bly in die bos, en ons belowe om niemand te vertel nie!

Magoebaskloof se toerismevereniging het die fietsroetes só beplan dat hulle die belangrikste besienswaardighede verbind. Kyk veral uit vir die Cheerio Gardens-teetuin, Wegraakbosch se organiese kaasmakery, en die puik Zwakala-brouery.

Hier volg ’n paar roete-idees.

Geel roete (17 km)

Min tegniese hindernisse beteken dié roete is perfek vir beginners en families. Dis vinnig en redelik plat, en vloei vanaf Haenertsburg deur die asemrowende Cheerio-vallei al langs die Broederstroomrivier langs.

Die smaraggroen woude is ’n ervaring om met jou bergfiets te verken. Magoebaskloof se toerismevereniging het die fietsroetes só beplan dat hulle die belangrikste besienswaardighede verbind.Foto’s: Jacques Marais

Jy trap hoofsaaklik op bosboupaaie, maar met so ’n stukkie enkelspoor hier en daar.

Saal op by Cheerio Gardens se koffiewinkel en volg die Cheerio L-Pad in die rigting van die R71. Kronkel dan deur ’n pragtige inheemse woud op Glenshiel-plaas.

Draai skerp regs net voor Haenertsburg by die ou brug en volg die Broederstroomrivier terug na die beginpunt. Die klim uit die vallei uit is kwaai op die kuite, maar jy vergeet gou daarvan wanneer jy deur die pragtige Sequoia-tuine trap, al verby die foreldamme tot by die teetuin.

Groen roete (22 km)

Dis die uitdagendste van die roetes, met ’n goeie mengsel van klim, gevolg deur witkneukel-afdraandes. Bosboupaadjies wat aansluit by pasgemaakte enkelspoor sal jou luidrugtig “hoera!” laat uitbasuin terwyl jy deur die plantasies bom.

Jacques Marais

Jy begin weer by Cheerio Gardens, maar trap dan van hier af deur Wegraakbosch al langs blitsige en supersteil enkelspoor deur ’n boomryke inheemse woud. (Maak seker jy maak al die vee-hekke agter jou toe!)

Die Magoebaskloof MTB XCO-baan se tegniese draaie wag op jou voordat jy die berugte Mount Merrick takel. Wees gewaarsku, hier gaan jy dalk swets.

Die Long Tom-monument beteken jy het dit tot bo gemaak; nou wag daar ’n lang afdraande tot teenaan die rivier en verby die Zwakala River Retreat en sy brouery. Jy kan nou koers kies terug na Cheerio Gardens toe, of stop en teug aan een van Zwakala se bekroonde lagers.

Blou roete (9 km)

Dié een is vir die haastige trappers. Saal op vir ’n kort 10 km- roete vanaf die skilderagtige Mountain Cafe by die plaas Blueberry Heights. Trap tussen die bessie- en kiwivrugboorde totdat jy die houtbrug oor die stroom bereik en draai dan skerp links. (Moenie onder die brug deurry nie – dis ’n skakel na die groen en geel roete.)

Die kort opdraande-enkelbaan deur die denne is rof maar rybaar, en jy kan darem asem skep terwyl jy die plat en vinnige enkelspoor rondom Stanford Lake Lodge meer geniet.

Klim verby Stanford tot by Visarenddam, en sny van hier af deur die dennebos tot by Ebenezerdam voordat jy terugtrap Blueberry Heights toe.

Doendinge

* Besoek ’n droomboom!

Diep binne die bladwisselende woude van Kurisa Moya staan daar ’n enorme cussonia-boom, geskat op ongeveer 2 000 jaar oud. Dit klink onwaarskynlik, want dit beteken dat hierdie antieke kiepersol sedert Bybelse tye bestaan, maar wanneer jy teen sy knoetserige stam gaan staan, sal jy sommer gou hierdie bosreus aanbid. Vra vir David Letsoalo om jou te begelei en jy sal ook honderde voëls gewaar. www.limpopobirding.com

* Wees ’n dapper stapper – Pak die Louis Changuion-staproete buite Haenertsburg aan. Die asemrowende panoramas oor die Ebenezerdam en die skaars houtbos-graniet-grasvelde sal jou betower. www.haenertsburg.co.za

*  Verken die woude se verborge geheime terwyl jy foefieslaaid – veilig ingegespe in ’n harnas – tussen hoë stellasies te midde van bosreuse en magtige kranse. www.magoebaskloofcanopytour.co.za

*  Magoebas Trek – Dié puik MTB-resies laat jou toe om die omgewing vir drie dae op jou fiets te verken. Vanjaar se saamtrek vind van 20-22 Augustus plaas. Inskrywings is nou oop. www.magoebatrek.co.za.

*  Die Cheerio-vallei is ’n natuurlike toevlugsoord met uitstaande forelmere en strome vir kranige forelhengelaars. www.cheerio.co.za

*  Span uit by ’n waterval. 

Die Debegeni-waterval op die R71 is onlangs weer oop nadat dit gesluit was vir opknapping en beveiliging. Daar is nou ’n R30- toegangsbedrag en toegangsbeheer, wat dit ’n veilige en gerieflike piekniekplek maak.


As jy wil gaan

Waar is dit?

Magoebaskloof is sowat 80 km vanaf Polokwane op die R71.

Wanneer moet ek gaan?

Volgens lovelimpopo.co.za is November tot Januarie die reënseisoen en Januarie die warmste maand. Winter is koud en droog. Augustus en September blom die asaleas en die omgewing verander van smaraggroen in ’n skelpienk lushof vir die oog.

Waar bly ek?

Daar is ’n groot verskeidenheid verblyf vir alle sakke, van luukse naweekhuise wat uitkyk oor die Ebenezerdam, tot intieme, klein kamppeerterreine.

Jy kan Coral Tree Campsite eksklusief bespreek, met sy eie swembad, ablusieblok en kombuis. Vanaf R265 per persoon per aand, met ’n maksimum van ses mense.

Besoek theherbcottage.co.za of skakel 082 335 6803.


Meer oor:  Bome  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.