Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Mata-Mata wys sy mooiste vere

Die buitengewoon goeie reëns in die Kalahari het MC Botha gelok om die Kgalagadi-oorgrenspark te besoek.

Volstruisies en hul pa in die pad net buite Mata-Mata. Foto: MC Botha

Laas was ek en my vriend Schalk le Roux van Oudtshoorn in 2008 hier.

Toe was die wêreld droog, uitgedor: Rooi duine het in lug­spieëlings gedans en vaalgeel gras het in hittegolwe gebeef terwyl springbokke, blouwildebeeste en gemsbokke mistroostig in die skadu’s van kameeldorings geskuil het.

Nou is dit ’n heel ander storie. Die groen lote van suurgras en Boesmangras skiet op tot heuphoogte en korter grassies en struikies tooi die eens pastelkleurige landskap in skakerings van groen, saffraan en skarlaken.

Derduisende skoenlappers dartel oral in die veld en oor die pad, voëls van alle soorte vlieg rond en kan skaars byhou om hul kleintjies te voer.

Die woestyn is inderdaad omgetower in ’n bosveldparadys.

Skoenlappers, meestal Afrikaanse swerwers, by ’n droë modderpoel. Foto: MC Botha

Natuur se oorvloed

Ons kamp onder meer vier nagte langs die Auobrivierbedding by Mata-Mata, op die grens met Namibië aan die verre weste van die park. Die natuur se oorvloed is nêrens meer sigbaar nie as net hier binne die omheinde grens van die klein kampeerterreintjie.

Sommer met die intrapslag hoor ons van uile wat in ’n hoë kameeldoring ’n nes het. Ná ’n bietjie verkenning vind ons dié boom voor ’n rytjie huisies bokant die kampplek.

Eers sien ons twee jong witkol-uiltjies langs mekaar sit, hoog in die takke en vas aan die slaap. By nadere ondersoek vind ons nog drie. Nie aldag dat jy vyf baba-uiltjies lewend uit een broeisel sien nie!

’n Ander uilspesie is minder gelukkig. Een vroegmiddag in die skroeiende hitte bars ’n helse gekwetter en gekras van voëls in ’n boom skuins bo die tent uit.

’n Gevlekte lyster vlieg op na ’n boomtop. Foto: MC Botha

Rooiborslaksmanne, mossies en mikstertbyevangers duik knaend af op iets wat êrens agter ’n blaredak skuil.

Kan dit ’n slang wees wat hulle só ontstig? Skielik kies die swerm hoogs ontstelde geveerdes koers na ’n boom nog nader aan ons.

Hulle jaag al die tyd ’n witkol­uil, daardie piepklein uiltjie wat bekend is om sy eentonige “peu-peu-peu-peeeu” wat snags so kenmerkend van die Afrika-savanna-bosveld is.

Die uiltjie vlug vir sy lewe en gaan kruip met ’n desperate rats swiep weg in ’n gat van ’n boomstam net bo die grond.

Te laat vir suikerwater

Die volgende aand toe die son sak, is ’n ander voëltjie minder gelukkig.

Terwyl ek met ons buurman by die grensdraad voor ons staan en gesels, vlieg ’n tortelduif hom des moers teen die draad.

Hy beland op sy rug in die stof, ’n meter of twee van grondeekhorings se skuilgat.

Die eens droë Auob is nou ’n groen lushof. Foto: MC Botha

Ek sê nog vir die buurman ek sal bietjie suikerwater gaan haal om die duif by te bring – iets wat my ouma altyd gedoen het as ’n voël homself disnis vlieg teen ’n huisvenster. Nee wag, sê die buurman toe ’n grondeekhoring opeens nader sluip.

Dié trek die duif versigtig aan sy bek nader, en die oomblik toe hy besef die voël is dood, gryp hy een van die voël se rooi pootjies in sy eie voorpootjies vas en vreet die poot heeltemal op.

Daarna die ander poot, toe takel hy die borskas, die vlerke. Binne die bestek van ’n kwartier is die duif opgevreet dat net sy kop en ’n hoop vere agterbly.

Wie sou kon raai dat hierdie oulike grondeekhorings (ook waaierstertmeerkatte genoem) wat gewoonlik knolle en uintjies uitgrawe, ook karnivore is?

’n Mikstertbyevanger voer sy veel groter pleegkind. Foto: MC Botha
’n Boom vol witwanguile. Foto: MC Botha

Geveerde pleegkind

Aan die oostelike uithoek van die kampterrein is ’n voëlskuiling langs die skelet van ’n ou kameeldoring. En dis op een van die takke van dié dooie boom waar ’n jong Afrikaanse koekoek smôrens ligdag kom sit, sy vlerkies tril en met ’n oop bekkie wat binnekant helderoranje is, skree vir kos.

MC Botha

Sy pleegouers is twee mikstertbyevangers wat omtrent besig gehou word om hul aangenome kleintjie – wat meer as twee keer groter as hulle is – se honger te stil.

Anders as haar niggie, die Piet-my-vrou, wat talle voëlsoorte parasiteer, lê die Afrikaanse koekoekwyfie haar eiers uitsluitlik in die nes van mikstertbyevangers.

Eintlik ironies dat mikstertbyevangers – van die kordaatste en aanvallendste kleiner voëls – só uitoorlê kan word. Sodra die koekoekeier boonop uitbroei, skop die pasgeborene die ander eiertjies uit die nes en verseker derhalwe dat net hý grootgemaak sal word.

Die pleegouers hier in Mata-Mata beskerm hul ongevraagde kind met mag en mening. Selfs veel groter valke en woue wat dit durf waag naby hul spruit word verbete verpes totdat hulle noodgedwonge wegswenk na rustiger weivelde.

Eendag het die werklike ouers van die koekoekie opgedaag en begin roep – dit klink nes die roep van ’n hoep-hoep. En daar sak die twee byevreters op “húl” baba se ouers toe en jaag hulle met alle geweld weg die wildernis in.

Die voëlwêreld is maar net so eienaardig as die mens s’n.

  • Botha is ’n fotojoernalis en skrywer.
As jy ook daar wil kampeer
  • Mata-Mata is, saam met Twee Rivieren en Nossob, een van drie ruskampe in die Kgalagadi-oorgrenspark.
  • Die kamp grens aan Namibië en verblyf bestaan uit chalets (ook vir gesinne) en kampeerplek.
  • Besoekers kan verwag om kameelperde te sien, wat tipies by dié kamp voorkom.
  • Die kamp het ’n ontvangskantoor, swembad, winkel en brandstof is daar te koop.
  • Elektrisiteit word deur ’n kragopwekker voorsien en daar is geen krag van 21:30 tot 05:00 nie.
  • Daar is geen telefoon of selfoonontvangs nie.
  • Mata-Mata is sowat 2,5 uur se ry van die Twee Rivieren-kamp.
  • Kampterreine is beskikbaar vanaf R400 per staanplek per aand vir twee mense. Ekstra volwassenes betaal R100 per aand en kinders R50.
  • Vir meer inligting en om te bespreek, besoek www.sanparks.org.za.
  • Bron: Sanparke
’n Grondeekhoring smul aan ’n tortelduif. Foto: MC Botha


Meer oor:  Sanparke  |  Kalahari  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.