Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Meer as net wild

Die Krugerwildtuin het soveel meer dimensies as net die Groot Vyf, leer Heleen Coertze binne net ’n paar dae

Stappers op ’n ry op soek na nuwe avonture. Foto’s: Jan Coertze

Die Nasionale Krugerwildtuin het vele gesigte.

In die nawinter begroet ’n verruklike beeldetuin jou – kaal stamme, kleedloos maar lieflik.

’n Mens vergaap jou behoorlik aan die tussenruimtes van die takke van die boombeelde wat teen die blouste lug uittroon.

Met vroeg herfs lyk die enorme park weer totaal anders – grassade staan hoër as heuphoogte en die mopanies jubel dit uit in plate en plate herfskleure.

Dit is teen hierdie herfsagtergrond dat ons einde April die wildtuin besoek. Dié wêreldwyd gewilde en bekende unieke natuurreservaat is so groot dat Wallis netjies daarin kan pas en met genoeg olifante om ’n groterige dorp maklik te kan oorneem.

Ons is skaars deur die Phalaborwa-toegangshek op die H9-teerpad of ’n argeologiese besigtigingspunt lê ná 12 km slap regs. Hier, by die Masorini- argeologiese bewaringsterrein, dring die bewussyn tot jou deur dat jy jouself veel meer as net die retoriese “het jy die Groot Vyf gesien?” moet afvra met ’n wildtuinbesoek.

Op ’n staptog voel jy soveel nader aan die diere, selfs al is jy verder as in ’n motor.
’n Sopie met sononder op die rivieroewer met die volmaan reeds op die horison. Foto:
Migrante, smelters en smede

By Masorini, ’n argeologiese terrein wat so ver terug as die Ystertydperk dateer, is bewyse gevind van mense wat so vroeg as 1 500 jaar gelede in die gebied gewoon het. Ek luister na ons gids wat vertel hoe Nguni-sprekende mense in 200 ná Christus (n.C.) van die noorde hierheen gemigreer het en die Khoisan verdryf het.

Via die Mosambiekse hawe het Arabiere teen 800 n.C. dié gebied vir slawe begin teiken en sommige het hulle selfs in die park gevestig waar hulle by Thulamela en Masorini yster ontgin het. (In die Thulamela-gebied is ongeveer 200 mynruïnes wat dateer van die jare tussen 1250 en 1700 n.C.)

Dit vertel ook die verhaal van die Ba­Phalaborwa se voorvaders wat tussen 1700 en 1800 hier gewoon het. Hulle het yster gemyn en verwerk. Die smelters het aan die voet van die koppie gewoon en die smede hoër op omdat hulle ’n hoër stand geniet het.

Masorini is na ’n destydse hoofman genoem. Tydens sy heerskappy het die stam met die Vendas in die noorde en die Portugese aan die Ooskus handel gedryf en koper is verruil vir eksotiese glaskrale, ivoor en ander handelsgoedere.

Op ’n staptog in die Kruger-wildtuin soek ’n mens na die kleiner nuanses, soos voetspore of diermis in die rivierlope. Foto:
Dapper stappers op die spoor

Ons is eintlik in die wildtuin om te kom stap. Ná Masorini vat ons die pad na die Letaba-ruskamp se kant toe, waar ons die res van die stapgroep en ons twee gidse vir die volgende drie nagte en twee dae ontmoet. Jy los jou eie rygoed daar en klim op die oop wildbesigtigingsvoertuig op pad na die eindbestemming.

Die aandstilte en herfslug hang swaar toe ons uiteindelik vroegaand by Twanana, ’n lieflike, afgesonderde kampeerterrein in die Shongololo-rivierlopie, aankom. Ver bo verwagting wag huisies met enkelbedjies en warm storte vir ons agt avontuursoekers wat vir die volgende drie dae meer van die veld wil leer.

Die oggendstond het voorwaar goud in die mond toe ons vroegoggend, net ná dagbreek, deur een van die gidse wakker geklop word.

Koffie en beskuit, tesame met peuselgoed, wag reeds by die kuierlapa voordat ons vertrek vir die vroeë oggendveldstap. Die koel rit op die oop voertuig is heerlik verfrissend. Jy ruik die veld en hoor hoe die voëls die nuwe dag begroet.

Dit is duidelik dat Aaron Mkansi, ons gids, reeds 18 jaar ’n gids in die Wildtuin is. Sy wysheid en insig slaan reeds die eerste stapoggend met sy protokolpraatjie deur. Hy noem die veld sy koerant, hou die dinamika in die groepie behendig dop en laat jou sintuie oortyd werk.

Ons ontpop in kranige mikstok-waterwysers, glo dat die bome beslis vir mekaar boodskappe stuur en verkyk ons aan die blousysies wat skelm kom groet.

Tot ons verbasing boots hy die witkol­uiltjie (Glaucidium perlatum) se roep perfek na.

Ons leer van terpentyngras wat maklik brand en appelblaar, so genoem omdat dit klink of iemand aan ’n appel hap wanneer jy die blaar tussen jou vingers fyn druk.

Vir twee dae verken ons soggens met oop ore en wakker oë die oorvloed van die veld en keer teen laatoggend terug vir ’n uitgebreide noenmaal en middagslapie. Aan die einde van die drie nagte kwalifiseer jy boonop vir jou “P(oo)hD”, want daar is bykans geen dierlike feses wat nie bekyk is nie!

By die Masorini-argeologiese bewaringsterrein dateer sover terug as die Ystertydperk. Hier is artefakte soos ’n smeltoond, maalklippe en potskerwe gevindFoto: GALLO IMAGES/Mike Copeland
Die Masorini- argeologiese bewaringsterrein dateer so ver terug as die Ystertydperk.Foto: GALLO IMAGES
Vergange handelsposte

Ná die dae se stap, gaan soek ons verder na die besienswaardighede waarvoor die Kruger nie so bekend is nie.

Daar is ongeveer 54 gemerkte historiese besienswaardighede by netjiese, heuphoogte-klipmuurtjies waar jy kan stilhou.

Soos brokstukke gee die inligting ’n insiggewende geheelbeeld van interessante gebeurtenisse en karakters wat vir die Krugerwildtuin se vroeëre geskiedenis gesorg het. Mense en hul dinge is nou verweef met die park.

Hoewel die Voortrekker-ekspedisies van Louis Trichardt en Hans van Rensburg die Laeveld teen 1838 verken het, is dit die Italianer João Albasini wat die eerste Europeër geword het wat in 1845 ’n handelspos by Magashula se kraal (nou bekend as die Albasini-ruïnes) vestig.

Albasini was ’n avonturier en waaghals, wat nadat hy in die vroeë 1800’s in die destydse Lourenço Marques (nou Maputo) aangekom het, sy eie handelsaak met verskeie handelsroetes op die ou handelspaaie na die binneland begin het.

Hy het ook twee hoofmanne aangewys om twee ander handelsposte te beman. Een van die poste, aan die voet van Manugukop wat deur hoofman Manugu beheer is, was net suid van Pretoriuskop. Later het die einste Albasini die visekonsul van Portugal in Suid-Afrika geword.

Net buite die Letaba-ruskamp, op die S95, is daar ’n tipiese Portugese kruis in ’n ou hardekoolboom se stam uitgekerf.

Dit is onseker wie die kruis uitgekerf het, maar op die gidsbordjie word aan­gedui dat Fernandes das Neves, wat vir 13 jaar hier handel gedryf en op groot skaal olifante gejag het, daarvoor verantwoordelik kon gewees het.

Die oggendstond het goud in die mond, vind ’n mens uit as jy vroeg genoeg opstaan vir ’n staptog.
Hulde aan Jock

Vir Jock, daai beroemde staffie waaraan John Edmond hulde bring in sy liedjie “Jock of the Bushveld”, is daar ’n hele rits “monumente” op die ou Transport­roete, suidoos van Pretoriuskop tot naby aan Krokodilbrug.

In sy boek Jock of the Bushveld, wat in 1907 verskyn het, vertel sir Percy FitzPatrick breedvoerig van sy legendariese hond wat die aller wonderlikste avonture (en gevare!) saam met hom trotseer het.

Soos ware pioniers het Jock en sy baas die wilde Bosveldpaaie deurkruis. Een van die roetemerkers by die stilhouplek naby die Malelane-Krokodilbrugpad herinner jou juis waar hulle ’n beroemde geveg met ’n ou krokodil gehad het.

Leeu met ’n mes afgeweer

Een van die Krugerwildtuin se bekendste verhale waarin nog ’n hond een van die hoofrolle speel, het in 1904 afgespeel toe Harry Wolhuter, een van die park se eerste wildbewaarders, deur twee leeus aangeval is.

Harry was met sy perd onderweg op wat vandag as die Lindandapad (S35) bekend staan. Net ná middernag is hy deur die leeus aangeval. Toe hy van sy perd afval, so lui die storie, het die een leeu hom aan die skouer beetgekry en hom ongeveer 100 m die bos ingesleep.

Die half bewustelose bewaarder het sy mes uit sy skede getrek en die leeu daarmee gesteek. Die verwonde leeu het Wolhuter gelos, en ons held kon gelukkig in ’n boom klim voordat die tweede maanhaar hom bestorm het.

Bull, sy hond, het glo só vir die tweede maanhaar geblaf dat hy tydelik die dier se aandag afgetrek het, terwyl sy baas in die boom kon opkruip. Bull, het Wolhuter geglo, het so sy lewe gered.

Jy kan Wolhuter (of Lindanda, sy Swazi-naam) se mes en die leeuvel van nader gaan bewonder in die Stevenson-Hamilton-gedenkbiblioteek in Skukuza waar dit uitgestal word.

Spore van Anglo-Boereoorlog

Gebeure voor en tydens die Anglo-Boereoorlog het ook spore in die park gelaat.

Aan die suideroewer van die Krokodilrivier het genl. Ben Viljoen, die enigmatiese Boeregeneraal van wie die skrywer Carel van der Merwe breedvoerig in sy boek Kansvatters skryf, sy manskappe opdrag gegee om op 16 September 1900 die meeste van hul grofgeskut en ammunisie die lug in te blaas. Viljoen wou verhoed dat dit in die hande van die oprukkende Engelse kolonne onder genl. Reginald Pole-Carew val.

Die Krugerwildtuin is voorwaar meer as net die Groot Vyf – dit besef jy ná net ’n paar dae van fyn kyk en fyn trap. 

  • Ons het R5 656 per persoon betaal vir die staptog, Dit sluit vroegoggend beskuit en koffie, snoephappies tydens die staptog, ’n groot noenmaal en aandete in. Alkoholiese drankies is nie ingesluit nie. Besoek Sanparks.org vir meer inligting.



Meer oor:  Rondrits  |  Krugerwildtuin  |  Stap  |  Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.