Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Mere, woude en stroompies

Daar is mooi sover jy kyk in die Plitvicka Jezera Nasionale Park in Kroasië, skryf Alet Wichmann.

Kroasië is sinoniem met blou. Turkooisblou waters wat die bekende poskaartkusstede omraam. ’n Mens dink onwillekeurig aan eilandvakansies, sonbaai op klipstrandjies en jolyt op seiljagte (vir die rykes onder ons).

Die water is silwerskoon en ’n mens kan plek-plek tot op die bodem sien. Foto’s: Kobus van Zyl en Alet Wichmann

Maar daar is ook ’n ander kant aan hierdie prentjiemooi land aan die Adriatiese kus: dofbruin en heldergroen.

Bruin

Na die binneland toe in die Mediterreense Dalmasiese kusstreek in die suidooste van die land lê die hinterland – ’n dowwe bruin streek van kalksteen, gips en dolomiet met droë bossies.

Ons kry ’n huurmotor by die lughawe net suid van die kusstad Dubrovnik en ry eers ’n stukkie kuslangs deur tipiese Kroatiese dorpies met hul voete in die diep blou see. Net noord van Dubrovnik steek ons moeiteloos die grens oor na Bosnië-Herzegowina, maar dié land word duidelik net toegelaat om ’n toon in die oseaan te steek, want skaars 14 km later is ons weer deur die grens terug in Kroasië. Suid-Afrikaners met ’n geldige Schengen-visum mag deur dié land ry.

Ons stop by een van die vele padstalle langs die kus en koop ’n sakkie gedroogte vye, druiwe en ’n handjievol piepklein pruime vir R75. Vir dié prys kan jy darem ook die tydelike toilet, wat skoon maar primitief is, gebruik.

Van daar neem ons die binnelandse hoofweg en draai weg van die kus na die binneland. Dit herinner my meer aan natuurlewetonele van ibekse in die Arabiese woestyn uit Planet Earth II as die groen-en-blou-tonele wat ek van Kroasië verwag het.

Ons het nie tyd om in dié dorre wêreld stil te hou nie, maar in toeristegidse lees ek van die geheime grotte met volop stalaktiete en stalagmiete wat dié landskap versteek. Volgende keer sal ons beslis daar ook oornag.

Ons is eintlik op pad na die groen landskappe van die Lika-Senj-distrik in Sentraal-Kroasië.

Al om die mere en watervalle is groen woude.
Die herfstyd sorg vir mooi kontrasterende kleure in die natuur.

Groen

Hier, tussen twee bergreekse in die hartjie van die boomryke wouddistrik, lê die oudste en grootste nasionale park in Kroasië. Die Plitvicka Jezera Nasionale Park beslaan net minder as 300 km². Dis in 1949 geproklameer en is in 1979 deur Unesco tot Wêrelderfenisgebied verklaar. Jezera beteken “mere” in Kroaties. Daar is altesaam 16 mere van verskillende groottes wat op asemrowende wyse met stroompies en watervalle van die een na die volgende stort. Hierdie natuurskouspel beslaan minder as 1% van die park, maar is die groot rede waarom toeriste hierheen stroom. Die res van die park is beukewoude met enkele grasvelde tussen-in.

Dis sowaar asemrowend. Met elke tree wat jy op die houtpaadjies deur die park neem, sal jou mond oophang. Die mooi hou eenvoudig net nie op nie.

Met ’n klein seuntjie het ons eintlik ’n korterige deel van die roete voltooi, maar wat ons gesien het, was ongelooflik. Daar is sewe verskillende roetes wat wissel van enkele kilometers tot so ver as 21 km. Ons het eers die treintjie vanaf die ingang tot aan die bopunt van die mere geneem en toe sowat 3 km meestal afdraende gestap tot waar ’n veerboot ons weer terug oor een van die mere tot by die ingang geneem het. In die wintermaande wanneer die park spierwit onder die sneeu lê, is daar ook ’n paar ski-hellings wat jy met ski’s of ’n slee kan aandurf.

Ons het met die veerboot net ’n kort entjie dwarsoor die meer tot terug by die ingang na die park gevaar, maar jy kan ook ’n langer roete oor die lengte van die meer volg.
Stortende watervalle sorg oral vir skouspelagtige agtergronde op foto’s. Hier is Kobus en Betsie van Zyl saam met hul kleinseun Christian.

Weet voor jy gaan

  • Die toegangsgeld verskil baie van seisoen tot seisoen. In die Europese somervakansietyd van 1 Julie tot 31 Augustus betaal jy sowat R560 per volwassene as jy voor 16:00 die middag wil ingaan om ’n lang tyd in die park deur te bring. Ná 16:00 betaal jy net R335 per persoon en die park sluit om 22:00 in die aand.

In die lente en herfs betaal jy die R335 vir ’n hele dag en in die winter, vanaf 1 November tot 31 Maart, kan jy ingaan vir net R120. Kinders jonger as agt gaan gratis in en jonger as 18 betaal so min of meer halfprys.

  • In die besige somermaande daag busse vol toeriste vanaf nabygeleë kusdorpe in hul hordes by die park op. Dis daarom ’n goeie idee om die park voor 10:00 of ná 16:00 binne te gaan, voordat die busse aankom of nadat hulle weer vertrek het. Tussen 10:00 en 16:00 word die hekke soms gesluit wanneer die maksimum aantal toeriste toegelaat is.

Juis om hierdie rede is dit ook beter om die park buite die somervakansie te besoek. Met ons besoek aan die einde van September was dit al effens koeler en reënerig, maar dit was geensins ’n vertrapping op die paadjies nie, selfs al het ons die gewildste deel gedoen. Vroegoggend was dit mistig, so ons het eers later die oggend in die park ingegaan.

  • Maak seker jy pak ’n reënjas of sambreel in, want hierdie park kry 1 550 mm reën per jaar. Die klimaat is warm en vogtig.
  • Jy kan ook nou die park se amptelike app op jou foon aflaai. Dit bevat onder meer al die moontlike roetes wat jy kan aanpak en sal jou dan navigeer soos jy aangaan.

Waar om te bly

Daar is hotelle by die ingang van die Plitvicka-merepark. Die voordeel daarvan is dat jy voor in die ry staan om in te gaan oor besige tye. Die nadeel is dis effe duur, veral as jy met jou rande reis en op ’n streng begroting soos ons s’n. Dit kan jou sowat R800 per persoon per nag kos.

By Apartments Zafran, sowat 5 km buite die park, het ons ’n skamele R1 325 per nag vir ’n woonstel betaal vir vier volwassenes en ’n 18 maande oue seuntjie. Dit sluit geen etes (of noemenswaardige kombuis) in nie, maar was gerieflik, netjies en daar is darem ’n supermarkie en ’n paar restaurante in die omgewing.

Die gasvrou kan glo ook op versoek etes maak (en volgens resensies op Booking.­com is dit heerlik), maar sy het met ons besoek by haar suster in Dubrovnik gekuier. Haar seun was baie gasvry, maar nie ’n kok nie. ’n Vinnige aanlyn soektog het ook gewys daar is hope ander bekostigbare gastehuise te kies en te keur in die omgewing.

Meer oor:  Kroasië  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.