Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Onderstebo huis by Hartbeespoort

Dit het begin by ’n groep individue wat gewaag het om hul wêreld as’t ware op sy kop te keer. En nou kan Suid-Afrikaners vir die eerste keer (sover die Upside Down House-span kon vasstel) ’n onderstebo huis op eie bodem besoek.

Volgens René Cronjé, bemarkingsbestuurder, is onderstebo-strukture in Europa nie so vreemd nie. “Die eerste onderstebo huis is in Pole gebou. Die inspirasie daaragter was die idee dat die hele wêreld soms dol en ‘op sy kop gekeer’ voel.”

By Broederstroom staan ’n huis wat op sy kop gekeer is. Foto’s: Daniëlla van Heerden

Die plaaslike huis by Broederstroom naby Harties se ontwerp het omtrent vier maande geneem, en dis binne vyf maande gebou. Om die huis te meubileer was ’n uitdaging – alles wat gewoonlik op die vloer is, moes nou bo die besoeker se kop wees!

“Boonop is die huis teen ’n hoek gebou, wat bydra tot die vreemde ervaring wanneer jy die huis betree. Dis kuns én goëlery,” sê René.

Talle besoekers meld byvoorbeeld dat hulle effens deurmekaar of selfs naar voel wanneer hulle instap. Wanneer jy by die vensters uitkyk, is die res van die wêreld immers steeds nes dit moet wees!

Dis ’n vreemde gevoel om deur die venster van die Upside Down House te kyk, want binne is alles onderstebo, terwyl alles buite nog regop staan. Foto:

“Ons het op Broederstroom besluit, omdat die natuur, berge en vars lug as jy by die venster uitkyk alles bydra tot die illusie.”

René en die span glo hulle bied vir besoekers – en veral gesinne – ’n unieke uitstappie. “Hulle lag heerlik vir al die snaakse foto’s wat jy kan neem. Jy kan die wêreld nou uit ’n ander hoek bekyk!” sê sy. Boonop reageer elkeen fisiek anders op die vreemde sensasie van “onderstebo wees”.

René sê hulle het nie tydgleuwe vir besoekers nie en ook geen beperking op hoeveel keer iemand deur die huis kan stap nie. “Ons moedig mense aan om nie gejaagd te wees nie, want net soos met enige ander kuns is geduld deurslaggewend. Dikwels kry gaste ook hul beste idees vir ’n kreatiewe foto wanneer hulle die derde of vierde keer deurstap.”

Jou kop sukkel om aan te pas in die onderstebo huis, waar dit voel of die meubels teen die plafon hang.

Ons gesin het die Upside Down House op ’n Saterdagoggend besoek. Ek het vooraf gelees die huis kan met tye stampvol besoekers wees, daarom was ons negeuur daar toe die hekke oopmaak. Dié strategie was ’n goeie een, want die eerste ander gaste het eers sowat ’n halfuur later opgedaag.

Daar was op die kuberruim ook besoekers wat meen die toegangsgeld (R90 vir volwassenes en R60 vir kinders) is effe duur. Ons reken egter dié koste vergelyk goed met die prys van ’n silwerdoekfliek.

Boonop is die huis baie meer vermaaklik vir die kleinspan as om heeltyd tjoepstil te moet sit in ’n donker teater. Hier kan hulle na hartelus speel, hardloop en foto’s neem. Daar is ook ander aktiwiteite op die perseel soos springkastele, ’n klimraam en skopfietsies vir die kleiner kinders. Jy kan ook teen ’n ekstra heffing daar braai of piekniek hou.

Meer oor:  Broederstroom  |  Harties  |  R3  |  Onderstebo Huis  |  Hartbeespoortdam. Reis  |  Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.