Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Mik & druk

Die Groot Vyf is tradisioneel die diere wat die moeilikste is om te jag. Nou is daar ’n fotoboek oor die Groot Sewe wat fotograwe die graagste met hul lens wil skiet, skryf Riana de Lange.

Die voorblad.Foto:

Met ’n vriendskap wat oor 30 jaar strek, eindelose avonture in die natuur in hul soeke na ikoniese spesies, en ’n gedeelde liefde vir wildlewe-fotografie en bewaring, was dit net ’n kwessie van tyd voordat Gerald Hinde en Will Taylor hul volgende wildleweboek sou publiseer.

Die bekroonde wildlewe-fotograaf Gerald het sy passie eers op 48 begin uitleef nadat die familie se voertuighandelaar-onderneming Pat Hinde & Sons, verkoop is. Hy en Will, ’n dierkundige en eienaar van ’n toeragentskap, het oor die jare saam vier boeke oor Afrika se wildlewe die lig laat sien, asook 20 dokumentêre flieks wat onder meer aan National Geographic verkoop en in meer as 40 lande uitgesaai is

Gerald Hinde (links), bekroonde wildlewe-fotograaf, en Will Taylor, dierkundige.

Een van hul gewildste boeke, The Big Five, is die eerste keer in 2002 gepubliseer en vandag steeds op die rakke, sê Gerald. Dié boek gee ’n nader kykie na die vyf dierspesies – leeu, luiperd, buffel, renoster en olifant – wat jare in jagterskringe as die vyf dierspesies uitgewys is wat die moeilikste was om in Afrika te jag.

In al hul jare saam in die veld, was Gerald en Will dit eens dat benewens die Groot Vyf, daar nóg twee spesies is wat hulle keer op keer die graagste wou opspoor en fotografeer: wildehonde en jagluiperds. The Big Seven: Adventures in Search of Africa’s Iconic Species, was dus die mees gepaste titel vir hul nuwe boek wat verlede week amptelik bekend gestel is, vertel die twee.

Die boek is ’n versameling van hul beste en opwindendste werk van die afgelope 15 jaar in Afrika se bekendste reservate.

Die skrywers het foto’s gekies wat die diere in hul natuurlike omgewing wys.
Gerald Hinde sê in die meeste gevalle gebruik hy sy 70-200 mm lens omdat jy nader aan die diere kan kom in privaatreservate soos MalaMala. Hy het dus nie ‘n telefoto-lens nodig nie.Foto:
Jagluiperdwelpies is baie kwesbaar en dit getuig van ’n baie beskermende ma wanneer ’n wyfie met meer as een jong jagluiperd gevind word, skryf Will Taylor in die boek.

Met sorg gekies uit duisende

Gerald sê hy het vyf jaar gelede met die idee van nog ’n boek begin stoei, want daar was nog soveel foto’s en avonture van hoe hy en Will die mees ikoniese spesies dag en nag tot in die vroeë oggendure gevolg het, wat hy met natuurliefhebbers wou deel.

Dit was egter eers sowat 18 maande gelede dat hulle saam met Heinrich van den Berg van HPH Publishing begin sit het om die beste foto’s uit sowat 15 000 te kies.

Gerald sê die boek is eerder ’n wild­lewe-ervaring as ’n koffietafelboek. Dit neem die leser op ’n reis saam met die twee.

Heinrich, self ’n bekroonde wildlewe-fotograaf, sê vir HPH Publishing was dit belangrik om die diere uit verskeie hoeke in hul natuurlike omgewing te wys – soos ’n leeu in die riete langs die rivier of ’n hiëna wat ’n jagluiperd se prooi afvat.

Baie van die foto’s is gekies om te pas by die teks waarin Will hul avonture beskryf en ook meer oor die diere vertel.

Gerald sê hy moes ook nuwe foto’s spesifiek vir die boek neem om die regte hoeke te kry en aan te pas by moderne smaak.

Dié foto van die bedreigde wildehond is deur Gerald Hinde se seun Wayne geneem.
Heel voor in die wildvoertuig skuil Gerald Hinde agter sy kamera om die leeus in die MalaMala- private wildreservaat af te neem. Die wildrit was tydens die amptelike bekendstelling van Gerald en Will Taylor se nuwe boek, The Big Seven: Adventures in search of Africa’s iconic species. Foto: RIANA DE LANGE
Gerald Hinde sê in die meeste gevalle gebruik hy sy 70-200 mm-lens omdat jy nader aan die diere kan kom in private reservate soos MalaMala. Hy het dus nie ’n telefoto-lens nodig nie.

Die vriende se staaltjies

Minstens 50% van die foto’s in The Big Seven is in die MalaMala- private reservaat in Mpumalanga geneem, waar Gerald sedert 1989 eers luiperds en later ander spesies gedokumenteer het. Dit is hier waar hy en die jong wildbewaarder Will Taylor – toe pas klaar gestudeer as dierkundige – mekaar ontmoet het.

Dit was dus gepas om die boek verlede week by ’n mediageleentheid in die reservaat bekend te stel waar hul vriendskap en avonture begin het.

En die vriende was vol staaltjies.

Hulle is byvoorbeeld male sonder tal deur renosters gejaag, soos die keer toe hulle swartrenosters in die Pilanesberg-reservaat te voet gevolg het. ’n Beduiwelde bul het omgedraai en hulle bestorm. Die twee het in verskillende rigtings gespat om agter rotse of in ’n boom te skuil. Die boom kan ook nie te laag wees nie, want ’n renoster kan jou tot op so 2 m hoog bykom, vertel Will.

Hy het ’n geweer by hom gehad, maar nooit eens daaraan gedink om die renoster te skiet nie: Hy het die wapen neergegooi en laat spaander. ’n Ruk later kom ’n minder ingenome Gerald met krap- en snymerke en bloed aan sy bene van agter ’n groot rots uit en sê ewe: “G’n wonder mense het die spesie geskiet tot waar hulle byna uitgesterf het nie.”

Gerald vertel ook van ’n wonderlike dag in die Savuti-vlaktegebied in Botswana waar hulle ’n trop van tot 30 leeus raakgeloop het. So sit hulle toe op die voertuig en wag om te kyk of die leeus dalk wil jag – elk met ’n whisky in die hand. “Ons was vreeslik in ons noppies oor wat ons gekry het.”

Maar só lekker vier hulle toe die vonds, dat toe Gerald later die flitslig aanskakel om te kyk wat die leeus doen, is daar geen leeu in sig nie. Die trop is weg sonder dat die gesoute wildbewaarder en wildlewe-fotograaf enigiets opgemerk het! Hulle kon nie weer dié leeus opspoor nie.

  • Will, ook ’n voëlkenner, vertel in die boek van ure se wag vir die regte oomblik wanneer ’n luiperd met sy prooi in ’n boom klim, of jy ’n jong leeuwelpie sien. Een keer met so ’n lang gewag in die Timbavati-reservaat, sien hy ’n seldsame en wil die voertuig aanskakel om die voël te volg. Gerald het sy planne vinnig gefnuik met ’n droë “Tensy daai ding ’n rooibok in sy snawel het, gaan ons nie een tree nader aan hom nie”.

Die finansies

Gerald sê baie mense wil wildlewe-fotografie voltyds beoefen, maar dit is nie meer so maklik om geld daaruit te maak nie omdat inkomstestrome soos afdrukke en selfs foto’s aan fotobiblioteke baie afgeneem het. Wildlewe-boeke het ook ’n beperkte mark.

Hoe oorleef jy dan finansieel? “Met moeite. . . dit help as jy met bietjie geluk aan jou kant gebore word. Ek was gelukkig dat my familie ’n passie vir besigheid en wildlewe gehad het.”

Nadat hy en sy broer die familie-onderneming verkoop het, vertel Gerald, het dit tyd geneem om ’n naam op te bou sodat mense sy werk wou hê en sy webblad besoek.

“My raad is, maak eers ’n klomp geld en word dan ’n fotograaf.”

Will sê as jy eers daarin kon slaag om ’n naam op te bou uit boeke en fotografie, kan jy geld uit aanvullende bedrywe maak, soos sy agentskap, Khashana Travel, wat luukse wildlewe-toere aanbied.

HPH Publishing se sakemodel betrek ook die skrywers as beleggers. Gerald en Will het elk dus verskeie eksemplare van die boek gekoop en dit onder kliënte bemark.

Albei het gevind dit was baie gewild as Kersgeskenke, veral vir kliënte van maatskappye. Will het sowat 300 daarvan deur sy toeragentskap in Dallas, Amerika, verkoop.

Will sê vir hulle albei is die boodskap agter die boek belangrik.

“Ons wil hê mense moet dit lees en die natuur beleef sodat diere en bewaring vir hulle sin maak. Dit is nie ’n egoïstiese boek nie. Ons het dit geniet en wil mense meer geïnteresseerd maak in wildlewe en bewaring.”

The Big Seven: Adventures in Search of Africa’s Iconic Species word uitgegee deur HPH Publishing en is aanlyn beskikbaar by www.hphpublishing.co.za teen R650. As jy die geskenkbewyskode “MalaMala” gebruik, kry jy 20% afslag.

Besoek Gerald Hinde se webblad by www.geraldhinde.com.

Wen!

Een leser kan ’n eksemplaar van The Big Seven: Adventures in Search of Africa’s Iconic Species wen. SMS die woord “grootsewe”, jou naam en posadres na 34581. Inskrywings sluit Woensdag om 12:00.

Meer oor:  Groot Vyf  |  Diere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.