Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Moeder van SA se bergpasse

Die Sanipas word nie verniet gereken as die moeder van Suid-Afrikaanse bergpasse nie. Laat tjap jou paspoort en gaan drink ’n bier by een van die hoogste kroeë in Afrika.

’n Plaaslike inwoner dra swaar aan vuurmaakhout. Foto: Johan de Villiers

In die suidelike deel van die Ukha­hlamba-Drakensbergpark (UDP) vind jy ’n ikoniese bergpas. Die Sanipas – hoewel dit ’n tipe kluitklapbestemming geword het vir 4x4-entoesiaste – was oorspronklik nooit vir motorvoertuie, selfs viertrekvoertuie, bedoel nie.

Die pas het in 1913 as ’n voetpad vir muile ontstaan, wat gebruik is om handelsware te vervoer tussen Himeville in KwaZulu-Natal en die dorp Mokhotlong in Lesotho. Die naam “Sani” het nie iets met Sanmense te doen nie, maar verwys na hoofman Rafalotsane (sy naam is verkort deur nie-Sothosprekers wat gesukkel het om die naam uit te spreek, na “Sani”), seun van die destydse opperhoof Letsie.

In 1948 is die roete vir die eerste keer met ’n motorvoertuig, ’n Willys Jeep, aangedurf deur ’n gewese RAF Spitfirevlieënier Godfrey Edmonds en sy vriend Brian­ Grey.

’n Groot span helpers, toegerus met toue en katrolle, het gehelp om die Jeep om die skerp draaie te lig en te skuifel. Ná ’n hele paar ure se geswoeg (sommige berig 5½ uur en ander, 8 uur) is die bopunt, 2 876 meter bo seespieël, bereik.

Die skerp draaie verg goeie 4x4-vernuf en senuwees van staal. Foto: Johan de Villiers

In die 1950’s is ’n pad gebou en kort daarna ’n eenvoudige herberg op die kruin om aan reisigers ’n warm bed, ’n ordentlike bord kos en ’n drankie te verskaf. Vandag nog kan jy ’n lekker hamburger hier eet en aan ’n bier of ’n glasie wyn teug of selfs oornag in die Sani Mountain Lodge, wat steeds as die “hoogste kroeg in Afrika” gereken word.

Die Sanipas is egter sy titel kwyt as die hoogste pas in Suider-Afrika – sedert 2016 is die Ben Mac Dhuipas by die Tiffendell-ski-oord die hoogste. Dit verbind die kruin van die berg (3 001 meter bo seevlak) met die ski-oord met ’n tweespoor-jeeptrack. Bo is daar slegs ’n ski-hyser, maar geen kroeg of enige skuiling nie.

Indien iemand egter steeds wonder oor hoë hoogtes bo seevlak in ons omgewing: Die Sanipas is slegs ongeveer 10 kilometer suid (soos die kraai vlieg) van die hoogste punt in Suider-Afrika – die Thabana Ntlenyanapiek (3 842 meter bo seespieël) of “pragtige klein bergie” in die Malutibergreeks in Lesotho.

Ten spyte van teenstand van plaaslike sakelui wat meen dat hul sakebedrywighede sal skade ly as toeristegetalle daal – die pad lok reeds vir baie jare 4x4-geesdriftiges van oor die wêreld heen – het die destydse minister van omgewingsake in 2014 in die guns van die provinsiale vervoerdepartement in KwaZulu-Natal beslis dat die oppervlak van die Sanipas geteer moet word.

Johan de Villiers

Ses jaar later is daar steeds geen besliste datum waarop die projek voltooi sal word nie, ondanks die feit dat burgers aan die Lesotho-kant van die grens ’n netjiese teerpad het tot op die kruin van die Drakensberg, een van vele wat onlangs deur China gefinansier is. Die hele Sanipas lê egter in die vallei binne die Suid Afrikaanse grens en dit het steeds ’n gruisoppervlak.

Die pas word gereeld deur die elemente verweer – die padoppervlak is verraderlik en dit toets jou 4x4-vernuf deeglik. Die meeste van die haarnaalddraaie het ’n hoek van 180 grade – of byna soveel. Min van die draaie laat genoeg ruimte vir twee voertuie om langs mekaar stil te hou. Hoewel die gemiddelde helling 1:20 is, is daar sommige dele wat die bestuurder uitdaag met ’n 1:4-helling en menigeen het al in een van die ravyne daarnaas beland.

Moenie dink jy gaan jou 2x4-voertuig – selfs al het hy ’n hoë grondvryhoogte – se vaardighede hier kom uittoets nie – kenners reken dit is “dom en roekeloos” om dit te doen. Die minibustaxi’s wat die muilspanne vervang het, het almal vierwielaandrywing.

As jy 'n dag of twee ekstra het. . .

Die UDP strek van Cathedralpiek in die noorde tot net verby die Boesmansnekoord in die suidweste, maar sluit ook die Royal Natal Nasionale Park in die noordelike Drakensberg in. Dit beslaan meer as 2 400 km² en is in 2000 deur Unesco tot ’n Wêrelderfenisgebied (tans is dit een van tien in ons land) verklaar.

Werk ’n besoek aan die verruklik mooie omgewing van Underberg en Himeville – die suidelike gedeelte van die bergreeks – by jou reisplan in. By Lake Naverone of sy bure, Drakensberg Gardens, sowat 30 km noordwes van Underberg op die Drakensberg Gardens-teerpad (of by tientalle ander blyplekke in die omgewing), sal jy soos ’n koninklike behandel word. Hier kan jy gholf speel, fietsry, vlieghengel, stap en voëls­ kyk tot jy moeg is en jou kamera se geheuekaart propvol is. Tans is daar verskeie spesiale verblyfaanbiedinge. As jy ’n paar nagte hier bespreek, het jy een van die Drakensberg se pêrels in ’n skitterende kralesnoer bygeryg.

By Lake Naverone, sowat 30 km noordwes van Underberg, sal jy soos ’n koninklike behandel word. Foto: Johan de Villiers

Bly hier

Lake Naverone – vanaf R700 per persoon per nag in ’n kothuis, besoek lakenaverone.co.za of skakel 033 7011236 vir meer inligting.

Drakensberg Gardens – vanaf R699 per persoon per nag in ’n kothuis, ontbyt en avontuurgholf ingesluit. Besoek goodersonleisure.co.za of skakel 033 701 1355.

Werd om te weet

Die Sanipas was gesluit met die staat van inperking, maar is sedert 22 Oktober weer oop vir toeriste en reisigers. Jy het ’n geldige paspoort nodig om die grens tussen Suid-Afrika en Lesotho oor te steek.

Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Lesotho nie, maar onthou jou voertuig se registrasiedokumente, bewys van eienaarskap en ’n brief van die bank, as jy nog afbetaal aan jou kar.

Murray Cairns, eienaar van Sani Pass Tours, wat Lesotho- en Sanipas-toere doen, sê jy hoef nie ’n 72 uur- negatiewe toetsresultaat by die grenspos in te dien nie, daar is ’n toetssentrum by die grens wat sommer gou besoekers toets en vinnig jou resultate vir jou gee.

Die uitsig vanaf Sani Mountain Lodge se kroeg, die hoogste kroeg in Afrika. Foto: Johan de Villiers

Vanuit Gauteng is die vinnigste roete na Underberg en Himeville die N3-tolpad. Draai net anderkant Howick en die Midmardam af na die R617 en reis oor Bulwer.

Die pas kan ook met ’n bergfiets aangedurf word. Berg-op sal dit jou sowat vyf uur neem, terwyl die afdraande nie meer as twee uur sal vat nie.

As jy nie wil fiets trap tot bo nie of nie ’n 4x4 besit nie, kan jy die maklike manier volg – kry vir jou ’n gids met die regte voertuig in Himeville.

Sani Pass Tours word gereken as een van die beste toerleiers in die omgewing. Vir meer inligting oor hul toere, besoek hul webwerf by sanipasstours.com of bel vir Murray by 072 124 4356.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.