Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Mooi, maar ook lekker

Die Hemel-en-Aarde-vallei is nie net mooi nie, hy smaak ook lekker. Dawie Boonzaaier het ook dié vallei se disse gaan geniet. 

By The Wine Glass in Hermanus kan jy al die distrik se wyne, van Botrivier tot Kaap Agulhas, proe, en sodoende ’n ingeligte besluit neem oor wie se wynproeë jy wil bywoon.Foto’s: Bredine Kruger

Om die streek waarin jy woon die Hemel-en-Aarde-vallei te doop, is so ’n bietjie soos ’n mamma wat haar bloedjie as die wêreld se beste klavierspeler beskryf, dink ek toe ons die afrit by die N2 vat en deur Caledon met die R302 in Hermanus se rigting ry.

Maar hierdie ma het dalk ’n punt beetgehad, besef ek toe ons al by die eerste uitkykpunt stilhou om rustig in te neem hoe asemrowend hierdie vallei voor ons uitgestrek lê.

Dié wêreld is mooi, en as daar dan nou ’n plek was waar die hemel en die aarde bymekaar kon uitkom, dan sou dit seker só lyk.

’n Eendbobotie saam met syrah is een van die lekker disse by Creation.

Die bestes op een plek

Maar hierdie wêreld lyk nie net mooi nie, hy smaak ook lekker.

“Ons sit in hierdie kleine vallei met van die wêreld se beste wyn,” sê Brennan Davis, eienaar van The Wine Glass in Hermanus.

Spesifiek pinot noir en chardonnay, en chenin wat smaak soos vakansie by die see.

The Wine Glass is in die middel van Hermanus, naby die Ou Hawe geleë, en bied vir fynwynproewers die geleentheid om die hele distrik, van Botrivier tot Kaap Agulhas, se wyne te proe.

Ja, jy kan ook inloer vir ’n koffie, ’n bier bestel as dit ’n warm dag is, en selfs ietsie pik as jou maag leeg is, maar die plek se naam is The Wine Glass om ’n rede.

The Wine Glass bied onder meer ’n wynproe-alternatief, waar jy ’n reeks van ’n spesifieke versnit in die distrik kan proe.

Is jy lus vir chenin? Ja, jy is, en The Wine Glass bied jou die geleentheid om wat hulle beskryf as die distrik se ses beste chenin blancs langs mekaar te proe en op te weeg.

Sodoende kan ’n toeris wat nie die tyd het om 30 wynplase tydens sy besoek aan te doen nie, steeds ’n steekproef van hierdie wêreld se wyne ervaar.

En dan dalk kies om sy gunsteling se kelder op die plaas te besoek.

Of as jy net lus is vir lekker wyn, bied The Wine Glass ook vir jou ’n “premiumproe” aan, waar jy die distrik se tien beste wyne teen R300 kan proe.

Creation Wines se uitsig, waar daar volgens die eienaars gereeld paartjies die jawoord kom vra.

’n Plek om verloof te raak

In die Hemel-en-Aarde-vallei gaan dit nie net oor eksklusiwiteit nie.

Vat maar die Creation-wynlandgoed, waar jy elke wyn in die landgoed se stal kan proe, nie net die goedkoop outjies nie.

En kyk, Creation het menéér-wyne.

Hul 2015 Creation Art of Pinot Noir is selfs verlede jaar as die wenner van Winemag.co.za se Tonnellerie Saint Martin Pinot Noir-verslag bekroon met ’n allemintige 93 uit 100 punte.

Danksy Carolyn, die eienaarwynmaker Jean-Claude (JC) Martin se vrou, steek Creation se kombuis ook nie af by sy wyn nie.

Creation se sesgang-kos-en-wynparing, met ses geregte en agt wyne, sal jou R575 uit die sak jaag, maar dis elke sent werk.

Die kos en wyn se gehalte is kop aan kop.

Hermanus bied ook verskeie kunsgalerye, asook oulike boekwinkels waar jy kan gaan inloer en ontspan.

Die meeste bestanddele op jou bord word in en om die vallei verkry.

’n Broccoli-en-peersop, saam met ’n sauvignon blanc, ’n sampioen-en-spinasiekluitjie saam met die Creation Viognier, en ’n eendbobotie saam met die 2017-syrah is net ’n paar van die geregte en wyne waarmee jy bederf word.

Daar is ook ander opsies, soos ’n nie-alkoholiese paring waar verskillende soorte tee die kos vergesel.

Jy kan ook jou eie keuse maak as jy nie al die vele gange wil verslind nie.

En as die kos en wyn jou nie aanstaan nie, dan kan jy altyd ook net gaan vir die ongelooflike uitsig.

“Dis eintlik vreemd hoe baie mense hier kom verloof raak,” sê Carolyn en kyk uit oor hul plaasdam en wingerde tot by die heuwels in die verte.

Vir my is die prentjie eintlik so mooi dat dit vreemd is dat álmal nie hier kom verloof raak nie.

The Marine Hotel is deftig verby.

Verken die wêreld

Maar wat doen jy as die wyn te veel raak? Dis nie ’n onbesonne vraag nie, want die wyn is so lekker dat dit eintlik te veel moet raak.

Wel, behalwe dat walviskykseisoen eersdaags weer aanbreek in Hermanus, is daar ook verskeie kunsgalerye en bekoorlike boekwinkels wat ’n lekker vakansiedorp-atmosfeer skep.

Klim op een van die ChillGuru se verskeie toerbussies. ’n 90 minuut lange toer van Hermanus kos R220 (R110 vir kinders) en só sien jy die wynvallei, die natuurreservaat, die Zwelihle-township sowel as die Grotto-strand.

Het jy ’n hele dag om te verwyl? Klim op die Big Five Taste-toerbussie (R795) en ervaar ’n ses uur lange toer wat enigiets van wynproe tot heuningproe, olyfproe tot bierproe of kaasproe tot perlemoenproe kan insluit.

As jy hier wil oornag, het Hermanus ’n verskeidenheid hotelle, gastehuise en Airbnb-opsies

Die deftigste van die deftigstes is egter The Marine Hotel, geleë teenaan die see. As jy daar slaap, kan jy ook spog dat jy al in ’n hotel oornag het waar Brad Pitt ook sy kop neergelê het.

Kos by die hotel se Origins-restaurant is manjifiek (probeer gerus die tuna­steak), en die ontbyt by The Pavillion is legendaries.

Die kamers (waarvan die pryse teen R1 743 per nag begin) het ’n see-uitsig.

’n Nag by The Marine laat my dink aan Shania Twain se ongevraagde aanval op Pitt in die laat 1990’s met haar liedjie “That Don’t Impress Me Much”.

Okay, so you’re Brad Pitt? That don’t impress me much, sing Shania.

Wel, Shania, ten minste is mnr. Pitt se smaak in hotelle uitstekend.

  • Rapport het op uitnodiging van Creation Wines, The Marine Hotel en The Wine Glass besoek afgelê aan Hermanus en die Hemel-en-Aarde-vallei.
Meer oor:  Hermanus  |  Caledon  |  Kos  |  Hotel  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.