Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Mooie klowe en heuwels roep

By die Zuurberg Mountain Village reis jy terug na die verlede en wyd in die natuur, skryf Heleen Coertze.

Ou geboue op afgesonderde plekke het hul eie aantrekkingskrag. Kom jy daar, kan jy nie anders as om te wonder wie voorheen daar aangedoen het nie. As die mure maar net kon praat . . . As jy dus op ’n bestemming afkom waar bestanddele soos historiese dramas, oorloë, natuurrampe en kleurvolle karakters boonop in een mengsel gevoeg is, is dit voorwaar ’n besoek werd.

Die historiese Zuurberg Mountain Village lê bo-op die plato van die uitdagende Zuurbergpas en is een van die Oos-Kaap se uitsoekbestemmings wat geskiedenis, stilte, uitsigte en natuurlewe waarborg. Met berg- en vallei-uitsigte wat strek so ver as die oog kan sien, word hierdie 160 jaar oue hotelverblyf wat 160 hektaar beslaan, byna omring deur die Addo-olifant Nasionale Park. Gqeberha (Port Elizabeth), en sy gerieflike lughawe, is skaars meer as ’n uur daarvandaan geleë.

Terug na die verlede . . .

’n Staptog in die Addo-konsessiegebied is vir almal, nie net die fikstes nie. Foto: Heleen Coertze

Die Zuurberg-gebied, met sy bebosde klowe en golwende heuwels, vertel ’n geskakeerde, maar bloedige historiese verhaal – van botsings vroeg in die 1800’s tussen wit setlaars wat ooswaarts en swart veeboere wat suidwaarts inbeweeg het; van die inheemse nomadiese Khoi-mense wat gejag en verjaag is; en laastens die spanning tussen Boer en Brit gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902.

Die diep klowe van die Zuurberg was natuurlik die perfekte wegkruipplek vir die manskappe van die Xhosastamhoofde Gaika en Ndlambi en die geïsoleerde plaasbewoners in die gebied het in konstante vrees vir aanvallers en veediewe geleef. Ná herhaalde aanvalle het goewerneur John Cradock op 6 Oktober 1811 aan kol. John Graham opdrag gegee om ontslae te raak van die Xhosa-krygsmanne, veral ooswaarts na die Groot-Visrivier se kant toe.

Anders Stockenström (1757-1811), landdros van die destydse Graaff-Reinet-distrik, is juis tydens hierdie Vierde Grensoorlog saam met 13 van sy manskappe vermoor – ongeveer ’n myl vanaf die huidige terrein waarop die hotel geleë is. Vandag, 200 jaar later, is hier op die hotel se perseel ’n indrukwekkende vredesmonument van yster en hout opgerig as simboliese heenwysing na die ongelukkige gebeure uit die verlede.

In 1812 het Cradock ’n klipfort laat bou op die perseel van die huidige Zuurberg Mountain Lodge en sodoende ’n uitstekende uitsig van die omliggende omgewing gekry. Die fort is ook later as tronk vir die bandiete gebruik wat die Zuurbergpas moes bou en ’n garnisoen Britse troepe het by die fort tydens die Anglo-Boereoorlog in 1901 kamp opgeslaan.

’n Bielie van ’n bergpas

’n Besoek aan Addo is natuurlik nie volmaak sonder om die olifante te sien nie. Foto: Heleen Coertze

Met die ontdekking van goud en later diamante in die noorde, was ’n toegankliker, direkte roete vanaf Port Elizabeth na Somerset-Oos, Cradock, Colesberg en Graaff-Reinet na die binneland noodsaaklik. Goewerneur George Napier het in 1848 opdrag gegee vir die bou van die Zuurbergpas. Die legendariese Henry Fancourt White, ook bekend vir die Montagupas, het aanvanklik begin om die pas in 1849 te ontwerp, maar het tydens die konstruksiefase die leisels aan sy ewe bekwame konstruksie-ingenieur Matthew Woodifield oorhandig. Volgens Henri Alant, die huidige eienaar van die Zuurberg Mountain Lodge, is die ou olifantpaaie as riglyn gebruik van waar die roete op sommige plekke vir die pas moes loop. Die pas, wat 27,5 km lank is, is een van die langste passe in Suid-Afrika en deurkruis al vier pieke van die dominante Zuurberg-bergreeks.

Dit het 250 bandiete twee en ’n half jaar geneem om die pas met sy 158 draaie, hoeke en kurwes te voltooi.

As die mure maar kon praat . . .

Die klok waar die kerkie eens gestaan het. Dis verwoes in een van die brande.

Reis was in daardie dae ’n ernstige, soms gevaarlike onderneming. Heelwat fortuinsoekers het uit Europa in Port Elizabeth aangekom met drome om goud en diamante hier te kom ontdek en het geen ondervinding van Afrika, en meer spesifiek die grotere Addo-omgewing met sy volop wildlewe gehad nie.

Teen 1861 het John Matthews, die eienaar van die Zuurberg Inn, aansoek gedoen vir ’n lisensie om ’n hotel hier op te rig. Vir die opportunistiese fortuinsoekers was die stilhouplek halfpad teen die ruwe pas ’n welkome verposing. Hier kon die swaargelaaide waens, osse en perde en reisigers eers rus, goedere herrangskik en ná ’n koue glas bier en goeie nagrus die volgende oggend verder vertrek. Dis hier waar jy graag na toeka se stories wil luister wat die mure sou kon vertel.

Êrens tussen 1872 en 1880 het die Inn bekend geword as die Zuurberg-hotel. Die eiendom het oor ’n hotelgedeelte en ’n sanatorium beskik en was deurgaans mooi opgeknap en ingerig. Die eetkamer het goeie etes bedien en ’n keurige seleksie wyne was beskikbaar.

Die volgende eienaars het selfs ’n tennisbaan in 1889 gebou en gaste kon van 1890 gebruik maak van die ruim kapkarretjie wat deur perde getrek is wat deur die hotel beskikbaar gestel is om gaste na die hotel toe aan te ry.

Teen hierdie tyd was die hotel bekend as ’n gesondheidsbestemming en as ’n gerespekteerde familiehotel met verskillende ontspanningsopsies.

Die Zuurberg Mountain Village vandag

Die vredesmonument van yster en hout wat opgerig is as simboliese heenwysing na die gebeure van die verlede. Foto: Heleen Coertze

Met die intrapslag bepaal die soliede meubels, die klassieke interieur en ouwêreldse elegansie steeds vandag die identiteit van dié besonderse hotel. Orals is daar subtiele verwysings na die besondere geskiedkundige verloop wat die hotel deur die jare deurstaan het. So is van die klippe wat vir die ou fort gebruik is, hergebruik in die huidige vuurherd in die ontvangslokaal/sitkamer waar daar steeds byna daagliks vuurgemaak word. Dis by hierdie einste fort waar ’n garnisoen van Britse troepe gekampeer het in die Anglo-Boereoorlog. In ’n ou vyeboom op die perseel kan jy selfs vandag gaan kyk na die hoefmerke wat die ou “smitty” in die stam gemaak het toe die perde se hoewe beslaan is.

Maar dis gewoonlik die kombinasie van persoonlikhede, die mense wat ’n plek interessant en lewendig hou. Die huidige personeel is warm, hoflik en uitstekend opgelei. Reggie Treadway, een van die vloerpersoneel, trek graag van die ou gasteregisters nader en wys na gaste wat ná 40 jaar steeds graag hierheen kom. Hy vertel dat die hotel sedert sy ontstaansjare 160 jaar gelede reeds drie keer gedeeltelik afgebrand het. Met die laaste vuurverskrikking op 12 Augustus 2008 het die huidige eienaar besluit om die rondawel-opsies te vervang en te verbeter tot luukse Eduardiaanse kothuisies.

Die Zuurberg Inn se kleurvolle kothuise kyk uit oor die vallei.

Die verskillende kleure kothuisies lê netjies in twee rye en is ruim ingerig – kompleet met swarthoutvloere, buite- en binnestorte, ’n diep Victoriaanse bad, ondervloerse verhitting en lugversorging. Met die brand in 2008 het die konferensiesentrum en die kerkie in die slag gebly. Gelukkig het die ruim ontvangslokaal, historiese dameskroeg, eetkamer en aangrensende hotelkamers behoue gebly.

Die elegansie van ’n verbygaande era word hier met oorgawe voortgesit. Tee en skons (met koffie natuurlik ook) is heeldag in die eetkamer beskikbaar. Jenewer en tonikum, met ’n verskeidenhied ander drankies, is veral net voor aandete wanneer jy bene strek ná die dag se aktiwiteite, net ’n pinkie-lig ver.

Die Zuurberg Mountain Village is ook ideaal geleë vir daguitstappies na die aangrensende Addo-olifant Nasionale Park én Amakhala- en Schotia-natuurreservaat. Die gebied met sy klowe en eiesoortige plantegroei, is ’n paradys vir voëlkykers. Stappers kan op begeleide roetes geneem word en jy kan selfs die omgewing van ’n perd se rug af verken.

Ná ’n besige dag met ’n verskeidenheid aktiwiteite, kan jy by die spa bederf word of in die swembad gaan afkoel.

Tog bly dit die stilte, die skoon lug, die perfekte pastelkleure teen sonsondergang wat hierdie ouwêreldse hotelverblyf laat uitstaan. Nes ’n blink diamant vir ’n hedendaagse reisiger aan die anderkant van ’n uitdagende pas.

  • Heleen was ’n gas van Cape Country Routes, waarvan die Zuurberg Mountain Village ’n lid is.
Handige inligting

Die Zuurberg Mountain Village is ’n viersterhotel in die malariavrye Zuurberge.

Jy gaan tuis in die luukse Eduardiaanse kothuise of in die oorspronklike Manor House. Daar is 26 dubbelkamers en vier gesinseenhede. Tariewe begin by R960 per persoon, ontbyt ingesluit.

Aktiwiteite sluit in ’n Groot Vyf-wild-kyk-ervaring in die Addo-olifant Nasionale Park. Daar is ook die opsie om die Amakhala- en Schotia-natuurreservaat te besoek, asook op begeleide staproetes te gaan en perderitte te geniet.

Jy betaal R86 per volwassene om die roetes in die aangrensende Addo-konsessiegebied te stap. Daar is roetes wat jou een uur, drie uur of vyf uur neem om te voltooi.

  • Bespreek by booking@capecountryroutes.com, besoek www.capecountryroutes.com of skakel 042 233 8300 vir meer inligting.


    Meer oor:  Oos-Kaap
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.