Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Beeld van ’n tuin

Donderdag 15 April is Wêreldkunsdag en is daar 'n beter plek om dit te vier as in 'n beeldhoutuin? Verkwik jou gees en siel in een van die beeldhoutiine en -bestemmings in Suid-Afrika.

In die afgelope jaar waar ons binnetoe moes vlug en galerye, openbare tuine en parke soms vir maande gesluit was, is die belangrikheid van die natuur en kuns op ons gemoed weer beklemtoon.

’n Beeldhoutuin is waar kuns en die natuur saamsmelt – dis waar ons kreatiewe skeppingsdrang hande vat met die natuur se lewenskrag.

Jy kan die Dylan Lewis-beeldhoutuin op Mulberryplaas buite Stellenbosch met ’n gids of self met ’n kaart verken. Die tuin is meestal met fynbos beplant en meer as 60 beeldhouwerke wag op die besoeker aan die voet van die Hottentots-Holland-bergreeks, met die Helderberg aan die verste punt.

Die Franse beeldhouer Auguste Rodin het immers gesê sy beeldhouwerke lyk mooier in enige tuin of park as in ’n galery, merk die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe op.

“Maar daardie beeld kan môre in ’n ander park gesit word en steeds sy krag behou.

“Dat die werk miskien mooier lyk in die park of tuin is wel waar,” meen Van der Merwe.

“Ek glo die mens het so vervreem van die natuur geraak dat hy onbewustelik net vorentoe stoomroller.

“Die Covid-19-pandemie en die inperking het ons kans gegee om rustiger te raak en te kyk hoe die seisoene verander,” sê hy.

“Ons is tog deel van die natuur en daar sal altyd ’n behoefte by ons wees om ’n noue verbintenis daarmee te behou.”

Een van die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe se werke in die Sneeuberg-natuurreservaat in die Oos-Kaapse Karoo.

Die Britse neuroloog en kunstenaar Oliver Sacks het in ’n kort skrywe, “Why we need gardens”, geskryf: “Tydens my 40 jaar as mediese praktisyn het ek net twee nie-farmaseutiese behandelings gevind wat noodsaaklik is vir pasiënte met chroniese neurologiese siektes: musiek en tuine.”

Hy het voorts geskryf dat ’n mens tegelykertyd kalmer voel in die natuur, maar ook verfris en energiek voel ná so ’n uitstappie.

James Delaney, ’n kunstenaar van Johannesburg, skep pro bono-kunswerke vir The Wilds, ’n munisipale park in Houghton, Johannesburg. “Ek het ontdek dat kunswerke die vermoë het om ’n landskap te versterk of te verbeter omdat dit jou oog na ’n spesifieke punt trek.

“Soos die lig verander, het dit ook ’n impak op hoe die kyker die kunswerk waarneem. Die kontrasterende natuurlike teksture van die kunswerk se omgewing dra ook by tot hoe dit waargeneem word.

“Ek kies die plasing van my kunswerke by The Wilds versigtig sodat daar samespel tussen die beeldhouwerk en die natuur is.”

Delaney meen ook ’n beeldhouwerk se impak is baie meer dramaties in die natuur as in ’n galery of gebou.

’n Beeldhoutuin gee kykers die geleentheid om deel te word van ’n kunswerk, meen die Uilhuisstigting se voorsitter, Fulvio de Stefanis. “Die tuin vorm deel van die kuns. Die skaal van Helen Martins se beelde, met die Camel Yard as reuse-skilderdoek, laat besoekers ’n besondere verbintenis met die kuns vorm.

“In die buitelug prikkel kunswerke meer sintuie as dít wat in galerye uitgestal word – besoekers neem nie net die werke waar nie, maar kan daaraan raak (maak wel eers seker jy’t toestemming!), die reuk van die plante in die tuin inadem en die voëlgesang hoor. Dis ’n uitsonderlike ervaring, wat groot emosie ontlok,” sê hy.

Pablo, James Delaney se labrador, bewonder een van sy baas se beeldhouwerke in The Wilds, Johannesburg.Foto: James Delaney

Vyf tuine om jou siel te verkwik

1. The Wilds, Joghannesburg, Gauteng

Delaney se kunswerke kan gesien word by The Wilds in Houghton, Johannesburg. Hy is ’n skilder en beeldhouer en sy kunswerke is lasersnit-staalwerke, geskoei op sy houtskoolsketse. Die gewildste drie werke wat Delaney in The Wilds opgerig het, is ’n lewensgroot koedoe, volstruise en kameelperd. James sê die koedoe is sy gunsteling omdat die dramatiese rooi bok, wat amper nes ’n geraamte uit staal gesny is, deel word van die landskap, maar ook deursigtig word. Die stad troon dramaties in die verte agter die bok uit.

Baie besoekers geniet ook die uilwoud met sy 67 uilbeelde wat uit die geelhoutbome vir jou loer.

Hoe kom ek daar? Die park is in Houghton-rylaan. Toegang is gratis en die park is elke dag oop van 06:00 tot 18:00. Veilige parkeerplek is beskikbaar by die St. Johns-hek op die hoek van Houghton- en St. Patrick-rylaan by die Roedean School.

2. Die Uilhuis, Nieu-Bethesda, Oos-Kaap

’n Beeldhoutuin van ’n ander aard is die Uilhuis op Nieu-Bethesda, waar die kunstenaar wyle Helen Martins se 300 sementbeelde van mense, uile en kamele in The Camel Yard in stille kontras met die dorre landskap staan. Die beeldhoutuin lok jaarliks duisende besoekers.

Sonlig deurpriem Martins se kleurvolle glaswerk en laat die beelde lewe.

Een van die kunstenaar Guy du Toit se haas-beeldhouwerke vorm deel van die Everard Read-versameling in Franschhoek. Dit is deel van Leeu Estates se Fynbos Quarter, waar die galery en buitelug-beeldhoutuin gehuisves word.Foto: Mike Hall

Martins het haar inspirasie geput uit verskeie skrywers se werk, maar die Persiese digter Omar Khayyam se gedig “Rubáiyát” het veral spesiale betekenis vir haar gehad. Dié liriese gedig verteenwoordig die dieper emosies van die digter oor onderwerpe soos die lewe, dood, geloof en liefde – aspekte waarmee die kunstenaar diep geworstel het.

“Besoekers kan op hul eie tyd met ’n brosjure stap wat 35 gemerkte besienswaardighede illustreer,” sê De Stefanis.

Hoe kom ek daar? Draai van die N9/R61 af na Nieu-Bethesda. Ry 29 km tot by die museum in Martinstraat.

Wanneer kan ek dit besoek? Die Uilhuis is tot 3 Mei sewe dae per week oop, maar daarna slegs Donderdae tot Maandae van 09:00 tot 17:00. (Dis Dinsdae en Woensdae gesluit.)

Toegangsgeld: R60 vir slegs die Uilhuis en R90 vir ’n kombinasie-kaartjie wat die Uilhuis en Kitching Fossielsentrum insluit.

Kontak: 049 841 1733, stuur e-pos na admin@theowlhouse.co.za of besoek https://theowlhouse.co.za/

Die kunstenaar wyle Helen Martins se werke by die Uilhuis se Camel Yard op Nieu-Bethesda.

3. Dylan Lewis-beeldhoutuin, Stellenbosch, Wes-Kaap

As jy weer ’n draai maak in die Eikestad, sluit gerus die Dylan Lewis-beeldhoutuin buite Stellenbosch by jou besoek in. Die tuin is meestal met fynbos beplant en meer as 60 beeldhouwerke wag op die besoeker aan die voete van die Hottentots-Holland-bergreeks.

Dis ’n ruimte vir introspeksie, waar Lewis se beeldhouwerk jou tot stilte dwing. Met ons besoek was dit ’n aangename verrassing om Lewis in die tuin raak te loop. Hy merk op dat die mens – veral nou met inperking – die stiltes van parke en tuine geniet. “Die mens is uit die Tuin van Eden verban. Ons dra steeds daardie verlies van die natuur saam met ons,” sê hy.

Sy beelde wissel van jagluiperds gegiet in brons tot werke van halfmens-halfdier wat hy uit klip gebeitel het. Die driepotige beeldhouwerke in die omskepte dam, waar slim geplaaste ligte die lyne beklemtoon, mag nie misgeloop word nie.

Hoe kom ek daar? Die beeldhoutuin is aan die einde van Paradyskloofweg wat by die Stellenbosch-gholfbaan van die R44 afdraai.

Wanneer kan ek dit besoek? Jy kan die tuin slegs per afspraak besoek. As jy alleen is, neem dit sowat 45 minute om deur die tuin te stap. Met ’n begeleide toer kan dit effe langer neem, afhangend van hoeveel mense en vrae daar is. Gidse kos ekstra.

Toegangsgeld: R180 per persoon. Kontak: 021 880 0054, stuur e-pos na reservations@dylanart.co.za of besoek www.dylanlewis.com/garden/visit-the-garden vir meer inligting.

Een van Mapsa se kunstenaars, Boris Baltschun, se kunswerke, Desert Dictionary, is tweeledig en bestaan uit ’n luidspreker in die veld en ’n oudioboek, wat albei sonkraggedrewe is en 29 opnames van mense se woorde oor wat die woestyn vir hulle beteken, uitsaai.

4. Modern Arts Projects South Africa in Richmond, Noord-Kaap

Die Karoo het natuurlik sy eie bekoring en die gestroopte landskap is die perfekte doek. Richmond in die Noord-Kaap is die tuiste van die Modern Art Projects South Africa (Mapsa), ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag wat kontemporêre kuns ondersteun.

Die projek is deur die sakeman Harrie Siertsema, van die bekende Harrie’s Pancakes, en die kunstenaar en kurator Abrie Fourie gestig.

Die organisasie het ’n reeks beeldhouwerke, landskapkuns en kunsinstallasies in en rondom Richmond opgerig.

Daar is werke in die omliggende vlaktes, op private plase en selfs by Richmond se ou vliegveld.

“Mense is bewus van die Karoo-landskap se ooptes en vryheid van die vlaktes,” verduidelik Fourie.

“Met sosiale afstand op die voorgrond kry jy gesinne van drie, vier mense, wat kuns by ons ervaar.

“Daar is nie ’n toeloop van mense nie en dis die ideale aktiwiteit in die tyd van sosiale afstand.”

Die kunswerke kan slegs per afspraak besigtig word en een van Mapsa se kunsgidse sal besoekers na die kunswerke – die meeste van hulle in die buitelug – neem.

Soms is dit soos ’n skattejag en besoekers moet na die kunswerke soek.

Die Duitse kunstenaar Ella Zieg­ler se kunswerk wat uit bakstene bestaan, wat sy onder die titel Anxiety gemaak het, is tussen die bossies geplaas.

Die bakstene met die woorde “Anxiety”, “Fear”, “Invisible” en “Lines”, is gemaak om te probeer sin maak van die angs wat sy ervaar het om in Suid-Afrika rond te beweeg.

Hoe kom ek daar? Die projek se kantoor is in Loopstraat. Volg die R398-afrit in die dorp in en draai regs in Loopstraat.

Wanneer kan ek dit besoek? Kunstoere word slegs per afspraak gedoen en is gratis.

Kontak: Bel Mongezi Ncombo by 073 436 4413 om kuns- en ateljeetoere te bespreek en Morne Ramsay by 082 789 9034. Besoek map-southafrica.org vir meer inligting.

5. Everard Read-versameling, Leeu Estates, Franschhoek, Wes-Kaap

Wyn, kuns, argitektuur en die natuur vat hande op dié spoglandgoed. Besoekers kan hier treffende beeldhouwerke van Suid-Afrikaanse kontemporêre kunstenaars soos Norman Catherine, Guy du Toit, Speelman Mahlangu, Brett Murray en Beezy Bailey bewonder. Die uitstallings verander gereeld en al die kunswerke is te koop.

Die stigter van Leeu Collection, die Indiese sakeman en entrepreneur Analjit Singh, glo “kuns is nie net ’n pilaar in die Leeu Collection nie; dis so belangrik soos kos, wyn en ’n gevoel om deel te wees van iets”.

Die Fynbos Quarter, waar die galery en buitelug-beeldhoutuin gehuisves word, is deur DHK Argitekte ontwerp, wat ook die Norval-stigting, ’n ander kuns- en beeldhouprojek naby die Kirstenbosch Botaniese Tuin, ontwerp het.

Hoe kom ek daar? Die galery en beeldhoutuin is in die nuwe Fynbosch Quarter op Leeu Estates in Dassenbergweg, Franschhoek.

Wanneer kan ek dit besoek? Woensdag tot Sondag 10:00-17:00.

Toegangsgeld: Gratis.Bederf jouself by die gastehuis met koffie en iets soet, of met ete by La Petite Colombe, een van die Leeu-versameling se top restaurante.

Kontak: Skakel 021 876 2446, stuur e-pos na tayla@everard.co.za of besoek everard-read-franschhoek.co.za.

Meer oor:  Tuine  |  Natuur  |  Parke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.