Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Blou-en-wit hemel in Tunisië

Sidi Bou Said in Tunisië se skitterwit en hemelsblou is die perfekte agtergrond vir jou selfie, skryf Ilse Zietsman. 

Sidi Bou Said in Tunisië is ’n Wêrelderfenis-gebied. Foto: Getty Images

As daar ’n prys vir die mooiste dorpie ter wêreld moet wees, sou ek Sidi Bou Said in Tunisië loshande laat wen.

Natuurlik tel dit in sy guns dat dit ’n heuweldorpie is. Boonop het Sidi Bou Said ’n asemrowende uitsig oor die Middellandse See.

Die hele heuweldorp is wit en blou met enkele geel aksente en vrolike pienk en pers bougainvilleas wat sorg vir spatsels kleur.

Stel jou voor: skitterwit platdakgeboue met hemelsblou deure, vensterrame en hortjies waarlangs die bougainvilleas geil rank. Die deure het swaar deurkloppers en is oortrek met knoetserige ysterknobbels. Baie van die huisies het masjrabias Z houtskerms of “haremvensters” voor balkonne wat sorg dat veral die vroue nie sigbaar is nie Z wat ook potblou geverf is. Blompotte, lanterns en lamppale het óók ’n leksel blou verf.

As jy wel ’n kanariegeel deur bespeur, laat dit jou dink dat die woning aan ’n dorpenaar behoort wat sy eie stempel wil afdruk.

Net hier en daar is ’n geel deur wat die blou en wit van Sidi Bou Said afrond. Foto: GEtty Images
Die mooiste sithoekie in die Dar el-Annabi- museum wat die tradisionele leefstyl uitbeeld.Foto: Ilse Zietsman

Wat om in Sidi Bou Said te sien

Net meer as ’n eeu gelede – in 1915 om presies te wees – was daar maar min geleentheid om jou eie styl in Sidi Bou Said te laat botvier.

In 1912 het ene Rodolphe d’Erlanger (1872-1932) sy hart op die plek verloor. Dié Franse baron het terstond hier vir hom ’n villa gebou. Hy het ook ’n projek onderneem om baie van die huisies te laat restoureer. In 1915 het hy dit reggekry om ’n dekreet te laat uitvaardig dat alle deure en houtwerk in dieselfde skakering blou geverf moet word.

Hierna het Sidi Bou Said juis hiervoor bekend geword, hoewel die spesifieke kleurskema op verskeie ander plekke in Tunisië voorkom.

Rodolphe se villa, Ennejma Ezzahra, is in die Moorse styl gebou. Dit heet nou Centre des Musiques Arabes et Méditerranéennes (Sentrum vir Arabiese en Mediterreense Musiek) en dien as ’n museum waar die baron se lewenstyl, meubels, kuns en musiekinstrumentversameling besigtig kan word.

’n Museumtafereel in die Dar el-Annabi Museum.Foto: Ilse Zietsman

Naam van ’n skerpioenbyt-geneser

Sidi Bou Said dateer van die 10de eeu toe Moslems ’n ribat (kloostervesting) hier gebou het om hulle teen Christenkruisvaarders te beskerm.

Die naam van die dorp is ontleen aan ’n Marokkaanse Soefi-Moslem – wie se naam nogal ’n mondvol was – Abu Said ibn Khalaf Jahia el Tamimi el Bej. Abu Said het op pad terug van Mekka hier aangedoen en besluit om agter te bly. Destyds is daar geglo dat hy skerpioenbyte en rumatiek kon genees. Sy moskee is steeds in die middel van die dorp, maar kan nie deur nie-Moslems besoek word nie.

’n Besoek aan die Dar el-Annabi Mu­seum in die hartjie van Sidi Bou Said is ’n moet. Slegs ’n deel van dié voormalige Moorse paleis met sy 50 kamers wat as somerwoning vir moefti (Moslem-geleerde) Mohamed Annabi en sy gesin gedien het, is oop vir besoekers aangesien lede van die oorspronklike familie nog hier woon.

Jy sal jou vergaap aan die private biblioteek, kombuise, bidvertrek, sithoekies en kostuumtaferele wat ’n huwelikseremonie en die alledaagse lewe van die 18de eeu uitbeeld. Die binnehof is ’n oase van koelte met reusevoëlhokke, kleikruike en skilpadjies wat in die beddings skuil. Van die dakterras af kyk jy oor die straatjies ondertoe en oor die Golf van Tunisië uit.

Hierdie bakkies op die grafte is glo om water aan engele en miere te verskaf. Foto: Ilse Zietsman

Waar om selfies in Sidi Bou Said te neem

Of jy ’n selfieslaaf is of nie, jy sal dit nie kan help om die een foto ná die ander in Sidi Bou Said te neem nie. ’n Mens raak net mooi nooit moeg daarvan om in die een keisteenstraatjie na die ander te drentel nie.

Hier sit ’n valkenier by ’n sypaadjietafel, daar is die ingang na ’n winkel behang met kleurvolle keramiekbakke. Op die grond is tagines (Marokkaanse bakke met tuitdeksels) opgestapel, om die draai word bambalouni (Tunisiese oliebolle) verkoop en om die volgende hoek wink ’n duimpiegrootte vuurtoring net-net van agter ’n geslote blou deur.

Op die bopunt van die heuwel is twee klein begraafplase van waar die dooies die beste uitsig oor die oseaan het. Die graffies is eenvoudig; sommige het ’n ingemesselde keramiekbakkie waarin water gegooi word. Volgens bygeloof is die water óf vir die engele óf vir miere wat dit drink en dan só die dors van die afgestorwene les.

Baie toeriste besoek Sidi Bou Said vir die dag omdat dit maklik bereikbaar is vanaf Tunis, die hoofstad. Dit laat egter nie naastenby reg aan dié bestemming geskied nie.

As al die dagbesoekers eers vertrek het, ervaar ’n mens die rustigheid en die skoonheid van Sidi Bou Said op ’n heel ander manier wat jou sommer nog ’n dag of twee langer laat inboek.

Oral waar jy in Sidi Bou Said loop, is daar keramiek, kelims en leerinsteekskoene uitgestal.Foto: Ilse Zietsman

“Drink” die atmosfeer in

Nie net is Sidi Bou Said ’n aanspraakmaker vir die mooiste dorpie in die wêreld nie, maar jy gaan ver moet soek om ’n teedrinkplek te kry wat meer atmosferies as Café des Nattes is.

  • Café des Nattes is ’n Moorse kafee wat ouer as honderd jaar is. As jy onder sit, betaal jy minder vir jou koppie menttee.

Stap egter met die onegalige trappe na bo tot by die geel deur met ’n swart-en-wit gestreepte halfmaanboog aan die bokant.

Neem plek in op ’n rietmatjie of by ’n tafeltjie waar jy kruisbeen tussen groen en rooi barbierstylpilare sit en ’n waterpyp kan rook en soetkoekies saam met dennepittee kan geniet.

  • Café Sidi Chabaane(wat ook as Café des Délices bekend staan) het nie die atmos­feer wat jou in Café des Nattes betower nie, maar het weliswaar ’n uitsig oor die see tot by die horison wat jou na jou asem laat snak.

Nie net is die mure wit en die vensters blou nie, maar die tafeltjies en bankies is ook in skakerings van blou. Gaan net jou rekening na voordat jy hier jou Tunisiese dinar oorhandig.

  • Bederf jouself by Au Bon Vieux Temps, ’n deftige restaurant met ’n terras, weer eens met ’n see-uitsig.

Dis nie net die Frans en Tunisies geïnspireerde geregte wat jou soontoe sal lok nie, maar ook die idee dat ons eie Nelson Mandela daar geëet het. ’n Amperse lewensgrootte foto in die voorportaal getuig van sy besoek.

Ek en my metgesel was so beïndruk met ons eerste maaltyd by Au Bon Vieux Temps dat ons summier die volgende aand teruggekeer het.

As jy ’n avontuurlustige eter is, moenie huiwer om hul skaapbrein met ’n kerriesousie te bestel nie.

Uitstekende Tunisiese wyne kom op die wynlys voor – ’n bonus aangesien baie restaurante in Tunisië weens geloofsoortuigings nie wyn bedien nie.

Hôtel Bou Fares is in ’n stil straatjie geleë.Foto: Ilse Zietsman

Tipies Tunisies in Sidi Bou Said

Oral waar jy ronddrentel, sien jy groot en klein voëlhokke, die ene krulletjies en draaitjies en almal handgemaak. Moenie verbaas wees as jy verlei word deur ’n kleintjie wat jy as handbagasie kan terug huis toe karwei nie.

Ek kan myself skop dat ek dit nie gedoen het nie.

Sidi Bou Said het nie net een spesifieke soek (mark) nie. In byna elke straatjie sal jy uitgestalde ware soos leerinsteekskoene met tossels of opwippunte, keramiekware, kelims, muurbehangsels en bedlampies, wat die tradisionele blou deure uitbeeld, sien.

Jy gaan skeef aangekyk word as jy nie kibbel nie; berei jouself dus hierop voor. Pryse daal namate die meeste dagbesoekers reeds op pad terug na hul onderskeie blyplekke of passasierskepe is.

Die laaste reiswenk: As ’n winkelier ’n jasmynblommetjie agter jou oor indruk, beteken dit nie jy hoef noodwendig iets by hom te koop nie!

Sou jy gaan

Hoe om in Tunisië te kom: Turkish Air­lines vlieg via Istanbul vanaf Kaapstad of Johannesburg. Die prys per vlugkaar­tjie is minder as R9 000.

Hoe om in Sidi Bou Said te kom: Sidi Bou Said lê 20 km noordoos van die hoofstad Tunis. Dit is maklik en vinnig bereikbaar per taxi, bus en trein. Maak net vooraf seker dat die openbare vervoer wat jy kies, in werking is. Taxi’s is spotgoedkoop teen R95 vir ’n eenrigtingrit.

Waar om oor te bly: Hôtel Bou Fares is sentraal geleë en het 20 pragtige kamers wat tradisioneel ingerig is. Die prys per persoon is tussen R550 en R1 100. www.hotelboufares.com

Hôtel Dar Said is ’n sentraal geleë boetiekhotel met sy eie hammam (Turkse, oftewel Tunisiese, bad). Die prys per dubbelkamer begin by R1 665. www.darsaid.com.tn

Waar om te eet: Natuurlik by Au Bon Vieux Temps. Pryse van voorgeregte wissel tussen sowat R70 en R170, hoofgeregte R70 en R215 en nageregte R60 en R70. www.aubonvieuxtemps.net

Meer oor:  Tunisië  |  Reis  |  Besoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.