Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Dodelike dorpie

Ilse Zietsman besoek die Nazi’s se ‘spa-oord’ vir Jode.

Die begraafplaas waar die oorskot van duisende Jode wat in massagrafte gevind is, begrawe lê. Dis die aansig voordat ’n mens by Terezín se hek instap.

Buite Praag, die hoofstad van die Tsjeggiese Republiek, lê Terezín, ’n dorpie wat naby genoeg is dat dit met ’n dagekspedisie besoek kan word.

Terezín was eers as Theresienstadt bekend toe dit in 1780 in opdrag van keiser Josef II as ’n militêre vesting gebou is. Dié vesting is na keiserin Maria Theresia, die ma van keiser Josef, vernoem.

Terezín het egter tydens en ná die Tweede Wêreldoorlog berugtheid verwerf as ’n tronk en konsentrasiekamp waar ongeveer 150 000 mense, meestal Jode, tydelik of permanent aangehou is. Volgens Lonely Planet het 35 000 mense van honger, siektes of selfmoord in Terezín gesterf.

Terezín, oftewel Theresienstadt soos dit weer deur die Nazi’s genoem is, is voorgehou as ’n Joodse toevlugsoord en as ’n spa-dorp of “model-ghetto” waar Jode behandeling kon ontvang en waar hulle veilig sou wees. Die Nazi’s het selfs so ver gegaan om die Rooikruis in 1944 en 1945 te nooi om Terezín te besoek.

Die Dawidster hou wag oor die begraafplaas by die die Terezín-konsentrasiekampmuseum. Foto:

Voor die besoek, het die Nazi’s die baraknommers waar die Jode aangehou is met straatname vervang, en die geboue is opgeknap. Hulle het voorgegee dat daar ’n bank, ’n kleuterskool en winkels in die “spa-dorp” is, en ook beweer dat ’n outonome Joodse “regering” hier funksioneer.

Die kinders van die Terezín-konsentrasiekamp het ’n opera genaamd Brundibár vir die Rooikruis opgevoer. Een van die komponiste, Hans Krása, is in Augustus 1942 na Terezín gedeporteer, en saam met ’n paar ander volwassenes het hulle dié musiekstuk gebruik om die kinders in die konsentrasiekamp se gemoedere hoog te probeer hou.

Ela Stein was ’n 11-jarige dogtertjie toe sy na Terezín gestuur is. Sy het een van die hoofrolle, die kat, in Brundibár, vertolk en was in 55 opvoerings (sommige bronne gee dit aan as 59). Ná die laaste opvoering is die meeste van die rolverdeling na Auschwitz gestuur. Ela was een van die enkeles wat die Joodse volksmoord oorleef het.

Die Rooikruis kon aan sekere Jode vrae vra. Dié mense is egter vooraf aangesê presies hoe hulle moes antwoord – en só is die Rooikruis ’n rat voor die oë gedraai.

  • By die Terezín-gedenksentrum is die volgende te sien: die ghetto-mu­seum, die “klein vesting” (tronk), die Magdeburg-barakke, -krematorium en -gebedskamer. Kaartjiepryse begin by R120 per persoon, hang af van wat jy wil sien.
  • Om van Praag na Terezín te reis: Die maklikste is ’n treinrit wat sowat ’n uur en ’n half duur. Die enkeltreinkaartjie kos minder as R200. Verskeie maatskappye reël ook dagekspedisies vanaf Praag; doen navraag by ’n toerismekantoor.
  • Bespreek aanlyn by: www.pamatnik-terezin.cz
  • Om te lees: The Cat with the Yellow Star: Coming of Age in Terezín deur Ela Weissberger (gebore Stein) in samewerking met Susan Goldman Rubin, oor hoe die Nazi’s die Brundibár-opera as deel van hul propaganda gebruik het.

I Never Saw Another Butterfly: Children’s Drawings and Poems from Terezín Concentration Camp, 1942-1944 deur Hana Volavková. Die titel van die boek is ontleen aan die titel van ’n gedig deur Pavel Friedman, ’n jong man wat in 1921 gebore is, op 21-jarige leeftyd na Terezín gedeporteer is en in 1944 in Auschwitz gesterf het. Sy gedig is op ’n stukkie papier in Terezín gevind nadat Tsjeggo-Slowakye bevry is.


Meer oor:  Jode  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.