Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Halwe eeu van seiljagkoors

Op 16 Januarie 1971 is die Kaap tot stilstand geruk deur seiljagkoors en 50 jaar later kan jy steeds die impak van die eerste wegspring van die Kaap-na-Rio-wedvaart voel, skryf Eben Human.

Die wegspring vanuit Tafelbaai van die Kaap-na-Rio-wedvaart op 15 Januarie 2021. Foto: Gallo

Vroeg in Januarie 1971 kon jy tot vervelens oor plaaslike Kaapse radiostasies die liedjie “Away to Rio” hoor. Selfs die organiseerders van die eerste Rio-wedvaart was onkant gevang met die groot internasionale belangstelling.

Onder die 69 inskrywings was die Franse seiljagheld Eric Tabarly op sy Pen Duick III, terwyl die Britte verteenwoordig is deur Robin Knox-Johnston en Leslie Williams op Ocean Spirit – twee manne wat later diep spore in internasionale seiljagvaart sou trap.

Teen 1970 was die druk weens apartheid kwaai aan die toeneem teen Suid-Afrika en daar was pogings om die land op alle gebiede te isoleer. As Stellenbosse studente was ons in 1971 nog bly toe die eerste minister John Vorster praat van sy “uitwaartse beleid” en pres. Hastings Banda van Malawi die Eikestad besoek het.

Ook in 1971 was die eerste veelvolkige internasionale atletiekbyeenkoms op die Groenpuntbaan in Kaapstad. Vyf jaar later is sportklubs oopgestel aan alle bevolkingsgroepe, maar donker jare het gevolg terwyl die land geleidelik verander het na volle integrasie op alle vlakke en die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Dis teen hierdie politieke agtergrond wat die ontstaan van die Rio-wedvaart gesien moet word. Ons land se seiljagvaarders het nog in 1956 aan die Olimpiese Spele in Melbourne deelgeneem. Teen 1964 was die land al uitgesluit by die Spele in Tokio terwyl die politieke druk begin toeneem het.

Craig Sutherland en sy span op die Suid-Afrikaanse inskrywing Love Water met hul aankoms in Januarie verlede jaar in Rio de Janeiro. Hulle het ’n merkwaardige rekord van 7 dae 20 uur 24 min. opgestel in die Kaap-na-Rio-wedvaart. Foto: Alec Smith/Royal Cape-klub

Onvergeetlike gesig

Die belangstelling in internasionale seiljagvaart het in die 1960’s momentum begin kry met Kees Bruynzeel se jag Stormvogel waarop Gordon Webb ook oorsee meegeding het. Reeds in 1965 het Brian Lello, redakteur van die tydskrif SA Yachting, begin skryf van die Durbanse bootbouer Dick Barens se gedagte dat Suid-Afrika nou met seiljagte wat in ons land gebou is, moes begin meeding op internasionale vlak.

Die volgende vonk was in 1968 toe Bruce Dalling van die destydse Natal met sy debuut as alleenvaarder op die nuwe Suid-Afrikaanse jag Voortrekker byna die Ostar-wedvaart van Engeland na Amerika gewen het. Dat Dalling, seun van ’n Johannesburgse mynkaptein, destyds voor die Kaap se voorste seiljagvaarders gekies is om op die nuwe Voortrekker te seil, was ’n teer saak.

Craig Sutherland en sy seilspan op Love Water nadat hulle verlede jaar die Rio-wedvaart gewen het. Van links verskyn Mike Clarke, Phil Lambrecht, Rick Garrett, Craig Sutherland, Brian Thompson, Antonie Rabaste en Kenn Venn. Foto: Alec Smith/Royal Cape-klub

Die Kapenaars Bobby Bongers, John Goodwin en Mike Puttergill is ook sterk oorweeg. Gordon Webb en Bongers het wel kans gekry om op Voortrekker van die Kaap na Engeland te seil om Dalling te help met die voorbereiding vir sy internasionale debuut.

Ná Dalling se tweede plek in die Ostar is daar voluit gewerk om die eerste Rio-wedvaart ’n werklikheid te maak. Dis nogal ironies dat Dalling en Webb se deelname aan die eerste Rio-wedvaart rampspoedig sou wees.

Daar was verskeie dryfvere agter die eerste Rio-wedvaart. Brian Lello het die media se aanslag gelei en is ondersteun deur die groot Kaapse dagblaaie – insluitende Die Burger met sy seiljagkenner Wilhelm Grutter.

Dr. Jan Dommisse, burgemeester van Kaapstad, vise-adm. Hugo Biermann, hoof van die vloot, en regter Louis van Winsen, lewenslange president van die Royal Cape-seiljagklub, het ook hul gewig agter die wedvaart gegooi.

Sowat 100 000 toeskouers het op die wegspring van 59 seiljagte in die eerste Rio-wedvaart gefokus. Oral langs die kus en op al die uitkykpunte het mense saamgedrom. Toe die kanonskoot om halfvyf die middag van die vlootskip SAS Mosselbaai oor Tafelbaai afgaan, was dit vir my ’n onvergeetlike gesig om van Vlaeberg dop te hou hoe die seiljagte uit Tafelbaai na Brasilië vertrek.

Die skipper John Levin (heel links) en sy bemanning (van links) Noel Mallinson, David Munro en Jan Peyper op die seiljag Indaba in 2003 se Rio-wedvaart. Levin is ’n voormalige kommodoor van die organiserende Royal Cape-klub en het self ses keer die Rio-wedvaart voltooi. Foto: Ken Bösenberg

Die ‘arme vroue’

Die internasionale belangstelling was groot, maar Suid-Afrika se hoop was op die land se duurste seiljag – die Jakaranda, wat deur Olin Stephens van New York ontwerp is, met Dalling as skipper. Sy borg was die Bester-broers van Pretoria.

John Levin en Teddy Kuttel, wat later albei ook kommodoor van die Royal Cape-klub sou word, het saam op die jag Flica geseil.

“Die eerste wedvaart was baie opwindend. Alles was nuut en ons moes nog ’n sekstant gebruik vir navigasie op die boot wat Kuttel self gebou het,” het Levin vertel. Hy daarop gewys dat die wedvaart baie stadig was.

Daar is destyds baie geskerts oor Molly Warr en haar vrouespan se deelname op Sprinter. Toe hul radio gedurende die wedvaart onklaar raak, is die ergste gevrees vir die “arme vroue”.

Die vroue het Rio ná 33 dae veilig gehaal. Drie kanonskote is spesiaal geskiet vir die eerste vrouespan ter wêreld wat ’n wedvaart tussen twee vastelande voltooi het (Warr, Sue Fielden, Mary King, Susan Baxter en Cheryl Warr).

Die wegspring uit Tafelbaai op 15 Januarie 20211 van die Kaap-na-Rio-wedvaart. Foto: GALLO

Dalling het vroeg in die wedvaart skade aan Jakaranda se roer gehad. Hy moes terugdraai vir hulp en is gevolglik as amptelike deelnemer geskors.

Met Webb en sy bemanning het dit nog slegter gegaan, want hulle moes van hul sinkende seiljag Pionier gered word ná ’n botsing met ’n walvis.

Die lynlouere is verower deur Knox-Johnston en Williams op Ocean Spirit en hul wentyd was 23 dae 42 min. in die wedvaart oor 3 600 seemyl. Lol Killan van Kanada op Graybeard was tweede en die Franse span op Pen Duick III derde.

Die Knysna-seiljag Albatros II, met John Goodwin as skipper en Lello as een van sy bemanningslede, het die gesogte voorgee-prys gewen. Albatros was die skip waarmee die Thesens hul emigrasietog na Nieu-Seeland aangepak het, maar ’n groot storm het hulle in 1869 in die Kaap laat beland tot groot voordeel van hul latere tuisdorp Knysna.

Verslaggewer ter see

Die uitbundige prysuitdeling van 1971 by die Iate Clube Rio de Janeiro sou lank onthou word, terwyl daar die eerste keer bande gesmee is met Kaapstad en sy Royal Cape-klub.

Die Kaapse klub het in 1905 ontstaan as die Tafelbaai-seiljagklub en teen 1971 was hy reg vir ’n bloeitydperk as die Royal Cape-klub. Die seiljag Voortrekker was ’n uitstekende ontwerp van Ricus van der Stadt en is met ’n gelamelleerde drielaag-houtromp deur Thesens in Knysna gebou.

Voortrekker is ná die eerste Rio-vaart aan die Suid-Afrikaanse Vloot geskenk. Dit het die seillegende Bertie Reed gelewer wat die hele land opgewonde kon maak oor seiljagvaart.

Die volgende Rio-wedvaart in 1973 is ook goed ondersteun, maar Levin sê 1976 se wedvaart met 129 inskrywings was uitsonderlik en is tot vandag ’n rekord. Hy het daarna nog vier Rio-wedvaarte voltooi, maar moes in sy sewende wedvaart terugdraai met ’n beseerde bemanningslid.

Robin Knox-Johnston
Bruce Dalling
John Martin
Bertie Reed
Gawie Fagan
Molly Warr
Marion Cole

Deels weens politieke druk is ons hierna uit Brasilië gedwing en het die Suid-Atlantiese wedvaart se eindpunt toe na Punte del Este in Uruguay verskuif. In 1982 was dit my voorreg om as seiljagverslaggewer van Die Burger op die Howard Davis saam te seil na Suid-Amerika. Ons was meer as ’n maand op see op ons wagskip van 50 voet.

Behalwe vir die verslag wat ons elke dag moes skryf, was ons nou ook deelnemende seiljagvaarders. Daar is ook beurte geneem om kos te maak en ons kon selfs stuur onder die wakende oog van ons twee skippers, Pim Penso en Mike Bryant.

Die held van 1982 se Uruguay-wedvaart was die Kaapse argitek Gawie Fagan op sy piepklein Suidoos wat die gesogte voorgee-prys gewen het. Die gunsteling vir hierdie prys was die ervare Dave Abromowitz op sy splinternuwe jag Three Spears wat spesiaal deur Angelo Lavranos ontwerp is.

Three Spears het die voorgee-stryd oorheers op pad na die Brasiliaanse kus voor daar naby Rio suidwaarts gedraai is. Oor die volgende 900 seemyl af langs die Brasiliaanse kus was daar skielik ’n dramatiese wending. Die windtoestande het die ligte Suidoos beter gepas en hy het gevlieg om verby Three Spears te vorder op voorgee.

Kwynende deelnemertal

Daar was nog twee wedvaarte na Uruguay voordat die wedvaart weer in 1993 in Rio geëindig het. Die vloot-offisier Hanno Teuteberg op Broomstick het in ’n opwindende tweestryd daarin geslaag om Bruce Tedder se span op Parker Pen met vyf uur te klop vir ’n nuwe rekord van 15 dae 3 uur 10 min.

Teen 1996 het hierdie wedvaart ook die steun van die Duitse magnaat Hasso Plattner gehad wat op Morning Glory die rekord na 14 dae 14 uur 52 min. verbeter het. Plattner is die grootbaas van die sagtewaremaatskappy SAP en het groot in Suid-Afrika belê met sy Fancourt-gholflandgoed by George.

Marion Cole van Velddrif het in 1996 as skipper saam met Judy Provoyeur ’n vrouespan op Kelly Girl gelei.

“Ons agt vroue het met die wegspring die eerste keer almal saam geseil. Dit was ’n ouerige seiljag en ons het gevrees vir skade as ons hom te hard sou druk,” het Cole vertel. “Ons het die wedvaart in 21 dae voltooi en ek was verbaas oor hoe na ons aan ’n voorgee-sege gekom het.”

Hierna was daar twee wedvaarte na Salvador. Dit is hier waar wyle Fagan in 2006 op 80-jarige ouderdom op Suidoos 2, die kleinste deelnemende seiljag, die Suid-Atlantiese wedvaart sy laaste keer voltooi het.

Baie seiljagte is in die Kaap gebou en Angelo Lavranos en Alex Simonis was van die ontwerpers wat toonaangewend was. Verswakkende ekonomiese toestande moet deels die skuld kry dat die wedvaart se deelnemertal begin kwyn het. Simonis het na Nederland teruggekeer en Lavranos het hom in Auckland, Nieu-Seeland, gaan vestig.

Vir baie jare was die Rio-wedvaart ’n wonderlike geleentheid vir gesinne, vriende en ander avonturiers. Dit was ’n goeie tyd om van Brasilië na die Karibiese Eilande te seil.

Alle oë op 2023

Groter en vinniger seiljagte het met die hulp van borge geleidelik ál meer hul stempel begin afdruk en die rekord vir die vaart na Suid-Amerika is gevolglik drasties verbeter.

Verlede jaar het Suid-Afrikaanse seiljagvaarders met hul mees suksesvolle aanslag in die Rio-wedvaart gekom. Die gedugte Italiaanse ster Giovanni Soldini het in 2014 op sy dubbelromp Maserati die rekord na 10 dae 11 uur verbeter en hy was die man wat jy nou moes klop.

Eben Human

Craig Sutherland se span het ’n groot dubbelromp in Europa gehuur en die Love Water gedoop met ook die steun van die Wêreldnatuurfonds (WWF). Ken Venn, ’n veteraan van Shosholoza se veldtog in die America’s Cup-kompetisie, was een van die navigators en hy het vertel hoe moeilik dit was om Soldini te klop en ook ’n merkwaardige rekord van 7 dae 20 uur 24 min. op te stel.

“Ons veldtog het twee jaar voor die wedvaart begin. Die span het sowat 8 000 seemyl op Love Water geseil in sy voorbereiding,” het Venn gesê.

Die ervare Suid-Afrikaanse vaarder Anthony Spillebeen is in Engeland genader om die volgende wedvaart te dryf wat geskeduleer is vir Januarie 2023. Wat Spillebeen kan aanvuur, is die wete dat kenners seesport as ’n bedryf met baie groot groeipotensiaal beskou. Sestig studente word jaarliks vir die Kaap se suksesvolle bootboubedryf opgelei en Bruce Tedder van Blue Cape verwag nog meer werksgeleenthede as die Rio-wedvaart weer ’n groot aanhang kry.

Neil Gregory, kommodoor van Royal Cape en ’n man wat self sewe keer die oseaan oorgesteek het in Suid-Atlantiese wedvaarte, is baie opgewonde oor die toekoms van die Rio-wedvaart.

“Ons het vroeg begin om 2023 se wedvaart bekend te stel en is verbaas oor die goeie reaksie wat ons gekry het. Daar is reeds vier inskrywings ontvang.”

Ken Venn is tans in Brasilië en Spillebeen in Engeland – manne met innoverende denke wat planne maak om die Rio-wedvaart tot nuwe hoogtes uit te bou.

  • Human is ’n oudjoernalis en natuurfotograaf van Kaapstad.
Al die wenners van lynlouere

Die volgende seiljagte (jaar, seiljag, land, tyd) het van 1971 tot 2020 die lynlouere van Kaapstad na drie eindpunte verower in die Suid-Atlantiese wedvaart: 

Rio de Janeiro

1971 – Ocean Spirit (Eng.) 23 dae 42 min.; 1973 – Stormy (SA) 21 dae 15 uur 13 min.; 1976 – Ondine (VSA) 17 dae 5 uur 35 min. 

Punte del Este

1979 – Kwa Heri (SA) 24 dae 9 uur 58 min.; 1982 – Rampant II (SA) 22 dae 8 uur 15 min. 1985 – Apple Macintosh (VSA) 21 dae 6 uur

Rio de Janeiro

1993 – Broomstick (SA) 15 dae 3 uur 10 min.; 1996 – Morning Glory (Duits.) 14 dae 14 uur 52 min.; 2000 – Zephyrus IV (VSA) 12 dae 16 uur 49 min.; 2003 – Nicator (Swede) 12 dae 23 uur 47 min.

Salvador

2006 – Adrenalina Pura (Bras.) 10 dae 8 uur 1 min.; 2009 – Icap Leopard (Eng.) 10 dae 5 uur 45 min.

Rio de Janeiro

2011 – Prodigy (SA) 15 dae 23 uur 57 min.; 2014 – Maserati (It.) 10 dae 11 uur 29 min.; 2017 – Run­away (Bras.) 13 dae 13 uur 35 min.; 2020 – Love Water (SA) 7 dae 20 uur 24 min.


Meer oor:  Rio De Janeiro  |  Kaapstad  |  Reis  |  Seiljag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.