Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Hele kultuur in hout

’n Replika van die hoofman-Johnson-totempaal in die middel van Ketchikan. Foto’s: Ilse Zietsman
Elke totempaal vertel sy eie kultuurverhaal, leer Ilse Zietsman in die Totem-erfenissentrum.

Daar’s iets aan ’n totempaal wat onwerklik voel. So of dit iets is wat ’n mens in ’n kinderboek sien, of dalk in ’n ou geskiedenisboek.

Totem is ’n dier of plant of afbeelding daarvan (meestal op ’n paal aangebring), wat by bepaalde volke as ’n beskermgees en mitiese verteenwoordiger, of embleem van ’n familie of clan beskou en vereer word.

My amper vergeelde woordeboek gee die definisie van ’n totem aan as: “Totem is ’n dier of plant of afbeelding daarvan (meestal op ’n paal aangebring), wat by bepaalde volke as ’n beskermgees en mitiese verteenwoordiger, of embleem van ’n familie of clan beskou en vereer word.”

Op besoek aan die staat Washington en veral Alaska in Noord-Amerika ’n rukkie vóór die internasionale reisinperkings tydens die wêreldwye pandemie was ek verbaas om talle totempale op stadspleine en sypaadjies raak te loop. Dit is natuurlik nie oorspronklike en waardevolle totempale nie, maar dis steeds ’n belewenis om te aanskou.

Waardevolle, geskiedkundige totempale word in glaskaste, waarvan die temperatuur beheer word, in museums bewaar.

’n Foto in die Totem-erfenissentrum wat wys hoe totempale destyds uitgekerf is.
Die geskiedenis van totempale

Reeds in die 1700’s het ontdekkingsreisigers in hul reisdagboeke aangeteken dat hulle in Alaska en Kanada totempale teëgekom het. Hierdie totempale was binnenshuis én buite.

Aan die einde van die 1700’s en vroeë 1800’s het die inheemse volke nog nie oor die gereedskap beskik om gedetailleerde, dekoratiewe kerfwerk te doen nie. Daar was ook nie genoeg tyd om aan so iets te bestee nie; hulle moes eerder hul oorlewing verseker.

In die laat 1800’s het ’n belangstelling in totempale onder akademici, versamelaars en toeriste opgevlam. As gevolg daarvan is totempale bymekaargemaak en gedokumenteer.

Vóórdat yster en staal in hierdie streke voorgekom het, is skerp klippe, skulpe of bewertande gebruik om die totempale uit te kerf, word daar geglo. Weens dié primitiewe gereedskap was die kerfwerk moeilik en dit het ook ’n lang tyd geneem.

Totempale is meestal uit Thuja plicata-bome, ’n tipe seder, gekerf. Hierdie bome is in ’n groot mate vrotbestand, maar mettertyd vergaan dit tog, grotendeels as gevolg van die klam klimaat van daardie deel van die wêreld.

Aan die begin van die 1900’s is daar omtrent geen nuwe totempale uitgekerf nie. Dit was gedeeltelik omdat party Christen-sendelinge die maak van totempale ontmoedig het.

Aan die begin van die 1900’s is daar omtrent geen nuwe totempale uitgekerf nie. Dit was gedeeltelik omdat party Christen-sendelinge die maak van totempale ontmoedig het. In sommige gevalle het sendelinge ook bestaande totempale vernietig.

Toe die 1930’s aanbreek was daar ’n hernude belangstelling in totempale op kulturele, artistieke, tradisionele en taalkundige vlak. Só het hierdie inheemse tradisie weer herleef.

In 1938 het die Amerikaanse wouddiens begin om van die ou totempale te red. Sowat 200 totempale kon gered word. Daar word bereken dat dit sowat ’n derde van die pale is wat teen die einde van die 1800’s nog gestaan het. Waar nodig, is rekonstruksiewerk uitgevoer.

Die Totem-erfenissentrum is een van die hoofbesienswaardighede in Ketchikan, Alaska.
Die simboliek van totempale

Volgens Wikipedia is die woord totem afkomstig van die woord dodaem in die inheemse Noord-Amerikaanse taal Ojibwe.

Dié woord beteken (beskerm-)gees, heilige voorwerp of simbool; dit dien as embleem vir ’n groep mense soos ’n familie, clan, lyn of stam.

Totempale is kultuurskatte én storievertellers uit eie reg. Die pale is nie godsdienstige simbole nie en is nooit aanbid nie. Dit is ook nie gebruik om bose geeste die skrik op die lyf te jaag nie.

Nie almal stem saam oor presies wat op hierdie toringhoë, heraldiese pale uitgebeeld is nie en waarom dit juis voorgekom het nie.

Teorieë wissel van voorvaders wat herdenk of gesimboliseer word, rykdom en sosiale aansien wat vertoon word, legendes wat geïllustreer is om kultuur oor te dra, belangrike gebeurtenisse insluitende begrafnisse wat só uitgebeeld word, en selfs om met iemand in die openbaar die spot te dryf of hom as skandemaker uit te kryt. As jy nie jou skuld vereffen het nie of nie ’n belofte nagekom het nie, sou jy as ’n skandemaker beskou word.

Totempale is ook as argitektoniese versierings ingespan en is gewoonlik voor belangrike mense, of mense met ’n hoë aansien in die samelewing, se huise opgerig. Om dié rede kom familiewapens op baie totempale voor.

Soms was ’n totempaal net daar om besoekers welkom te heet.

Selfs fragmente van beskadigde totempale word in temperatuurbeheerde glaskaste bewaar.
Wat beteken al die diere?

Wees op die uitkyk vir die volgende as jy ’n prentjie van ’n totempaal te siene kry: ’n arend, beer, uil, wolf, padda en raaf.

Verskeie bonatuurlike wesens kom ook voor.

Die arend is hoog aangeskrewe omdat dit hoër as enige ander voël kan vlieg.

Op hierdie manier kan dit gevaar voor enigiemand anders bespeur.

Daar is geglo dat bere hulp verleen om bessies te soek en wildesalm te jag en ook dat ’n beer jou te hulp sal snel as jy in die moeilikheid is.

Uile verteenwoordig wysheid en kennis. Soos ’n uil wat alles raaksien, beskik die mens ook oor insig en intuïsie. As jy die intuïsie van ’n uil het, beteken dit jy sal raaksien wanneer iemand ’n (figuurlike) masker dra. Wolwe word as besonder sterk beskou en hulle beeld ook diegene uit wat siekes en swakkes versorg. Volgens oorlewering bring paddas geluk en welvaart.

Die raaf kom in meer as 90 kultuurstories voor en word bewonder vir sy geslepenheid.

Die Totem-erfenissentrum in Ketchikan

Volgens Smithsonianmag.com huisves die Totem-erfenissentrum in Ketchikan, Alaska, 33 oorspronklike totempale sowel as fragmente van totempale. Dit is die grootste versameling oorspronklike totempale in Amerika.

Die inwoners van die dorpies van waar dié totempale kom het aan die begin van die 20ste eeu na Ketchikan en ander dorpe verhuis, omdat hulle nader aan skole en kerke en werkgeleenthede wou wees.

  • Bykomende bronne: Wikipedia en die Totem-erfenissentrum in Ketchikan, Alaska.
Meer oor:  Washington  |  Alaska
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.