Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Idee wat sorg vir kos

Sy’t leer momo’s (kluitjies) maak en aila drink soos ’n boorling. En proe-proe het Natalia Rosa ontdek hoe toerisme Nepalese vroue se lewe help verbeter.

Ons leer momo’s (kluitjies) maak met die vroue van die organisasie Sasane. Foto’s: Oana Dragan

Dapper vroue wat die wêreld – húl wêreld – nuut maak en omskep kom dikwels uit die mees onverwagte oorde. ’n Tienermeisie van Swede met vlegsels inspireer derduisende om die planeet te probeer red. ’n 15-jarige Pakistanse meisie word die gesig van meisies se reg tot opvoeding. En in Nepal het Ssarmila, ’n doodgewone eggenoot en ma in Panauti, haar tot toerisme gewend om kos op die tafel te sit. Sy en 19 ander vroue het kragte saamgesnoer om hul gesinne ’n toekoms te gee.

Dié vroue noop ons om te vra: “Wat gaan ék vandag doen om môre se onthalwe?”

In toerisme word goeie idees nie gemeet aan hul reëlmaat en grootte nie. Dit is eerder wat ons met daardie idees dóén wat tel. Dié handjievol vroue het hul idees ’n werklikheid gemaak.

In Ssarmila en die vroue van Panauti se geval, het dit beteken dat hulle hul afkeurende mans moes teengaan en Engels-klasse neem sodat hulle kon leer kommunikeer met hul (betalende) gaste.

Daar word verwoed gekook in Ssarmila se kombuis in Panauti. Foto’s: Oana Dragan

Waar WiFi oorbodig is

Ons stap deur die terracottasteen-strate van dié dorpie, wat volgens die inwoners bestand teen aardskuddings is. Op die trappies van haar piepklein kafeetjie sit ’n vrou in ’n kleurryke uitrusting en brei. Regs van haar is ’n bord waarop geskryf staan: “Ons het nie WiFi nie. Gesels met mekaar – maak of dit 1995 is.”

’n Mooi ouer Newar-vrou in ligpers en helderrooi groet ons vanuit haar houtstoel.
’n Mooi ouer Newar-vrou in ligpers en helderrooi groet ons vanuit haar houtstoelFoto: Oana Dragan

’n Mooie ouer Newar-vrou, geklee in ligpers en helderrooi, leun vooroor in haar houtstoel en glimlag vir ons. Ons, lede van die G Adventures-toergroep, is op pad na die hart van Panauti, die Indresjwar Mahadef-tempel, ’n pagoda-styl-tempel met een van die hoogste torings in Nepal.

Vroue van Panauti se tuis-akkommodasie-gemeenskap verwelkom toeriste met blomkranse.

Aan elke kant van die antieke voetpad wat na die tempeltrappies lei, staan geesdriftige plaaslike vroue, geklee in pragtige koraal-en-goue sari’s. In hul hande is kranse van gousblomme, hibiskus en bougainvillea wat hulle om die beurt om ons halse hang. Maar selfs met ons nuwe blom-bykomstighede steek ons sleg af teen ons kleurryke gasvroue, wat grasieus beduie ons moet in die enorme binnehof gaan sit. Dan bedien hulle ons met tradisionele Newarse lekkernye en aila – ’n tuisgemaakte sterk drank wat behendig uit die hoogte in terracotta-bekertjies geskink word sonder om ’n druppel te mors.

Besoekers word gegroet teen die imposante agtergrond van Panauti se tempel, die Indresjwar Mahadef-tempel.Foto: Oana Dragan
Nie ’n druppel van die plaaslike drank aila word gemors wanneer dit behendig uit die hoogte geskink word nie.

Vyf jaar gelede het dié vroue as ’n gemeenskap saamgekom om ’n tuis-akkommodasie-bedryf te begin. Sodoende stel hulle ook hul tradisie en kultuur bekend aan toeriste wat deur die Katmandoe-vallei reis. En terselfdertyd onderhou en bemagtig hulle hul gesinne.

Dit het begin met ’n enkele huis, wat gegroei het tot 20 in net hierdie klein dorpie. Nou is daar talle van dié tuisondernemings oor Nepal heen, alles geïnspireer deur dié groepie vroue wat op ’n dag besluit het om die Newar-leefwyse aan die wêreld bekend te stel.

Dis meer as net ’n vakansie – dit is ’n eerstehandse ervaring van hoe dit is om elke dag in Panauti te leef.

Die bestanddele wat jy benodig om momo’s te maak.
Ons het geleer momo’s maak soos dit al vir eeue gedoen word.Foto:
Ná ons beroerde momo-maak-pogings word ons beloon met ’n tradisionele ete op bronsborde.

Ons sluit aan by Ssarmila en haar skoonma, Dhana, waar hulle in hul huis se klein kombuisie aandete voorberei. Ssarmila staan en diepbraai “sel roti” (gebraaide brood) op die stoof.

Regs van haar is ’n medereisiger aan die roer aan ’n atjar van “tite karela” (’n soort komkommer). Ons moes uit die eetkamer deurlopend ’n ogie op ons reisgenoot hou om te verseker die stomende sel roti verdwyn nie tussen kombuis en tafel in sy keelgat af nie.

Daardie aand sit ons aan vir ’n feesmaal saam met die gesin.

Die aila kom weer te voorskyn en ons word geleer hoe om dit direk uit die ryklik versierde kruik te drink sonder om te mors. Dié sterk drank (die alkohol-inhoud is sowat 60%) brand in die mond, maar word toenemend aangenamer soos dit die keel afgly en in ’n aangename warm gloed in die maag eindig.

Ons leer momo’s (kluitjies) maak met die vroue van die organisasie Sasane. Foto:
Ons leer momo’s (kluitjies) maak met die vroue van die organisasie Sasane. Foto’s: Oana Dragan

Susters in oorlewing

Dit was nie die enigste van ons ervarings met aila of met Nepalese vroue wat hul lewe deur toerisme verander nie. Ons reis deur Nepal het ons gewys dat toerisme en reis, wanneer dit reg gedoen word, ’n positiewe krag en ’n ondersteuningsbron vir plaaslike gemeenskappe kan wees.

Ons het ’n middag deurgebring saam met die vroue van Sasane (Sisterhood of Survivors), wat ons geleer het om heerlike momo’s (kluitjies) te maak.

Hoewel die vroue van Sasane geredelik hul momo-maakvaardighede met besoekers deel, is die eintlike doel van die organisasie om vroue te bemagtig wat uit mensehandel-situasies gered is. Sasane doen dit deur opleidings- en bewusmakingsprogramme. Die inisiatief word ondersteun deur die Planeterra-stigting, G Adventures se niewinsgewende afdeling wat sosiale ondernemings wêreldwyd ondersteun. Nou het die vroue van Sasane ’n volhoubare inkomste uit toerisme. Sasane beveg ook mensehandel regstreeks.

Ek kyk hoe die vroue die deeg in sirkels uitrol ter voorbereiding van die vulsels van gegeurde groente. Elkeen is ’n sterk vrou, dink ek, wat weier dat hul verlede hul toekoms bepaal. Hulle gaan geredelik om met algehele vreemdelinge om die geheime te deel van die nederige momo, ’n gunstelinggereg in Nepal.

Terugskouend sou dit blyk die brander-effek van (goeie) toerisme het uitgekring tot meer as net die leer van ’n paar kombuiskunsies. Ek keer terug huis toe met blywende herinneringe aan ’n middag in die geselskap van dié inspirerende “susters”. En ons teenwoordigheid het ook gehelp om aan húlle ’n nuwe, volhoubare lewe te gee deur toerisme.

Hoewel ons momo-maak-vaardighede dalk nog heelwat te kort skiet, het die tradisionele thali-middagete meer as genoeg vergoed vir ons pogings in die kombuis. Selfs hul geduld en leiding kon nie sorg dat ons halfmaan-kluitjies so mooi soos hulle s’n lyk nie – maar dit het darem heel lekker gesmaak.

  • Natalia was ’n gas van G Adventures, wat in Suid-Afrika verteenwoordig word deur Development Promotions.
Weet voor jy gaan

Vlugte: Verskeie lugdienste vlieg na Katmandoe. Die goedkoopste is Singapore Airlines vir sowat R11 400. Ons het met Qatar Airways via Doha gevlieg.

Reis in die land: Taxi’s is bekostigbaar en volop in Katmandoe. Kom voor die tyd ooreen op ’n tarief, anders betaal jy dalk te veel.

Waar om te bly: Katmandoe het blyplek vir elke begroting. Die Traditional Comfort is ’n ekovriendelike boetiekhotel in die stad se Kamalpokhari-buurt. Jy betaal sowat R1 300 per kamer.

Waar om te eet: Bricks Café is in Kupondole, naby Patan. Dis gebou uit bakstene wat om en by in 1903 gemaak is. Hier word ’n verskeidenheid Westerse en plaaslike geregte bedien.

Wat om te eet: Momo’s, natuurlik. Maar jy behoort ook die plaaslike thali- en Newar-geregte te probeer.

Visum: Suid-Afrikaners kan aanlyn vir hul visum aansoek doen en met hul aankoms in die land daarvoor in Amerikaanse dollar betaal. ’n Toeriste-visum kos $25 (sowat R360) vir 15 dae, $40 (R575) vir 20 dae en $100 (R1 435) vir 90 dae.

Geldeenheid: Een Nepalese roepee is 13 Suid-Afrikaanse sent. ’n Coca-Cola (2 liter) kos NR196, dus sowat R25.

Taal: Die inheemse taal is Nepalees, maar Engels word algemeen gebruik.


Meer oor:  Nepal  |  Kos  |  Toerisme  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.