Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Inkerking in Turkye: Volledige ondergrondse stad

Ons gids se staaltjies het mens ’n goeie idee gegee van hoe die mense in die ondergrondse stad van Derinkuyu oorleef het.
Verbeel jou daar was ’n volledige ondergrondse stad waar ons die inperking kon gaan deurbring. Dis presies wat jy in Turkye sal vind, skryf Ilse Zietsman.

Verbeel jou die volgende: Jy is besig om te timmer aan jou huis. Jy is nou al moeg vir die geneul in jou ore dat die huis te klein vir die hele gesin is.

Dan kom jy agter dat daar agter ’n muur in jou huis ’n klein versteekte kamer is waarvan niemand in die huis geweet het nie.

Jy stel ondersoek in. Die vreemde kamertjie waarop jy afgekom het, lei sowaar na ’n ondergrondse tonnelnetwerk.

Ditsem, dis Derinkuyu.

Die tonnels en vertrekke van Derinkuyu is tot 60 meter diep en tot 20 000 mense én hul vee kon op ’n slag daar wegkruip.

Dis naastenby wat in 1963 gebeur het toe Derinkuyu, ’n antieke, meervlakkige, ondergrondse stad in die Nevsehir-provinisie in Turkye, deur ’n huisbewoner herontdek is.

Derinkuyu is naby Kappadosië, bekend vir sy landskap met rotsuitstulpings van etlike verdiepings hoog waarbo lugballonne sweef. Dís maar net een van die redes waarom Kappadosië so gewild as toeristebestemming is.

Die tonnels en vertrekke van Derinkuyu is tot 60 meter diep en tot 20 000 mense én hul vee kon op ’n slag daar wegkruip. Dié wegkruipers was Christene wat hulle versteek het toe hulle in die jare 780-1180 deur Moslem-Arabiere tydens die Bisantyns-Arabiese oorloë aangeval is. Dit was soms nodig dat die Christene lang tye in Derinkuyu bly.

Dié ondergrondse stad is so groot dat daar boonop oorgenoeg plek was vir al die kos wat hulle nodig gehad het om te kon oorleef. Binne Derinkuyu was ook onder meer ’n skool en ’n kerk.

Om Derinkuyu binne te gaan moes jy deur ’n gat in die grond klim. Wanneer die laaste persoon binne was, is die gat versteek. Daar was verskeie gate wat as versteekte ingange gedien het. Daar was egter ook klipdeure – en vals ingange.

Die eerste paar verdiepings van Derinkuyu is met skuins loopvlakke verbind; daarna is daar stelle trappe.
Die ontstaan

Volgens die Turkse departement van kultuur is grotte vermoedelik in die 7de en 8ste eeu v.C. in sagte vulkaniese rots in daardie distrik uitgegrawe. Met verloop van tyd het verdere uitgrawings plaasgevind.

Derinkuyu is die grootse ondergrondse stad wat tot dusver in Turkye ontdek is en is met ’n netwerk van tonnels met ’n paar ander ondergrondse stede verbind.

Derinkuyu is die enigste ondergrondse stad wat met ’n uitsonderlike ruim vertrek en ’n gewelfde plafon spog. Daar word geglo dat dié ondergrondse kamer as ’n godsdienstige skool gebruik is en dat die vertrekkies wat daaruit lei studeerkamers was. Daar is ook stalle, kelders, stoorkamers, parskuipe en geriewe om olyfolie te pers, wynkelders, eetsale en kapelletjies. Daar is selfs vertrekke waar lyke gehou is. Dit het beteken dat die lewe onder die grond in ’n groot mate gewoonweg kon aangaan vir so lank nodig.

Kappadosië is meer bekend vir sy feetjietorings as vir die ondergrondse stede, maar albei is die besoek werd.

Ons gids het vertel van die vals ingange wat ook voorgekom het. Sou die vyand daar inkom, kon die ondergrondse inwoners met ’n versteekte tonnel tot bo die verdieping kom waar die maaifoedies hulle bevind. Dié verdieping sou in ’n doodloopstraat eindig.

Voordat die vyand tot die einde van die doodlooptonnel kon beweeg, sou die verstekelinge vermoedelik ’n klipdeksel oplig en kokende water of olie oor die vyand uitgooi, aldus die gids.

Elke ondergrondse verdieping is met die volgende verdieping aan mekaar verbind, eers met skuins loopvlakke en van die derde verdieping met stelle trappe. Op die vyfde verdieping van Derinkuyu is ’n kerk wat in die vorm van ’n kruis uitgehol is.

Historici glo ’n ventilasieskag van 55 m – daar is verskeie kleiner ventilasieskagte wat gesorg het dat vars lug in die ondergrondse stad sirkuleer – is ook as ’n waterput gebruik.

’n Mens kan jou net indink dat dit bykans onmoontlik is om ’n ingang na ’n versteekte stad in so ’n landskap te bespeur.
Toe en nou in Derinkuyu

Die ondergrondse stede van die Nevsehir-provinsie is nog tot die vroeë 1900’s steeds soms deur die Kappadosiese Grieke gebruik.

In 1923 is dié Griekse Christene gedwing om Turkye te verlaat en hulle moes hulself noodgedwonge in Griekeland hervestig.

Die Turke van die omgewing het nie mooi geweet waar die versteekte ingange van die tonnels na die ondergrondse stede was nie. Kort voor lank het die ondergrondse stede vergete geraak.

Nadat dié uitgebreide wegkruipplekke per abuis in 1963 weer ontdek is, is die ondergrondse stede as besienswaardighede in 1969 geopen. Die helfte van Derinkuyu kan nou deur toeriste besoek word.

Derinkuyu is by verre nie die enigste ondergrondse stad in hierdie geweste nie. Kaymakli is een van die grootste en bekendste ondergrondse stede. Dié twee is met mekaar verbind.

Kaymakli bestaan uit sowat 100 tonnels waarvan sommige steeds deur die plaaslike inwoners as stoorkamers, stalle en kelders gebruik word. Die tonnelgangetjies van Kaymakli is nouer en steiler as dié van Derinkuyu.

Vier verdiepings van Kaymakli is oop vir toeriste.

In 2015 het National Geographic berig dat nóg ’n ondergrondse stad in Nevsehir ontdek is.

Voorlopig lyk dit of die nuut ontdekte stad se tonnels so diep as 113 m kan wees en daar word vermoed dat dit tot ’n derde groter as Derinkuyu kan wees.

Meer oor:  Inperking  |  Turkye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.