Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Kiekie van ’n kruistoer

Ná ’n reis van 12 000 km deur ses lande in suidelike Afrika gee MC Botha sy indrukke.

’n Visserman op die Luangwarivier op die grens tussen Zambië en Mosambiek. Foto: MC BOTHA

Vier van ons het in twee voertuie ’n warrelwindtoer van ses weke deur Botswana, Zimbabwe, Zambië, Malawi, Mosambiek en Swaziland onderneem. Vanweë die relatief groot afstand wat in so ’n kort tydperk afgelê is, kan ’n mens makliker ’n geheelbeeld van die lande tesame kry as wat dit sou wees om ses weke in elke land op sigself deur te bring – laasgenoemde sou ek verkies, maar my reismaats is minder vry. Hulle is my neef Charel Bruwer (73), sy vrou Marlien (69) en ’n ou familievriend, Pierre “Doep” du Plessis (67).

En wat is ons algemene indruk? Helaas, ongebreidelde armoede. Waar ook al jy is – diep in die platteland of aan die buitewyke van ’n stad – sien jy vroue en kinders met kleurvolle houers in die hand of op die kop, besig om water aan te dra na waar ook al huis is. Gelukkig is omtrent die hele stuk aardbol noord van die Oranje en Limpopo vol boorgate gesteek, sodat plaaslike inwoners nie net van besoedelde riviere afhanklik is vir hul drinkwater nie. ’n Eenvoudige handpomp by elke boorgat of put sorg daarvoor dat houers maklik vol getap kan word. Van elektriese krag is daar buite stede en dorpe nouliks sprake.

Dis ’n kwessie van raap en skraap en hoop vir die beste. Lappies mielies of kassawe tussen die bosse, en aangrensend aan dié landerytjies ’n losse versameling modderhutte met verweerde grasdakke, kinders by dosyne wat op die werwe rondspeel, hier en daar ’n hen met kuikens skarrel­end agterna. Die armoedegrens ’n rietskraal lyntjie tussen lewe en dood. Op die oog af is die enigste verskil met die verlede die feit dat vroue vandag nie meer kaalbors rondloop, nie maar met selfone.

Van al die lande is Zimbabwe die neerslagtigste (ons was daar kort voor oudpres. Robert Mugabe uitgeskop is). Presies 30 jaar gelede het ek maande lank alleen daar rondgetoer – PW Botha was nog aan bewind in Suid-Afrika waar ’n landwye noodtoestand geheers het, dog Zimbabwe het steeds gewaggel in die euforie van onafhanklikheid. Kindertjies in blinknuwe uniforms het douvoordag al na nuwe skole gedraf. Almal het gelag en oor die toekoms gejuig. Tien jaar gelede nog was daar ’n mate van hoop dat die regering van nasionale eenheid (Zanu-PF en Morgan Tsvangirai se MDC) iets heilsaam sou kon bereik, tevergeefs.

Simbolies van die voortslepende ellende is dat die kilometers-lange uitstalplekke vir pragtige beelde uit kiaat en ebbehout suid van Victoria Falls dolleeg staan. Slegs by een stalletjie is ’n bittereinder: ’n Meester-houtwerkkunstenaar wat verkies om daar in die tuig getrou aan sy beroep in die stof te byt.

Eers wettig in die volgende dag, en ná dae se trek suidwaarts al op die oewer van die wonderbaarlike meer, kan ons die vriendelikheid en opregtheid van die inwoners smaak. Baie van hulle het al in Suid-Afrika gewerk of het ’n verbintenis met iemand daar, die land wat ook hulle nostalgies oproep as die plek van melk en heuning.

In die verre noordooste van Zambië ry ons eendag ure lank die liederlikste grondpaaie waar jy heeltyd links of regs moet uitswenk vir slaggate – “yskasgooiers” – toe die pad wonderbaarlik verander na die lieflikste teerpad. Weldra klim die pad met wye draaie al hoër en anderkant die kruin daal die roete met soortgelyke draaie af na onder, terwyl die aflope met beton uitgelê en die grondhellings aan weerskante van die pad netjies met klippe toegemessel is. Sulke ingenieursvernuf het ons laas in Kaapstad of Johannesburg gesien. Eers aan die buitewyke van die dorp Chama meer as 20 km verder besef ons wie vir hierdie manjifieke padbouprojek verantwoordelik is, want ons ry verby ’n ommuurde perseel met reuse swart letters: China Civil.

die digsbevolkte, en daarom seker ook die mees besoedelde. Veral klein blou plastieksakkies lê soos blare oor die landskap versprei – waar dié goed in sulke massas vandaan kom, weet nugter. Aanvanklik sukkel ons om in Malawi in te kom: Ná ’n lang dag se ry met kronkelende stofpaadjies bereik ons die kruin van ’n eskarp en meteens doem ’n slagboom voor in die pad op – die Katumbi-grenspos. Op die GPS het ons gemerk ons ry al geruime tyd in Malawi rond, sonder om ooit deur ’n Zambiese grenspos te gegaan het. Nou wil die Malawiese beampte ons nie deurlaat nie, want ons paspoorte het geen stempel in dat ons Zambië verlaat het nie.

Hoe ons ook al smeek, ons word beveel om terug te draai die gopse in na ’n dorpie ure se ry weg – die naaste plek waar ons die allerbelangrikste Zambiese stempel kan kry. Maar dis al sterk skemer, en ná ’n oproep aan sy baas sê die beampte as ons hier by die grenspos wil oornag, soos ons wou, sal hy verplig wees om ons te arresteer. Al swetsend draai ons dus om en eers 15 km verder kom ons volgens die GPS weer terug in Zambië, waar dit al donker is toe ons noodgedwonge in die bos langs die pad begin tent opslaan. Die ervaring het glad nie gestrook met Malawi se jarelange bemarkingsveldtog wêreldwyd nie: “The warm heart of Africa.” Eers wettig in die volgende dag, en ná dae se trek suidwaarts al op die oewer van die wonderbaarlike meer, kan ons die vriendelikheid en opregtheid van die inwoners smaak. Baie van hulle het al in Suid-Afrika gewerk of het ’n verbintenis met iemand daar, die land wat ook hulle nostalgies oproep as die plek van melk en heuning.

‘n Bobbejaanwyfe en haar kind in die ou Malawiese hoofstad Zomba.

In die dorpie Mvera vind ons die kerk waar my en Charel se grootoupa, ds.-genl. Paul Roux van Anglo-Boereoorlog-faam, in 1911 as sendeling gepreek het en hier deur die tsetsevlieg gebyt is. Op aandrang van ds. Andrew Murray is die sieklike Roux teen sy sin laat haal, om kort daarna in Beaufort-Wes by sy gemeente aan slaapsiekte te sterf. Hoewel die kerk en pastorie in Mvera vandag nog bestaan, is dit lankal nie meer in die hande van die N.G. Kerk nie. Des te meer aandoenlik was dit vir ons om ’n geraamde, dog verweerde, foto van ons gedugte voorsaat in ’n stoorkamertjie langs die konsistorie te sien hang.

Kyk jy na die horison van die Malawimeer kan jy netsowel dink jy’s by die see, maar dié water is mos nie sout nie. Die sogenaamde Tanganjika-sardyn – hier “usipa” of “white bait” genoem, maar in Zambië en Zimbabwe “kapenta” – word snags in hul miljoene deur skuite gevang. Smôrens word die klein vissies in enorme kookketels op die strand deur vroue van die vissers opgekook en daarna op stellasies uitgesprei om droog te word. My reismaats het nie hul monde aan dié kos gesit nie, veral nadat ek hulle vertel het hoe lekker ek eens weke lank langs die Karibameer van die vissies geleef het, net om in Suid-Afrika in ’n supermark te ontdek dit word as katkos verkoop.

deur die klein grenspos Zòbué, en van daar oor Tete na die kus. Dié land bly vir ons ’n wenner, seker omdat dit nie soos Botswana, Zimbabwe, Zambië en Malawi deur land omring word nie en met ’n kuslyn kan spog wat net so lank soos Suid-Afrika s’n is. Soos dit reisigers hier betaam, smul ons gereeld aan gesogte vars seekos soos oesters, swartmossels, garnale en calamari. ’n Paar jaar gelede nog het ’n mens in ondraaglike verkeersknope rondom Maputo vasgesit vanweë snelweë wat die Chinese besig was om te bou, maar wat ’n plesier is dit vandag om relatief vinnig by die immer-uitdyende metropool verby te kom.

Skaars is ons Swaziland deur Namaacha binne – ’n veel stiller grenspos as die alewig oorbesette Lebombo-grenspos – of Doep word in ’n spoedlokval gevang, en dit op ’n pad vol sink- en slaggate. Tot hier het ons met ons swaar gelaaide 4x4’s – wat nie sonder hul verbode goedere was nie – nêrens met die gereg gebots nie en is ons by al die horde grensposte en padversperrings nooit gevra om iets uit te pak of houers oop te maak nie. Behalwe toe ons aan die Suid-Afrikaanse kant van die Golela-grenspos met Swaziland wou inkom en ’n paar vrouepolisiebeamptes die voertuig deursoek en ons kokosneute en bier konfiskeer – klaarblyklik vir hul eie gebruik later. Maar tot hul krediet het hulle ná ons hartroerende pleidooie gesê ons kan alles maar weer terugpak, en meteens besef ons ons is tuis: ’n Plek waar reg of verkeerd op ’n mespunt gebalanseer is, en diegene wat daaroor moet besluit enige kant toe kan gaan.

Meer oor:  Swaziland  |  Afrika  |  Mosambiek  |  Malawi  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.