Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Kuier in kaalvoet Katot se paradys

Eintlik kan jy nie sê jy ken Suid-Afrika as jy nog nie gaan kampeer het in die Pietersrivier-natuurreservaat en die karaktervolle Katot “Kaalvoet”Meyer ontmoet het nie, skryf Mariska Spoormaker nadat sy daar was.

Katot op sy gelukkigste in die helder, kabbelende water van die Keurboomsrivier se bolope. Foto: MARISKA SPOORMAKER

Hy het al twee keer die Visrviercanyon kaalvoet gestap.

Al 20 jaar lank voer hy sy eenman-oorlog teen indringerbome en -plante. Sy vyand nommer twee is mense wat óf in óf met die natuur mors.

Ontmoet Katot Meyer, eienaar van die Pietersrivier-natuurreservaat aan die oostekant van die Outeniekwa-bergreeks. Pietersrivier is ’n inheemse Eden sowat 22 km van Avontuur in die Langkloof.

Hierdie bordjies wys waar jy moet afdraai vir ’n overgeetlike natuurbelewenis en, as jy gelukkig is, ‘n kuier met kaalvoet Katot Meyer. Foto: MARISKA SPOORMAKER

Dit is skaars 5 km van De Vlugt, ’n piepklein nedersetting langs die R339 waar die Prins Alfred-pas (een van die pasbouer Thomas Bain se meesterwerke) die Keurboomsrivier kruis.

“Pietersrivier is in die opvangsgebied van die Keurboomsrivier geleë. Dis hoekom die dorstige indringers van my grond moet waai,” verduidelik Katot toe ons hom laatmiddag nog aan die werk aantref by die tweelingdamme vlak by die grondpad.

Langs ’n waterslootjie wat tussen dié twee damme loop, hang ’n glasbeker aan ’n bordjie wat nooi: ‘Vir die moeë reisiger om sy dors te les.’

Maar nou is Katot ’n bietjie vies. “Mense het hier gekom, gerus, suiwer water gedrink en ’n toegevoude vuil babadoek agtergelaat.” Hy vra of ons onthou het dat géén rommel, nie eens ’n sigaretstompie nie, mag agterbly wanneer ons weer van ons kampeerplek vertrek. Nie eens ’n lemoen- of piesangskil mag in die veld agterbly nie.

“Dít kan julle in die kompos­emmer gooi, julle sal sien dit staan so op die deksel geskrywe.” En al jou ander rommel vat jy saam terug huis toe.

“As ek hier asblikke vir gewone rommel insit, kan ek maar die plek sluit, want dit sal beteken die besoeker het nie hier kom leer hoe belangrik dit is om lig te trap waar jy loop nie.”

Katot se voete lyk asof hulle duwweltjies tot snuif kan trap. Dra hy ooit skoene?

“Ja, ná brande wanneer die indringers in hul duisende uit die as opstaan en doodgespuit moet word. Dan moet ek kyk waar ek spuit om die indringers raak te spuit, ek kan nie kyk waar ek loop nie.”

Dit is 100% natuursaligheid in die Rondekop-kampeerterrein.

’n Groen spuitkan lê in die spaarwiel op die Land Rover se enjinkap. Katot skuif die kapmes terug in sy knyphouers wat aan die kant van die enjinkap gemonteer is. Agterin in die Land Rover is daar onder meer ’n matras, kettingsae, gereedskap, gereedskaphouers, oliekanne en ’n groen emmer. Onthou dié groen emmer, want later word meer hieroor vertel. Nou moet ons eers Katot tot by die Rondekop-parkeerkamp volg.

Daar aangekom, haal hy die droë hout van die sleepwaentjie, pak die vuur en sit ’n soort van dubbelverdieping-ketel met ’n ronde gat in die middel op sy staander by die vlamme.

Bo-op, in Katot se handskrif, staan: “7 liter in 7 minute super swak kwaliteit. Direk uit China via Durban hawe.”

Dis ’n láng storie oor hoe die ketel daar beland het. Kortliks was dit ’n eksperiment wat gou gestaak moes word weens die swak staalgehalte. Nou prut dié “ketel” en nog twee ander hul laaste dae om op Pietersrivier se kampvuurtjies.

Katot gaan sit op een van die boomstompe om die vuur. “Raait, ek is nie ’n spietkop nie, maar dis nou eers mondelinge eksamen om vas te stel of julle geskik is vir Pietersrivier. Julle kry vier vrae en elkeen tel 25%, so as ’n ou ’n fout maak, maak jy nogal ’n groot fout.”

Jimmel, eksamen in die bos.

Vraag een: “Jy ry in die motor, daar is nie tyd vir stilhou nie en jy eet vis uit ’n visblikkie (Nee! Die reuk!), ’n appel en ’n piesang . . . wat maak jy met die goed?”

Vraag 2: “Wat sal jy doen om te verseker dat daar nêrens in Suid-Afrika ’n stompie lê nie?”

Die ander twee vrae gaan oor platgetrapte blikkies wat jy in die veld optel en toiletpapier, maar ons wil nie meer antwoord nie. Die eerste twee vrae het ons reeds verkeerd geantwoord, netnou dop ons die mondeling, en dan moet ons huis toe gaan.

“Ontspan,” stel Katot ons laggend gerus, “ek gaan julle nou die antwoord gee. Nee, ek gaan hom uithaal.”

Dit is só ’n melkemmertjie waarna eers Katot se pa en toe hy glo vernoem is. Foto’s: Heilie Combrinck

Die groen emmer

En daar bring hy ’n groen 20 liter-emmer. In dié emmer en ’n klein toeskroef-plastiekbotteltjie lê al die korrekte antwoorde op sy vier vrae ingesluit.

Die emmer is basies in drie kompartemente verdeel. In die deksel is drie gate – een vir elke afdeling in die emmer gemaak. Oor elke gat kom ’n rubberflap. Daarop staan onderskeidelik geskryf: “Blik en Glas”, “Papier en Kompos“ en “Plastiek”op die derde flap.

Twee waterspuitbottels en ’n grafie hang aan die kant. Die een bottel is dat jy eerder ’n soort van veld-bidet geniet pleks om toiletpapier te gebruik en die ander bottel is vir hande was ná die tyd. Die grafie is om te begrawe wat begrawe moet word.

“Dit sluit toiletpapier in as jy dit pleks van die bidet gebruik. Moet dit nie net daar los of onder ’n klip sit nie, jy doen dit mos ook nie in jou huis nie,” sê Katot. Hy glo elke reisiger behoort altyd so ’n emmer in die voertuig te hou sodat reisrommel nie by die plek agterbly wat besoek is nie, maar teruggeneem word huis toe.

Dit staan selfs op die asblik langs die opelug-veldtroon geskryf, want sy oorlog teen indringers hou hom al besig genoeg, hy kan nie tyd aan besoekersgemors afstaan nie.

“Die indringers is rêrig soos die Filistyne, hulle kom op jou af, dis amper soos die vierde nywerheidsrevolusie.

“Dis soos die cowboy-tyd, jy moet sorg dat jy altyd alles by jou het sodat jy op die plek die indringer kan uitroei.”

Katot se belangrikste wapentuig is ’n graaf, kapmes en kettingsaag. Sy Land Rover is die wapendraer, veldkantoor en slaapplek. In ’n ou ammunisiekis, gemonteer op die voorkant van die sleepwaentjie, is daar drade, toue, tange, skroewedraaiers, skroewe, vyle en . . . ’n tandeborsel.

“Die ou tandeborsel is vir die kettingsaag se vonkproppe. Jy wil nie energie en tyd verloor wanneer jy met indringers werk nie. Jou gereedskap moet reg wees. Jy ry alles met jou saam – ook jou kos en matras sodat jy kan bly daar waar jy werk, jy mors nie tyd om eers weer terug te ry huis toe of skuur toe. Daar is ook ’n 250 liter-watertenk.”

Katot het drie kettingsae in sy voertuig vir ingeval een, of selfs twee van die kettingsae, sou breek.

“ ’n Mens is diep in die veld, dit kan ’n breek wees wat dalk net te lank vat om te herstel of ek kan dit nie in die veld herstel nie, ek wil nie tyd mors deur nou weer te moet uitry nie.”

Katot vertel iemand het hom eendag gevra hoe sien hy die indringers so maklik raak.

“Met tyd spring hy in jou oog. Behalwe as dit droërig is, dan knyp sy blare toe, dan sien jy hom moeiliker in die fynbos raak.” Net so “sien” hy watter soort mense kom kampeer op Pietersrivier.

“Daar is ’n verband tussen die voertuig en die mense wat daarin kom: As die ryding te veel blink – sê maar hier kom ’n Toyota aan met so ’n blink buffer, dan weet ek – die vrou sal uitklim en sê ek soek die beste kampplek.

“Dan sê ek mevrou, ek het net die tweede beste kampplek. Dan sê sy nee, sy kan nie, dan sê ek mevrou, weet jy, ek hou altyd die beste kampplek vir die onbekende kampeerder.”

Katot bekyk Pumba, die VW Kombi Syncro waarmee ons gekom het. Ja, dis ’n voertuig wat sal kan ry waar hy en sy Land Rover ry, reken Katot hardop.

Gaaf, dan kan ons een van die Burchill-4x4-roetes op Pietersrivier aanpak? Dit is ’n sirkelroete, 20 km lank, duur enigiets tussen vier en ses uur en wissel tussen grade drie en vier.

Katot sê egter die Burchill-roete is nog gesluit vir besoekers, groot brande in 2018 het groot skade aangerig.

“Maar dalk kan ons saam uitry na die bolope van die Keurbooms – ek wil inspeksie gaan doen voor die spanne volgende week kom help teen die indringers. “As dit teen Sondag nog nie gereën het nie, kan ons gaan. Ek wil sien hoe ry hierdie Syncro daarso.”

Katot groet en ry na sy eie slaapplek iewers in die veld. Die sleepwaentjie tjierrie-tjierrie agterna. Bokant die bergpieke rol die weerlig lang rooi-oranje vingers uit, trek dit terug en stoot dit weer uit. Laat dit maar reën. Ons kan altyd anderdag ’n deel van die 4x4-roete aanpak, die boere en stedelike opgaardamme het nóú reën nodig.

In die nag trek die wolke oop en wys ’n uitspansel waarvan elke stedeling maar net kan droom. Dis asof iemand ’n blik silwer verf teen die hemele uitgeskiet het. Terwyl ek die sterrebeelde van die diereriem opsoek, kom ’n vroeëre Katotgesprek by my op.

Ek het vir hom gesê hy het ’n reservaat vol van biodiversiteit, water, berg, kampeerterrein en gesonde veld, en toe gevra hoekom hy op 72-jarige ouderdom nog so ’n verbete indringer-oorlog voer. “Ons sit met ’n botaniese tuin in die fynbosstreek al langs die kus af – ons moet dit oppas – dit is onvervangbaar.

“Hierdie bewaring is in my hart. Dit gaan oor natuurherstel en volhoubare waterlewering. Ek boer amper met water, maar dit betaal nie,” sê Katot, wat voor sy aftrede jare lank as landbou-wateringenieur gedien het.

Katot Meyer by die borsbeeld van die botanis William Burchill (1800’s) waarheen een van die 4x4-roetes in die Pietersrivier-natuurreservaat lei. Foto: Heilie Combrinck

William Burchell

Maar daar is nóg ’n sterk rede, vertel hy verder, dit is die botanis William Burchell, wat in 1814 oor so 7 200 km per ossewa deur Suider-Afrika gereis het.

Die ware wyse man uit die ooste, soos Katot vir Burchell beskryf, het uit dié duisende kilometer 10 km oor Pietersrivier gereis. “Burchell het ondersoek ingestel na die biodiversiteit tussen die Karoo en die kus. Toe hy hier verbygekom het, het hy al oor die 60 000 monsters geneem van plante. Sy wa was gepak, daar was dierevelle en allerhande goed.

“Hy het ook gesê dit voel vir hom met elke tree wat hy gee, hy ’n ander botaniese tuin betree. Een van my fokusse op die Pietersrivier-natuurreservaat is om hier te probeer om die biodiversiteit te probeer terugkry na wat dit was min of meer toe Burchell hier deurgetrek het.

’n Burchell-4x4-roete is op Pietersrivier uitgelê. As jy mooi kyk teen die heuwel bokant die tweelingdamme, daar agter die klomp aalwyne, sal jy William Burchell sien staan.

’n Borsbeeld, natuurlik, maar dit is nogal iets om die man daar in die veld raak te loop. (Ja, Katot het ons toe op die Sondag op ’n deel van die amptelike 4x4-roete uitgeneem). Teen Skuurberg, ook op Pietersrivier, kan jy nog sleeroetes uit die 1700’s sien.

“Voor die Groot Trek was daar al baie pioniers in die gebied. Dis waar die sleeroetes vandaan kom. By die steiltes het die osse vreeslik gesukkel met die vrag wat van agteraf stoot, dan het die manne ’n blok, vasgemaak aan ’n ketting aan die onderstel, onder die agterwiel gesit. Dít omvorm die ossewa in ’n slee, want die wiel staan dan stil.”

Meer as twee eeue later staan ’n mens by daardie sleepmerke nadat jy in ’n vierwiel-vastrapper tot vlak by dié punt gery het en jy voel piepklein in vergelyking met wat die manne van ouds bemeester het.

Hy knik sy kop.

“As jy hom wil ry, moet jou houding reg wees – jy moet ’n lae image en ’n hoë chassis hê, anders gaan jy dit nie maak nie. Die idee agter die 4x4-roete is om te kom ry waar Burchell en die pioniers met die sleë 250 jaar gelede gery het. Ek het nie die roete verander nie, dit is nog soos Burchell dit gery het.”

Sodra die veld genoeg van November 2018 se brande herstel en al die roetebordjies weer in plek is, sal ons graag die volle roete wil aanpak. Maar, dié Burchell-roete is nie die enigste vere wat die Pietersrivier-voël maak nie.

Ons het op binnebande op Rondekop se dam rondgedryf, hande vol water uit ’n helder kabbelende Keurboomsrivier gedrink, gesien hoe die bosbok by sy maat aansluit, al langs die ou watervoor in die Keurbooms se bolope geloop én Katot se paraffien-bosstorte beproef en oorleef.

Daar is ook uitgemerkte voetslaanpaaie wat jou oor die lengte en breedte van Pietersrivier-natuurreservaat neem. O ja, daar is ook ’n propperse spoeltoilet. In die opelug, in die middel van inheemse struik en bos.

Op ons laaste dag vra ons hom: “Hoekom noem almal jou Katot?” Sonder om te antwoord, krap hy agter in sy Land Rover – hy noem hom Broekskeur – en kom terug met ’n aluminium-emmertjie met deksel in die hand.

“Ek het grootgeword by die Landbouskool Oakdale. My pa het daar onderwys gegee en hy het grootgeword in die Langkloof – en hy het altyd ’n houer by hom gedra wanneer hy gaan skape oppas het.

“In Australië noem hulle dit ’n billycan en in Afrikaans is dit ’n katotjie. My pa was ’n kort, frisserige ou wat rugby gespeel het. Dit is waar die naam Katot seker vandaan gekom het en ek het die naam so ’n bietjie geërf.”

Maar hoekom kaalvoet?

“Ek loop kaalvoet waar ek kan, want dit is prakties, dis baie makliker. En, ek is inheems.”

Meer oor:  Buite  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.