Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Land wat jou verras
In die oerwoud van Nepal ontdek Daréll Lourens hoe ons ons eie renosters in die steek gelaat het.

’n Tipiese woning in die Tsjitwan Nasionale Park.
Die boom in die Majadewi-tuin wat beskou word as Boeddha se geboorteplek.

‘Niks minder as ’n Bengaalse tier kan hierdie rit in dié versengende hitte regverdig nie,” dink ek by myself toe ek my sit kry op die wildkykvoertuig in die middel van die oerwoud in Nepal. Selfs die plaaslike inwoners van die Tsjitwan Nasionale Park moet erken dis ’n ondraaglike warm dag.

“Welkom in die Nasionale Park van Nepal,” sê ons jong gids, Tek Mahato, met ’n glimlag. Die park is gestig in 1973 en in 1984 as Wêrelderfenisgebied verklaar. Die 932 km² huisves ongeveer 540 voëlspesies en 68 verskillende soogdiere.

Ek is steeds nie in my noppies nie. Die sweet tap letterlik soos ’n fontein al langs my ruggraat af.

Ons kom binne die eerste paar minute op ’n trop eenhoring-renosters af. “Weet julle, in die 1960’s, nadat omtrent 70% van die Tsjitwan-oerwoud vernietig is, het ons net 95 renosters in die park oorgehad. Vandag is ons baie trots om weer meer as 600 te hê, en ons syfers groei jaarliks.”

Die getalle van Nepal se eenhoring-renosters neem toe.

Ek staar oor die grasveld na waar vier renosters wei, en dan weer skepties terug na die gids. “Hoe meen jy jul syfers neem jaarliks toe? Sekerlik maak jy ’n fout? Renosters word dan gedurig uitgemoor vir hul horings?”

Uit die veld geslaan antwoord hy in erns: “Dit is feitlik onmoontlik om ’n stroper in Nepal te wees. Sou ’n plaaslike inwoner soos ek jou nie aan die staat oorhandig om ’n vonnis van 20 jaar uit te dien nie, sal die leër jou op die plek morsdood skiet. Ons soldate is streng en baie, baie gevaarlik,” waarsku hy.

Min lande verstaan die realiteit van ’n spesie se uitwissing soos Suid-Afrika en sy renosters. Volgens die Wêreldnatuurfonds (WWF) is daar maar ongeveer 5 000 swartrenosters op die hele vasteland van Afrika oor, en Suid-Afrika huisves ’n skamele 2 000 van hierdie oerdiere. Boonop is 2 078 wit- en swartrenosters tussen Januarie 2016 en Desember 2017 gestroop. Dit is een van die tragiesste verhale van ons eeu: Afrika se renosters kan dalk binnekort alleenlik in die plato van ons verbeelding en sprokies wei.

Namate die wiele van die voertuig momentum opbou en ons dieper en dieper die oerwoud inry, moet ek aan myself erken dat Suid-Afrikaners se safari-bravade nie genoeg was om ons te keer om gemeenskaplik ’n hele spesie in die steek te laat nie – en skielik kry ek skaam toe ek dink dat net ’n tier dié oerwoud en safari vir my die moeite werd sou maak . . .

Voor my aankoms in hierdie klein landjie, versteek tussen China en Indië, het ek weinig geweet van die plek en sy mense. Ek’t net geweet Nepal is ’n bekende bergklimbestemming. En wás ek verras!

Daréll Lourens skilder haar eie mandala by die Thangka Mandala Boeddhistiese kunsgalery in Katmandoe. Foto’s: Daréll Lourens
Mandala-skilderkuns – ’n vorm van meditasie.

Skilder jou eie mandala

My persoonlike hoogtepunt in die hoofstad Katmandoe was die Thangka Mandala Boeddhistiese kunsgalery. Mnr. Phintso het my soos ’n vriendin gegroet en die storie agter hierdie kunsvorm, wat sy familie sedert 1979 bewaar en bemeester, vertel. Ons loop deur die galery, en hy stel my voor aan sy pa, tannie, neef en broer – almal agter ’n esel, kwas in die hand – elkeen befaamde mandala-skilders in hul eie reg, wat sewe dae per week, agt uur per dag sit en skilder.

Die sirkelontwerp van die mandala of thangka beeld ook die sirkels van die heelal uit en dié skilderkuns is ’n vorm van meditasie. Die ontwerpe, eeue gelede reeds vasgelê deur lamas, illustreer die stoepa (letterlik die argitektuur van die tempel), maar ook die mense se hunkering na nirwana. Besoekers word aangeraai om ’n minimum van tien dae aan te bly waartydens jy jou eie kunswerk kan voltooi en eerstehands meer kan leer van die dieper spiritualiteit in die thangkas.

Loembini: Boeddha se geboorteplek

Of jy nou gelowig is of nie, dié plek sal jou aangryp: Ek het in verstomming onder die reuseboom – beskou as die geboorteplek van Boeddha – gestaan. Dis in die middel van die heilige Majadewi-tuin, omring deur meer as 25 internasionale Boeddhistiese kloosters. Daar’s baie om te voet te verken, so maak seker jy kom vroeg om die hitte en massas te ontduik.

Bly by die mense

Ek dink die siel van enige bestemming lê in die huishoudings van sy mense. As jy régtig die plaaslike kultuur en mense wil leer ken, bespreek jou verblyf deur communityhomestay.com. Die meeste gasvroue is weduwees, huisvroue of jong meisies pas uit die hoërskool met beperkte opsies vir tersiêre onderrig. Dis soms ’n totale kultuurskok (daar is geen tierlantyntjies van enige aard hier betrokke nie, mens val gewoon by iemand se daaglikse roetine en huishouding in), maar dit bied jou werklik die geleentheid om dinge te sien en te ondervind wat andersins nie moontlik sou wees nie.

Smul!

Een van die eerste dinge wat ek navors voordat ek ’n nuwe bestemming invaar, is dit wat ek gaan eet. Lank voor ek aangeland het, het geweet ek wil soveel momo’s moontlik proe. Met die hulp van my Nepalese gashere het ek oorgenoeg kans gehad om in hul huise en agterstraat-restaurantjies hierdie variasie van die Chinese kluitjies self te maak en aan te smul.

Diegene wat lae-stysel-diëte wil volg, moet maar hul voorkeur tuis laat, want Nepal se bord is vól rys en ander stysel.

Meer oor:  Nepal  |  Renosters  |  Renosterhorings  |  Renosterstropery  |  Oerwoud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.