Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Pad om van te droom . . .

’n Verlate landskap, mensloos langs die snelweg. Foto’s: Deon Raath
Op die lang, stil pad van Johannesburg af Oos-Kaap toe was Rapport se verslaggewer Hendrik Hancke en fotograaf Deon Raath nogal verbaas om Liegman en Leon Schuster raak te loop.

In die goeie ou dae voordat begrippe soos “koronavirus” en “staat van inperking” genadeloos deel van ons woordeskat geword het, sou ’n mens net kon droom van so ’n stil pad see toe.

Maar noudat die droom werklikheid geword het, voel die bekende landskappe soms byna buitewêrelds van die leegheid.

Ek en Rapport se fotograaf, Deon Raath, het voorverlede Woensdagoggend in ons wit 4x4-Media24-Lamborghini-Toyota uit ’n bibberkoue Johannesburg op ’n reis van 2 400 km vertrek.

Ons bestemming was Jeffreysbaai; ons taak om die storie te vertel van ’n tragiese dubbelsterfte wat saam met die inperking soos ’n donker wolk oor die gewoonlik feestelike kusdorpie hang.

Maar die reis is voorafgegaan deur veel meer alledaagse probleme: verblyf en kos op pad.

Gemaskerde soldate help polisielede en verkeersbeamptes om motoriste se dokumente na te gaan.

Ná ’n gesukkel – nie eens die mense wat die reëls maak, blyk te weet hoe hulle werk nie – het ons van Fox Den in Trompsburg uitgevind, ’n gastehuis wat noodsaaklike werkers mag huisves.

Tydens Rapport se 2 400 km-reis was daar weinig ander padgebruikers.

100 km voor Kroonstad wag die eerste padblokkade. Ons is gespanne. Ons het ons perskaarte en al die nodige permitte en dokumentasie. Jy kan nie méér voorbereid wees nie, maar mens hoor die stories . . .

Gemaskerde soldate in gevegsdrag help polisielede en verkeersbeamptes (amper almal gemasker – dit was nog twee dae voordat die dra van maskers verpligtend geword het) om padgebruikers se dokumente na te gaan. Surrealisties. Ek wonder wat Madiba of PW sou dink.

’n Soldaat, aanvalsgeweer in sy arms, staar ons met uitdrukkinglose oë bo sy masker aan, maar laat ons deurry.

By Bloemfontein gaan ’n verkeersbeampte vriendelik, maar moeg, ons dokumente na. Sy skryf ons registrasienommer neer en ons kan gaan.

Deurentyd op ons pad sê beamptes hulle werk langer skofte wat vroeër as gewoonlik begin.

In Trompsburg wys ek ek kan toor en sonder dat enige geld van hande verwissel, verskyn daar siem-salabiem rooiwyn en heerlike Karoo-skaapvleis.

Let wel, ons het nie met die wyn gereis nie en ons het dit nie gekoop nie. Dit sou onwettig en onverantwoordelik van ons gewees het. Ek het dit laat verskyn.

Hardekoolhout kos R15 ’n sakkie by die plaaslike vulstasie. Die vlamme knetter gulsig en die hout sing suisend saam.

Ry op ry staan die sinkhuisies, elk skaars groter as my sitkamer.

Koffie nee, pasteie ja

Voor sonop val ons weer in die pad. By Colesberg droom ons van koffie, maar die regering sê ons mag nie kry nie. Ons kan wel warm sjokolade koop.

Deon wag om buite Colesberg getoets te word.

Geen warm kos mag verkoop word nie, maar luidens ’n kennisgewing is daar bevrore pasteie in die vrieskas en by die betaalpunt kan almal die mikrogolfoond gebruik. Winkel: 1, minister: 1. Korona: 10.

Die piekniekplekke langs die pad is leeg. Net spoke uit ons kinderdae met hul klam kaas-en-tamatiebroodjies bly oor.

Ons draai by Colesberg, waar twee susters (nie te verwar met die Drie Susters, drie uur verder suid nie) met elektroniese termometers wag.

Hulle neem ons temperature en skryf ons besonderhede neer. Ek is beïndruk met die veilige en deeglike proses. Ook met die feit dat ek nou amptelik kan sê al bly Deon cooler, is ek hotter as hy.

Op die N9 Jeffreys toe en terug sien ons meer as 25 padvrektekarkasse. Kras en vlerkflappend sê die witborskraaie dankie vir die stil paaie en hier en daar se onverwagse kar wat dié geil oes oplewer. Tot Deon se frustrasie is dié slinkse voëls lugtig en wil hulle nie stilsit vir foto’s nie.

Buite Uitenhage dink ek hoe lekker dit is om ’n breër horison as dié van my eenslaapkamer-woonstelletjie te hê.

Op ’n hoogte is die skielike weerkaatsing van son op sink amper oorweldigend. ’n Landskap van sinkhuisies, elk skaars groter as my sitkamer, waarin hele gesinne ingeperk is.

Die strand by Jeffreysbaai was op 'n langnaweek ongekend stil.
Die piekniekplekke langs die pad is leeg. Net spoke uit ons kinderdae.

Onverbiddelik stil

Ons bly heerlik by die gasvrye Savoy-hotel in Jeffreysbaai. Ook hulle mag nie hul noodsaaklike-werker-gaste van voedsel voorsien nie en vir die eerste keer in my lewe braai ek by ’n hotel.

By die Pick n Pay in Jeffreysbaai moet elke klant ’n trollie gebruik om fisieke afstand te probeer verseker – al koop jy net ’n vrugtesap.

Die volgende dag ontvou Jéan Vosloo (25) en sy verloofde, Mari Hoon (28), se verskriklike badkamer-dood voor ons (soos berig in Rapport van 3 Mei).

Ons voer ’n roerende onderhoud met Vosloo se ouers. Drie paartjies wat glo voorheen byna versmoor het in die Kliphuis op ’n gasteplaas in die Kareedouw-distrik vertrou ons ook met hul stories.

Ek verwonder my aan die onverbiddelikheid waarmee die lewe, ongeag die virus, steeds voortgaan óf eindig.

Dis langnaweek en die son skyn, maar Jeffreysbaai se strand is apokalipties leeg.

Tussen dié dorp en Patensie ontmoet ons oom Edmund Charlie (59), sy gestremde seun, Lonwabo Charlie (21), en hul vriend Richard Kave (40).

Die donkies Liegman en Swartland neem hulle huis toe nadat die mans in Soekkloof gaan hout kap het.

“Ek het altyd ’n inkomste gekry uit die lê van waterpype, maar nou met die korona het die waterpype opgedroog,” sê oom Edmund.

Sonder dat enige geld van hande verwissel, verskyn daar siem-salabiem rooiwyn en heerlike Karoo-skaapvleis . . .

Saterdag ry ons terug

Suid van Trompsburg is dit weer sulke tyd. Ons tas outomaties na die nodige dokumente as die N1 skielik deur padkegels vernou word.

Op die nek van die afdraai wat ons nou gedwing word om te vat, wag hulle. ’n Beampte beduie halfhartig ons moet stadiger ry (wat Deon uiteraard reeds doen).

Hendrik se temperatuur word gemeet.

“Goeiedag, hoe gaan dit? Wat gaan aan met die snelweg?” vra Deon.

Die uniformman bedink Deon se vraag. Twee moeg geryde moermeters begin stadig maar seker in ’n noordelike rigting verkleur.

“Hy’s toe. Jy ry Kimberley toe en dan draai jy daar vir Bloemfontein,” sê die sersant in ’n indrukwekkend kalm stemtoon, in ag geneem die gewig van die nuus wat hy oordra.

“Maar hoekom?” vra ek, reg om gearresteer te word.

’n Peinsende stilte. Ek kan aanvoel hoe Deon se revolusies opbou. Myne jaag al kringe in ’n bos.

“Die president het hom toegemaak . . .”

Dan verhelder sy gesig:

“En ek is Leon Schuster.”

Skielik dawer dit van die lag. Eers die spietkops, die polisie, selfs die gesondheidsamptenare, toe ook ek en Deon. Ons hele gemengde simpel Suid-Afrikaanse spulletjie lag saam. En ons lag ons gatte af.

Vir een heilige oomblik vergeet ons van die Kliphuis-tragedie. Van die koronavirus en die ou vrese en vooroordele.

Lig en laggend begin ons laaste skof – die afdraande een huis toe.

Ry op ry staan die sinkhuisies, elk skaars groter as my sitkamer.
Meer oor:  Hendrik Hancke  |  Koronavirussiekte  |  Inperking  |  Langpad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.