Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Perdekarreis vir die boeke

Grondpad tussen Vrede en Verkykerskop. Foto’s: Dawie Fourie
Die grendeltyd het ’n man geïnspireer om met ’n perdekar die historiese oorlogsvlaktes van die binneland te verken, skryf Jandrí Barnard.

Toe Wessel Mostert tydens die grendeltyd van 2020 die kapkar sien wat sy vriend Nico Moolman, ’n skrywer en historikus, gekoop het om te restoureer, het ’n droom van ’n moderne reis met ’n perdekar by hom gestalte gekry.

Wessel, ’n voormalige wêreldkam­pioenskopbokser en in 2014 ’n amateur­wêreldkampioen in gemengde gevegskuns, is deesdae ’n konstruksie-entrepreneur en ook stigter van die drank-en-dwelmrehabilitasiesentrum Hope Hill in Rustenburg. Net toe reise weer toegelaat is, het hy by Nico op sy plaas buite Utrecht gaan kuier.

Ook hier op die plaas is die Buskruit & Laventel-museum waarvan Nico die kurator is. (Soek Buskruit & Laventel Plaasmuseum op Facebook vir meer inligting.) Dis op 29 Julie 2019 deur Estelle Pretorius, bestuurder van die Erfenisstigting van die Voortrekkermonument, geopen.

Uit Wessel se droom is ’n perdekarreis oor 420 km deur die Vrystaat se Riemland en Mpumalanga tot in KwaZulu-Natal gebore.

Nico het die museum geskep om sy eie kennis, ondervinding en versameling historiese artefakte en foto’s uit die Anglo-Boereoorlog te deel.

Dis juis vir dié museum wat Nico die kapkar aangekoop en gerestoureer het.

Uit Wessel se droom is ’n perdekarreis oor 420 km deur die Vrystaat se Riemland en Mpumalanga tot in KwaZulu-Natal gebore.

Die Riemland is ’n streek in die Oos-Vrystaat met Heilbron en Petrus Steyn as kerndorpe. Die naam kom van die goeie jagvelde, waar baie velle tot riempies en swepe verwerk is. Dis ook hier waar die Voortrekkers en Matebeles tydens die Groot Trek by Vegkop slaags was.

Op 20 April het die avontuurspan op ’n gentlemen se viersitplek-spaaider uit Heilbron vertrek. Die spaaider is later afgewissel met ’n meer geharde tweewiel-kapkar tot die reis op 1 Mei in Utrecht geëindig het. (Sien kassie vir die volledige roeteplan.)

Die span wat die avontuur aangepak het.
Dit neem ’n span

Dit was dalk Wessel se plan wat met Nico se kundigheid gestalte gekry het, maar hulle het ’n groter span gehad wat dit laat groei het tot ’n volwaardig gedokumenteerde reis, wat hopelik binnekort op ons TV-kanale te sien kan wees.

Piet Lombard, ’n geskiedeniskenner wat tussen Heilbron en Sasolburg boer, het dadelik ingestem om ook deel van die span te wees. Saam met Wessel en Nico het hy vooraf roetes oorweeg en op die finale een, verby verskeie historiese landmerke, besluit.

Twin Mosia, ’n sakeman van Petrus Steyn wat lief is vir die land se erfenis en gereeld die rol van swart Boer vertolk op Anglo-Boereoorlog-gedenkgeleenthede, was ook deel van die beplanningspan. Hy is op die Elandskop-museum in Petrus Steyn se bestuurspan en die administrateur van die Facebook-blad Anglo-Boere Oorlog 1899-1902.

Hy, Wessel, Piet en Tumelo (AB) Mokoena het die roete eers per motor afgelê en oral kontak gemaak met mense langs die pad naby historiese gedenkwaardighede. Gou het hulle gesien dat plattelandse gasvryheid nog nie uitgesterf het nie.

Drie weke voor die reis het Twin en AB te voet verder verken en so 50 km per dag gestap om die roetes rondom Petrus Steyn vas te lê.

Leon Marx herstel die spaaider se wiel net buite Petrus Steyn.

Saam met AB was Piet en Leon Marx, ’n vriend van Wessel, die tegniese ondersteuningspan wat die perdekarre as’t ware op die pad moes hou.

Mbongeni Mdakane was weer die perdekenner, ook bekend as die perdefluisteraar, van die reis. Die fotograaf Dawie Fourie en videograaf Theodore Molebatsi (wat meestal gemengde gevegskuns afneem) het die geskiedkundige reis en staaltjies van die plaaslike inwoners met hul lense vasgelê.

AB het homself ook gou aangestel as kampkommandant en gesorg vir die lekkerste pap saam met die aand se kos om die kampvuur.

Die sterre van die stofpad, die perde wat om die beurt die karre moes trek, is uitgesoek deur die perdekenner John Horn – wat self jaarliks 500 perde verkoop, meeste gerehabiliteerde diere.

Wessel het reeds vir Fleur besit en Somerset, Vonk en Witpoot aangekoop. John se perd Zandspruit is by die span gevoeg en Mbongeni (wat die perde opgelei het) se perd Fezi Umnyama (“swart voël” in Zoeloe) het die sestal vir die reis gemaak. Nadat die groep drie weke voor die reis gemaklik geraak het met die perde, kon hulle kop omhoog draf met ’n daaglikse gemiddelde spoed van 11 km/uur oor verskillende terreine.

Dit was meestal grondpad met die minimum teerpaaie en tussen 30 km en70 km is per dag afgelê.

Op roete van die Vrystaat na Mpumalanga.
’n Spaaider en ’n kapkar

Nico en Wessel het die eerste skof afgelê op die gentlemen se viersitplek-spaaider, met drie bakkies (waarin die res van die span gereis het) as ondersteuningsvoertuie om die sleepwaens met kampvoorraad en die ander vier perde te sleep.

Die spaaider was gewild gedurende die 18e en 19e eeu as vervoermiddel, maar dit was meer ’n windgat voertuig wat nie vreeslik opgewasse is teen grondpaaie nie.

So het die span ook gou uitgevind toe die wiele reeds met die eerste skof probleme gegee het. Net buite Petrus Steyn moes Wessel se pa, Phillip Mostert, ’n ander spaaider uit sy versameling bring, terwyl Leon se vernuf darem die wiel kon kry om die skof te voltooi.

’n Tweewiel-kapkar, ook getrek deur ’n span van twee perde, is heelwat beter toegerus vir die huidige Suid-Afrikaanse grondpaaie en die span het ritte met die spaaider en kapkar afgewissel.

Gedurende die laaste skof van die reis, het welkome reënbuie uitgebars op die stofpad en die nut van ’n kappie is opnuut besef.

Elke dag het ’n ander lid van die span saam met Wessel gery, maar sy permanente metgesel was Kallie, sy jackrussell-terriër gekruis met ’n beagle.

Êrens tussen Memel en Amajuba stap ’n trop beeste saam.

Om soveel ure op ’n perdekar deur te bring, is natuurlik uitdagend vir ’n lyf wat gewoond is aan motorkar ry, selfs vir ’n voormalige wêreldkampioen-skopbokser.

“Jy moet jouself voor ’n reis, soos voor enige boksgeveg, sielkundig voorberei,” sê Wessel. “Jy kan nie halfpad deur ’n reis waaraan jy so lank beplan het, rugpyn kry of seer knieë van die sit nie. Jy moet jou kop eerste reg instel.”

Hy het wel uitgevind, ná een van die laataandkuiers, dat ’n babelaas en perdekar ry nie ’n wenkombinasie is nie. Hierdie kuieraande, onderskeidelik met Beeskraal en die Radio Kalahari Orkes wat musiek gemaak het, sowel as ’n opskop-kuier in Wakkerstroom, het tientalle gaste uit die omgewing gelok wat saam kom kuier het.

In elke gebied het perderuiters of perdekarre uit die omgewing by die avonturiers aangesluit om ’n stuk van die roete saam te galop aan hierdie stukkie geskiedenis in wording.

President Reitz (staande op die perdekar) ry Heilbron binne in 1891. Foto: Verskaf deur Nico Moolman
Meer as net ’n avontuur

Dit was nie slegs ’n perde-plesierrit nie, maar eerder ’n historiese bewusmakingsroete van ons erfenis om ons geskiedenis in herinnering te roep.

Nico vertel ná afloop: “Die beste vir my was die reuke van die natuur, die reuk van salpeter en die Vrystaatse stof. Om by ou plaasopstalle verby te ry en murasies, grafte en gedenktekens se verhale te herontdek.”

Twin vertel dat hy vooraf nie juis bekend was met perde nie en slegs die herinneringe uit sy kinderdae buite Petrus Steyn het van iemand wat óf afgeval het óf geskop óf gebyt is deur ’n perd.

Maar ná afloop van die tog het sy siening van perde verander: “Perde was die eerste vinnige vervoermiddel wat migrasie, handel en kommunikasie tussen kulture bevorder het. Hulle help mense om werk te verrig, van velde ploeg tot goedere vervoer. Perde het al bygedra tot menslike status, geloof en rekreasie. Hulle het ’n belangrike rol gespeel in oorlogvoering en die opbou van wêreldryke.”

Hy voeg nadenkend by: “Om tyd saam met perde deur te bring, kan geestelik en fisiek terapeuties wees.”

Die roete

Aanvanklik wou die avonturiers by die Voortrekkermonument in Pretoria wegspring, soos die herdenkings­trek van 1938. Nadat hulle die roete vooraf verken het, het hulle besef die eerste deel is te steil vir ’n perdekar en osse sou benodig word vir groot skofte van die reis. Uiteindelik is ’n roete deur historiese punte van Mpumalanga en KwaZulu-Natal gekies. Twee skofte, Memel na Amajuba en Wakkerstroom na Utrecht, was wel deel van die oorspronklike Simboliese Ossewatrek van 1938.

20 April: Kom aan in Heilbron vanaf Sasolburg. Gaan aan by van die historiese plase in die distrik, soos Jamaica wat dateer vanaf 1910, asook begraafplase uit die Tweede Vryheidsoorlog.

21 April: Heilbron na Vegkop (25 km suid van Heilbron), waar die Voortrekkers die Matabele-impi’s op 16 Oktober 1836 verslaan het.

22 April: Vegkop na Petrus Steyn om Nico Moolman se ouers se familiegrafte te besoek sowel as die graf van Petrus Steyn, na wie die dorp vernoem is. Daarna is hulle getrakteer by Huis Silwerjare op die dorp met varsgebakte melktert en boeretroos.

23 April: Petrus Steyn na Reitz, wat sy oorsprong gekry het as uitspanplek vir transportryers by die plaas Stampkop.

24 April: Reitz na Akkerbos (op pad na Vrede) waar tydens die Anglo-Boereoorlog ’n veldhospitaal vir Boeresoldate was. Hier staan nog ’n murasie. Dis hier waar die verpleegster Lily Rautenbach besig was om ’n gewonde Boer se wonde te verpleeg toe kapt. Arthur Vaughn van die Remington Scouts op ’n afstand van vyf meter nege skote op haar afgevuur het. Twee skote was mis en sewe raak. Die skoot deur haar nek het haar rugmurg gemis, maar sy het die gebruik van haar regterarm verloor. Sy het 95 jaar oud geword.

25 April: Akkerbos na Vrede, waar die aand kampvuurstories uitgeruil is en Beeskraal vir musiek gesorg het.

26 April: Rusdag in Vrede.

27 April: Vrede na Wit Dirk se familieplaas tussen Vrede en Verkykerskop om die ou distriksgrondpaaie te ontdek.

2 8 April: Na Memel, tot voor die NG Kerk om eer te bring aan die laaste rusplek van veldkornet Danie de Wet (genl. Christiaan de Wet se seun) en sy gesneuwelde makkers wat tydens die Rebellie van 1914 en 1915 by Doornberg naby Winburg gesneuwel het. Hul herbegrafnis het op 8 November 1917 plaasgevind, nadat die Volksopstand-monument in 1915 ter herinnering hier opgerig is.

29 April: Memel na die Amajuba-feesterrein, waar die oorwinning van die Boere oor die Britte op 27 Februarie 1881 tydens die Eerste Vryheidsoorlog steeds jaarliks herdenk word.

30 April: Amajuba na Wakkerstroom, waar die geselskap op die Zaaihoekdam-pad ontmoet is deur perdekarre uit die omgewing georganiseer deur Dirk Adendorff van die Houtspeekvereniging van Suider-Afrika. Die aand is ’n sokkie-en-braai-opskop gehou in hierdie dorp aan die voet van Ossewakop waar die Groot Trek-datum (1838) en ’n ossewa met klippe en kalk teen die berg geteken is.

1 Mei: Wakkerstroom na Utrecht, waar die reis op ’n deurnagkuier geëindig het.

Meer oor:  Mpumalanga  |  Natal  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.