Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Plekkie vir stadig drentel en lekker eet

Daar doer tussen die klipkoppies en groen valleie van die Boland is ’n klein dorpie waar jy weer die stilte in jou kop kan terugkry en die spanning uit jou skouers kan laat gly. Gaan kuier gerus op McGregor, daar naby Robertson en Bonnievale.

Die pragtige plaaspaaie buite die dorp herinner aan die Mediterreense platteland. Foto: Clifford Roberts

Ons huur ’n klein selfsorg-huisie, ewe kordaat Tumbleweed Cot­tage genoem. Die mure is ekstra dik; die plafonne rus op soliede balke en die deurgetrapte vloer getuig van jare se stories en kuiers en lééf.

Die deure na die lekker stoep agter is gou oop; die ligte gordyne dans in die koel windjie en ons sit in die swembad met yskoue wyne van die vallei.

Die dorp se stilte is aansteeklik. Gou het elkeen ’n boek en die sonnetjie bak gerusstellend op jou rug.

Mossies en kwikkies en suikerbekkies kom bad in die voëlbadjie, en ons vuurtjie knetter vir tjoppies en braaibroodjies. Ons naweek word een van rus. Die meeste inspanning is kuiers by galerye of restaurante vir ’n luilekker cappuccino of glas wyn.

Behalwe dat jy heel naweek die klein stofstraatjies tussen die historiese ou huisies, kunsgalerye, restaurante en winkeltjies kan verken, is daar ook verskeie selfbegeleide erfenisstappies deur die dorp, almal ten bate van die Erfenisvereniging. ’n Volledige brosjure is by die toerismeburo in Voortrekkerstraat beskikbaar.

Die dorp en omgewing het baie staproetes: in die Boesmanskloof, die Krans-natuurreservaat en op die Rhebokskraal-olyflandgoed. In die Vrolijkheid-natuurreservaat kan jy fietsry, stap of voëls kyk, en daar is ook die Kleinberg-roete, wat op die heuwel langs kronkel, waar jy kan stap of fietsry.

Die toring van die dorp se NG kerk is sommer die baken vir rigting ook. Foto: Clifford Roberts

Wynproe en meer

McGregor is deel van die bekende Robertson-wynvallei, wat jaarliks verskeie feeste aanbied, waar jy óf op die plase kan gaan kuier en die wynmakers ontmoet óf op die rivierwalle kan kuier waar al die wynplase hul wenwyne by stalletjies bedien.

Die dorp het ook sy eie klein garagiste waar Ilse Schutte die wynmaker en eienaar is.

Bemind-Wyne is in die hartjie van die hoofstraat en oop vir proeë. Moenie dink omdat dit op klein skaal is, die gehalte enigsins hoef terug te staan nie!

As jy 10 km uit die dorp op die “Pad na nêrens” ry, vurk die pad na Lord’s Wines en hier gaan jy beslis vasval.

Hul bekroonde MCC, pinot noir en sauvignon blanc is maar net enkele hoogtepunte. Bespreek ’n kaasbord en kuier op die stoep, met ongerepte vallei-uitsigte voor jou.

Die Tanagra-boetiekdistilleerdery is net buite die dorp op die pad na Robertson en maak onder meer grappa, eau de vie en rooiwyne. Die plaas bied ook verblyf.

Die McGregor-wynkelder maak ’n verskeidenheid wit- en rooiwyne en bied proeë aan.

As jy nog verder wil ry, wink die hele Robertson-wynroete met meer as 40 ledeplase wat onder meer wen-brandewyne maak, bootritte op die rivier aanbied, 4x4-roetes het en pizzas onder die bome bedien, maar die idee is dan juis om jou motor te parkeer en die naweek so rustig as moontlik deur te bring.

Ons oulike huisie, Tumbleweed Cottage, is een van die vele waaruit jy aanlyn kan kies by McGregor Country Getaways. Foto: Clifford Roberts

Tuine, kuns en kos

Die dorp gooi elke jaar in Oktober van sy tuine oop, en jy kan dan by verskeie tuine gaan inloer, wat wissel van Karootuine met aalwyne en laventel en olyfbome, tot tradisionele Engelse plattelandtuine met rankrose en bloureën.

As jy buite die ooptuine-naweek hier is, gaan kuier by die Temenos Retreat – ’n baie spesiale tuin waar jy mediteer, skryf, in die knus biblioteek ontspan, of by Tebaldi’s Restaurant tussen die ruie plante kan eet.

Die tuine en restaurant is ook jaarliks deel van die gewilde Digtersfees wat in Augustus gehou word.

Die dorp het geen tekort aan kunstenaars nie en verskeie van hulle het hul eie galery of jy kan per afspraak by hul ateljees inloer. Die volledige lys en kontakbesonderhede is by die toerismekantoor beskikbaar.

Maryke Roberts
Ons het ure lank deur die dorpie se stofstraatjies gedrentel, waar mense nog tyd maak om oor die weer te gesels. Foto: Clifford Roberts

Gaan loer ook in by Paul de Jongh se pottebakkersgalery. Miskien is jy gelukkig en sit hy en draai van sy pragwerke op die pottebakkerswiel.

Vir ’n klein Karoodorpie is daar ’n verbasend groot verskeidenheid restaurante as jy nie lus is om vleis onder die sterre te braai nie. Jy kan van tuisgemaakte pizzas tot bekroonde cuisine hier kry.

Vir iets anders, gaan kuier by die Eseltjiesrus-donkieskuiling. Hier is meer as net ’n restaurant. Dis ’n veilige hawe vir afgetrede donkies, en jy kan hul ore gaan vryf terwyl jou maal berei word.

Karoux word besit en bedryf deur die egpaar Ryan en Aimee Josten. Ryan was voorheen die sjef by die Cellars-Hohenort-hotel en Aimee die bestuurder by die Steenberg-landgoed. Bespreek vroegtydig, want die piepklein restaurant huisves

net 30 mense.

net 30 mense.

Die Green Gables Country Inn is op ’n effense hoogte aan die dorpie se buitewyke en dis heerlik om teen sononder daarheen te stap. Hulle is net saans oop, maar die hoenderpastei, vis en skyfies en kerriegereg is beslis die wag werd.

McGregor Ice is jou maat as die hitte so ongenaakbaar is en die son jou wil-wil doodbrand. Sit sommer op die stoep soos in jou kinderdae en kyk hoe die lewe sy gang gaan, terwyl jy die soete, koue heerlikheid lek.

As jy in Voortrekkerstraat stap, sal jy vele ander oulike plekkies raakloop. Dis hoekom dit lekker is om die dorp te voet te verken.

Die Lord’s-wynlandgoed met sy hoë stoep en wingerde wat in pragtige, netjiese blokke voor jou uitstrek, is beslis een van die beste plekke om foto’s te neem en jou vriende by die huis jaloers te maak.

Die Lord’s Guest Lodge is net ’n paar kilometer buite die dorp en ’n ware Skotse hemel. Al die geboue is uit klip gebou en bied onverbeterlike uitsigte. Dis die ideale plek vir skemerkelkies en ’n pizza ná sononder.

Die Lord’s Guest Lodge is ’n lekker plek vir ’n skemerkelkie en bied uitsigte oor die vallei, maar is ook baie gewild vir troues. Foto: Clifford Roberts

Moenie die mark misloop nie

Voor die NG kerksaal op die hoek van Voortrekker- en Kerkstraat is daar elke Saterdagoggend ’n oulike plaasmarkie. Daar is net ’n handjievol stalletjies en dit begin om 09:00, maar as jy teen 09:30 verbyloop, pak die meeste mense al op.

Dis dié plek vir tuisgebakte produkte, organiese hoender­eiers, olywe en heuning van die plaas af. Staan en eet sommer net daar en gesels met die locals. Bring ’n mandjie vir vars groente en vrugte.

En dis natuurlik ’n fietsryer se droom: die strate is plat en breed en jy kan in die dorp by ’n koffiewinkeltjie inloer of op die wynplase gou ’n glas wyn drink voordat jy verder trap. Foto: Clifford Roberts
Ons het ure lank deur die dorpie se stofstraatjies gedrentel, waar mense nog tyd maak om oor die weer te gesels. Foto: Clifford Roberts
Kitsfeite
  • Bespreek jou selfsorg-verblyf in een van die oulike goed toegeruste huisies by Louise Blom van McGregor Country Getaways by info@ mcgregor-accommodation.  co.za of loer op  Facebook by facebook.com/mcgregorcountrygetaways; 
  • Die McGregor-Toerismekantoor is in Voortrekkerstraat in ’n pragtige historiese gebou geleë. Loer by hulle in, of besoek tourismmcgregor.co.za;
  • McGregor Country Getaways is ’n lekker eenstop- platform met allerhande aktiwiteite en interessante dinge om in McGregor te doen, en bied alles aanlyn. Besoek mcgregor-accommodation.co.za.

Meer oor:  Robertson  |  Mcgregor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.