Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Saligheid van stap en eet

Om vir vyf dae in die voetspore van die San te stap en in die proses nie net meer oor dié stam te leer nie, maar ook jouself te herontdek, is ’n rare voorreg wat jy op Shoreline of the San saam met die avonturier Anette Grobler meemaak, skryf Maryke Roberts.

Die plaaslike gids, Johnny van Rooyen, vertel ’n groep besoekers meer van die rotstekeninge in die grot buite Elandsbaai.Foto’s: CLIFFORD ROBERTS

Jy stap net skraps by die 50 km van Elandsbaai tot Strandfontein en meestal op die sagte seesand, maar die laaste dag hoog bo die branders op die rotswande van die Weskus. Maar voor jy jouself begin jammer kry oor die “harde stap”, moet ek vertel dat dié slack packing op sy beste is: jy dra net jou peuselgoed en water; die res word van gastehuis tot gastehuis vir jou aangery.

Maar wag, ek loop die storie vooruit: Dis Monika de Jager, bestuurder van Namaqua Weskus Toerisme op Vredendal, wat daardie uitdrukking in my oë sien: Die jaar is te lank; alles is te vinnig en ek is tegnologie-voos. “Jy moet saam met Anette teen die ongerepte Weskus gaan stap. Die selfontdekking is onskatbaar,” vertel sy een middag by die bekendstellingsfunksie vir ’n nuwe wyn.

’n Reuse-wildevyeboom groei uit die rots langs die historiese grot op Steenbokfontein en dis oortrek met vinkneste. “As die voëls lag, weet jy daar is ’n boomslang. Maar die takkies is te dun; so hulle kan nie daar bykom nie,” stel die boer, Herman Burger, ons gerus.

Ná vele e-posse heen en weer, breek ons naweek aan. Ons ry onder die brug by Elandsbaai deur – verby die droë bome wat almal met pastelkleure geverf is en klein boodskappies van liefde en voorspoed en geloof voorhou. Die groep vergader Vrydagmiddag om 17:00 daar by die hotel. Dis ook waar die eerste nag oorgeslaap word.

Anette verduidelik die basiese dinge: Jy stap die eerste dag 17 km op die strand en daarna so 8 tot 9 km per dag. Sy en ’n gids, Johnny van Rooyen, is die eerste twee dae saam met ons; daarna stap sy alleen saam. Sanna Holts­hauzen maak kos; ry al die bagasie aan en speel lieflike musiek as ons moeg ná elke dag se stap in die bussie klim om na ons verblyf te ry.

Anette vertel: “Die naam San kom van die Khoi-woord Sonqua, wat ‘mense wat kos uit die natuur versamel’ of ‘mense sonder beeste’ beteken. In Suid-Afrika gebruik ons die woord San om die eerste inheemse mense van Suid-Afrika te beskryf, wat as jagters en versamelaars geleef het.”

Voor ete gaan ons na die grot in die rotse net buite Elandsbaai. Johnny vertel dat die see eeue gelede sommige jare tot 30 km teruggetrek en soms tot 30 km opgestoot het. “Dan was die grotte tot 10 000 jaar onbewoon.”

Hy wys ons die rotskuns teen die wande, terwyl die son oranjerooi agter die branders verdwyn.

“Khoi-rotskuns is minder verfynd as die San s’n. Die Khoi het graag vingers- en hand-etse gebruik; die San het meestal met kwassies wat hulle van diere se sterte gemaak het, geverf.”

Op die eerste aand word vonkelwyn gedrink met die son wat oor die branders ondergaan.

Hy wys onder die grot na die bouvallige oorblyfsels van die soldate se barakke gedurende die Tweede Wêreldoorlog en sê van dié hoë ligging het hulle U-bote gesoek.

“Hou altyd die see aan die linkerkant, dat jy nie verdwaal nie,” spot Anette later toe ons ná ete in die hotelrestaurant gaan inkruip. Ons is almal versadig geëet aan vars seekos en ek hoor weer haar woorde: “You can never outwalk the fork,” want almal het heimlik gehoop hulle gaan gewig verloor.

Die laagwater is ons enigste horlosie: Net so voor laagwater begin ons stap. Andersins is dit net jy en jou gedagtes, met die dreuning van die see.

Die eerste dag is straf op die kuite, want die sagte, nat seesand laat jou erg blaas en beur. Die groep rafel gou uit en toe die eerste twee al by die eindpunt rus, skink die laaste twee koffie uit hul fles en bewonder die verlate strand, waar net ons groep se voetspore in die sand lê.

Johnny loop met ’n swart sak om rommel op te tel. As jy vinniger of stadiger as hy stap, tel jy rommel in jou eie sak op en gooi later by syne.

Hy noem die reusebranders “die kwaai see”, en wys vir ons die tobies, kormorante en meeue op die rotse en die honderde mossels, wat my mond laat water. Strandlopertjies in hul tientalle draf flink voor die branders uit.

In die bussie op pad na ons volgende oornagplek speel “Kom bly by die see; dis al wat ek oor het om vir jou te gee” van Gian Groen. Almal se gedagtes is ver.

Ons slaap ook vir twee nagte oor in Lambertsbaai, waar een middagete ná die vroegoggendstap ’n seekosfees by die Muisbosskerm wag.

Hier verwelkom die eienaar, Tertius Turner, ons: “Die geheim is maar net: Bly kalm. Dis ’n lang middag met baie kos.”

En só is dit toe ook. Die varsgebakte brood, soetpatat, seekos, kreef, bykosse en toe nog koffie en nagereg, is genoeg om ’n voorstedelike laerskool vir ’n paar dae aan die gang te hou. Ons veg moedig voort . . .

Die stappers sit op Steenbokfontein se trekker en sleepwa en luister na wat Herman Burger oor die geskiedkundige grot op die plaas te sê het.

Een aand ry ons uit na Steenbokfontein vir ete by Die Plaaskombuis. Ons klim op die trekker en sleepwa, met die hond, Pieta, wat saam hardloop.

Herman Burger en sy vrou, Kitta, boer op 800 hektaar met aartappels – en met koring, gars en hawer as die aartappels af is. Daar wei dorpers op die stoppellande toe ons verbyskommel.

Ons stop by die reuseklip uit Tafelberg-sandsteen waar Simon van der Stel eeue gelede oornag het. Herman vertel dis vandag bekend as Simon se Klip.

’n Reuse-wildevyeboom groei uit die rots langs die historiese grot en dis oortrek met vinkneste.

“As die voëls lag, weet jy daar is ’n boomslang. Maar die takkies is te dun; so hulle kan nie daar bykom nie,” stel hy ons gerus.

“Die klip is blink gevryf van die olifante wat daarteen geskuur het. Niemand weet hoekom die olifante spesifiek hier kom skuur het nie, maar dis die enigste plek waar jy dit kry.”

Die Universiteit van Kaapstad het opgrawings daar gedoen en hoewel die rotskuns teen die wande baie verbleik is deur die son, kan jy genoeg uitmaak. Dis blykbaar meer as 6 000 jaar oud.

Sommige stap vinnig vooruit; ander stap al dromende agterna.

Hy vertel dat ’n San-babaskelet daar gevind is en dat navorsing toon dat daar so lank terug as 133 000 jaar mense daar in die grot gewoon het.

Baie artefakte is daar gevind en navorsing het bewys dat mense veral daar geslaap het omdat die grot beskut is teen die wind. Baie mossel- en kreefdoppe en rob-bene is hier gekry en jy kan oor die see uitkyk, wat die ideale ligging goed illustreer.

Terug by die restaurant smul ons aan gerookte mosselsop, soet stowepatat, bredies, boudvleis en ’n romerige aartappelgereg, terwyl Kitta Burger staaltjies oor die omgewing vertel.

By Doringbaai kuier ons een middag by Fryer’s Cove, die wynkelder wat aan die voet van die vuurtoring in die hawe waghou. Die yskoue Bamboes Bay Sauvignon Blanc is die perfekte pasmaat vir die vis, calamari en skyfies. Die oggend se stap en stywe bene is vinnig vergete.

Ons laaste dag stap ons hoog bo die skuimende wit branders op ’n veldpaadjie. Anette wys die strandlelie se rooi blom; toe die skilpadbos en waarsku dat die melkbos giftig is.

Ons stap by bamboes wat in die son lê en droog word verby. Anette vertel dit word later met ’n bakkie opgelaai en fyngemaal vir enigiets van velsorgprodukte tot babakos en toevoegings tot voer vir skape, pluimvee en hondekos.

Ali Miggel verdien al vyf jaar sy brood en botter op dié manier. Hy lig die bamboes op: “Hierdie gaan China-land toe,” vertel hy met ’n groot glimlag.

Op pad huis toe op ons vyfde dag is dit die pittige tekens langs die pad: “It’s time; To eat; Play; Hallo Vensterklip – The place to be” wat ons laat afdraai vir koffie.

Dis net om die stilte en die ervaring van die afgelope vyf dae nog langer uit te rek. Want dié stilte is salig en soos Monika voorspel het; van onskatbare waarde.

  • Bespreek Shoreline of the San of een van Anette se ander staptoere by Anette. Bel haar by 082 903 5445 of besoek www.silentsteps.co.za.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.