Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
’n Weskus-kind besef nou eers die belang van blomme

Die Weskus se blomstreke is een van die eienskappe wat Suid-Afrika werklik uniek maak. Dis boonop pragtig. Tasneem van Rooyen deel haar verhaal as Weskus-kind en hoekom dié natuurstreke bewaar moet word.

Maak seker dat jy in die blommetyd van middel-Augustus tot einde September by die Weskus uitkom. Foto: Tania Fouché

As ’n Weskus-kind wat al ’n geruime tyd in die Kaap woon, het ek nie werklik besef hoe eiesoortig die plekkies waar ek grootgeword het, is nie. As jy jou hele lewe lank gewoond is aan see-uitsigte van jou huis se stoep af, snoek, harders, vismeelreuke wat in die lug hang en oop velde vol kleurvolle blomme, raak dit later vir jou normaal.

Jy sukkel amper om te verstaan hoekom mense so baie geld uitgee om nader aan die see te bly of om op blomtoere te gaan. Blomroetes deur ons klein dorpie was maar iets wat jy elke liewe lente gedoen het saam met jou laerskool. Lenteloop-geleenthede tydens my skooldae het my laat sug, want wie het dan nou lus om deur velde te stap in dié warm weer waar dit voel asof die son bo jou kop stilstaan?

Dit is eers nou dat ek ouer is en baie besiger geword het, dat ek St Helenabaai se soort stilte meer waardeer. Ek is nog nie baie oud nie en steeds lief vir die stad se gewoel en die vinnige lewe, soos tans in die Kaap, maar dit is asof my siel outomaties hunker na die Weskus, my ouerhuis, gebakte harders en sonnige middae.

Deur besoek af te lê aan dorpies soos onder meer Citrusdal, Clanwilliam, Doringbaai, Lambertsbaai en Vanrhynsdorp, het ek die belangrikheid van gemeenskap en die bewaring van geskiedenis en ons ekostelsel in geheel leer besef. Ek verstaan nou eers werklik hoe belangrik blomme is, veral na verlede jaar se skokdroogte. Of jy jouself nou in die grote stad bevind of nie, kan jy aan ’n wêreld dink sonder mooi blomme?

Blomme is nie net mooi nie, maar ook broodnodig vir ons voedselketting. Foto: Lizelle van Jaarsveld

Volgens Ilse Saaiman, landskapargitek by Flora Simonis Professional Landscaping, begin die voedselketting by blomme. “Blomme is die eerste skakel in die voortbestaan van plante; insekte en diere is afhanklik van plante, en daarop volg die mens. Deur die proses van fotosintese ondersteun plante alle lewe op aarde deur ligenergie van die son na suurstof om te skakel.”

Sy sê, afgesien van die fisieke, praat blomme met jou hart en kop! “Gee jou maat ’n bos blomme, of nog beter, kom stap deur die veldtuin en vul jou siel met kleur”.

Die Weskus het immers vyf uiteenlopende natuurstreke, naamlik die Swartland, die Skiereiland, die Bergrivierstreek, Cederbergstreek en die Namaqua-Weskus. Elke streek lewer asemrowende natuurtonele en natuurlik die rustigheid wat ieder en elk nou en dan nodig het.

As ek jou genoeg geprikkel het om vanjaar die blommetyd met ope arms te omhels, moet jy wikkel met jou besprekings by gastehuise, hotelle en staproetes.

Daar is meer as genoeg vir jou om van te kies!

Vat dit nou maar van ’n opregte Weskus-kind wie se blom-are nou weer opnuut pols van verlange!

Meer oor:  Weskus  |  Namakwaland  |  Reis  |  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.