Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Na dié sand tussen jou tone kom jy terug

Suid-Afrikaners het min dae verlof en die vakansies van diegene wat gelukkig genoeg is om nie met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie, word haarfyn beplan om die meeste uit elke dag te put. Jy sal nie spyt wees as jy die Kgalagadi-oorgrenspark deel van jou reisplan maak nie.

Kokerbome is volop in die Kalahari. Foto: Mart-Marié du Toit

Ek ken nie die Kalahari nie. Miskien omdat ek nog altyd gedink het dis te ver, te warm, te afgesonder.

Uiteindelik besluit ons toe om te gaan loer wat in die Kalahari aangaan. En as ons dit geniet, sal ons teruggaan – vir ’n lang vakansie.

Twee dae voor ons vertrek kry ek ’n e-pos van my pa. Hy sê die Augrabies was lanklaas so vol en dat ons beslis daar ook ’n draai moet maak. Ek was ook nog nie voorheen daar nie, dus word ons planne onmiddellik herbedink sodat ons ook dié deel van die Groen Kalahari kan verken.

Lede van die Khomani-San wys in die Living Museum hoe hul mense eeue lank in die Kgalagadi oorleef. Foto: Liesl Jobson

Groener as groen

In die huidige droogte, en met die verwagting dat die Noord-Kaap slegs ’n dor en droë uitsig gaan bied, is ons verbaas oor die groen wat voor ons uitgestrek lê. Die Groen Kalahari doen beslis sy naam gestand en sit jy op die stoepe van die wynplase in Kakamas en Keimoes, kan jy skaars glo dat dit nie êrens in Stellenbosch se wynlande is waar jy sit en wynproe nie.

Dis mooi wêreld dié, en sentraal geleë om twee nasionale parke te verken – die Augrabies-waterval Nasionale Park en die Kgalagadi-oorgrenspark.

Ons begin by die Augrabieswaterval. Die naam stam af van die Khoi-woord Aukoerebis wat “plek van die groot geraas” beteken. En dis juis nie die mooi van die valle wat jou eerste opval nie – eerder die oorverdowende geruis van die water wat oor die klippe storm en val. Dis die sesde grootste waterval ter wêreld en laat ’n mens stom van verwondering oor die natuur.

Gemsbokke is sinoniem met die Kalahari. Foto: Denise Koortzen

Padlangs

As jy beplan om van die groot waters af Upington toe te ry, kan jy die verskillende stopplekke op die Kokerboom-kos-en-wynroete deel maak van jou reis. Die kokerboom is simbolies van die area en die roete lig die verskillende restaurante, aktiwiteite, slaapplekke en ander besienswaardighede uit. Die roete strek langs die Gariep en sluit die dorpe Keimoes, Kakamas, Upington, Augrabies, Marchand, Kanoneiland, Kenhardt en Riemvasmaak in.

Die Mas in Kakamas bied wyn-, Kalahari-truffelbrandewyn- en jenewerproeë aan en daar is hope plek waar die kinders kan rondhardloop voordat hulle weer in die kar moet klim.

Die roete se grootste plesier vir huis toe neem is uitvoerdadels en -pekanneute wat jy by amper elke padstal kry.

Die Pienk Padstal is beslis ’n stop werd – die pittige dekor sal vir ’n hele paar kilometers se gesels sorg.

Middagete in die Bezalel Estate Cellars is ’n moet. Dis ongeveer 30 km voor Upington en die welige groen tuine en wynproe saam met uithaler-pasteie is iets wat jy nie moet mis nie. Hier het ons ook die kans benut om ’n glasie yskoue colombard te drink. Hierdie variëteit het ek nog nooit teëgekom op sy eie nie – slegs as deel van ’n versnitwyn. Dit was heerlik verfrissend en ons moes dadelik ses van hulle in die kattebak huis toe neem.

Ons ry deur Upington (die laaste stop vir inkopies voor ons eindbestemming) en later verby die stil niks tussen Rooiputs en Askham en ons wonder hoe die Khomani-San hier oorleef het.

’n Heerlike burger in die Kgalagadi-lodge. Foto: Anena Burger

’n Koue een en ’n warm bed

Met ons aankoms by die Kgalagadi-lodge word ons dadelik getrakteer op ’n yskoue Kalahari-boetiekbier. Daar is drie biere om van te kies in Renier Baard se reeks – Gemsbok Lager, Puff Adder Weiss en die verfrissende Meerkat IPA. Dis mos nou lekkerder as tent-opslaan in ’n park!

Sit jy op jou stoep by die Kgalagadi-lodge, kyk jy hoe stout is die boerbokke in Botswana – hulle is immers net oorkant die pad. Die lodge is 4,6 km vanaf die hek by Twee-Rivieren om die Kgalagadi-oorgrenspark te besoek. Met ons nasionale parke wat soms maande vooruit vol bespreek is, is die Kgalagadi-lodge ’n heerlike, luukse opsie teen billike tariewe. Ons huisie is ruim en skoon met ’n pragtige uitsig, maar wat my keer op keer sal laat teruggaan, is die vars brode wat die span in die kombuis elke oggend bak (en wat ons met smeersels botter op die stoep verorber het) en die eienaar, SJ Koortzen, se lamstjoppies. Dis die ideale oornagstop as jy ver in die park in eers weer oornag, of as jy, soos ons, slegs dagbesoekers wil wees.

Dis stylvol en gerieflik in die Kgalagadi-lodge. Foto: Anena Burger

Luukse spasie

Ons vertrek vroegoggend op ’n wildrit in die Kgalagadi-oorgrenspark en dis bibber-koud. Met sonsopkoms sien ons gemsbokke en rooi hartbeeste en ’n leeu wat die verte in tuur en gaap. Die ooptes tref jou dadelik – hier is amper 3,7 miljoen ha droë rivierbeddings en rooi sandduine met yl plantegroei wat ’n tuiste bied aan gemsbokke, springbokke, blouwildebeeste, rooihartbeeste, elande, leeus, luiperds, jagluiperds en ander klein wild.

Die park is so groot dat dit die massa-migrasie van verskeie spesies toelaat en aanmoedig. Jy voel ewe skielik baie klein, ’n spikkel op die park se kaart. Op ’n skemerwildrit later die week sien ons ’n hiëna-lêplek in die verte – waar kleintjies in en uit die skuiling hardloop en baljaar.

Koel af in die swembad by die Kgalagadi-lodge. Foto: Anena Burger

Soek en vind (of nie!)

Nog ’n oggend word tussen die rooi duine deurgebring. Ons is op soek na !Nabas (Kalahari-truffels), sodat ons dit later kan saamneem wanneer ant Koera vir ons gaan kook en wys hoe die Khomani-San leef en eet.

Ons word gesê om ’n klein barsie in die sand te soek – dis die !Naba wat die aarde so laat bars ná die laaste reën en voor die eerste ryp. Ons stap ver, en kyk wyd, maar die gate in die grond sê vir ons net een ding – iemand was vanoggend voor ons hier, en dié is met die !Nabas fort.

Ons middagete in ant Koeras se Country Kitchen is een vir die boeke. Askoeke word in die as van die vuur gemaak terwyl ’n lamspotjie bo-oor die kole prut. Dié lekkertes word voorgesit saam met soetpampoen en boontjies met aartappels. Regte boerekos? Nee, sê ant Koera, dis soos die Khomani-San dit lankal maak. Sy eet saam en vertel vir ons die stories van haar mense, haar erfenis en hoe sy veg om hul kultuur te behou. Besoekers kan ook die lewende museum besoek waar lede van die Khomani-San, wat ook die “eerste mense” genoem word, wys hoe hulle onder die warm Kalahari-son leef en oorleef.

Ons verwyl ons oggende in die Kalahari se wye, oop ruimtes, en ons middae op die Kgalagadi-lodge se stoep en langs die swembad. Ons slaap sonder die geluid van karre wat dreun en stadsligte wat die sterre verdof. Ons voel die Boesman-legende se waarheid aan ons bas: As jy eers die Kalahari se sand tussen jou tone gevoel het, keer jy altyd terug.

Ons soektog na !Nabas was vrugteloos. Foto: Mart-Marié du Toit
Ant Koera van Ant Koeras Country Kitchen maak die heerlikste askoeke. Foto: Mart-Marié du Toit
Café Zest in Upington is die perfekte plek vir ’n ontspanne middagete. Foto: Mart-Marié du Toit
Jy kan nie die Pienk Padstal mis nie.Foto: Mart-Marié du Toit
Die indrukwekkende Augrabies-valle.Foto: Mart-Marié du Toit

Meer oor:  Kgalagadi  |  Kalahari  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.