Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Naweekuitstappies

Die versoeking is groot om elke naweek voor die televisie te lê en die nuutste seisoen van jou gunstelingprogram te vraatkyk. Daar is egter ’n regte wêreld daarbuite wat smeek om verken te word – en jy kan besluit hoe naby of ver jy wil reis.

By Walkersons in Dullstroom kan ’n mens die natuurskoon geniet. Foto: Mart-Marié du Toit

Dié drie varkies gaan mark toe

’n Markdag is ’n goeie keuse vir ’n kieskeurige familie – as jy lus is vir pannekoek en Boeta vir stroopwafels en as Manlief ’n jaffle-man is – almal sal kry wat hulle begeer. Besoek The Neighbourgoods Market in Braamfontein vir soesji, shwarma-rolletjies, Griekse fyngebak en allerhande interessante drankies. Die spesialiteitskos en handgemaakte goedere trek ’n skare – gaan dus vroeg!

In Pretoria is die Pretoria Boeremark ’n hoogtepunt vir dié wat vroeg genoeg kan opstaan. Dis veral lekker in die somer wanneer die son vroeg opkom en jy jou week se vars produkte kan koop terwyl jy aan ’n vuurwarm roosterkoek smul en die res van die wêreld nog slaap. Die verskeidenheid is verstommend en jy gaan dalk met ’n bakkievrag vol inkopies huis toe ry.

Die Hazel-kosmark in die ooste van Pretoria is ook ’n gewilde mark vir kase, vleis en ander vars produkte vir daar geniet (terwyl die kinders speel) en huis toe neem vir later.

Daar is baie oulike winkeltjies om te ontdek wanneer jy Dullstroom besoek. Foto: Mart-Marié du Toit

Kunstig en gekultiveer

Gauteng skeep nie af as dit kom by interessante museums nie. Kinders sal veral hou van die Ditsong Museum of Cultural History wat Suid-Afrika se kulturele uiteenlopendheid verken. Hier sien jy oersketse van die San en duisend jaar oue Ystertydperk-figure van Schroda in die Limpopo-provinsie.

Die James Hall Museum of Transport is ’n ietwat onbekende museum wat elkeen in die familie sal verras. Dit is die grootste en omvattendste vervoermu­seum in Suid-Afrika en sluit ’n skaars en opwindende stoomvervoer-versameling in.

Ernstige kunsliefhebbers kan nie verkeerd gaan met ’n besoek aan die Keyes Art Mile in Rosebank nie. Keyes Art Mile is die perfekte naweekuitstappie, ’n kombinasie van kuns, kos, ontwerp en pret.

Keyes Art Mile in Rosebank is ’n interessante plek om te besoek.

Wees ’n toeris in jou eie stad

Daar is niks so lekker, en so onderbenut, soos toeris wees in jou eie stad nie. Die mite dat ’n mens in ’n vliegtuig moet spring om as toeris te tel, is sommer bog. Die City Sightseeing-toer in Johannesburg sal jou dadelik soos ’n toeris laat voel – en jy sal boonop feite oor Johannesburg hoor waarvan jy nooit eens geweet het nie.

Die kaartjieprys voel dalk effe hoog, maar dit sluit twee toere in – ’n “groen” toer deur die buurte van Johannesburg, en ’n Johannesburg-middestadtoer wat jou asem sal wegslaan. Die Munro Drive-uitkykpunt is ’n spesiale foto werd, en Braamfontein se vele gesigte verdien beslis ’n Instagram-plasing! Dit is goedkoper om kaartjies aanlyn te bespreek. Daar is ook ’n spesiale aanbieding waar twee kinders onder 18 verniet reis saam met een betalende ouer. Jou kaartjie is heeldag geldig
en jy kan dus op en af hop, soos dit jou geval.

Die Nirox Foundation Sculpture Park is geleë in die Wieg van die Mensdom.

Ry ’n entjie uit

By Maropeng, in die Wieg van die Mensdom, kan jy die heeldag deurbring. Dis ongeveer 20 km vanaf Lanseria en beslis die reis werd. Die grotte met hul indrukwekkende fossiele huisves ’n ongelooflike geskiedenis van die evolusie van die mensdom oor die afgelope vier miljoen jaar. Hierdie Wêrelderfenisgebied is een wat jou siel aanraak, en jy sal meer as een keer hier wil besoek aflê.

Die Nirox Foundation Sculpture Park is ook in die Wieg van die Mensdom geleë en is ’n ware weggesteekte juweel. Sowat 15 ha se pragtige tuine huisves ’n versameling beeldhouwerke en installasies. Daar is meer as 40 km se stap- en fietsrypaadjies om te verken – en met sowel die natuurlike as kunstige aanslag van die tuine, sal jy met ’n verkwikte siel terugkeer na die stad.

’n Daguitstappie na Cullinan word heelwat lekkerder as jy dit per trein kan aanpak. Bespreek jou plek op een van die Friends of the Rail-treine uit Pretoria, en reis terug in tyd – die heelpad tot in Cullinan. Die rit, vanaf Hermanstad in Pretoria, duur net so oor die drie uur, en kinders sal dié tjoeke­paf-pret geniet. Bespreek vooraf vir middagete in Cullinan en verken die dorp voordat die trein in die middag vertrek.

Hierdie is nostalgie op sy beste en ’n uitstappie waarvoor jy gerus kan spaar.

Die Hazel-kosmark in Pretoria is ’n Saterdag-instelling.

Slaap oor

Pak jou tasse en werk Vrydag net halfdag. Naweke is gemaak om oor te slaap op plekke met ’n mooi uitsig teen sonsondergang en ’n sterrehemel bo jou kop in die aand. Die Waterberge in Limpopo is ongeveer 250 km noord van Johannesburg. Die Marakele Nasionale Park (die voormalige Kransberg Nasionale Park) is in die Waterberg-biosfeer geleë en is net groot genoeg dat jy die park in ’n naweek kan verken. Neem jou verkyker saam en kyk uit vir tsessebe, koedoes en luiperds.

Stuur jou kar in die rigting van Dullstroom in Mpumalanga, vir ’n naweek gevul met pannekoek, whisky en vroegoggend-stappies. Dié bestemming is slegs 2½ uur se ry vanaf Johannesburg en jy kan jou met jul aankoms met ’n pannekoek by Harrie’s Pancakes bederf.

In hierdie dorp kan jy so besig of rustig wees soos wat jy wil. Bespreek ’n kamer of kothuis by die prentjiemooi Walkersons Hotel en Spa en geniet die vroegoggend-uitsig van die mis wat oor die water lê.

Ná ontbyt kan jy ’n vlieghengelklas bywoon of een van die stap- of fietsryroetes aanpak. Vir die minder avontuurlustiges is ’n koppie tee en ’n tuisgebakte botterbroodjie of ’n besoek aan die spa die perfekte tydverdryf. In die kouer maande kan jy voor die kaggel in jou kamer ontspan voordat jy aandete by die Misty Trout gaan nuttig.

Maak ook tyd om in die dorp rond te loop, asook vir ’n proe-sessie by Wild About Whisky.

By Keyes Art Mile is baie interessante kunswerke te sien.

Die immer gewilde Oos-Vrystaatse dorpe Clarens en Rosendal moet ook op jou naweeklysie wees.

Op Clarens kan jy alles van kuns-uitstappies tot mikrobier-proeë ervaar. Die dorp is Saterdae en Sondae stampvol wanneer besoekers die dorp platloop. Vroegoggend moet jy by die Highland Coffee Roastery aanklop vir ’n koppie boeretroos voordat jy die kuns- en klerewinkels gaan verken. Maak seker jy gaan kyk na die huisware by Twig.

Middagete by Clarens Craft Brewery is ’n interessante blik op kroegkos en jy kan boonop al hul biere proe – en dié waarvan jy hou, huis toe neem. Probeer ook een van Red Stone Gin se G&T’s – jy gaan beslis ’n bottel wil koop.

Akkommodasie is volop en jy kan ’n rustige plaashuis bespreek, of bo-op een van die winkels in die hoofstraat bly.

Rosendal is ’n rustiger kunstenaarsdorpie in vergelyking met Clarens. Jy kan gemaklik ná skool op ’n Vrydag in die kar klim, want Rosendal is slegs drie uur se ry vanaf Johannesburg. By Turksvy Trading sal jy jou vergaap aan die verskeidenheid versamelaarsitems – van melamienkombuisware tot oorspronklike Tupperware en porseleinteestelle. Die kunstenaar Dahla Hulme se werk kan in Die Stoor in Van der Merwestraat gesien word, en Michèle Nigrini se foto’s en ander kuns by die Michèle Nigrini-studio (Meerkatkolonie) in Hertzog­straat. Willem Pretorius en Wim Rautenbach se werke is ook op die dorp te sien.

Rosendal het iets vir elkeen – koek en tee by Chris se Winkel en hamburgers by die Kos-Huis.

Staan stil en haal asem, want dis hier waar jou siel asem skep terwyl jy in die stofstrate aan die rand van die Witteberge wandel.

’n Naweekuitstappie moenie moeite wees nie. Net pret!

Doen dus voor die tyd jou navorsing en geniet die wegbreek, want Maandag wag.

Ontsnap vir ’n naweek na Clarens. Foto: Mart-Marié du Toit
Smul aan lekkernye soos dié by die Hazel-kosmark.
Wees ’n toeris in jou eie stad en gaan op ’n City Sightseeing-toer in Johannesburg.
Mart-Marié du Toit

Meer oor:  Naweek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.