Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Net oë vir rustige juweel

Dwaal ’n bietjie weg van die toeristemassas wanneer jy die suidwestelike kus van Italië besoek – en raak verlief op die beeldskone Praiano.

Amalfi is werklik prentjiemooi. Foto’s (tensy andersins vermeld): Werner Klopper

Langs ons op die Sita-bus van Positano na Amalfi sit ’n jong paartjie en popel, duidelik onlangs ontmoet en afkomstig van Engeland. Die tweetjies wil verloof raak, en hulle praat onder mekaar oor waar om die ring aan ’n afwagtende ringvinger te plaas.

“Oe, ek wil in Amalfi verloof raak!” koer die meisie.

“En kyk hoeveel dinge is daar om te doen! Daai kerk met die trappe wat soos blokkies lyk, die see!”

Maar die man lyk nie so ingenome nie. “ ’n Mens word glo vertrap daar. Ek soek iewers stil, intiem, romanties,” maak ek die woorde uit so tussen die gebabbel in die oorvol bus.

Ons is self op pad na Amalfi, want as jy die suidwestelike kus van Italië deurkruis, spesifiek die Campania-streek, stal toeristekaarte sekere dorpe se name na jou toe uit soos die berugte roomysverkopers hul gelato (roomys) aan die Italiaanse kus.

’n Paartjie smul aan roomys in Praiano.
Soos ’n mens beslis nie net een roomysgeur op ’n horinkie sal laai nie, besoek jy ook nie net een dorpie nie.

Die een lyk lekkerder as die ander, en soos ’n mens beslis nie net een roomysgeur op ’n horinkie sal laai nie, besoek jy ook nie net een dorpie as jy op die pokkeltjiebus plek kry tussen Ravello en Sorrento nie.

Ons hou op ’n hoogte stil en ’n groepie vroue wil by die deur uitpeul. “Dit is Praiano, maar nie die sentrum (“centrale”) nie!” roep die lig-geïrriteerde busbestuurders van voor af uit.

“Ek sal julle sê waar om af te klim! Basta nou!”

Die vroue sak teleurgesteld neer . . .

Hier kan ’n mens oulike aandenkings koop van jou tyd in Amalfi.

Praiano. Nou onthou ek waar ek die naam al tevore gehoor het. Welberese vriende was al hier – mense wat nie agter wapperende toervlaggies aanhol en net toegelaat word om vir twee minute na ’n uitsig te staar (met ’n geskiedenislessie) voordat hulle ’n uur in ’n diamantfabriek moet deurbring nie.

Die vriende het Praiano besing omdat dit die onontdekte juweel van die Amalfi-kus is, halfpad tussen toeriste-slagysters soos Amalfi en Positano.

“Praiano! Prego!” roep die busbestuurder ná twee stoppe van voor af. “Signorinas!” Die dames kyk rond en lig hul skouers.

“Lyk nie of hier veel aangaan nie,” brom die tannie met opgeklitste hare.

Maar ons klim af. En kort agter ons die verliefde paartjie. En daar staan ons vier in die nouste straatjie waar slegs ’n pokkeltjiebus en ’n bromponie bymekaar kan verby skuur. Ons besluit: Hier is ’n dorpie wat vra om geskilder te word. Blou-blou see op die agtergrond met ’n boot wat ’n wit sperstreep deur die water verf, ’n pragtige koepelkerk en hier en daar toeristewinkels.

Dit is asof die dorpie met sy 2 000 inwoners iewers in die Middeleeue vasgehaak het, en mense van hul balkonne en stoepe afkyk op toeriste- en Sita-busse wat vakansiegangers na brosjure-dorpe vervoer.

Maar hier raak toeriste verweef in geskiedenis en rustigheid.

Skerp klippies en kerke

Ons begin vir die eerste keer regtig asemhaal. Hier is geen selfiestokkie-menigtes wat in vreemde tale koer en voor jou kamera inloop nie, geen groepe wat vra waar hulle keramiekteëls en klere kan koop nie. ’n Dorpie so plattelands jy wil dit in watte toedraai en in talkpoeier bewaar.

Kort duskant die bushalte sien ons weer die koepelkerkie met ’n toring. ’n Vinnige blik op die spaarsamige inligting uit ’n toeristeboek oor Praiano bevestig dat dit die Chiesa di San Gennaro is, een van die twee grootste kerke in Praiano.

Daardie musikale naam, Praiano, wat so lekker soos suurlemoen-Limoncello uit die omstreke op jou tong talm, kom van “strand” – praia, en die Latynse pelagium – die oop see. Dit was gedurende die Middeleeue die vakansieplek van geestelikes wat tóé al van die baie mense in Positano en Amalfi gevlug het.

Al waarin die oorspronklike inwoners belanggestel het, was die uitsig op die Amalfi-baai, die klein strandjie hieronder, die sybedryf, wat die mooiste syklere gemaak het (dit is deesdae slegs ’n vissersdorpie wat die room van die toeristelagie afskep), en die piepklein strandjie, wat met klippies besaai is.

Met ’n bromponie soos dié kan ’n mens lekker rondrits.

Daardie klippies is terloops so skerp en folter jou voetsole dwars­deur jou tekkies. Dis nie so maklik of romanties om daar te loop nie. Vergeet van die romantiese tonele wat jy in rolprente sien waar twee verliefdes in stadige beweging na mekaar toe hardloop oor ’n strand. Hier sal jy hinkepink, en bewaar jou as jy liddorings het! Van die verliefde paartjie is daar terloops op die oomblik nie ’n teken nie.

Ons besigtig die uitsig vanaf die kerk op die geteëlde Piazza San Gennaro. Van daar af strek die see en uitsig soos ’n koel waaier voor jou oop, en doer gunter lê Positano, met meer toeriste as plaaslike inwoners.

Ek hoor ’n man verduidelik aan ’n vrou dat daar deesdae net visgevang word in Praiano. Die kerk is in 1589 gebou, sê hy, maar Praiano se hoofkerk is eintlik die San Luca Evangelista, maar dis hoër op.

Knoffel en rissies in ’n winkel in Amalfi.

Op die piazza, in die middel van die teëlsirkel, word daar glo in Augustus akrobatiese toertjies gedoen en loop duisende mense met kerse deur die strate. Die optog word die Luminaria di San Domenico genoem en word opgedra aan die heilige San Domenico.

Ons stap deur die kerk en daarna met die nou straatjie af in die rigting waarin die bus verdwyn het. So kom ons ’n horde trappies teë – toeriste-onvriendelike trappies noem die plaaslike inwoners dit, want toeriste, behalwe die deurwinterdes, begewe hulle nie maklik op 400 tot 500 trappe af na strande soos Marina di Praia of die grot van La Gavitella nie.

Op pad tros miniskule lappies grond en plasies teen die berge saam soos suurlemoene wat aan bome hang. Elke landjie is kleiner as die gesiggieblombedding in jou voortuin, maar elke lappie word bewerk.

En dit is net hier waar ons op ’n restaurant besluit wat so naby die pad is, as jy buite sit, kan jy aan die bus raak as hy verby ry. Ons gaan sit liewer neffens die honderde trappies wat teen die berg oplei op pad na die hoogste kerk in die dorp. En wat anders eet jy daar as ’n pizza met ’n eksotiese naam wat soos ’n liedjie klink, en drink Limoncello, die suidweste se gunsteling-likeur?

Die uitsig oor ’n plein in Amalfi.

Maar die groot lekkerte van Praiano is sy afgesonderdheid, veral as jy een van die systraatjies kies en kyk na die katte wat jou verwaand vanaf balkonne bespied, of ’n tannie wat nog nie gehoor het van waentjies agternasleep nie. Hulle koop hul vrugte en groente óf direk by die boere óf by een van die plaaslike groentewinkels en dra dit swaar-swaar al aan die een kant.

Dwaal jy verder met die hoofpad af, kom jy ’n tonnel teë op pad na Amalfi. Hier staan soveel motors langs die pad geparkeer jy kan beswaarlik daar loop.

Daarom terug na die Sita-bushalte, waar daar nou skielik meer toeriste en plaaslike mense op die bus wag. ’n Mens al sien hoe jy aan die buitekant van die bus moet hang op pad Amalfi toe.

’n Lui kat geniet die lewe in Praiano.

Die bus arriveer vyf minute later en ons bondel holderstebolder in. Voor my loop die paartjie van tevore, maar dié slag het sy ’n blink ring aan haar vinger. Hulle kyk nie verder na die uitsigte op pad Amalfi en Ravello toe nie. Hulle kyk net vir mekaar.

’n Paar kilometer verder beland ons in ’n verkeersknoop erger as Malibongwe-rylaan in Randburg wanneer daar beurtkrag is en al die verkeersligte uit is. Bromponies, toerbusse, klein motortjies waarin net een persoon kan pas, taxi’s met waardig-geklede bestuurders, fietse en motorfietse ding almal mee om ’n plekkie in die straat.

En kort voor lank laai die bus jou naby die Amalfi-hawe af.

Hier is jy terug in die toeristegedrang; hier kibbel toeriste oor die prys van teëls, probeer hul tonge betyds roomys oplek voordat die son dit bykom, en hier duisendpoot toeriste terug hawe toe om die bote Capri, Sorrento of Positano toe te haal.

Wees net gewaarsku: As jy dink dat jy vinnig deur Amalfi gaan woerts, sal jy agterkom dié plek laat hom nie binne ’n uur of wat verken nie. Die mooiste uitsigte en geboue word noukeurig weggesteek. Hier moet jy werk om die oudste geboue en stegies te vind weg van die bekende toeriste-aantreklikhede. Dwaal net weg van die massas en jy sal vind.

’n Heerlike pizza by ’n restaurant in Amalfi.

’n Bietjie geskiedenis

Maar soos jy nie Rome kan aandoen en nie die Colosseum sien nie, kan jy nie deur Amalfi loop en nie by sy beroemde Duomo di Sant’Andrea met die trappe opstap nie. Gaan sit net eers by een van die talle restaurante op die piazza en verkyk jou aan die kwilt van mense wat verbyloop.

Daar word toevallig ’n troue gehou, en die blinkoog-paartjie kom met die trappe opgestap.

Maar moenie net vir die menigte plek maak nie; daar is ook ’n drawwer wat die trappe uithyg met sweterige boomstompbene.

Hier kry jy beswaarlik tyd om jou aan die uitsig te verwonder. Daar is bloot te veel mense, en dwaal jy verder af, wag ywerige winkeliers jou in wat jou omtrent in hul winkeltjies indra waar keramiekwerk, teëls en ander aandenkings die oë verblind.

Daar is oulike plekkies om te besoek in Praiano.

Ná die kalmte van Praiano is jy in ’n stroomversnelling.

Ons hoor van die Via Lorenzo D’Amalfi-staptoer – een van die dinge wat jy daar kan doen as jy Amalfi behoorlik wil ervaar. Of die Valle delle Ferriere-staptoer wat jou na ’n waterval neem met uitsigte wat geen kamera kan vasvang nie.

Ons is gelukkig genoeg om laat op ’n Woensdag in Amalfi te wees waar die Amalfi Musical aangebied word. Dit speel in die 9de eeu af en gaan oor die opkoms van die Republiek van Amalfi wanneer die sterke held Antonio op die beeldskone (altyd beeldskone!) heldin Giovanna verlief raak, maar vlug voor die wrede Sicardo. Dit is in Italiaans met Engelse onderskrifte, dus kan ’n mens die dialoog en sang volg. Die vertoning word Woensdag- en Saterdagaande om 21:00 in ’n Middeleeuse gebou gehou waar die gehoor aan die kante sit met die aksie in die middel.

Met die uitstap uit die teater verneem ons dat Amalfi se naam kom van ’n beeldskoon dame (daar is daardie woord alweer!) wat die uitgesoekte geliefde van die magtige Hercules was.

Maar my gidsboekie is nie so romanties nie. ’n Groep Romeinse families het die vissersdorpie in 839 glo gevestig en dit die Amelphes genoem. Hierna het dit Amalfi geword wat weggebreek het van die heerskappy van Napels voordat ’n tsoenami ’n groot deel van die dorp in 1343 vernietig het.

Die enigste tsoenami’s wat die dorpie nou tref, is toerbusse en -bote.

Toe ons op die bus sit terug Positano toe, wie sal heel voor in die bus sit? Die romantiese verloofde paartjie. Hulle het steeds net oë vir mekaar . . .

Meer oor:  Praiano  |  Amalfi  |  Vakansie  |  Reis  |  Bestemmings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.