Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Nog ’n doppie daar?

Tydens stoepkuiers op Riebeek-Kasteel hoor Daréll Lourens staaltjies van toeka en nou. 

By Kloovenburg verwelkom die honde jou. Foto’s: Daréll Lourens

‘Hei, Siri, neem my na die Royal-Hotel in Riebeek-Kasteel,” vra ek toe ek op die N1 klim, Kaapstad agterlaat en Tafelberg begin krimp in my truspieël. Ek wil uit my nate bars van opgewondenheid, want ek gaan iewers heen waar ek nog nooit was nie, nog altyd wou gaan. En ’n indrukwekkende stoep – naas ’n verlate strand – is waarskynlik een van my grootste liefdes.

Ek wil al lank reeds op die Royal-Hotel se stoep, een van ons land se oudstes, sit!

Siri reken die rit sal 57 minute duur. Ek dwing myself om my motor se spoedreëlaar te stel voordat kinderlike opgewondenheid die oorhand kry en ek die skamele 73 km dalk in ’n kwart van die tyd aflê.

Kom sit op die Royal-Hotel se stoep. Regs is die eienaar, Robert Brendel, en links is Quintin du Plooy, die hotel se binneversierder.

Presies wáár sal ek nie kan sê nie, maar in ’n oogwink verander alles wat grou, beknop en soos stad was in goudgeel kanolavelde, grasgroen koringlande en ’n eindelose blou hemel.

“Ek sou jou vir seker nie Swartland noem nie,” dink ek by myself.

Dit neem my amper twee minute om die slapende skoonheid Siri in die trae seingebied wakker te maak en ’n antwoord uit haar te kry vanwaar die naam “Swartland” kom.

“Die inheemse renosterbosse word feitlik swart in die warm en droë somers,” antwoord sy al gapend en traag. “Hulle verkleur die landskap en vandaar die naam.”

Sit op die stoep

“Welkom op die langste stoep suid van die Limpopo,” verwelkom Robert Brendel my in ’n swaar Nederlandse aksent en wink ’n kelner nader.

Hier proe jy amper net soveel sopies olyfolie as wyn.

“Sit, asseblief! Wat drink jy? Gin? Wyn?”

“Sjoe, nee, dit is effens vroeg,” stamel ek. “En my bagasie . . .”

“Nonsens, dis amper elfuur en lank reeds tyd vir ’n ietsie.”

Teen middagete het ek reeds vier van die bykans 100 verskillende jenewers in sy kroeg geproe, sit ek steeds op die stoep en gesels ons land en sand soos ou vriende.

“Soos menige mens met ’n agtergrond in die aandelebeurs is ek redelik impulsief. Op 35 was ek reeds afgetree en lus vir ’n uitdaging.

“Ek het hierdie hotel in Pam Golding se tydskrif gesien en net daar besluit om dít eerder as ’n wynplaas te koop.

“Vandag is ek baie bly, want ek dink ek is beter met mense as ’n wingerd.”

Hy lag en ek kan nie anders as om stomgeslaan deur sy Dutch courage te wees nie. Hy bestel ’n bordjie bitterballen, ’n varklies vir my, biefstuk vir hom en ’n tweede bottel wyn.

Ná middagete gaan loop ek bietjie rond.

“Goeie idee,” sê Robert.

“Die hele dorp is vol stoepe waarop gesit moet word! Begin sommer daar by Kasteelberg oorkant die plein.”

Riebeek-Kasteel aan die voet van die Kasteelberg.
Die omgewing bied ook ’n verskeidenheid olywe en olyfolies. Maak ’n draai by Het Vlock Casteel om ’n botteltjie aan te skaf.

Koninklike aan die hange

Ná middagete stap ek in die rigting van Kasteelberg Country Inn & Bistro en op Robert se aanbeveling vra ek of Allan Barnard, die eienaar, in die rondte is.

“Hy maak ’n slapie,” sê die kelner. “Hy sal nou-nou wakker wees. Drink solank iets?”

“Koffie, asseblief. Flat White.”

“Ons maak nie van daai nie, maar kom ek gaan kry vir jou ’n take-away hier langsaan by Beans? Sit sommer solank hier by Nati-hulle. Ek’s nou terug.”

Voor ek nog kon huiwer, staan ’n reus van ’n man van agter die tafel op en steek sy hand uit. “Hallo, ek is Nati. Nati Albertyn. Bly te kenne. Is jy doodseker jy wil koffie drink?”

Teen die tyd dat Allan ontwaak, is ek lank reeds vele stoepstories ryker – van al wat ’n oes en gewas in die vallei is. Nati, ’n landbou-finansierder, praat passievol oor die omliggende boere, die magiese Bergrivier wat deur die vallei vloei, die slagaar vir die hele Wes-Kaap.

Die kunstenaar Riaan van Zyl in sy ateljee op die dorp.

Hy stel my voor aan iedereen wat instap vir ’n laatmiddag-lafenis, onder andere Riaan van Zyl, ’n bekende skilder, en sy vrou, Kara, wat die internasionale bemarking vir Riebeek Cellars behartig. Voordat ek my oë kan uitvee, het dié twee feitlik my hele program vir die week beplan.

Join jy ons sommer vir ete ook vanaand by Mama Cucina?” vra Riaan.

“Komaan. Ons bederf jou. Coenie en Johan se kos is manjifiek. Dan kan ek en Jolandie Fouché, die wynmaker by Kloovenburg, jou meer oor Swartlandwyn vertel,” voeg Kara gretig by.

Dit is die moeite werd om by Mama Cucina te bestel.

’n Swartland-revolusie

By Mama Cucina verlustig ek my in die lekkerste pizza en Kara en Jolandie se kennis. “Ek sê altyd dis so bietjie ru hier, so half die agterstrate van die Kaapse wynwêreld. Jy kan jou skoene uitskop en jou hare ongekam laat,” verduidelik Kara.

Jolandie knik. “Die Swartland se sprokie speel in ’n baie groot koninkryk af met slegs klein gedeeltes onder wingerd, baie hiervan is ook droë land waar wingerd nie besproei word nie. Swartland-druiwekorrels is klein, maar dikvellig, want in dié wingerde, nes enigiets wat aan die ru en rowwe kant is, seë­vier dit onder druk.”

Kara glimlag vir Jolandie se verduideliking. “Ons was nog altyd ’n lae-opbrengsgebied in vergelyking met byvoorbeeld Stellenbosch, maar dit lei tot mooi rooi wyne met sagte tannien.

“Anders as ander wynstreke in Suid-Afrika, is ons droër en warmer. Shiraz, chenin en grenache is ons konings. ’n Voorbeeld van ’n tipiese Swartland-wyn is iets soos chenin met grenache of bietjie viognier – net om dit op te kikker. ’n Mens proe amper die sonskyn van hierdie wêreld in ons wyn.”

Soet, soeter, stoepstories

Voordat ek my motor se neus weer na die Moederstad mik, eet ek en Robert vir oulaas saam ontbyt op die Royal-Hotel se stoep. Ek probeer nie eens wegsteek dat ek skoon tranerig is nie. Riebeek-Kasteel, romanties en klein soos ’n poskaart, is ’n sonderlinge plattelandse ondervinding met die mooiste eienaardighede wat my ryker gelaat het.

“Ek gaan hierdie dorpie van nimmereindigende loopdoppe en stoepstories vreeslik mis, Rob. Hoe gaan jou gaste ooit huis toe?”

“Ieder moet zijn eigen stoep schoonvegen,” knipoog hy speels.

“Jy sal maar moet terugkom en leeglê soos ’n stoepsitter sonder skuldgevoel, of hoe?”

  • Besoek Kloovenburg en teug aan van die heerlikste grenachewyne terwyl Willie in die proelokaal jou vertel van die Du Toit-rugbyfamilie wat dié plaas generasies lank al hul huis noem.www.kloovenburg.com
  • Koop kiste vol lekker en bekostigbare wyn by Riebeek Cellars. My gunsteling is die Pinotage Rosé vir R80. Riebeek Cellars is buite die dorp, maar het ’n proelokaal en winkel op die plein. www.riekbeekcellars.com
  • Die Deli-Co-Slaghuis verkoop heerlike biltong en skaapvleis – sommige snitte so lank soos ’n man se voorarm! Hierdie familie-onderneming is so 5 km uit die dorp op die grondpad verby Riebeek Cellars. www.Delico.co.za.
  • Mama Cucina se spyskaart spog met baie meer as net heerlike houtoond-pizza. Moet onder geen omstandighede hierdie restaurant mis eet nie. My persoonlike gunsteling is die hoender-en-suurroom-pizza. www.mamacucina.co.za
  • Gaan loer in by The Wine Kollective-boetiekwynwinkel en gesels met Anton Espos, ’n ywerige ondersteuner en verskaffer van al die onafhanklike en boetiekwynmakers in die Swartland. thewinekollective.co.za
  • Besoek die Olive Boutique en Het Vlock Casteel, albei net buite die dorp in Kerkstraat, vir die grootste verskeidenheid olywe denkbaar. www.hetvlockcasteel.co.za enwww.olive-boutique.co.za
Meer oor:  Riebeek-Kasteel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.