Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Noord-Kaap ’n eindelose bron van avontuur
So lyk die ruwe landskap van Riemvasmaak. Dit is ’n gewilde bestemming vir 4x4-entoesiaste en jy kan hier by ’n warmwaterbron kampeer. Foto’s: Eben Human

Die Noord-Kaap is ons grootste provinsie en hy het baie geheime om te verklap op avontuurlike vakansies. Een hiervan is die Verlore Stad van die Kalahari, skryf Eben Human.

Die skrywer Lawrence G. Green is destyds geprikkel deur die Amerikaanse beesboer G.A. Farini se bewerings van die “Verlore Stad van die Kalahari” in sy boek Through the Kalahari Desert, wat in 1886 in Londen gepubliseer is.

Vir baie jare is daar ekspedisies na die Kalahari gereël. Green het oor sy eie soektog van 1936 geskryf in sy boek To the River’s End, wat vandag ’n waardevolle versamelstuk is.

Niemand kon so ’n stad vind nie. Die meeste het tot die gevolgtrekking gekom dat die Amerikaner snaakse klipkoppies gesien en as ’n “verlore stad” beskryf het.

Die presiese ligging van die koppies is toevallig naby ’n Kalahari-plaas – die Koppieskraal-kameelplaas – ’n plek waar jy kameelmelk kan gaan proe. My reisplan na hierdie uithoek van die Kalahari is reeds uitgewerk.

Hierdie foto van die kamele wat in die volmaan in die Kalahari stap, is deur Johann Visser van Bloemfontein geneem.

Die wintermaande is die lekkerste tyd om uit die Kaap pad te gee en na die droë Namakwaland, Boesmanland en die Kalahari met sy warmer weer te mik.

Van die Kaap ry jy op die N7 noord en oorweeg as eerste oornagplek dorpe soos Vanrhynsdorp, Kamieskroon, Springbok of Pofadder. Op Springbok is goeie kampeergeriewe of, as jy gemaklik wil bly, gaan jy tuis in die Springbok Inn of by sy Country Inn-boetie op Pofadder.

Net voor Pofadder kan jy afdraai na die sendingdorpie Pella naby die hoofpad. Gaan kyk na die muurskilderye by die historiese sendingkerkie.

Besoek die uitkykpunte onder die Augrabies-waterval. Dit kan ’n hoogtepunt wees van jou besoek aan hierdie nasionale park.

Hierna kan jy mik na die Augrabies-waterval naby Kakamas, wat vroeër vanjaar in vloed was. As jy jong kinders het, steek jy die Oranjerivier oor vir ’n besoek aan die nabygeleë Khamkirri-vakansieoord, wat ook mooi kampeerplek het.

So word daar by Khamkirri naby Kakamas en die Augrabies-waterval gekampeer. ’n Verskeidenheid aktiwiteite sal die jongspan besig hou.

Dis ’n kort stukkie goeie grondpad na Khamkirri, waar Philippa van Zyl jou gou sal kan help om ’n paar planne te maak om jou energieke kinders besig te hou. ’n Skemerkelkie hier op Khamkirri se dek kan ’n hoogtepunt wees terwyl die son oor die Oranje sak.

Ontmoet Norbert Coetzee van 'Voetspore'-faam by die Berg en Dal-koffiekroeg met jou aankoms by Riemvasmaak. Hulle bedien ook heerlike vetkoek.

Hiervandaan kan jy op ’n daguitstappie grondpad ry na Riemvasmaak. Jou eerste stilhouplek is dan by die koffiekroeg van Norbert Coetzee van Voetspore-faam – ’n knus plekkie waar hulle die heerlikste vetkoek bedien.

In die onlangse TV-program op die VIA-kanaal Hokaai my meisie! het die aanvallige Shari Kennedy ook Khamkirri en Riemvasmaak besoek. Op Riemvasmaak is met Henry Basson gesels, wat jou hul warmwaterbron kan gaan wys waar ook kampeerplek is – ’n interessante plek vir 4x4-entoesiaste.

Party mense sal nie eens verder as die Groen Kalahari wil ry nie, want daar is nog baie om te ontdek by Kakamas, Keimoes, Kanoneiland en Upington.

Kennedy kom nie verniet van Upington nie en sy het by Witdraai kennis gemaak met Vinkie van der Westhuizen, haar gids – die Elvis van die Khomani San.

Om by die “verlore stad” te kom, moet jy ’n ent grondpad ry. As jy dit wil vermy, gaan bly jy op Askham. Hiervandaan kan hulle jou op ’n daguitstappie (bel vir Pieter Naude by 082 843 3855) daarheen neem.

Nog ’n opsie is om meer plekke op die Rooiduin-roete te verken. Retha Stadler, groot dryfveer van hierdie roete, bied goeie verblyf op haar gasteplaas Loch Maree. Hier is ook ’n soutmyn en jy kan in die aand op ’n hoë Kalahari-duin jou verwonder aan die sonsondergang.

Gaan groet ’n kameel by die Koppieskraal-kameelplaas en proe kameelmelk. Jy is dan ook naby Farrini se 'verlore stad'. Foto: Johann Visser

Retha sal jou mooi kan verduidelik hoe jy ry om by die Koppieskraal-kameelplaas uit te kom – en hier gaan jy kameelmelk kan drink. Dit smaak glo maar baie soos beesmelk.

Koppieskraal is naby die “verlore stad” se klipkoppies waaroor Green en baie avonturiers so baie geskryf het. Dit kan ’n groot hoogtepunt op jou toer wees.

Die Kgalagadi-oorgrenspark is deesdae vir maande vooruit vol bespreek. Baie gaan bly dan by die Kgalagadi Lodge by Twee Rivieren, wat ook kampeerplek het.

Dan gaan jy elke dag as dagbesoeker na die park, waar die kans altyd redelik is om binne drie dae roofdiere soos leeus, jagluiperds of luiperds te sien.

Die pad terug na die Kaap gaan baie lank voel ná so ’n avontuurlike reis – veral as jy die roete van Upington na Kenhardt, Brandvlei, Calvinia, Nieuwoudtville en Vanrhynsdorp terug na die N7 kies. Die laaste drie dorpe kan as goeie oornagplek gekies word.

Daar is goeie kampeerplekke tussen Upington en die Augrabies-waterval. Dis ’n ideale geleentheid om dan die rivier op ’n kano te verken.

  • Vir navrae oor verblyfplekke in die Kalahari kan jy Retha Stadler kontak by 082 492 3469.


GEBORG

Noord-Kaap Toerisme

Noord-Kaap Toerisme
Noord-Kaap Toerisme

Hou hierdie winter ’n bietjie anders vakansie deur dit plaaslik te hou! Ontsnap die ysige Hoëveld of nat en koue Kaap en gaan geniet die Noord-Kaap se heerlike winterweer. Wintervakansies in die Noord-Kaap is ’n ontspanne familie-affêre propvol avontuur! Vier redes waarom hierdie streek jou wintervakansiebestemming moet wees, is: 

  • Dit verkwik liggaam en siel op een van die Camino-styl staproetes.
  • Geniet avonture op afgeleë plekke wanneer jy die Richtersveld op ’n 4x4-avontuur, die Kgalagadi-oorgrenspark of die wye vlaktes van die Tankwa-Karoo Nasionale Park verken.
  • Jy leer mekaar weer ken op ’n kamp langs die Namakwa-kuslyn, in Ai-Ais, die Richtersveld Nasionale Park en Kgalagadi-oorgrenspark, in ’n boomhuis in die Mokala Nasionale Park, op ’n Karoo-plaas of die oewers van die Vaal- of Oranjeriviere.
  • Maak jou litte los deur deel te neem aan avontuursportgeleenthede of doen jou eie ding op die honderde paadjies en roetes.

Meer oor:  Noord-Kaap  |  Augrabies  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.