Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Om pad te vat huis-op-die-rug

Wat is werklik kampeer? ’n Bed-rol in die sand langs die bakkie of vier-by-vier-waentjies met alles wat kan oop- en toemaak? vra C. Johan Bakkes ná sy eerste kampeerwa-ervaring

Nanna slaan iets te ete saam op die binnenshuise gasstofie. Foto’s: C. Johan Bakkes

Elke ou het sy eie manier van “kampeer”.

Ek skryf dit spesifiek in aanhalingstekens, want selfs net die definisie van die konsep kan in ’n bekgeveg ontaard.

Persoonlik is ek gebou vir ongerief. Hoe slegter en meer bar dit gaan, hoe lekkerder. My kampeertoerusting bestaan bloot uit ’n bed-rol, ’n stoel, ’n tafeltjie, ’n broodplank en kerfmes, ’n rooster en driepoot, ’n koelboks met bollings ys, sakke vol hout en neste bokswyn. Alles agterop ’n bakkie.

So slaap ek neffens die bakkie (as dit reën, onder hom) agter die damwal op ’n boer se plaas.

My vrou, Nanna, bewandel ons saampad al van 1975. Sy kan ’n boek skryf getiteld Ter wille van . . . Ter wille van die huwelik, ter wille van die kinders, ter wille van die diere . . . ensovoorts.

En dit is hierdie “ter wille van” wat haar my manier van kampeer laat uitstaan. Daar is verseker al geskop teen die prikkels – sy vat nie moeilikheid nie en het haar eie ysere wil, maar ter wille van . . .

Dís hoe ons gewoonlik kampeer: bed-rolle langs die bakkie. Links is ’n spesiale bed-rol-kontrepsie uit Australië.
Ons huis-weg-van-die-huis, huis-op-ons-rug of kampeerlorrie staan gemaak op Dwarskersbos.
Die keerpunt. Eendag in die Mata-Mata-kampeerterrein, die Kalahari-gemsbokpark in.

Ek, Nanna en bakkie stop by ’n lekker afgesonderde kampeerplek. Heerlike uitsig oor die Auob-droërivierloop.

Ons lig die stoele en tafeltjie en maak dit staan. ’n Sak hout word in ’n vuurtjie omgetoor. Bed-rolle knus langs die bakkie oopgerol. ’n Lang glas boordens toe vol ys, jenewer en tonikum, met ’n suurlemoenskyf. Verkyker en voëlboek grypafstand. En ons sit behaaglik en wag vir leeu se kind se besoektyd.

Dit alles binne tien minute.

Skielik, neffens ons, betrek ’n spannetjie met Voetspore-vier-by-viere ’n staanplek. Daktente en bossleepwaens, buite-storte, TV-skottels, skadu- en sandnette, tente en minus-40- Engel-vrieskaste. Ek hoor verskeie vloekwoorde.

’n Ysboks verloor sy binnegoed in die sand, wat ’n verdere kakofonie van slegsê ontketen. As ek reg onthou, het alle natuurlewe reeds die wyk geneem toe my buurman met ’n bier in die vuis die sonsondergang gemis het.

Bogenoemde relaas was egter nie die keerpunt nie. Dis toe daai einste buurman die volgende môre met ’n gesteun uit sy daktent tuimel en ablusieblokke toe strompel. So met die verbystap kyk hy half meerderwaardig, afkeurend en beterweterig na Nanna in haar bed-rol, ’n stomende koppie koffie en ’n bakkie beskuit in die sand langs haar kooigoed.

Sy kyk vir my en laat val droogweg: “Moet ons miskien nie ook eendag so luuks soos langsaan aan die kamp gaan nie?”

Dit het die saadjie geplant. Een wat tien jaar groeityd nodig gehad het.

Omring deur kampeerders met als wat kan oop- en toemaak.
Doringbaai en sy snoekbakkies.
Die kampeerwa het wel ’n fluitplek binne, maar iewers moet jy ’n streep trek.
Covid begin knaag

Die dag in dag uit se vanuit die huis werk laat emosies hoge revs hardloop en kou aan ’n meer as 45 jaar lange verbintenis. “Ek gaan vir ons ’n motorhome huur, dan vat ons die Weskuspad,” sê Nanna.

Oombliklik skop my senuagtigheid in. Pappie bestuur nie graag trokkies nie en verandering, gegewe ingeëtste kampeergewoontes, is nie my forte nie.

“Alleenlik as jy vir ons ’n ordentlike Afrikaanse woord vir ’n motorhome kan uitdink,” probeer ek uit die ding kom.

“Hoe klink huis-op-wiele, ’n kampeerlorrie of ’n bewegende-huis-weg-van-huis?” snoeker sy my.

Met ’n gehuurde Maui – die woord laat my erg aan diepseeduik en die haka dink – vat ons die pad. (Maui is ’n kultuurheld en swendelaar uit die Polinesiese mitologie – hy steel vuur uit die onderwêreld en neem die son gevange om die dae langer te maak.)

Ek moet erken, die lorrie bestuur seepglad en suikersoet en ek burger in.

Skaars 37 km uit die Paarl is ons eerste oornagstop Philadelphia. Ons jare lange vriende, die restaurateurs die Malle Madonnas, het ons genooi vir aandete. Min wetende ons bring ons eie huis saam!

’n Heerlike kuier tot laatnag, sonner ’n onnerprop-huis-toe-ry of ’n Uber inbel.

Die volgende oggend hou Hopefield se charity shop en uitbundige, lenige Cathy ons terug. Maar dit maak nie saak nie.

Ons het ons huis op ons rug en ’n skilpad is nie haastig nie.

Dwarskersbos se woonwapark lok ons in. Ons stop. Binne tien minute staan die tafeltjie en stoele. Die jenewer is gegooi en Nanna berei ’n lekseltjie ete op die binnenshuise stofie voor. Dit terwyl sy verkyker-gepantser ’n rotsvalkie identifiseer. Sommer so uit die huis uit!

Die breë strand ontlok ’n hand-aan-hand-wandeling en ons tel handevol seepampoentjies op. Terug huis-op-wiele toe, vir ’n knus middag-inlê-weglê.

Die volgende dag kruie ons verby Rocher-pan en sy voëluitkykplekke. Ons stop by die Skooltjie-padstal waar nog onnodige snuisterye, kondimente en tuisgebak aangekoop word.

Elandsbaai toe via Verlorenvlei. Padwerk hou ons terug, maar ons lag, want daai tien minute wagtyd mag maar 20 minute word. Ons het ons huis op ons rug en so in die wag kan ons sommer binnenshuis ’n koffietjie aanslaan.

By Lambertsbaai en sy Isabella-hawekafeetjie bederf ons onsself. Nanna met kaaskoek en ’n ysige Kaapse witte. Ek met ’n donker Swartwoud-tjoklitkoek en ’n bier. Die snuisterywinkel neffens aan pootjie ons verder. Dis dus net anderkant middagete as ons by die Lambertsbaai-woonwapark aanmeld vir die res van die dag en opvolgende nag.

Moet egter berig geskikte kampeerplek soek vat aan ’n 45-jarige verbintenis. Daar is ’n paar dinge wat verdiskonteer moet word voordat jy ’n finale staning maak. Waar kom die son op en kry sy lê? Gaan hierdie manatoka-boom genoeg koelte gooi? Wat is die heersende windrigting? Hoe ver is die naaste ander kampeerders? Hoe lyk die sonsak-uitsig? En hoe ver of naby is die gemakshuis? Ongeag burger ons geskik in.

Vuur word gepak. ’n Fles word geknak en braaibrode word gerak. Daai vleis was skaars gebraai en die brode gebros, toe slaan die Sandveld se wind en koue sy tande in. Net daar verkas ons binnetoe en lag vir die ouens iewers in hul bed-rolle.

Die son sak aan Suid-Afrika se Weskus.
Euforie op Strandfontein

Terwyl Worsie Visser Strandfontein besing, ry ons die plekkie in. Die munisipale woonwapark, blok A, is keurig skoon, met ’n idilliese see-uitsig.

Dis tjoef-tjaf en als is in plek.

Daar is geen geskarrel nie. Ek en Nanna is huis-op-wiele-kampfiks. Dis tjoef-tjaf en als is gereed. Die hardehoutvuur brand hoog. Nanna bou ’n slaai met beet, koljander, bloukaas en peer.

’n Weskus-godswonder – dis windstil. Die koue vlieswolke omtower die sakkende son en see in ’n bontspul van kleure.

Dis net daar waar ons besluit: Al was Port Nolloth ook op die spyskaart, net hier bly ons vir ’n wyle. Ons het ’n huis en die reispad was nog nooit ’n haastige pad nie.

Ek kan vertel van maklik een van die wonderlikste dae wat ek en Nanna in 45 jaar saam gehad het. Dit op die pier van Doringbaai by Fryers Cove-kelders.

Ek het my vervreet aan oesters, vars uit die see, afgesluk met koue wit. Vriendelike mense wat oorloop van toegeneentheid en ewig die snoekbakkies wat kom en gaan.

Terug op Strandfontein het daar ’n groep vriende ingetrek met 4x4-bakkies, sonpanele, veldwoonwaens, tente, skadunette en windskerms. Dit het hulle ’n ewigheid gevat om in te burger.

Maar toe die vure brand en hulle glasies klink en die son sak, toe weet ek hulle is tans net so gelukkig en tevrede soos ek langs my vuurtjie met ’n glasie en my vrou wat eufories iets optower op die gasstofie in ons huis-op-wiele. . .


Hou die kruit droog.Die boek word uitgegee deur Protea Boekhuis en kos R220.

Nuwe boek op die rak
Tydens die inperking het C. Johan Bakkes na sy pen gegryp en roerende, inspirerende en vrek snaakse Facebook-plasings geskep. Dis pas in ’n boek met die titel Hou die kruit droog gepubliseer. Die boek bevat ook lekker, filosofiese, persoonlike brokke uit sy vorige boeke. “Die kwasterige Bakkes tree in al sy grinterige glorie na vore. Dis ’n dol reis vol humor en deernis,” lees die agterblad. Die boek word uitgegee deur Protea Boekhuis en kos R220.
Wat dit kos
Die huis-op-wiele het ons teen R8 000 vir sewe dae gehuur. Dit sluit onbeperkte kilometers in, maar die brandstof is vir jou eie rekening.

Vir staanplek moes ons as volg betaal (onthou, ons is pensioentrekkers): 

  • Dwarskersbos: R98 per nag;
  • Lambertsbaai: R165 per nag; en
  • Strandfontein: R210 per nag.

Tydens die inperking het C. Johan Bakkes na sy pen gegryp en roerende, inspirerende en vrek snaakse Facebook-plasings geskep. Dis pas in ’n boek met die titel Hou die kruit droog gepubliseer. Die boek bevat ook lekker, filosofiese, persoonlike brokke uit sy vorige boeke. “Die kwasterige Bakkes tree in al sy grinterige glorie na vore. Dis ’n dol reis vol humor en deernis,” lees die agterblad. Die boek word uitgegee deur Protea Boekhuis en kos R220.

Die huis-op-wiele het ons teen R8 000 vir sewe dae gehuur. Dit sluit onbeperkte kilometers in, maar die brandstof is vir jou eie rekening.

  • Vir staanplek moes ons as volg betaal (onthou, ons is pensioentrekkers): Dwarskersbos: R98 per nag;) Lambertsbaai: R165 per nag; en) Strandfontein: R210 per nag.

Tydens die inperking het C. Johan Bakkes na sy pen gegryp en roerende, inspirerende en vrek snaakse Facebook-plasings geskep. Dis pas in ’n boek met die titel Hou die kruit droog gepubliseer. Die boek bevat ook lekker, filosofiese, persoonlike brokke uit sy vorige boeke. “Die kwasterige Bakkes tree in al sy grinterige glorie na vore. Dis ’n dol reis vol humor en deernis,” lees die agterblad. Die boek word uitgegee deur Protea Boekhuis en kos R220.

Meer oor:  Kampeer  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.