Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Om te ‘verdwaal’ in die bos

Die staproetes in die Knysnawoud by Diepwalle neem jou plek-plek oor stroompies waar daar darem ’n tou is waarmee jy jou balans kan hou. Foto’s: Liezel de Lange
Vergeet van inperkings en peste as jy gaan voetslaan tussen die geelhout- en stinkhoutreuse van die Knysnabos by Diepwalle, skryf Liezel de Lange.

Diep, diep in die donker woud – daar waar Benjamin Komoetie en die Groot­voete eens geloop het, is die Diepwalle-bosboustasie.

Hier kan ’n mens in die Knysnawoud vir ’n dag (of langer) tussen die woudreuse, varings, wilde sampioene en loeries gaan ontsnap aan ’n wêreld van inperkings en peste.

As jy gelukkig is, sal jy selfs op ’n groen Knysnaloerie of ’n dwergtrap­suutjies afkom.

Benewens die woudreuse wat bo jou uittroon, is daar op die woudvloer ook swamme en varings.
Voetslaan

Die drie dagstaproetes wat by die stasie begin, vat ’n mens elkeen op ’n kronkelroete deur die woud waar jy jou aan die reusagtige geelhout- en stinkhoutbome, plate varings en kronkelende stroompies kan vergaap.

Die roetes is goed gemerk en nie té moeilik nie, want die paadjies word onderhou. Jy sal nie klim en klouter nie, maar daar is ’n hele paar op- en afdraandes en die woud kan goed bedompig raak as dit warm is.

Plek-plek gebruik jy ’n tou om oor die klippe by die riviertjies te hop. Die vierjarige in ons groep het al die roetes maklik kafgedraf.

Die Wit Olifantroete is sowat 8 km lank en lei jou oor ’n rivier en verby poele waar jy mag swem.

Die Swart Olifantroete is 9 km lank en neem jou verby die Ysterhoutbrug-piekniekplek en die Koning Edward VII-piekniekplek – waar een van die oudste en beroemdste bome in die woud staan.

Dié outeniekwageelhoutboom is meer as 650 jaar oud, 40 m hoog en sy stam se omtrek is 7 m. Dis hier waar ’n afvaardiging van die Britse parlement in 1924 aangesit het vir middagete.

Diegene wat nie wil stap nie, kan tot naby die boom en piekniekplek ry en daar uitspan vir ’n vleisbraai by een van die piekniektafels. ’n Kort houtpaadjie neem besoekers tot by die beroemde kolos.

Die Rooi Olifantroete is op 7 km die kortste – maar dit het ook die meeste opdraandes.

Bederf jouself met ’n vetkoek by die bosboustasie nadat jy die Knysnabos bewandel het.
Vetkoek, melktert en houtkappers

Ná die stap kan jy jou gaan bederf met kerriemaalvleisvetkoeke en melktert by die klein restaurantjie wat in die Ou Woudkappershuis ingerig is.

Bestel dalk maar voor jy begin stap, want die kombuis is klein en hulle is nooit seker hoeveel hongeres deur die loop van die dag daar gaan uitslaan nie.

Die vetkoeke troef die beste basaarweergawes en as hul meesterlike melktert op is, kan jy gerus ook die sjokoladekoek probeer.

’n Besoek aan die Woudlegendes-museum gee jou ’n vinnige blik op die harde lewe van die destydse houtkappers, die stories van die Knysna-olifante en die plaaslike fauna en flora.

Die eerste houtkapperstasie in die Suid-Kaap-omgewing is in 1776 in George gevestig danksy die groot vraag na hout uit die Kaap vir alles van bote tot waens en meubels. Teen die begin 1800’s het George Rex, wat hom langs die Knysna-meer gevestig het, die koloniale owerheid oortuig om ’n hawe hier te bou waarvan hout uitgevoer kon word.

Teen die 1830’s het die vraag na hout opnuut die hoogte ingeskiet om waens mee te bou vir die Groot Trek.

Nadat die inheemse woude hier dekades lank geplunder is, is houtkappers se toegang tot die woude in 1939 opgeskort en sedert 1940 mag slegs dooie bome uit die gebied verwyder word.

Die museum huisves ook ’n olifant­skelet wat in 1983 naby die Tuin van Eden gevind is – na raming sowat tien jaar nadat die olifant daar dood is.

Vasco da Gama het destyds geskryf dat daar olifante by Mosselbaai was toe hy in 1497 hier aangeland het. Kapt. Christo­pher Harison, destydse woudbewaarder vir die Suid-Kaap, het in 1856 gesê daar is tussen 400 en 600 olifante in die omgewing tussen Knysna en die Tsitsikamma.

Vandag, meen sommige, is daar een olifant iewers in die woud oor.

Vat ’n stukkie bos huis toe

Benewens jou foto’s en ’n vrolike gemoed, kan jy ook van die bosboustasie wegry met jou eie stukkie Knysnabos.

By die kwekery langs die restaurant staan rye en rye inheemse plante wat besoekers hier kan koop.

Verskillende soorte geelhoutbome, soos die outeniekwa en Henkel-se-geelhout (Afrocarpus henkelii), is hier beskikbaar vir ’n appel en ’n ei. Die groottes wissel van knie- tot skouerhoogte.

Jy kan ook allerlei varings en inheemse struike hier aanskaf.

  • Diepwalle is op die R339-pad na Uniondale. Dit draai uit die N2-snelweg net buite Knysna – links as jy van Knysna af kom en regs uit Plettenbergbaai se rigting. Die teerpad word later ’n goeie grondpad en die afdraai na die bosboustasie is sowat 15 km van die N2 af. Alle stappers moet permitte by die Diepwalle-kantoor koop teen sowat R60. Skakel die kantoor by 044 382 9762.

Slaan kamp op op een van die houtdekke by Diepwalle as jy die Knysnabos hier vir meer as ’n dag lank wil gaan verken.
Oornag in die bos

Altesame tien houtdekke is in die bos gebou waarop ’n driemantent opgeslaan kan word. Bring jou eie of huur ’n tent en matrasse.

Elkeen van die kampeerplekke bied ’n wonderlike uitsig oor die woud en is toegerus met elektrisiteit en ’n braaiplek waarlangs jy snags kan uitspan en van waar jy dalk selfs ’n Knysnaloerie sal kan sien.

Daar is gedeelde badkamers en opwasplek aan die agterkant van die dekke.

Dit is die ideale plek van waar jy die bos te voet of op verskeie van die bergfietsrypaaie kan verken.

  • Skakel 044 302 5606 vir meer inligting en besprekings.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.