Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Onderweg na die hemel

Vanaf die voet van die Sanipas kan ’n mens Lesotho, die plek waar oudpres. Nelson Mandela in hegtenis geneem is én die KwaZulu-Natalse Drakensberge ervaar, skryf Terésa Coetzee.

Ek was al ’n paar keer met ’n voertuig by die Sanipas op en selfs eenkeer met ’n bergfiets by die pas af, en elke keer slaan hierdie wonderskone pas my asem weg.

Die Sanipas is ná die dorpie Himeville in die Drakensberge van KwaZulu-Natal op die pad na Lesotho.

’n Uitsig oor die Sanipas.

Dis vir seker nie Suid-Afrika se moeilikste pas nie, maar een van die bekendstes by veldryers. En regtig een van die mooiste passe wat jy ooit sal ry.

Die pad klim skerp teen die Drakensberge uit met ’n paar wilde haarnaalddraaie aan die bokant.

Die Sanipas is in die suidelike Drakensberge geleë en is die enigste stukkie pad wat KwaZulu-Natal met die hoogland van die bergkoninkryk Lesotho verbind.

Vroeër jare was hierdie pas een van die mees gevreesde passe omdat die oppervlak en breedte ’n goeie uitdaging vir motoriste gebied het en daar is letterlik mense dood terwyl hulle die steiltes per motor probeer uitklim het.

’n Veewagter jaag sy skape en donkies aan in Lesotho. Foto’s: Terésa Coetzee

Deesdae is dit nie eens vreemd om minibustaxi’s daar te sien op en af ry nie, hoewel dit darem spesiale 4x4-taxi’s is.

Die pas is hemelhoog, die opdraandes steil, maar dit is nou heeltemal rybaar met ’n vierwielaangedrewe motor.

Jare lank al is daar bespiegelinge dat die pas geteer gaan word, tot die bittere spyt van veldryers omdat dit beslis afbreuk gaan doen aan die uitdaging en bekoring van die pas, maar dit het nog nie gebeur nie. Toe ons onlangs daar was, was die ­hele pas nog grondpad – wel goed geskraap en rybaar.

“Om deur die Sanipas te ry word dikwels in 4x4-kringe as die ikoon van 4x4-ry beskou,” skryf Johann du Toit in die boek 4x4-roetes deur Suider-Afrika.

“Dit is een van die mooiste passe in Suid-Afrika en enigiemand wat dit bloot ter wille van die 4x4-uitdaging aandurf, het die kat aan die stert beet,” skryf Johann.

Stadig op tot by die hoogste pub

My mees onlangse uitstappie na die Sanipas het begin net anderkant die fraai dorpie Himeville by die Premier Resort Sani Pass. Hou maar jou paspoort en ’n pen byderhand, want gou-gou moet jy deur die grenspos beweeg.

Geen drank mag in Lesotho ingeneem word nie, so moenie verbaas wees as jou motor deurgesoek word en die grensbeampte drank konfiskeer nie.

Jy kan hierdie waterval in die Drakensberge te voet of te perd bereik.

Die eerste 15 km ná die Suid-Afrikaanse grenspos bied ’n maklike en genotvolle rit in die vallei op. Reeds hier word toeriste gewaarsku dat net 4x4-voertuie toegelaat word om die pas te ry.

Aan die bopunt van die Sanipas.

Ná die grenspos kan jy jou 4x4 maar na laestrek oorskakel, want daarna volg die legendariese volgende 8 km. Ons het stadig opgekruie om elke stukkie van die skilderagtige landskap wat onder ons oopvou in te drink. Selfs by ’n uitkykpunt stilgehou en gou eers ’n paar foto’s geneem.

Teen 2 462 m bo seevlak vind mens Suicide Bend, die punt waarna daar nie meer kans is om terug te draai nie.

Van daar tot bo is dit minder as 3 km, maar ’n mens moet nog sowat 400 m klim voordat jy die kruin bereik.

Die grensposformaliteite aan die Lesotho-kant word sommer deur ons toergids behartig en ons gaan direk na die restaurant daar naby. Ons word wel gemaan dat ons geen foto’s by die grenspos mag neem nie.

Net anderkant die Lesotho-grenspos vind ’n mens die bekende Highest Pub in Africa en ’n mens moet vir seker hierdie knus restaurant en kroeg aandoen vir ’n burger en ’n bier.

Die atmosfeer is lekker gesellig en nog elke keer wat ek daar was, was daar baie toeriste en dis die moeite werd om so entjie met die voetslaanpaadjie langs te stap en die uitsig verder te gaan bewonder.

Vat maar ’n ekstra lagie klere saam, want selfs in die somer kan die windjie geniepsig raak aan die bopunt van die Sanipas.

  • Besoek sanipasstours.com vir meer inligting. ’n Dagtoer van sowat sewe en ’n half uur kos R930 per persoon en dit sluit middagete by die Highest Pub in Africa in, asook ’n besoek aan ’n klein Basotho-nedersetting in Lesotho.
’n Perderit by die Premier Resort Sani Pass neem jou na ’n pragtige watervalletjie, maar dis ’n riskante affêre.

Perdjie op galop

Die sonnetjie het maar pas sy kop oor die horison gelig toe ons groepie aanmeld by die perdekampie daar aan die sykant van die Premier Resort Sani Pass. Ons gids, wat meer as ’n halfuur laat opdaag, het geen haas om die perde op te saal nie, en meer as ’n uur ná die afgesproke tyd begin ons die veld op ons perde in gelid in te loop. Gelukkig vergeet ’n mens maklik hier in die Drakensberge van tyd en ons word meegevoer deur die natuurskoon wat ons omvou.

Die oord is die ideale wegbreekplek vir gesinne met hope aktiwiteite om almal besig te hou.

Ek het ’n wonderlik gehoorsame boerperd gekry, maar een van die ouens in ons groep was minder gelukkig en hy het ’n paar keer baie amper met moederaarde kennis gemaak. Dit was sy heel eerste keer agterop ’n perd se rug en ek sal hom nie kwalik neem as dit sy laaste keer was nie. Die gids was ook nie van veel hulp nie.

Tog bly dit ’n wonderlike ondervinding om die omgewing vanaf ’n perd se rug te verken, veral toe ons so al langs ’n rivierloop tot by ’n watervalletjie stap. Die einste perderit-roete kan ook te voet gedoen word en as jy skrikkerig is vir perdry, kan jy maklik binne 45 minute te voet ook die watervalletjie bereik.

Die Premier Resort Sani Pass is onlangs heeltemal vernuwe en die kamers is modern oorgedoen. Ek het ’n asemrowende uitsig uit my ruim kamer gehad. Die personeel is vriendelik en hulpvaardig en die diens goed.

Die oord is die ideale wegbreekplek vir gesinne met hope aktiwiteite om almal besig te hou, van staproetes, die verhitte binnenshuise swembad, ’n spa, ’n groot speelarea vir die kinders en ’n minigholfbaan. Daar is ’n groot restaurant, waar ons ontbyt en aandete geniet het – albei buffetetes.

  • ’n Kamer kos sowat R1 300 per nag vir twee persone. Vir besprekings, stuur ’n e-pos na sanipass@premierhotels.co.za of skakel 033 702 1320. Besoek die webwerf by www.premierhotels.co.za.
Die besoekersentrum by die Nelson Mandela Capture Site is reeds in wording.
Die Nelson Mandela Capture Site gedenk die plek waar hy in hegtenis geneem is. Ongelukkig is die borde wat mylpale in sy lewe uitspel reeds verroes en onduidelik.

In die voetspore van Madiba

Nelson Mandela is op 5 Augustus 1962 net buite Howick in hegtenis geneem en daarna het hy 27 jaar van sy lewe in die tronk deurgebring. Die Nelson Mandela Capture Site is opgerig waar hy in hegtenis geneem is. Die sentrum bevat ’n ryk versameling van kulturele en historiese inligting.

Die kunswerk op die plek waar oudpres. Nelson Mandela in hegtenis geneem is.

Dit huisves ook ’n monument van Nelson Mandela, ’n struktuur van 50 staalpale wat tussen 6 en 9,5 meter hoog staan en die totale breedte van die struktuur is sowat 30 meter. Hierdie alleenstaande pale is almal só geposisioneer en gesny dat jy die gesig van Mandela sien wanneer jy daarna kyk vanuit die regte hoek. Die kunswerk is die geesteskind van die kunstenaar Marco Cianfanelli.

Die monument is aan die einde van ’n lang paadjie geposisioneer, wat Mandela se lang tog na vryheid simboliseer.

Die uMngeni-munisipaliteit beplan glo om ’n amfiteater en ’n teater hier op te rig. Die besoekersentrum met meer inligting oor die verlede is reeds in wording, met baniere waarop Mandela se geskiedenis vasgelê is.

Die monument is vyf minute se ry van die R107-afrit op die N3.

  • Terésa was ’n gas van Premier Resort Sani Pass.
Meer oor:  Lesotho  |  Drakensberg  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.