Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Oor berge en kanale

Die wêreld rondom Vredendal is hard en droog, maar die drink- en eetgoed van hier is sag en soet op die tong, skryf Marinda Louw Coetzee.

’n Netwerk van kanale uit die Olifantsrvier maak van die omgewing om Vredendal ’n kosmandjie. Foto’s: Marinda Louw Coetzee

Derek Matthews gooi sy arm wyd oor die oggendlug en tuur in die rigting van die klipkoppie.

“As die son so sag op daai rotse val, dan gaan dit reën.”

Derek word stil, kyk op hemel toe en dan af, terug na waar die pomp die laaste diesel in my kar se pens indrup. Sy kollegas by die vulstasie net voor Klawer kekkellag liggelowig en werskaf verder aan hul reisigers se motors.

Anderkant die weegbrug op die N7 by Klawer, so 280 km noord van Kaapstad aan die Weskus, lê die klipstapel van afstig-rotsies van die Matzikammaberge wel sag en warmgeel in die oggendson, maar die wolke is hoog en dun en die kans vir reën lyk maar skraal.

Die reënval in hierdie noordelike deel van die Wes-Kaap is maar om en by 160 mm per jaar en om iets uit die grond van hierdie dor en hittige streek te laat groei en oes was tot in die vroeë 1900’s bykans ’n onbegonne taak.

Magrieta Lukas werk in Gideonsoord se ultra-moderne rissietonnels net buite Vredendal.

Was dit nie vir 600 swart kontrakwerkers, Italiaanse krygsgevangenes en pioniersboere van die omgewing nie, sou dié streek nooit die Wes-Kaap se groentemandjie geword het nie.

Die eerste boere het in 1732 eers net op die Olifantsrivier se oewers langs gehou en water uit die rivier gehaal om groente vir die pot te plant en hul beeste en bokke aan die lewe te hou. Eers sowat twee eeue later sou die Olifantsrivier-besproeiingskanaal, wat water soos ’n silwer spinnerak deur die dorheid laat vertak, die streek ’n metamorfose laat ondergaan.

Die groenbruin lewensaar van 260 km lank vertak nog 60 km lank in kleiner kanale wat slegs deur gravitasie van die Bulshoek-dam, noord van Clanwillian, gevoed word. Geen masjinerie is gebruik om die kanaal te bou en geen pompe word gebruik om die water kanaal af te laat vloei nie. Die kanaal “val” teen ’n verhouding van 1:5 000. Om hierdie hoek en die vloei van water konstant te hou, het beteken dat die kanaal met kronkels en draaie gegrawe moes word. Hedendaagse ingenieurs reken dat om nou behoorlik onderhoudswerk aan die kanaal te doen, net sowat 5 km per jaar herbou kan word, wat meer as 50 jaar sal duur.

Die kanaal is in Maart 1913 begin met 12 kontrakteurs, 600 werkers, pikke en grawe. Deur sandduine, kranse en valleie. Met handearbeid, klippekou en gebed. En waarskynlik hardpraat op Boontoe.

Dit het slegs 12 jaar geneem.

Vrug van die aarde

Die mense van hierdie wêreld is pioniers, veral in die landbou.

In die 1800’s is daar geëksperimenteer met die plant van rys in van die damme langs die Olifantsrivier. Groente en lusern is geplant, koring, rog en mielies is geoes en in 1842 is die eerste voggies gemaak – sowat 22 800 liter wyn en 14 800 liter brandewyn. Deesdae is Namaqua een van die grootste kelders in die land. In goeie jare hanteer hulle die meeste druiwe in die ganse republiek.

Die beste plek om die vrug van dié arbeid te proe, is by Die Keldery, Namaqua se proelokaal en restaurant, so 5 km voor Vredendal op die R363.

Dis ook hier waar ons vergader saam met mense van die Namakwa-Weskus-streek om agritoerisme in en om Vredendal te bespreek. ’n Lys van die streek se produkte raak lank: waatlemoene, aartappels, komkommers, boontjies, rooi en groen soetrissies, tamaties by die dosy­ne . . . genoeg vir die All Gold-tamatie­fabriek op Lutzville. Daar’s ook neute, uitvoerdruiwe, korente en sultanas, gemaak in die son van hierdie droogwarm streek.

“En as Jan Ponk nie die hek oopgelos het nie, het ons saffraan ook nog gehad,” las iemand uit die agterste koor by.

Jan Ponk van Zyl is ’n bekende boer in die omgewing. Hy het glo die hek van die saffraanlande oopgelos en toe het sy buurman se skape die kosbare geel blomme afgevreet.

Bespreek jou tafel by die Draaihoek-lapa-en-wildkamp om aan te sit met dié mooi uitsig voor jou. Die restaurant is Vrydae en Saterdae oop. Bespreek by effeanners@gmail.com.

Afgesien van wynproe by die kelders in die streek – van Klawer Wynkelders op die N7 en Vredendal se kelders tot Seal Breeze naby Lutzville en Fryer’s Cove in die kreeffabriek op Doringbaai – is die kos van die streek ook nie te versmaai nie.

Bespreek vir Die Keldery se kraffie-aand op Donderdae en kry ’n halfliter Namakwa-wyn saam met jou ete. Eet brekfis by The Lemon Tree Coffee Shop by die groothandelkwekery buite Vredendal – en so seker soos vet-weet, jy kry ’n dubbeldoor-eier op jou bord.

Koop skaapstertjies en afval by een van die plaaslike slaghuise, proe skuinskoek, ingelegde kwepers, groenvye en agurkies, koop draairoomys en rissiesouse by Aan-de-Kleinrivier-Padstal en drink die Maskam Brewing Company se craft-bier.

Kronkel saam met die kanaal op die R326 na die Groenhoek-plaas waar jy jou eie jenewer- en vodka-mengeldrankies kan meng in 1st Principles Distilleries se bamboeswoud. En wanneer dit aand word en die son lieflik oor die Maskamberge doer by Vanrhynsdorp val, span uit by die Draaihoek-lapa vir ’n braaisnoek.

Rosyntjies is een van die produkte wat hierdie streek oplewer.

Dit blom!

Soos die kanaal die boerdery-omgewing laat blom het, net so blom dié deel van die Suid-Namakwaland in die lente. Die omgewing rondom Vredendal is waar die vetplant-Karoo, fynbos-, renosterveld en Strandveld-biosfere oorvleuel. Dit beteken ’n veelsoortigheid van plante en diere wat hier hou. Twee derdes van Suid-Afrika se 76 inheemse voëlspesies en die meeste skerpioenspesies in die land word hier aangetref. Ontdek die mini-vetplantjies van die Knersvlakte by Vanrhynsdorp op die perseel van 15 hektaar van die Kokerboom-kwekery in Vanrhynsdorp se Voortrekkerstraat.

Hoor die gedruis van voëls by die Olifantsrivier se mond en verken die Gifberg via die Gifbergpas. Maar jy gaan met ’n sportnutsvoertuig (SNV) moet ry op die Gifberg, beveel die mense van die kontrei aan.

Bespreek ’n tafel by Die Keldery se kraffie-aand op Donderdae en kry ’n halfliter wyn saam met jou ete.

Slaap sag

Hoe jy ook al ry, bly moet jy bly. Staan gerus ’n paar dae oor om die omgewing behoorlik te ervaar. Bly by die Voorsorg-gastehuis op ’n wingerdplaas net buite Vredendal. Jy betaal R1 000 vir ’n chalet vir twee mense of R1 600 vir vier mense in ’n dubbelkamer-chalet, ontbyt ingesluit.

Die Bokhuis naby die kwekery op die R363 bied selfsorgslaapplek teen R550 vir ’n enkelkamer en R720 vir ’n dubbelkamer.

Mense op Vredendal sê dit soos dit is, sonder glans of heerlikheid. Hier leef mense na aan die aarde en na aan die water. Elkeen kry sy waterbeurt en elkeen kry sy spreekbeurt.

En toe die vergadering afrond met ’n laaste paar planne, begin dit saggies reën.

Lieflik.

Meer oor:  Vredendal  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.