Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Oor mensvreters en pêrevleis . . .

Mokoetsi Khutsoane help om die dag se slagwerk op te ruim en weg te pak. Foto’s: Peet Steyn
Hy weet nie watter deel van ’n man die lekkerste sal smaak nie, maar perde-rugstring is koningskos, skryf Peet Steyn ná ’n staptog deur Lesotho.

Wie is ek nou om te stry oor watter deel van 'n ou man se lyf nou die sappigste en smaaklikste sal wees vir ’n klomp honger kannibale? Om hieroor hare te kloof gaan nie help nie. Ek sal maar vir Rapelang, beter bekend as Msidi, op sy woord glo. Hy het my immers slaapplek in sy oupa se huis aangebied nadat ek deurgeloop en moeg op ’n Vrydagagtermiddag by sy spazawinkel in Ha Ntlama ingestrompel het, al die pad van Mapoteng 25 km noord van daar soos ’n verdwaalde kraai berg-op sal vlieg.

Ná ’n week te voet in Lesotho voel die land vir my na een groot berg.

Jy kan dalk dink hy’s jonk en naïef, want Msidi droom van flieks maak waar hy in sy winkel alles van paraffien tot lugtyd en bier verkoop, maar Moshoe­shoe was immers sy oupagrootjie se koning en daai tyd se stories lê hom na aan die hart.

’n Sleutelbeen (lipetu in Sesotho), het sy oupa hom vertel, is al wat oorgebly het nadat die kannibale met Moshoe­shoe se Oupa Peete klaar was.

’n Sleutelbeen (lipetu in Sesotho), het sy oupa hom vertel, is al wat oorgebly het nadat die kannibale met Moshoe­shoe se Oupa Peete klaar was. Eers het hulle sy hare afgeskeer en toe sy bloed gekook en geëet. Dit is nie die Gethesemane School se gr. 10-geskiedeniskurrikulum nie, dis vuurstories vir kinders, “die waarheid”. Ons bespiegel dat as die hors d’oeuvres van gekookte bloed eers verslind is, sou dit seker maar wees soos braaihoender in ’n seunskoshuis eet, elke man vir homself. Dit is maklik vir my en Msidi om so ligsinnig te loop en skerts op ’n vreedsame Saterdagoggend al met ’n ruiterpaadjie langs deur die berge op pad na die Modimonggrotte. Oraloor is vee en hutte en kinders doenig en ’n ligte miswind dra veewagters in komberse se vokale en klinkers soos liedjies deur die klowe. Vir koning Moshoeshoe was sy oupa se dood meer van ’n vraagstuk en definitief minder bekoorlik.

Die filosoof-koning Mohlomi het hom as jong man reeds beveel om na aan sy wyse oupa te leef en by hom te leer. Hy moes ook seker maak dat wanneer die tyd kom die ou man ingevolge die nodige tradisies begrawe word. Maar hoe gemaak met jou oupa se sleutelbeen in jou hand en die res van hom in ander mense se maag? Die grens tussen legende en gr. 10-geskiedenis vervaag verder soos Msidi vertel. Eerder as wraak en haat kies koning Moshoeshoe die ander pad. Hy hou ’n fees en voer al die kannibale vet op bees- en skaapvleis totdat hul pense bol-staan en hulle opgooi. Dié oorblyfsels begrawe hy dan asof dit sy oupa sou wees. Daarna gee hy hulle vee en grond en stel voor hulle verander hul dieet tot almal se voordeel. Vir die res van die volk het hy ’n duidelike boodskap van vergifnis en vrede. Hulle is die lewende grafte van hul voorvaders, sou hy sê.

Deesdae krap mense hul name op die rotswande om te sê “Ons was ook hier”. Dit lees soos ’n swartbordspyskaart in ’n braairestaurant.

Vyf geslagte gelede het name soos Mosoansoanye en Raboshanye ’n doodse vrees in mense wakker gemaak in dié geweste. Deesdae krap mense hul name uit op die wande en klippe van Madimong om te sê: “Ons was ook hier.” Dit lees soos ’n swartbord-spyskaart in ’n braairestaurant.

E monate – dis lekker

Vroeg die volgende oggend loop Msidi ’n ent saam om my die pad soos die kraai verdwaal te wys na Ha Kome, die tweede grot in die omgewing. Hy beduie my hoe om 30 km in 20 km te verander. “Gister se storie, was dit feite of ’n fliek in jou kop?” Msidi glimlag net. “Tsamaya han­tle, ntate” – mooi loop.

Die ding met stap is: Wanneer jy dit teen die regte voetslag en spoed doen, sodat jou lyf en die landskap ’n eie ritme uitkerf, maak dit musiek in jou kop. Jy en alles om jou leef deur een hartklop, ’n onsigbare metronoom. Dit is ’n soort harmonieuse drentel.

Dié grothutte is die tuiste van Mamotonisi Ntefane, direkte afstammeling van vyf geslagte terug se eertydse kannibaalbewoners.

Maar dis nie hoe ek vandag stap nie. Ek was amper in die ritme, toe sien ek eers ’n Chinese vrou in ’n sinkwinkel in vlot Sesotho met my praat en toe uit die hoek van my oog ’n ou man met ’n sak meel wat agterstevoor op ’n donkie sit en aan ’n groot bier teug. Ek gee die stryd gewonne. Saterdagmiddag is nie tyd vir mediteer by die Kome-grotte nie. Jy moet jou regmaak vir ’n geboë werklikheid en jou nie teësit nie.

In Ha Kome is dinge vir toeriste mooigemaak en hoewel die koronaviruspandemie die toerismebedryf ’n uitklophou gegee het, is daar steeds opgeleide gidse om jou meer te vertel van hoofman Teleka en die slang-likkewaan en die boom wat vir weerlig geplant is en allerhande wonderlike stories. Alles is by een oor in en ’n ander uit. Al waaroor ek wonder is of ek hier sal kan slaap vanaand. Vir R100 word my wens bewaarheid en kry ek ’n matras en vier dik Lesotho-komberse en my eie grot-hut regs van die van die matriarg Mamotonisi Ntefane. Vyf geslagte terug het haar grootjies hier kom wegkruip van kannibale en die Lifacane wat die ooste en sentrale deel van Suid-Afrika geteister het. Nou sit ek en sy en praat in my gebrekkige Sesotho en haar geradbraakte Afri-Engels asof ons mekaar verstaan. Mense kom en gaan en lag saam met haar omdat ek “e monate” (dis lekker) vir alles gebruik van my antwoord op hoe gaan dit tot wat ek van Lesotho dink. Ek lag maar saam, anders is ek al een wat nie lag nie. Later gaan strek ek my op die gras langs die rivier uit en sluimer in met die gebulk van ’n donkie en die klingel van beesklokke op die wind.

Kantini Khotsoane vra R10 vir ’n foto van hom.
Perdevleis, koningskos

Die geskarrel van mense en stemme lok my terug grot toe. Manne gewapen met klapmusse en messe en ander skerp kapgoed is besig om soos miere ’n karkas op te breek en weg te dra onder toesig van ’n ou man met twee kieries en bene wat dun onder sy broek wankel. In gebreekte Sesotho en ’n paar kerfies Fanagalô uit my geheue kan ek die storie van sy bene tot by ’n myn in Welkom volg, maar die hoe en waar los op in die troebel waters van handgebare en halwe woorde.

Hy laat my duidelik verstaan dat ’n fotosessie my R10 sal kos. Dis vir “rookgoed” vir die aand

Nie ’n kriesel van die perd word gemors nie. Vroue maak die binnegoed bymekaar om by die rivier te gaan was.

Ek maak oogkontak met Moeketsi. “Khomo?” “Ee” val ’n halwe ja uit die hoek van sy mond. Hy oortuig my nie dis ’n bees wat geslag is nie. Dis die vier litte met ronde hoewe en die kop wat alles weggee. Vanaand eet ons perd. Dis miskien ’n ou perd wat nie meer kon werk nie, maar dit is steeds ’n perd. Ek voel so skuldig soos ’n veganis wat botter eet, nie oor dit perd is nie, maar oor my mond water en ek die klop van die groot metronoom in my lyf kan voel. Later, toe al die vleis in die hut links van Mamatonisi se hut ingedra is, kom twee vroue en maak al die binnegoed bymekaar en gaan was dit onder by die rivier. Niks word gemors nie; net die hoewe en die kop bly agter.

Vanaand eet ons lewer en pap en moroho.

Die aand sit ek saam met ntate Kantini, Moeketsi en drie vreemdelinge om die vuur. Moeketsi se ma maak pap en moroho, iets soos spinasie, wat gereeld geëet word. Die lewer braai in ’n pan en wat lyk soos rugstring kom tot sy reg op die kole met sout.

Een van die vreemdelinge praat die lekkerste Afrikaans. Kimberley-Afrikaans. Ons gesels totdat hy sê hy is nou moeg vertaal, hy gaan slaap. Nadat hy weg is, sit die res van ons in stilte en gesels. Ntate Kantini praat die hardste. Ek sê “lekker slaap” en die res laat hoor in ’n koor “robala hantle”.

Ha Kome gaan mooi om met die gemoed en is ’n lekker plek om ’n uiltjie te knip.

Ek wil al vroeg in die pad val, maar Mamotonisi dring aan dat ek eers was. Terwyl ons vir die vuur wag om die waswater tot ’n aanvaarbare temperatuur vir ’n Lesotho-winter te bring, sit ek langs haar by die vlamme en kyk hoe sy haar naels met ’n Minora-lemmetjie, groot doekspeld en ’n blink swart skuurklippie versorg.

Ek gaan was stil en privaat in my grothut in ’n plastiekkom made in China. Sy dring aan ek moet wag vir ontbyt, maar ek het ver om te loop vandag. Sy vat my hande in haar ou sagte nuut versorgde hande en wens my ’n “lekker” pad toe.

Almal lag en waai en ek lag saam. Ntate Kantini kantel net sy kop en knip sy oog waar hy uit die vleishut gekruip het om te groet. Hy kan nie waai nie; hy moet sy hande op sy kieries hou, anders val hy om. Daar is ritme in my stap en ’n onsigbare metronoom in die lug soos ek die grotte agterlaat op pad Thaba Bosiu toe.

Meer oor:  Lesotho  |  Staptog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.