Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Oornag in Van der Post-huis

VRAAG:

Ek wou nog altyd aandoen by die sentrum waar die skrywer sir Laurens van der Post in Philippolis gedenk word, maar tyd het dit elke keer nie toegelaat nie. Is dit nog oop? En is dit steeds moontlik om daar te oornag? Jannie Cilliers, Roodepoort

Laurens van der Post-gedenksentrum
Die sir Laurens van der Post-gedenksentrum in Philippolis se deure is al byna twee dekades oop. Foto: Jens Friis

ANTWOORD:

Soortgelyke sentrums oor die land heen kwyn gewoonlik ná etlike maande, maar die Laurens van der Post-gedenksentrum in Philippolis se deure is ná byna twee dekades steeds oop.

Elsa Lombard (084 297 4640) is deesdae hier aan die stuur. Jy kan iets hier eet en drink, na sir Laurens se boekery kyk, die waterlabirint stap en in die Skrywershuis oornag.

Afgesien van Van der Post, kom verskeie ander skeppende geeste uit omringende dorpe, waaronder Etienne le Roux (Koffiefontein), Karel Schoeman (Trompsburg), Dolf van Niekerk (Edenburg), Taubie Kushlick (Luckhoff) en André Huguenet (Petrusburg).

Van der Post se dogter Lucia Crichton-Miller sê sy ontvang nog daagliks in Londen briewe van oor die wêreld heen waarin dankbares getuig hoe haar pa die groot waardes van menswees vir hulle as moderne wesens ontsluit het.

Van der Post het nostalgies na sy geboorteplek verwys as “the interior of Africa, a thousand miles from anywhere.”

“Ek het vir die eerste keer met Philippolis kennis gemaak in sy boeke,” sê Crichton-Miller. “Venture to the Interior was my gunsteling. As stadskind het ek gesmag om ook te woon in ’n groot, koel huis met hoë plafonne, ou Hollandse olieskilderye en ’n skaduryke tuin met vrugtebome en ’n dam om in te swem.”

Van der Post was die plaaslike prokureur in die dae nadat Philippolis sy sendelingstatus afgeskud het en die Griekwas padgegee het Kokstad toe. Op die Van der Posts se erf was die dorp se eerste tennisbaan; in hul huis die eerste biljartkamer. As daar saans nie om die klavier bymekaar gekom is nie, is hier ’n bal gehou of ’n debatsaand. Die West End-stukke, afgerig deur Laurens se moeder, is selfs in buurdorpe opgevoer. Die dokter langsaan het Charles Dickens-manuskripte versamel.

En dis die ryke wêreld waarin een van Suid-Afrika se bekendste skrywers se wortels kleintyd geanker was. Deur die jare het dinge baie verander, maar iets wat steeds dieselfde gebly het, is die kerktoring wat vanuit die Skrywershuis sigbaar is.

Die Skrywershuis is getrou aan die kenmerke van die vroegste argitektuur op Philippolis, wat vandag nog bestaan. Dis geskoei op ’n reghoekvormige plan. Daar’s min vertrekke, twee of drie, afhangend hoe jy tel. Dis nie breed nie, want hout was vanmelewe skaars in dié droë area.

Die Skrywershuis is ook klein, nie om outentiek te wees nie, maar omdat geld min was, maar jy voel allermins kloustrofobies. Die dubbelvolume doen wondere.

Om ruimte te spaar is die huis só ontwerp dat deure oorbodig is. Die kookgeriewe is so geplaas dat ’n gang as kombuis dien.

Dit was ’n uitdaging vir Alida Stewart, die argitek, om die publieke domein met die Skrywershuis te skakel. Oorgangsfilters was noodsaaklik vir privaatheid. Dié “gelaagdheid” is verkry deur ’n boord wilde-olywe, verskillende plaveisels en ’n muur wat die huisrestaurant en Skrywershuis skei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.