Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Oos-Kaapse roetes wat roep

Van Suid-Afrika se mooiste grondpadpasse en 4x4-roetes lê in die Oos-Kaap, van die kus tot by die hooglande waar die sandsteenkranse dramaties teen die hemelblou geëts staan. Vat een naweek jou bakkiesleutels en gaan kyk self waarom mense liries raak oor hierdie paaie. 

Die Baviaanskloof is veel meer as net ’n lekker grondpad deur die berge. Foto’s: WEG RY & SLEEP

Volg die Griekwas se spoor op Bastervoetpad 

Bastervoetpad Tussen Barkly-Oos en Ugie

Bastervoetpad

Die Bastervoetpad is ’n uitdagende en skouspelagtige grondpadpas. Dis ook een van die hoogstes in die land.

Oorkant die Mountain Shadows-hotel se hek, by ’n bordjie wat jou na die Bastervoetpad beduie, draai ’n onbeduidende grondpad af. Dit neem jou oor die Fetcanipas, ’n betreklike kort pas – ’n mens ry hom maklik sonder om te besef die kruin is 2 088 m bo seespieël.

Ongeveer 8 km van Mountain Shadows af wys nog ’n verroeste bordjie regs waar die pas loop. Hou verby die plaastopstalle (regs by die eerste vurk in die pad en links by die volgende een) tot by ’n sementbruggie. Hier begin die pas eintlik.

Amptelik is dit die Dr. L.A.P.A Munnik-pas, maar almal praat (met ontsag) van die Bastervoetpad, omdat dit min of meer dieselfde roete is as wat Adam Kok se mense in 1862 van Griekwaland-Wes na Kokstad geneem het.

In die somer is die pad soms modderig, glad en plek-plek verspoel, en in die winter kan sneeu en ys dit onrybaar maak. Hou dus die weer fyn dop óf vra by die hotel dat iemand een van die boere in die omgewing bel vir eerstehandse inligting. Op ’n mooi dag het ’n mens nie noodwendig vierwielaandrywing vir die pas nodig nie. ’n Goeie grondvryhoogte en ’n ewenaarslot sal deug, maar ’n laestrekratkas gee gemoedsrus wanneer die wiele oor die los klippe en erosievore begin knars.

Die pad is onegalig, plek-plek smal en uitdagend, maar nie té steil nie. Ná 18 km (van Mountain Shadows se hek af) staan die eerste van drie gedenktekens: ter ere van Elliot se destydse padinspekteur, Nic de Bruin (die afdelingsrade van Ma­clear en Elliot het rondom 1970 saam aan die pad gewerk). Minder as ’n kilometer verder staan die tweede gedenkteken, een wat verklaar jy is nou 2 240 m bo seespieël en dat dr. Munnik die pas op 12 Desember 1979 geopen het.

BastervoetpadFoto: WEG RY & SLEEP

Nog ’n 100 m verder is ’n steengroef langs die pad – hier kan ’n mens intrek vir ’n bietjie beskutting teen die wind, wat enige tyd van die jaar aan jou ruk en pluk terwyl uitkyk oor Kapaailand wat tot op die gesigseinder strek. Kapaailand is die naam wat in die volksmond ontstaan het vir die distrikte Elliot, Ugie en Maclear, en verwys na die Xhosaleier Ncapayi wat vroeg in die negentiende eeu hier gewoon het.

Van die steengroef af daal die pas vinnig, en ná 700 m draai dit met ’n wye boog deur 180 °, sodat jy weer onder die uitkykpunt verbyry. Oor die volgende 2 km maak die pad twee skerp sigsagdraaie en loop oor vier uitlopers van die berg wat regs van jou soos die tande van ’n vurk in ’n smal vallei steek. Nou raak die pad rof: Regs van jou is ’n skerp afgrond. Ná nog twee kronkels begin die pad die kontoer van die berg volg. Op die 27 km-merk is die opening van ’n breë poort met ’n steil groen heuwel aan jou regterkant en enorme kranse en rotsformasies links.

Die pad word selde gebruik; waar die wattelbome tot teen die pad groei, gaan jy iemand moet vra om van die takke uit die pad te hou sodat jy kan verbykom.

Die rofste deel van die pas is nou agter die rug. Begin uitkyk vir die swemgat in die rivier by die 30 km-merk; hier naby is ’n piekniektafeltjie en bankies langs die pad. Baie mense ry die 5 km van die laagwaterbruggie aan die oostelike punt van die pas tot hier vir ’n swem en ’n piekniek. (Die grootste deel hiervan is op bosboupaaie deur PG-Bison se plantasies.) Aan die einde van die pas kan jy regs draai en met die Wildebeespad terugry in Elliot se rigting óf links oor Ugie na Maclear.

WENK: Sit ’n hele dag opsy; die pas sal jou bestuursvernuf toets.

Moet weet

Hoe lank neem dit? 4-5 uur

Het ek ’n 4x4 nodig? Nie noodwendig nie, maar dit sal baie help.

GPS S31.16429 E27.89723 (westekant), S31.20564 E28.18954 (oostekant)

Wat kos dit? Niks, dis ’n openbare pad.

Kontak: Mountain Shadows Hotel: 045 931 2233

Vat jou tyd vir Baviaanskloof

Die Baviaanskloof -Tussen Willowmore en Patensie

kaart
Baviaanskloof

Die Baviaanskloof het glo sy naam gekry vanweë die magdom bobbejane wat die eerste Europeërs hier teëgekom het.

Spring vroegmôre weg uit Willowmore. Dis ’n plekkie waar ’n mens maklik vir ’n dag of twee kan vasdraai, maar dis ook bekend as die westelike poort tot die Baviaanskloof, en dís hoekom jy eintlik hier is.

Sowat 4 km suid van die dorp draai jy af op die R332, ’n grondpad wat suidoos na die Baviaansberg toe loop. Dié einste pad hou regdeur die Baviaanskloof aan al die pad tot by Patensie, en as jy vroeg genoeg ry, kan jy die afstand in ’n dag aflê (maar dan gaan jy nie baie tyd hê vir stilhou nie). En jy wil nie eintlik net deurry nie, want die Baviaanskloof is veel meer as net ’n lekker grondpad deur die berge. Om sy juwele te ontdek het jy tyd nodig.

Aan die bokant van die Nuwekloofpas verwelkom ’n naambord jou amptelik in die Baviaanskloof. Die pas kronkel af tussen kranse wat soos wolkekrabbers bo jou uittroon.

Nie lank daarna nie bereik jy een van die Baviaanskloof se bekendste plekke: die Makkedaatgrotte op Rietfontein, ’n gasteplaas waar jy in ’n grot kan oornag. Boetie en Henriëtte Terblanche het 20 jaar gelede in die Baviaanskloof kom wortel skiet. Destyds het natuurbewaring die privaat grondeienaars in die kloof gevra om verblyfopsies te ontwikkel om toerisme ’n hupstoot te gee, en dis toe dat Hen­riëtte die gedagte kry om die grot op hulle plaas in ’n blyplek te omskep.

Die volgende oggend lê en kruip die nag se koue nog in die skadu van die berge weg wanneer jy verder oos ry. Loer vinnig in by die Baviaans Craft Shop, vol handgemaakte traktaatjies, T-hemde en ander aandenkings van die kloof. Op die stoep is’n versameling bonsaiboompies (party spekboom), en oorkant die pad is die eetplek Vero’s waar jy aan ’n varsgebakte vetkoek kan weglê.

Min of meer 14 km verder trek jy af by Bokloof. Van al die staproetes in die gebied is die Waterkloofroete, wat jou na ’n mistieke skeur in die berge lei, waarskynlik die Baviaans se bekendste. As jy al ’n artikel oor die Baviaanskloof gelees het, is die kans goed dat daar ’n foto van dié kloof daarin pryk.

BaviaanskloofFoto: WEG RY & SLEEP

’n Mens kan sien hoekom hierdie skeur so gewild is. Dis ongelooflik mooi. In die nouste dele kan jy aan albei kante van die rotswande raak as jy jou arms uitstrek en dieper in staan groot ou bome tussen reusagtige varings met wit aronskelke wat plek-plek kop uitsteek. Die stappie is veronderstel om jou ’n uur en ’n half besig te hou, maar jy sal maklik ’n hele dag hier kan deurbring.

’n Entjie in die pad af kan jy by die BaviJaans-padstal gou ’n ham-en-kaas broodjie afsluk voor jy verder oos ry. ’n Padpredikant dui ’n wildevyeboomwoud aan; draai hier af.

Die woud is op die plaas Sewefontein waar daar ook ’n basiese kampterrein is. Patrick Ruiters, netjies aangetrek met ’n naamplaatjie op sy bors, is die toergids en kampbestuurder.

Van die bome in die woud is meer as 500 jaar oud, sê Patrick. Hy gesels ywerig, byna onophoudelik, en vertel jou later ook sy lewensverhaal: Hier gebore en geskool, vir ’n wyle Kaap toe waar hy posman was, en later terug kloof toe waar hy ’n gekwalifiseerde gids geword het.

Val weer in die pad, ewig ooswaarts, verby die Cambell-monument wat die vloed van 1916 gedenk, die polisiestasie en Doringkloof met sy versameling 4x4- en bergfietsroetes.

Voor jou lê die Baviaanskloof-natuurreservaat: Al is dit net 55 km deur die park, sal dit jou sowat drie uur neem om die afstand af te lê.

Vir hierdie deel van die kloof het jy beslis ’n 4x4 nodig, want nes aan die ander kant van die Baviaans raak die berge hoog en die kloof smal. Daar is drie lekker steil bergpasse – Grasnek-, Holgat- en Combrinkspas – en ’n hele paar driwwe waar jy waterkruisings gaan teëkom.

Die Holgatpas het ’n sementtweespoor wat onlangs mooi herstel is en jou sonder moeite die berg laat uitklim.

Aan die bopunt van die Combrinkspas klim jy uit om vir oulaas die uitsig oor die Baviaansberge te geniet, want van hier af sak die pad af na die westelike hek van die park waar die Gamtoosvallei begin. Wanneer jy jou permit vir die hekwag gee, is jy amper lus om om te draai en terug te ry en die pas van die ander kant af te sien.

WENK: Jy kan dié roete in een dag baasraak, maar dan mis jy álles wat mooi is.

Moet weet

Hoe lank neem dit? 2 dae.

Het ek ’n 4x4 nodig? Nee, tensy dit onlangs hard gereën het.

GPS S33.32067 E23.46036 (Willowmore se kant) S33.75388 E24.80797 (Patensie se kant)

Wat kos dit? R40 per persoon (R25 onder vir kinders o.12)

Kontak:  

Henriëtte Terblanche (Makkedaat) 044 934 1012 of 082 215 5175;

Quintis en Anina Bezuidenhoudt (Bokloof) by 044 923 2192 of 072 227 6338 (slegs WhatsApp); e-pos bokloof1@gmail.com;

Patrick Ruiters (Sewefontein) by 049 839 1029 (los boodskap);

Baviaanskloof-natuurreservaat by 043 492 0881.

Kom wys jou wa se staal in die Elandsriviervallei

The Meadows Port Elizabeth

kaart
The Meadows

As jy op soek is na ’n 4x4-roete wat nie net mooi uitsigte het nie, maar ook ’n lekker uitdaging bied, is The

Meadows buite Port Elizabeth die plek vir jou.

Wanneer ’n mens van 4x4-roetes praat, is daar gewoonlik twee soorte: Die eerste is ’n lekker rustige daguitstappie waar jy mooi uitsigte geniet, dalk ’n bietjie wild langs die pad sien en nie rêrig jou bakkie te hard laat werk nie. Die tweede soort is ’n roete waar jy ook die natuurskoon geniet, maar terselfdertyd jou en jou bakkie se vermoëns behoorlik op die proef stel. The Meadows in die Elandsriviervallei val vierkantig in die tweede kategorie.

The Meadows is die afgelope 10 jaar al ’n gewilde bestemming vir 4x4-saamtrekke en opleidingskursusse. Met ’n gastehuis en boskamp is dit beslis ’n lekker naweekbestemming vir die hele gesin, maar as hulle saam met jou die roete wil ry, moet hulle reg wees vir vastrap en styf klou – die roete het al die regte bestanddele vir ’n adrenalien-cocktail.

Die roete is ongeveer 15 km lank en in drie lusse opgedeel – met ontsnaproetes by elkeen. In droë weer kan jy begin by 1,8 bar op jou bande en in nat weer by 1 bar of selfs laer. Jy spring weg langs die plaashuis en volg bloot die bordjies met rooi pyltjies. By die moeilikste hindernisse sal jy ’n groen pyltjie sien wat ’n makliker ompad aandui.

Die eerste groot hindernis is die Drie Susters: drie opdraandes met ’n steil gradiënt van 35 º. As jy al ooit gewonder het of jou bakkie se afdraandbeheer ordentlik werk, is hierdie die plek om dit te toets. Maak net seker alles binne-in jou voertuig is vasgemaak of weggepak, anders beland daardie koelboks op die agtersitplek op die paneelbord.

MeadowsFoto: WEG RY & SLEEP

Daarna loop die roete bergop met skouspelagtige uitsigte oor die Elandsriviervallei voor dit weer met ’n boog afdaal tot by die hoofgrondpad by die ingang na die plaas. Hier kan jy terugdraai plaas toe as jy genoeg gehad het, anders kruis jy oor vir die tweede en derde lus van die roete.

Die volgende deel van die roete sak onmiddellik af tot in die rivierloop en vleg heen en weer oor rivierklip en sand. Vir die res van die roete is hierdie afwisseling jou voorland, plus ’n paar lekker steil op- en afdraandes bergop. Tussenin tref jy ook ’n paar smal kronkels tussen woude aan waar jou bakkie waarskynlik ’n wiel of twee gaan lig. As jy ’n lang bakkie het, gaan jy beslis ’n agterste ewenaarslot nodig hê om genoeg vastrapplek te kry. Die laaste deel van die roete loop verby die boskamp op die rivieroewer voor jy weer by die plaashuis eindig.

WENK: Braaihout is ingesluit by die prys.

Moet weet

Hoe lank neem dit? Sowat 3 uur.

Het ek ’n 4x4 nodig? Ja, beslis.

GPS S33.708269 E25.084274

Wat kos dit? R200 per voertuig, vir kampplek en R60 per persoon per nag, R200 per persoon in die gastehuis.

Kontak: Donovan en Sunelle Whitehead, bel 082 458 9699 of 082 458 9580, of e-pos na donovan@gmail.com

Jy kan meer inligting oor hierdie en nog 37 ander grondpadroetes kry in Weg Ry & Sleep se 2018-uitgawe van Roetes wat Roep. Die boek kos R61 en is nou te koop by boekwinkels en supermarkte landwyd.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Weg  |  Roetes  |  Reis  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.