Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Op die plek rus

Die rustigheid in die omgewing maak jou lus om met ’n boek op te krul, maar jy sal bly wees as jy tog die KZN-Middellande verken, skryf Ilse Zietsman.

Soos hul naam getuig, is Brahman Hills se tema die aantreklike brahmaan-beesras.

Brahman Hills is ’n viersterhotel met 30 hotelkamers en 12 luukse selfsorgkothuise. Dit het drie restaurante: die meer informele Brahman Café, die deftige 89 on Copper in ’n atmosferiese ondergrondse wynkelder, en The Stables by The Agility Hub, die konferensiesentrum wat ook vir private geleenthede ingespan word. 89 on Copper se kos-en-wyn-pasmaatetes is absoluut voortreflik.

Dan is daar ook Cappuccino, ’n koffiekroeg, en ’n knus, stylvolle ondergrondse kroeg genaamd Copper.

Brahman Hills Spa se patryspoortvensters kyk oor die golwende heuwels van die Bloukraan-wildreservaat uit.

Brahman Hills is in Ou Curry’s Post-weg, Mount West, KwaZulu-Natal.

Hier’t, trap rem! Hier staan ’n handvol brahmaan-beeste neffens die pad! Oeps, jammer, dis nie regte koeie nie.

Dis die lewensgrootte uitgesnyde sjabloonbeeste wat by die ingang van die Brahman Hills-hotel pryk. Dié roesbruin brahmane lyk kompleet of hulle tussen die rietpolle en pers agapante wei.

Brahman Hills is in Curry’s Post-weg in die Midlands Meander – die kronkelpad van die KwaZulu-Natalse Middellande.

Brahman Hills maak deel uit van die Bloukraan- private wildreservaat.

In die Brahman Hills-hotel – en in sy keurige selfsorgkothuise – hang daar talle skilderye van brahmaan-beeste, die een mooier as die ander. Per slot van rekening is brahmane ’n pragtige beesras.

Op die heuwels van dié reservaat van 1 000 ha is ruim selfsorghuise waar die brahmane verby jou stoep of buitelug-borrelbad drentel, en die sebras, elande, rooihartebeeste, swartwildebeeste en impalas net ’n entjie verder wei.

Die rustigheid wat hier heers en die groen heuwel-uitsigte laat ’n mens voel of jy met ’n boek wil opkrul en van die hele wêreld se probleme wil vergeet. Die Middellande-kronkeling – op jou spreekwoordelike drumpel as jy in dié hotel bly – bied egter so baie om te verken dat ’n mens jou maar lig en daarna glad nie spyt daaroor is nie.

By The Windmills Kitchen is 15 kombuise of kosstasies.

Een perseel, 15 kombuise

Knap langs die reservaat en die hotel is The Windmills Kitchen (tot onlangs was hy bekend as The Midlands Kitchen), by die 132-afrit vir Nottinghamweg op die N3. Dit is so naby dat jy selfs soontoe kan loop; vra net die vriendelike hotelpersoneel om te beduie na watter kant toe jy moet mik.

By The Windmills Kitchen is 15 “kombuise” of kosstasies. Net mooi alles is vars en smaaklik: Kies tussen die gebak van Soulflour, pasteie van die Windmills Pie Company, vrugtesap en -skommels van Juice Brew, regte Durbanse kerrie en bunny chows van Mr Naidoo’s Genuine Durban Curry, spesiale roomys van Wild Child Gelato en pizzas van Farina di Grana Pizzeria.

By The Junction is verskeie winkels en eetplekkies.

Rangeer na The Junction

The Junction, ook bekend as Notties Junc­tion, is ’n paar minute se ry ver. Daar is 16 interessante winkeltjies omring deur ’n kleurvolle tuin waar jy kan koffie drink en jou spruite kan speel. Dis nou as hulle nie heel eerste by Chocolate Heaven indraf nie; die sjokolade-bedruipte aarbei, so groot soos ’n hangkas, teen die winkelmuur kan nie misgekyk word nie. Pak maar ’n houtlepel in vir die wiksslag.

Die dekor-items by China Rose sal diegene met ’n oog vir mooi dinge verlei. Zawadi – in ’n vrolike rooi sinkplaathuisie – verkoop helder stoele en sytafeltjies met Afrika-lap gestoffeer. Collective is ’n mekka vir versamelaars. Op die stoep word hanglampe, ploegskaarstoele en prenterame uitgestal; binne begroet ammunisiekiste, noodhulpkassies, aardbolle en lanterns jou.

’n Miniatuurstoomtreintjie by Piggly Wiggly.

Soek die vark in die verhaal

Piggly Wiggly Country Village op die R103 is wyd en syd bekend. By die ingang staan ’n ligpienk draadraamvark so groot soos ’n kleinerige vragmotor wat aan dié plek sy naam verleen. Piggly Wiggly is ’n inkopieparadys. Sommige van die winkels blyk ’n voorliefde vir otterjasies te hê. Op die toonbank en by die voordeur van The Greenery Juice Café staan tandvleispienk varkornamente. By die Piggly Wiggly-restaurant loop jy nie op ’n rooi tapyt nie, maar op ’n mat bedruk met ’n vark met ’n groot snoet. By Meander Fine Wines drink ’n vlakvark met ’n onderbaadjie bier en by Zulu Lulu Art House kan jy ’n keramiekvark verf waarna dit in die pottebakkersoond gedruk word.

Boekwurms móét by Huddy’s Books inloer; hulle verkoop al meer as 20 jaar lank tweedehandse boeke asook interessante en ongewone meubels. ’n Miniatuurstoomtreintjie kronkel naweke van 09:00 tot 16:00 voor die winkels verby.

’n Draadvark so groot soos ’n afleweringsvoertuig by Piggly Wiggly.

’n Happie geskiedenis

Êrens sou jy al die kunswerk van Madiba se gesig by die Nelson Mandela Capture Site in ’n tydskrif of koerant of aanlyn gesien het. Die visuele en emosionele impak is egter soveel groter as jy dit in lewende lywe aanskou. Die staalplaatkonstruksie is op die presiese plek opgerig waar Nelson Mandela op 5 Augustus 1962 in hegtenis geneem is. Met die inry lyk dit maar verbeeldingloos, maar as jy van die museumkompleks met ’n geplaveide paadjie langs nader stap, ontvou Madiba se gesig voor jou. Dit laat jou met ’n mate van verwondering en ’n onvermydelike knop in jou keel.

Meer oor:  Kzn-Middellande  |  Hotel  |  Rustig  |  Brahman Hills  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.