Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Op my dorp: Lekker Kaapse draai
Die kusgebied by Bloubergstrand kan te voet aangedurf word. Foto’s: DEON RAATH
Die uitsig van die Slangkopvuurtoring af is asemrowend.
Calamari en skyfies is bekostigbaar by Lucky Fish & Chips, slegs R61 vir ’n ordentlike maaltyd.
Onthou om die rob Surprise te groet. Hier poseer ­Andries saam met Surprise langs die hawe.

Met stygende leefstylkoste en die prys van vlieg­tuigkaartjies is ’n mens se begroting deesdae al klaar aan flarde wanneer jy vir ’n wegbreeknaweek in Kaapstad land.

Dit is daarom belangrik om jou navorsing te doen oor gratis uitstappies en bekostigbare eetplekke.

Die goeie nuus is dat daar baie opsies is wat glad nie afgewater is nie. Dink piekniek langs ’n vuur­toring, vis en tjips wat selfs die ­locals se monde laat water en ’n ontmoeting met ’n mak rob.

1. Stap van Blouberg se hoofstrand na Eden on the Bay

’n Goedkoop opsie is om die kuslyn te voet aan te durf. Op jou staptog kan jy Tafelberg en die Kaapse hawe op die horison in die oog hou. Op ’n helder somersdag is Robbeneiland ook sigbaar. As die Kaapse winde reg waai, kan jy hierdie stappie in die skadu van vlieërplankryers aanpak.

En natuurlik verdien jy ’n eetdingetjie ná die kilojoules wat deur die staptog verbrand is.

Daar is vele restaurante in die Eden on the Bay-winkelsentrum. The Ocean Sizzler se ontbyt is lekker en Saints se burgers is ideaal as jy iets met ’n bietjie meer om die lyf nodig het. Al twee restaurante het sakpaspryse.

2. Cappuccino’s by Winchester Mansions, Seepunt

Kombineer ’n cappuccino vir net R20 by Harveys by die Winchester Mansions in Beach Road in Seepunt met ’n stappie op die ­promenade.

Dié hotel in die tipies Kaaps-Hollandse styl kyk uit op die ­Atlantiese Oseaan.

Op die promenade kan jy die see-uitsig bewonder terwyl die ­pedometerlesing op jou slimfoon boonop vinnig klim tot jou daaglikse teiken.

Daar is ook fietse te huur vir diegene wat vinniger verder wil kom. Die promenade is hondevriendelik.

3. Piekniek by vuurtoring

Die Slangkopvuurtoring by Kommetjie, suid van die stad, is sekerlik een van die mooiste en stilste vuurtorings aan die Kaapse kus. Die vuurtoring is in 1919 opgerig en in 1979 geoutomatiseer.

’n Veilige houtdek kronkel langs die kuslyn af, net-net bo die geklots van die branders.

Daar is groot plat klippe wat gemaklik as piekniektafel ingerig kan word.

Jy kan ’n mandjie met lekkernye by die huis optower en dit hier met ’n uitsig op die see verorber.

Volgens die webblad www.kommetjie.org kan jy die vuurtoring
in die week van 10:00 tot 15:00 verken.

4. Vis en skyfies in Kalkbaai

Kalkbaaihawe het vele restaurante, maar min kan kers vashou by Lucky Fish & Chips. Afgesien van die goeie pryse (R52 vir stokvis en tjips en R61 vir calamari en tjips) sit jy tussen die locals van die dorp. En hulle sê mos as jy wil weet waar om te eet, moet jy die locals volg. Baie vissermanne, wat pas teruggekom het ná ’n lang oggend op die oop waters, kom geniet ’n vissie hier.

Nadat die hongerpyne gestil is, kan jy die Kalkbaaihawe verken. Moenie vergeet om vir die rob Surprise hallo te sê nie.

Meer oor:  Rondrits  |  Op My Dorp  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.