Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Op ’n draffie deur Orania

Die Noord-Kaapse dorp Orania staan afgeleë langs die Oranjerivier tussen ’n paar yl Karoobossies. Doodstil.

Ek wonder nogal met my aankoms hoe lekker die EFF-lede wat gedreig het om hulself hier te kom vestig in aanloop tot die onlangse verkiesing hier sal bly.

Dié vryheidsvegters sal egter nie net kan kom stilsit nie, dink ek by myself. Hulle sal moet fiks word, want sedert 2016 vind die Vasbyt-wedloop jaarliks in April hier plaas. Jy kan kies tussen ’n 55 km- of 100 km-drafroete oor vier dae. As jy eerder wil fiets ry, kan jy 116 km of 200 km oor vier dae trap. Ek is nie ’n natuurlike drawwer nie en het op “net” 55 km besluit.

Die binnekant van Betsie Verwoerd, ontslape weduwee van oudpremier Hendrik Verwoerd, se huismuseum. Foto’s: Elaine Krige

Dag een

Voor ek kan besef waarin ek my begewe het en kop uittrek, spring ons die Sondagoggend vroeg by die Aan-die-Oewer-vakansieoord aan die oewer van die rivier weg. Die roete kronkel deur die dorp en dan uit op die R369 in die rigting van Hopetown. Met uitgestrekte mielielande weerskante van my, is dit darem beter as om in die straat voor my huis te draf. Die 16 km-sirkelroete loop tot binne-in die mielielande en eindig weer by die wegspring. As jy onder die eerste drie deelnemers wil klaarmaak, moet jy minder as vyf minute per kilometer hardloop, maar ek was tevrede om in minder as twee ure die wenstreep oor te steek.

Daar is baie om jou besig te hou die res van die dag. Die stigters van Orania, waaronder oudpremier Hendrik Verwoerd se skoonseun Carel Boshoff, het in 1991 sowat R1,6 miljoen betaal om 500 hektaar by die regering te koop vir die stigting van ’n onafhanklike dorp. Vandag is Orania sowat 8 000 hektaar groot en volgens hulle meer as R500 miljoen werd, met sy eie vakansieoord, geldeenheid en 13 verskillende kerke. Die Afrikaner kon mos nog nooit vir lank oor ’n saak ooreenstem nie.

Ek is poegaai en soek heel eerste lafenis by die Oewer-restaurant wat uitkyk op die Oranjerivier. ’n “Jan van Riebeeck”, een van Orania se verskeidenheid boetiekbiere, koel my af. Daar is twee bierbrouerye op die dorp.

Vir R120 kan jy ook op ’n boot op die rivier vaar.

Wenk: Orania se geldeenheid is Ora, maar dit is net soveel werd as die rand en jy kan met enige van die geldeenhede hier handel dryf.

Pieter en Elaine Krige nadat hulle Vasbyt-wedloop op Orania voltooi het.

Dag twee

Net voor 06:00 klim al 110 drawwers op ’n beesvragmotor wat ons na die wegspringplek 16 km buite die dorp neem. Die 15 km-roete begin met ’n effense opdraande en loop dan al met die waterkanaal langs. As jy gelukkig is, sien jy ’n paar steenbokkies langs die pad. Ek voel die vorige dag se 16 km aan my lyf en stop ’n hele paar keer onder die voorwendsel dat ek die mooi uitsig wil bewonder. Drawwers twee keer my ouderdom steek my verby, maar ek strompel darem net voor half nege oor die eindstreep.

Wenk: Dis bitter koud op die beeslorrie. Trek warm aan en los jou baadjie op die vragmotor wanneer jy afklim, om te verhoed dat jy Racheltjie de Beer se verhaal herleef. Jy kan jou klere ná die wedloop weer by Aan-die-Oewer afhaal.

Die middag besoek ons die Doornbult-konsentrasiekamp net buite die dorp. Hierdie terrein is uniek, omdat dit sedert 1902 grotendeels ongeskonde gebly het. Stap jy saam met Rina Wiid, die eienaar van Doornbult-plaas, sal jy nog van die oorspronklike kledingstukke, potskerwe en handgemaakte emmers in die veld sien lê.

Meer as ’n 1 000 mense is tydens die Tweede Vryheidsoorlog hier dood, maar slegs 200 grafte is behoorlik gemerk. Die laaste paar jaar kon Rina egter daarin slaag om honderde bykomende grafte buite die amptelike begraafplaas te identifiseer.

Wenk: Die toer is gratis, maar vat kontant saam vir interessante boeke oor die Vryheidsoorlog wat hier te koop is.

Die premiers HF Verwoerd, John Vorster, JG Strijdom en DF Malan hou wag oor die dorp.

Dag drie

My lyf is nie gewoond om so ver te draf nie en ’n spier in my enkel begin nou moeilikheid gee. Die mooi sonsopkoms oor die grasvlaktes maak wel die pyn effens draagliker. Heelwat deelnemers het reeds onttrek weens beserings, maar ek is vasberade om die wedloop te voltooi, al is dit net vir die medalje: ’n klein silwer voetjie wat jy aan ’n kettinkie om jou nek kan dra. Die mans word beloon met ’n soortgelyke borsspeld.

Ná 12 km voel ek lus om te huil, maar ek vermoed ek het reeds al die vloeistof in my lyf uitgesweet. Ek draf ná 15 km hinkepink oor die eindstreep.

Betsie Verwoerd, Hendrik Verwoerd se weduwee, het haar ná sy dood op Orania kom vestig om naby haar dogter en skoonseun te wees. Haar huis is nou ’n museum wat besoekers gratis kan besigtig. Hier word die bebloede pak klere waarin Verwoerd in 1966 in die parlement doodgesteek is, in ’n glaskas vertoon. Die stoel waarop hy gesit het tydens die eerste aanslag op sy lewe in 1960, is ook hier te sien, met ’n vlek van Verwoerd se bloed nog net so op die sitplek.

Een van die dorp se boetiekbiere.

Dag vier

Die laaste dag se 9 km-roete loop deur die dorp. Ons draf op met Monumentheuwel, waar die borsbeelde van die voormalige Suid-Afrikaanse presidente Paul Kruger, MT Steyn, en die voormalige eerste ministers Verwoerd en genl. J.B.M. Hertzog oor Orania waghou.

Jy moet eers ’n foto saam met “Oom Paul” neem, voor jy weer die heuwel mag af en die laaste paar kilometer van die wedloop voltooi.

Waar jy kan bly

As jy ’n gerieflike slaapplek soek, probeer Karoosig-gastehuis, teen R700 ’n nag. Die kamers is goed toegerus met ’n badkamer en klein kombuis. Jy kan ook die gemeenskaplike braai-area en swembad gebruik. 

Wenk: Moenie verwag dat iemand in Orania agter jou gaan opruim nie, so maak maar soggens self jou bed op.

Meer oor:  Orania  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.