Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Oud en nuut ontmoet in Zanzibar
Die stoep en swembad bied ’n puik ontspanningsplek van waar jy die sonsondergang kan indrink.
Die hotel het ’n pragtige uitsig oor die Indiese Oseaan.
Die hoë dakke van die Park Hyatt is besonders mooi.
Niks klop die Park Hyatt se geurige lamskenkel nie.
Die presidensiële en koninklike kamers by die Park Hyatt is uiters spoggerig

Sultan Sejjid Saïd, ’n Omani Arabier, het in 1840 besluit om van Muskat na Zanzibar te verhuis. Tussen 1847 en 1850 het sy vriend sjeik Salim al Harthi ’n woning genaamd Mambo Msiige op die randjie van Stone Town vir Saïd gebou. Hierdie gebou maak deesdae een helfte van die Park Hyatt uit, terwyl ’n tweede moderne vleuel aangebou is om besoekers aan die hotel ’n keuse van die nuwe of oue te bied.

Saïd het Harthi spesifiek opdrag gegee om Mambo Msiige te bou om eersgenoemde se ryk vriende sjeik Abdalla en sjeik Suleyman Habib se wonings te troef. Van die drie se wonings is Saïd s’n die enigste een wat vandag nog staan.

Die rede wat aangevoer word vir Mambo Msiige se standvastigheid is die duisende eierdoppe wat vermeng is met die grond wat vir die bou van die mure gebruik is. Die gebou is egter oor die jare beskadig en is veral in 1872 verrinneweer toe ’n sikloon in Zanzibar moles gemaak het. In dieselfde jaar is David Living­stone se liggaam tydelik by Mambo Msiige gehou voordat dit na Londen vervoer is.

***

Stap vandag by die Park Hyatt in en die eerste ding wat jou opval, is die pragtige houtdeure en die hoë dak van die voorportaal. Silindriese ligte hang van die balke, hoewel dit bedags basies net ornamente is met die glasdak wat die voorportaal met sonlig vul.

Vanaf die voorste stoepdeur vang die blou water van die Indiese Oseaan waaroor ontdekkers en handelaars millennia lank al vaar, jou oog. Wanneer ’n tradisionele dau verbyvaar, is dit moeilik om binne te bly. Die omgewing smeek om verken te word.

Die ou deel van die Park Hyatt was eers die woning van sultan Sejjid Saïd. Foto’s: Marthinus Koekemoer

Die Park Hyatt het trappe wat na die strand lei waar kinders van vroegoggend tot laatmiddag baljaar. Kyk na regs en jy sal die klein hawe gewaar en na links is die hotel se swembad wat lafenis teen die hitte bied.

Soos ’n mens na buite loop, lê die nuwe vleuel van die hotel na regs. Agter en bo jou is die stoepe van die Mambo Msiige-kamers. Min is so statig soos die presidensiële en koninklike kamers. Elk het sy eie kombuis, meer as een slaapkamer en badkamers so groot soos die slaapkamers van my eie woonstel. Hierdie soort geriewe kom natuurlik teen ’n prys van soveel as $3 000 (meer as R40 000) ’n nag.

Iemand wat by Park Hyatt tuisgaan, is waarskynlik nie op ’n klein begroting nie, maar vir iets goedkoper as bogenoemde kamers is die Deluxe-kamer waarin ek gebly het ’n goeie alternatief.

My kamer was in die nuwe vleuel met ’n uitsig oor die see. Selfs hierdie “klein” kamer is 45 m² met ’n stoep. Tot die badkamer het ’n see-uitsig. Stoot net die badkamerdeure oop en siedaar: ’n bad met een van die beste uitsigte in Stone Town.

***

Die Park Hyatt verdien elkeen van sy vyf sterre. Dit het ’n gimnasium met oefenfietse, gewigte en hardloopmasjiene, ’n spa en natuurlik ’n swembad. Daar is ook konferensiegeriewe wat voorsiening maak vir 120 mense of vir ’n troue met 80 gaste.

Wat die restaurant betref: Die lamskenkel was voortreflik. Vir seekosliefhebbers is daar alles van gebraaide koningvis tot kerrievis en selfs seekat. En hou beslis ’n plekkie vir nagereg – my gunsteling was die piesangkaaskoek met toffiesous.

Selfs in die aand is die uitsig van die hotel se voorstoep af werklik sprokiesmooi.

Die Zamani Lounge, soos die kroeg bekend staan, bedien skemerkelkies met of sonder alkohol, wyn, bier, whisky en likeur, om maar ’n paar drinkgoed te noem. Op die wynlys is daar ’n hele paar Suid-Afrikaanse wyne, asook wyn van Frankryk, Italië en Nieu-Seeland.

Hoewel ’n hotel sy sterre kry vir sy geriewe, is dit nie noodwendig hoe gaste sterre sal toeken nie. Volgens my is die Park Hyatt se oog vir detail en kliëntediens die meeste sterre werd. Die vriendelike personeel groet jou vriendelik wanneer hulle jou sien. Jou linne is altyd kraakvars, die handdoeke skitterwit.

Die lugreëling, wat broodnodig in Zanzibar se tropiese hitte is, skakel vanself aan wanneer jy jou kamer binnekom en skakel weer self af as jy die balkon se deure oopmaak.

’n Lys van items wat óf gratis óf vir ’n bedrag aan gaste voorsien kan word, sluit omtrent alles in wat algemeen by die huis vergeet kan word. ’n Skeermes, tandeborsel of kam kan onder meer gratis aangevra word.

Daar is selfs ’n flits agter die deur vir gebruik in ’n noodgeval. Gelukkig was daar nie ’n noodgeval nie, want die flits in my kamer het nie gewerk nie.

Ek kon ook nie dadelik van die hotel se gratis Wi-Fi-internettoegang gebruik maak nie aangesien my naam op hul rekords verkeerd gespel was. Hierdie fout is egter blitsig reggestel en hierna kon ek solank ek by die Park Hyatt was soveel data as wat ek wou op my selfoon gebruik.

’n Mens kan darem maar oor niks kla as jy die son sien sak oor die kristalhelder oseaan, terwyl jy in die louwarm swembad ’n paar lengtes swem nie.

  • Koekemoer was ’n gas van die Park Hyatt Zanzibar.
Reisraad
Koste van kamers: Standaardkamers begin by omtrent $200 (sowat R2 800) per nag.
Wanneer om te gaan: Die meeste reën val gewoonlik in April en Mei. Die res van die jaar is dalk ’n beter keuse as hierdie twee maande vir ’n besoek.
Taal: Swahili is die amptelike taal van Zanzibar, maar die meeste mense is ook Engels magtig.
Kultuur en geloof: Islam is die hoofgeloof van Zanzibar en vroue moet veral op hul kleredrag let as hulle buite die hotel beweeg.
Plaaslike geldeenheid: Sjielings. Een rand is tans omtrent 150 sjielings werd.
Ander oorwegings: Hoewel Zanzibar nie as ’n hoërisiko-malariabestemming beskou word nie, is muskiete tog ’n ergernis. Maak voorsiening daarvoor.

Meer oor:  Zanzibar  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.