Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Oulike strate, maar nie ‘huis’

Leon-Ben en Ruan beplan hul geldmaak-avontuur na Londen in 2006.
Tydens ’n vorige generasie het al wat ’n ‘Saffa’ is gaan mediese toetse doen in Londen vir ’n vinnige geldjie. Ook Leon-Ben Lamprecht.

Ek was nie die beste voorgraadse student nie. My belowende skolastiese prestasies op hoërskool het ’n muis gebaar op varsity (ek het aan Maties studeer). Private reg en ekonomie het swaar gekompeteer met Bohemia se wyn.

Die nadraai van my treurigheid as student was dat ek my driejaargraad eers ná vier en ’n half jaar gevang het. My pa het, heel verstaanbaar, in my finale jaar besluit alle koste is my verantwoordelikheid. Ek moes planne beraam vir die huur-, studie- en kosgeld.

Dit was in 2006 en my tjommie Ruan het met ’n blink plan vorendag gekom: Gaan wees ’n mediese proefkonyn in Londen. Min werk, min tyd, goeie betaling, veral oor die pond destyds baie sterk was. En Ruan behoort te weet: Hy het grootliks sy voorgraadse studie in sielkunde gefinansier met kelnerwerk en mediese toetse in die koningin se land.

Dit was in 2006 en my tjommie Ruan het met ’n blink plan vorendag gekom: Gaan wees ’n mediese proefkonyn in Londen.

Uiteraard was ek (en my ouers) besorgd. Watter tipe toetse praat ons van? Gaan daar ekstra arms groei uit my borskas? Wat as my hare uitval? En hoe lank sal dit duur? Immers: Ek was steeds ’n geregistreerde student met klasloopverpligtings.

Nee, het Ruan ons gerusgestel, dis kort – drie weke – en dis, as ek reg onthou, vir ’n asmamiddel. Dus (hopelik) geen ekstra ledemate of haarverlies nie. (Vreemd, Ruan het al vroeg op varsity kaalkop geraak.)

En, teen dit wat hulle betaal was my jaar se studie- en ander koste (sowel as die vliegkaartjie Londen toe waarvoor ek geld by Pa moes leen) betaal. Op papier dus sinvol.

Boonop had ek dié jaar net een vak – my hoofvak, ekonomie – en kon ek van my take vroeër inhandig; ek moes dan net betyds terug wees vir die toetsreeks. Ruan was tussen grade en sou jaareinde by Ole Miss in Mississippi met sy meestersgraad begin.

Soveel eerstes

Ons bespreek dus ons vliegkaartjies en reël verblyf by vriende van ’n skooltjommie. En ons vlieg nie Heathrow toe waar doeanebeamptes lastige vrae vra nie, nee ons vlieg by Gatwick in.

Uiters opgewonde, en redelik bang, klim ek saam met Ruan vroeg in Februarie op die êrrie in Kaapstad. Dit sou my eerste keer buite die landsgrense wees – en my eerste keer op ’n vliegtuig!

Van die vlug Londen toe onthou ek net dit was eers opwindend, en toe raak my bene seer.

Op Gatwick het ons inderdaad vinnig deur doeane geblits, en toe moes ons treinkaartjies koop. Ons moes daai dag nog inklok vir ’n vooraftoets by die hospitaal waar ons sou bly vir die proeftyd.

Met ons tamaai tasse het ons gehardloop van trein na bus na trein om betyds te wees. Ons moes ook Britse SIM-kaarte aanskaf sodat ons darem bereikbaar was. By die Victoria-hospitaal is ons geweeg, bloed is getrek en ons is weer losgelaat, met die verstandhouding ons moes oor ’n week terug wees.

Die volgende paar dae van toeris wees was wonderlik. Ek onthou Oxford Circus en sy liggies en die Hamleys-speelgoedwinkel met sy sewe vloere (waarvan een nét vir Lego was). Ek onthou my besoek aan Lord’s en hoe opvallend klein die As-trofee is. Ek onthou die Britte se Fanta smaak anders en die verskillende geure Kit-Kat wat ek kon koop.

Ook die tourist traps was besonders: Big Ben, die London Eye, Tower Bridge en selfs Buckingham-paleis. Sigarette was duur by Tesco, Suid-Afrikaanse wyn spotgoedkoop. Ek onthou snakebites (bier met ’n skeut aalbessie in) in pubs saam met Saffas in Springboktruie wat vertel hoe hulle na die huis verlang.

En ek onthou die koue. Dit was glo die koudste Londen-winter in 20 jaar.

Tussen toer en wag vir ons toetse om te begin deur het ons by Saffas oorgebly, Sky gekyk, onder die sentrale verhitting gelê en net kaas-en-kalkoenhamtoebies geëet, want dit was die goedkoopste.

Wonderlike, vreemde dae en nagte.

Uitgeskop

En toe kom die nuus: Ons lewerensiemtelling, of so iets, was te hoog. Die middel lig glo dié telling en as ons dit sou neem, sou dit buite die raamwerk wees van wat hulle beskou as reg vir die toetse.

Ons het twee dae gehad dat dié vlak kon daal. Ruan se ma het aanbeveel ons drink melkdistel en pomelosap (darem nie saam nie). Dit verlaag glo die telling. En dit het amper gewerk, want toe hulle ons weer toets, is ons telling heelwat laer, maar nie laag genoeg nie. Ek is uitgeskop. Ruan s’n het meer geval en hy is wel toegelaat.

Op pad terug na ons verblyfplek het ek herkou aan hierdie verwoestende nuus. Nie net het ek nou my studieskuld nie, maar ek het ook hierdie uitstappieskuld. Ek het nog meer as twee weke oor in hierdie nat, koue en vreemde stad voordat ek sou terugvlieg en my enigste tjommie is wel opgeneem vir die toetse.

Terwyl ek op die trein gesit en myself vreeslik jammer gekry het, het Ralph McTell se “Streets of London” by my opgekom:

So how can you tell me you’re lonely

And say for you that the sun don’t shine

Let me take you by the hand and lead you through the streets of London

I’ll show you something to make you change your mind

Wel, Ralph, laat ek jou iets McTell.

Dis moeilik om te beskryf hoe eensaam, teleurgesteld en moedeloos ek op daai oomblik gevoel het. Dit was in die dae lank voor WhatsApp en Zoom. Om kontak te maak met die mense by die huis was duur. Dat dit natuurlik alles my eie skuld was, het dit erger gemaak.

Ek het my ouers en my (latere) vrou, Sonika, ge-SMS en probeer om in 150 karakters die saak te stel. Empatie is nie dieselfde as dit in teks is nie.

Ek het met ’n onbeskryfbare benoudheid gaan slaap.

Twee dae later, kort ná 08:00 in die oggend, lui die deurklokkie. ’n Diep bemoerde Ruan staan by die voordeur. Hy is ook uitgeskop. Ek weet ek moes hom jammer kry, maar ek was in daai stadium net so bly om hom te sien. Sy lewertelling het nie genoeg gedaal om te kon voortgaan met die toetse nie.

Tyd vir planne maak.

Ons het die volgende oorweeg: bloed skenk (die Britte betaal), kelnerwerk, selfs sperm skenk. Vir ’n verskeidenheid redes is hulle laat vaar en ons het besluit ons beste kans is om ’n ander mediese toets te vind.

En ons het, met plek! Die enigste dilemma was dat dit eers oor twee weke sou begin, en vier weke aanhou. Maar dit sou ook meer betaal. Dit sou egter beteken ek mis my volgende ekonomietaak en my eerste ekonomietoets.

Ek het net daar besluit, soos die Engelsman sê: Cut your losses.

Ek het gepak, ek en Ruan het die aand saam twee bottels spotgoedkoop Kanonkop Kadette van Tesco uitgedrink en ek is die volgende dag na Heathrow toe om my vliegkaartjies te vervroeg. Ek het dieselfde dag nog teruggevlieg. Ek was lanklaas in my lewe so bly om Kaapstad te sien.

My skuldlas was aansienlik meer, en sou veel langer neem om terug te betaal. Ek het maar plaaslik kelnerwerk opgetel. En die lewe het maar aangegaan.

Alles is ervaring

Ek glo nie in spyt voel nie. Dit was ’n ongelooflike, bittersoet ervaring.

Ek sal graag eendag my vrou na Londen wil neem. My laaitie Ben sal versot wees op Hamleys se Lego-vloer.

En ek het iets van myself geleer: Daar is mense met ’n wanderlust wat maklik in enige plek aanpas. Ruan, byvoorbeeld, is deesdae ’n sielkundige vir die Verenigde Nasies en bly in Turkye. Maar ek het daai dag besef dat, terwyl ek dit geniet, daar iets aan jou tuisbodem is. Dis of die grond jou onthou.

Maar dalk onthou Londen se strate my ook as ek en my gesin eendag daar gaan kuier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.