Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Overberg-lappieskombers

Die September-vakansie wat die jaar se driekwart-merk aandui, is om die draai en dis die ideale tyd om die motor en sleepwa te pak en koers te kies Kaap toe, na die Overberg, waar kanola, koring en skaapweiding ’n perfekte landbou-lappieskombers vorm.

Die Gabriëlskloof-wyn-en-olyflandgoed is ’n ware stukkie Toskane op ons drumpel. Foto’s: Clifford Roberts

As ons grondpad in die Overbergse heuwels en deinings ry, voel dit altyd vir my of ons in die pylvak net voor die eindstreep in ’n wedren is, met Serge Damseaux as bestuurder en ek as navigator. Dit voel nie net so bloot omdat my man se bestuursvernuf uiters knap is en ek gewoonlik die GPS-kaart navigeer nie, maar omdat die roofvoëls op die telefoonpale ons soos wafferse beamptes van die kantlyn af aanmoedig dat ons amper daar is.

Dis bolle vere met reuse-kloue wat met tussenposes van vier of vyf telefoonpale oor die koringlande, oor die skaaptroppe en oor die velde met melkkoeie waghou.

Ons reis neem ons van die Kaap na De Hoop-natuurreservaat anderkant Bredasdorp, terug na
Waenhuiskrans, verby Napier, Caledon en Botrivier terug Kaap toe.

Maar as jy met jou GP-nommerplate die pad vat, kan jy by De Hoop begin en so stadigaan terugwerk Kaap toe, voordat jy op die N1 huiswaarts keer.

Maak gerus hier ’n draai as jy in Bredasdorp is.

Die De Hoop Collection is in ’n vennootskap met Cape Nature en bestuur die akkommodasie en spyseniering op die reservaat. Ons bly in ’n witgekalkte huis met dik mure en blou-en-wit gordyne soos uit die dae van die VOC.

Dit is op die bootrit die middag op Die Vlei wat jy die wind om jou ore hoor suis en die reuk van die renosterveld en fynbos jou omgewe. Jou ore en oë raak nou gewoond aan fyner luister en kyk.

Jy kan klein voëltjies wat laag oor die water vlieg raaksien, die plons van ’n vis in die water hoor en verstom staan as die gids jou vertel dat hamerkoppe die grootste neste van alle voëls bou en dat hul neste soms so swaar word dat die takke afbreek.

En as hulle die nes agterlaat, kom trek uile graag in. Dis darem nie aldag dat die harde werk klaar vir jou gedoen is nie!

Bokke in De Hoop-natuurreservaat staar jou aan en is niks bang vir jou as jy verbyloop nie.

Saans lê ons eers in die Victo­riaanse pootjiesbad in die welriekende borrels van Charlotte Rhys, voordat die reuse-bed met sy hemelbed-muskietnet jou in die stilte van die veld na droomland wegvoer, waar jy bykans die uitspansel met sy silwer sterre kan hoor draai.

Daar is proteas in ’n pragtige strepies-wasbeker, en hul reuk hou jou die hele tyd aan die natuur geanker.

Een oggend staan ons vroeg op en gaan stap tussen die bontebokke en sebras.

Die son maak flou goue strale oor die veld en dis asof almal styf-styf die nagrus afskud en begin wakker word.

’n Paar meter voor ons draf ’n vlakhaas verby en gaan sit doodstil in die eerste strale en warm word.

Die lig skyn deur sy groot oë wat dieprooi gloei.

Ons oulike blyplekkie by De Hoop Collection met sy dik witgekalkte mure en rietdak.
Ons gaan op die begeleide mariene staptog waar jy na seelewe in die rotspoele loer.

Stap en ontspan

Jy kan ure lank in die swembad, wat uitkyk oor die waters, gaan dryf. Of in die spa gaan ontspan of een van die vele aktiwiteite onderneem. Jy kan die mariene of aasvoël-staptog aandurf of die bergfietsroete gaan ry, alleen gaan voetslaan of saam met ’n gids op ’n voëluitstappie gaan.

Andersins kan jy tennis of boules speel. Saans kan jy sterre kyk met ’n gids wat die wonder van die hemele aan jou uitwys.

Ons kies een oggend die mariene staptog, en die volgende oggend die aasvoël-staptog.

Op die mariene uitstappie soek jy na seelewe in die getypoele langs die kus. Jy ry met die wildkykvoertuig see toe. Ons stap oor die spierwit duine, tot onder op die strand. Op die rotse vertel ons gids dat dit soos ’n klein Grand Canyon is met al die diep versteekte gaatjies. Ons kyk na seesterretjies, seekatte, anemone en seeslakke.

“Hierdie is ook die laaste stopplek vir die walvis-staproete, en in die walvisseisoen, van Julie tot Oktober, is dit ’n miernes van bedrywighede in die blou branders,” vertel hy. Ek kan my indink as jy hier langs die turkoois see stap, met die windjie in jou hare, hoe vry jy moet voel.

Pak jou fiets in en gaan ry die bergfietsroete – of stap in die veld.

Ons gaan lê die res van die middag in die swembad en kyk hoe die wolke patrone oor die vleiwaters maak.

Saans smul ons aan biefstuk en vis en tuisgebakte brood, voordat ons droomland toe dryf.

Die aasvoël-staptog vroeg die volgende oggend neem jou ’n uur per voertuig weg na Potberg, steeds deel van die reservaat. Dis die reservaat se nuutste uitstappie en ek voel baie bevoorreg om hierdie bedreigde voëlspesie in sy natuurlike habitat te kan gade slaan.

Jy klim ’n stywe paar meter, maar net voordat jou asem heeltemal te veel jaag en jy jou stadself in die skande steek, verrys die houtplatform voor jou.

Ons ontdek skatte van die see op die mariene staptog.

Daar sit jy met ’n onbelemmerde uitsig oor die vallei en kyk ure lank hoe die kransaasvoëls in hierdie enigste kolonie in die Wes-Kaap bo jou kop sweef.

Jy geniet middagete daar wat in oulike koelsakkies deur die gidse opgedra word. Ons oë kyk later oormekaar deur die verkykers, maar van ophou is daar geen sprake nie. Die voëls skuil teen die hoë kranse en met die blote oog is dit net wit spikkels teen die fynbos, maar as jy jou verkyker optel, is dit reusagtige voëls wat neffens die klippe rus.

Hulle vryval as’t ware in die kloof in, waar die warm lugstrome onder hul vlerke inskuif en hulle geruisloos laat sweef.

Dit is hemel vir voëlkykers en fotograwe, vertel ons gids, maar ek glo dis hemel vir enigeen wat lanklaas die son op sy wange gevoel en die veld só intens kon ruik. Die uitsigte oor die reservaat, tot by die wit duine en blou see, met proteas en speldekussings waarin suikerbekkies skuil, is kop skoonmaak op sy beste.

Die sjef Frans Groenewald se kookkuns laat jou mond water.

Stoepkuiers by die see

Twee dae later is ons op pad, maar een van ons gunsteling-stilhouplekke is die Victoriaanse geboutjies op die dorpspleintjie Bredasdorp Square. Die restaurant is nie net ’n heerlike eetplek nie, maar het pragtige geskenke en ek koop altyd pamperlang-produkte daar.

Ons gaan stap in die gedenktuin rond, ruik die wit rose, voordat ons by die Skeepswrakmu­seum inloer. Dis ’n indrukwekkende versameling van skeeps­wrak-geskiedenis. Die boegbeelde van die gesonke skepe is hartseer maar pragtig. Buite is die ou pastorie pragtig ingerig soos ’n strandveldhuis, en in die skuur staan een van Suid-Afrika se oudste brandweerwaens.

Ons draai laatmiddag weg na Waenhuiskrans, waar ons twee dae by die Arniston Spa-hotel gaan kuier. Ons is ware lui toeriste en tussen stoepsittery (eers op ons kamer se stoep met sy 180 °-uitsigte oor die see; toe die bistro se stoep vir drankies en toe die restaurant se stoep vir etes) kuier ons in die hotel se luukse spa – wat nie 10 m van ons kamerdeur af is nie – gaan stap op die strand, of knoop geselsies met vissermanne by die hawe aan.

Hier word skuite herstel en toue gevleg en as daar ’n skuit inkom, is al wat leef en beef daar om te koop, om te kyk, om geselsies te maak. Ons koop ’n kabeljou van die skuite af en verpak dit in koerantpapier en sit dit in die koelboks in die kattebak.

Laatoggend moet ons koers kies huis toe, maar ons is traag. Die loomheid van twee spa-behandelings, lang nagrusse met oop vensters waardeur die see dreun, het in ons kuite kom sit.

Op die grasperk maak twee sussies wawiele en ons neem stadige- aksie-video’s van hulle en lag saam met hulle oor hul manewales.

Ons stop graag by die Van Brakel Stoor op die kruising van die R316 en R326.

Nostalgie en soetgoed

Toe ons uit die dorpie ry, draai ek die volume van Johannes Kerkorrel se “Somer” kliphard. “Hier kom die somer, die son . . . Dae soos heuning, warm en lou. Branders rol in by die see . . . en hoog in die lug, dryf die meeue rond.”

Dis vinnig deur Napier, waar ons darem stilhou by die monument van ’n ossewa wat die Groot Trek gedenk, want ons wil by Van Brakel Stoor stop vir koffie en sjokoladekoek. Dié padstal is vanjaar 100 jaar oud. Netta Moses het net klaar gebak en Paula Vorster help soetgoed en koffie aandra. Ek kyk na al die ou blikkies, ingelegde goete en konfyte en druk twee appelkosies uit ’n flessie op die toonbank in my kieste.

Skielik is ek weer ses jaar oud.

Weer terug op die pad, die sjef Frans Groenewald van die Ga­briëlskloof-wyn-en-olyflandgoed se Sondagmiddagete wag. Dis koud buite en die vuurherd se verwelkomende vlammetjies laat my koue lyf ontspan.

Ek is steeds daardie sesjarige wat my deur ouma se liplekkertes laat verlei. Ons koop olyfolie en wyn en my mond water vir die visbraai wat vanaand wag, al wil my oë toeval ná die groot middagete – kompleet soos ons jare terug by ouma op die plaas geniet het.

En skielik is dit nie meer hartseer om huis toe te gaan nie.

My hart is vol.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.