Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Overberg(e) en pedale

Swellendam en sy omliggende omgewing is lappieskombers-landerye wat in geel en groen en rooigrondbruin tot teenaan die gesigseinder ontvou. Voeg die koel kronkel van die Breërivier by, en jy het ’n buitelugbestemming soos min.
Simone Sharpe trap fiets op die verlate grondpad van Kam’Bati af.Foto’s Jacques Marais

Die Overberg is Suid-Afrika se sogenaamde broodmandjie en dié streek se landskap is ook sommer heel sag op die oog. Dis puik landbouwêreld, en wanneer mens al met die N2 langs verby Caledon, Swellendam en Heidelberg suiker, dan wuif die kanolablomme, gars en koring in die wind.

Ruwe bergpieke toring soos wolkekrabbers teen die blou lug in die noorde. Dis hier waar duisende bergfietse deesdae dik spore trap.

Al hoe meer boere besef daar is ’n ekstra geldjie te maak uit avontuurtoerisme, en daarom sien jy avontuurbestemmings wat soos paddastoele op die platteland opspring.

Die Kam’Bati-oord naby Swellendam is een so bestemming, en van daar af kan jy die Overberg na hartelus verken. Die statige ou Breërivier verloor dalk so effe spoed in die skaduwee van die Langeberge, met diep, donker poele, rustige strome en suikersand rivierstrande wat tussen die fynbosrante sluimer.

Dis verseker een van my gunsteling-wegsteekplekke teenaan die Breërivier.

Daar is ’n mengelmoes van ekostelsels tussen die Renosterveldvlaktes teen die sanderige kus en die skerptandpieke van die Langeberg.

Inheemse bergwoude, uitgebreide landerye, riviermondings, varswatervleilande en voete vol fynbos wag op jou.

Swellendam self is ’n uitstaande dorp (mens wil amper sê stad, want dit was mos kortstondig ’n republiek), met van jou beste wynkelders, koffie, bier en kos in die hele Wes-Kaap.

Die inwoners is nog lekker met ’n eg-Afrikaanse uitkyk, maar sonder die konserwatiewe nonsens wat soms kop uitsteek op ’n boeredorp.

Daar is min plekke mooier as Swellendam se enkelspoor wanneer die son oor die Langeberge water trek.

Bobaas-bergfietsroetes

Nou ja kyk, Swellendam is net die plek om enige Overbergse traptoer af te skop. Tot op hede het dié puik plek met meer gruispaaie as enkelspore gespog. Dis steeds die tuiste van die legendariese Around The Pot (ATP)-gruisfietswedren. Deelnemers pak 160 km se gruispad aan en trap deur kanola- en koringvelde, en word beloon met wenner-vetkoeke en hope plattelandse vriendelikheid.

Deesdae is dit egter nie net die ATP-wedren wat ’n dubbelduim in die lug verdien vir al die lekker ry nie. Rohan Germishuys, plaaslike boer en eienaar van die avontuurmaatskappy Petrichor Adventures, die bekende waagartieste en Swellendam-boorling Fleur van Eeden en Hiryu Nel, plaaslike bergfietsentoesias, werk reeds meer as ’n jaar aan ’n netwerk enkelspoorpaadjies op Swellendam se munisipale grond. Die paadjies is nou reg om verken te word.

Die Wes-Kaapse regering, die Swellendamse munisipaliteit, Swellendam-fietsryklub, Petrichor Adventures en vele ander het kragte en kennis saamgesnoer om die 33 km se enkelspoor te ontwikkel – wat die streek nou een van Suid-Afrika se beste bergfietsbestemmings maak.

Die beste van alles? Omdat dit op munisipale grond is, is dit gratis en mahala om hier te ry – nie aldag dat jy daardie woorde in dieselfde sin as “bergfiets” hoor nie.

Daar is verskeie opsies wanneer jy opsaal om die Swellendam-bergfietsroete aan te pak. Die mense wat die roete ontwikkel het, het van hardebaardtrappers tot familievriendelike fietsryers in ag geneem.

Die groot honde moet regstaan vir Rooi-roete oor 33 km, met heelwat klim (ongeveer 980 m) asook tegniese enkelspooruitdagings vir meer ervare fietsryers.

Die Blou-roete is pasgemaak vir ervare en fiks fietsryers. Pak die 21 km-roete vir ’n paar uitdagings, maar kort opdraandes sowel as ’n skerp draai hier en daar.

Jy en jou ysterperd gaan 474 m klim, maar dit is alles steeds lekker rybaar.

Die Groen-roete is heelwat makliker en sal werk vir ’n uitstappie saam met die gesin. Moet egter nie die 10 km se trap (met ’n 236 m klim) onderskat nie!

Laastens is daar die kort en plat Geel-roete van net oor die 5 km, wat kinders en beginners gelukkig sal hou.

Jy trek wel weg met ’n steil teerpad, maar daarna laat jy waai op gruispaaie en enkelspoor. Daar is in totaal nege nuwe roetes in en om Swellendam, en jy kan kaarte van al die roetes aflaai by www.visitswellendam.co.za.

Kuier by Kam’Bati
Die vakansieoord is sowat 20 km buite Swellendam geleë. Dit is hier waar die Sonderend- en Breërivier saamvloei en jy kan kampeer (of glampeer) tussen die Overberg se pragplase.

Africamps Kam’Bati het ’n reeks luukse selfsorg “glampeertente” op die perseel. Hulle het tans ’n spesiale aanbod vir die stil seisoen: R3 290 vir drie nagte, vir twee mense wat deel. Die aanbod is geldig tot 30 September en sluit langnaweke uit. Die tent kan tot vyf mense huisves; ekstra volwassenes kos R275 per nag, en kinders 3-16 jaar oud R175 per nag ekstra. Hier is hope buitelugaktiwiteite om jou en die kinders besig te hou – fietsry, minigholf, hengel, kanoroei op die Breërivier en voëlkyk. Besoek www.kambati.co.za en africamps.com vir meer inligting.


Die Breërivier bly nou maar een van Suid-Afrika se mooiste riviere, en is ’n paradys vir hengelaars en voëlkykers.
Marloth-natuurreservaat

Verskeie bergfietsopsies wink ook in die Marloth-natuurreservaat, waar jy deur meer as 14 000 ha se fynbos en plantasies aan die voet van die Langeberg kan ry. Die roetes deurkruis denneplantasies, inheemse woude en velde fynbos, regs van die Hermitage-vallei en “Die Plaat”. Jy ry meestal op die reservaat se grond- en tweespoorpaaie, met terrein wat wissel van verweerde rots en sand tot modder, as dit swaar gereën het. Die klimme gaan jou laat kreun, maar al die witwarm afdraandes maak daarvoor op.

As jy stap, eerder as trap, sal jy darem nie droëbek sit met jou besoek aan die reservaat nie. Daar is verskeie dagroetes in die natuurreservaat, asook die multi-dag- Swellendamse staproete, een van die land se beste staproetes. Hier gaan jy wel moet betaal. ’n Dagpermit kos R50 per persoon.

Daar is ook ’n keur van selfsorgkothuise vanaf R785 per dag, waarin vier mense kan slaap.


Daar is meer inligting by www.capenature.co.za.

Trap om die Pot

Suid-Afrika se grootste gruisfietsresies Around The Pot vind vanjaar op 24 Julie plaas. Die roetes draai almal om Potberg, en jy kan kies uit enigiets van 42 km tot die bielie van 321 km, oftewel die 200-myler. Besoek www.aroundthepot.co.za vir meer inligting.

Vat die padSwellendam is sowat 200 km, of twee en halwe uur se ry van Kaapstad. Volg die N2 ooswaarts na Swellendam en kyk uit vir die Kam’Bati-afdraai na links, sowat 20 km verby Riviersonderend.

Beste tyd om te besoekDie streek se klimaat is byna ideaal, met lang, lui somerdae en af en toe ’n winterstorm, hoewel die temperatuur oor die algemeen matig is. Sneeu val gereeld op hoogliggende pieke tydens Julie en Augustus, en in September is die Overberg prentjiemooi wanneer die kanolablomme bot.

Besoek www.visitswellendam.co.za vir meer inligting.


Meer oor:  Ontspan  |  Kamp  |  Bergfiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.